Posts Tagged ‘Abjektsie’

Marlies Taljard. Apokalips, gelykmaking, heronderhandeling en versoening

Sunday, December 6th, 2020

 

 

 

In hierdie artikel herbesoek ek ‘n gedig en temas wat daaruit voortspruit waaroor ek reeds vantevore geskryf het, maar wat in die Jaar van die Virus weer relevant geword het. Toe Corona-19 uitgebreek het, is wêreldwyd in die media oor verskeie apokaliptiese moontlikhede bespiegel, en selfs vandag is dit nog nie duidelik wat die uiteindelike effek van die virus op die aarde en haar bevolking gaan wees nie. Die gedig “klaaglied” uit Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie het die Rwandese burgeroorlog as tema – ‘n meer skrikwekkende apokalips kan mens jouself eintlik beswaarlik voorstel. Tog verval die digter nie in wanhoop nie, maar, soos ek sal aantoon, kom verskeie positiewe aspekte in dié skrikwekkende gedig aan die lig. Hoewel die psigoanalise in moderne tye nie meer in die sielkundige praktyk gebruik word nie, bied dit steeds verruimende interpretasiemoontlikhede vir literêre tekste, soos uit die artikel sal blyk.

 

klaaglied

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die dood   die kappende, dolwende dood

(daar’s gister en môre, maar nou is ondraaglik)

deur voetsool en kraakbeen druis dood deur die donker

dis die gouddonker hart van Rwanda

op ‘n godlose dag in April

 

die lank ingehoue skreeu skreeu

 

uit vrees, uit waansin, uit skuimende angs

val gekaptes in omhelsings van bloed

‘n ma met ‘n kind aan haar pelvis gekap

‘n ligpienk panty in die femur gekerf

oor ‘n vlerkdun skapula druip ‘n stringetjie krale

‘n baba tot turksvymoes in ‘n vysel gekap

elke ledemaat wéér

elke tong draai weg

elke arm ontdek alleen haar stilte

 

net die dood alleen weet

dat die hand van ‘n broer dodeliker

regeer as die dodelikste maaier deur God bedink

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die kappende, dolwende, snuiwende dood

(daar’s gister en môre, maar nóú is ondraaglik)

in die gouddonker hart van Rwanda

– (die skitterswart hart van almal)

kap ‘n panga die tande dwars in sy gesig

kloof ‘n panga haar vagina tot ravyn

skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui

die heuwels word wakker in ‘n droesem van bloed

en die onwelvoeglike spektakel van been

 

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse

koffie, avokado, heuning, honde

‘n uitspansel kraaie word gevoed met bloed

die dood draf voort in my skoene

driehonderd en dertig dooies per uur

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf-draf die dûende, dorstige, dom dik dood

(daar’s gister en môre, maar vandag is ondraaglik)

kyk hoe verkneukel die dood hom in fyn stiksels harspan

vermurwende neusbeen   uitspattige tande

lip en tong en oog en hart

is nóóit mensblywend genoeg om te duur nie

 

geruisloos maaier die hart van Rwanda

die skitterswart hart van almal

(gister en môre stort weg in die nou)

die uitgepakte mummifiserende lyke

is nie meer man of vrou of swart of wit

is net onafwendbaar

onontwarbaar

mensloos mens

geslag deur die hande van dié wat reeds dood is

 

ons is Rwanda

ons ís onvermybaar

 

in die dood het jy jou hart verloor

die gouddonker hart van Rwanda

die swart skitterhart van ons

(Kigali/Butare, Junie 2000) (77-78: Waar slegs ‘n getal tussen hakies verskyn, word verwys na Krog 2000.)

 

Die simboliese onthegtingsproses van die moeder en daaropvolgende identifikasie met die vader word in ‘n psigoanalitiese raamwerk soos dié waarin Julia Kristeva skryf, beskou as een van die belangrikste identiteitskeppende prosesse in menslike ontwikkeling. Vir Kristeva lê die basis van die onthegtingsproses waarin die kind ‘n eie identiteit konstrueer, in die verwerping van die liggaam van die moeder deur die kind in sy pre-simboliese fase (Lacan se term). Ofskoon ‘n normale kind dikwels sy hele lewe lank ‘n sterk geestelike band met sy/haar moeder behou, behels dié liefde nie liggaamlike kontak in die sin dat die kind hom-/haarself as deel van die moeder se liggaam beskou nie. Dit beteken dat die liggaam van die moeder vir die kind op metaforiese vlak afstootlik word:

 

… the symbolic is not, of its own accord, strong enough to ensure separation; it depends on the mother becoming abjected. The abject would thus be the “object” of primal repression (Lechte, 1990:159).

 

In die psigoanalise word groot waarde geheg aan die openbaarmaking of belydenis van die afskuwelike of, soos Kristeva dit noem, die abjekte:

 

But precisely ‘what is the point of emphasizing the horror of being?’ The short answer is that the control exerted by horror – the abject – can only be the greater if it remains hidden, unknown – unanalysed … Through a refusal to confront the abject, therefore, a fundamental aspect of individual and social life remains in oblivion, and our understanding and capacity to cope are thereby greatly diminished (Lechte, 1990:158).

 

Begeerte na die moeder se liggaam kan gesien word as die basiese taboe, soos dit ook vergestalt word in die Oedipus-mite. Kristeva vergelyk die noodsaaklikheid van die formulering van die abjekte met die verswyging van taboes binne ‘n gemeenskap. Sodra openhartig oor taboes gepraat kan word, kan letsels wat as gevolg daarvan ontstaan het, begin genees. Dit is insiggewend dat sy die terapeutiese be-skrywing van die abjekte spesifiek beskou as die taak en die opdrag van die kunstenaar en die skrywer (Smith, 1998:39).

Die inkantiewe oproep van die abjekte in gedig na gedig vorm in Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie ‘n belangrike stap in die proses van versoening. Verskeie gedigte in die twee siklusse “dagboeke uit die begin van die twintigste eeu” en “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” uit Afdeling 2 van die bundel, kan, vanweë die grusame aard van die gegewe, beskou word as gedigte waarin terapeuties oor die abjekte gepraat word.

Die gedig “klaaglied”, die eerste gedig van die laaste afdeling, “bindweefsel”, is egter beslis dié gedig in die bundel waarin die mees eksplisiete beskrywing van die afskuwelike en weersinwekkende voorkom. Die beskrywing van gruwelike verminking van veral vroue en kinders tydens die burgeroorlog in Rwanda geskied met ‘n byna obsessiewe beheptheid met wreedaardige detail wat die grense van menslikheid en welvoeglikheid oorskry.

Die gedig met sy apokaliptiese trekke vertoon sterk ooreenkoms met die karnavaleske hiperrealistiese werk van na-oorlogse Europese skrywers en digters, maar dit vertoon ook duidelike ooreenkoms met wat Kristeva in haar bespreking van Céline se werk die “apokaliptiese lag” noem:

 

… Céline’s writing ‘speaks’ horror. It brings it into view in carnavalesque fashion, and reveals the other repressed face of human existence – the one with a direct line back to the mother who gives life, but also death, who thus wrecks ‘the infinite’. In this sense Céline writes beyond the symbolic: the evil which he shows and embodies is not moral, that is to say philosophical evil; it is rather barely symbolizable apocalyptic evil. Céline, says Kristeva, is inside horror desperately striving to give it a name – to speak it (Lechte, 1990:165).

 

Openhartigheid oor die afskuwelike/abjekte maak dit moontlik om die trauma te begin verwerk. Onderdrukking gee aanleiding tot groter trauma, maar ‘n bepaalde soort “lag” – apokaliptiese lag – in die aanskyn van onrepresenteerbare gruwel, bring bevryding.

Die gedig “klaaglied” (77-78) begin met ‘n apokaliptiese refrein wat (met variasies) in totaal vier maal in die gedig herhaal word:

 

geruisloos draf die dood deur die donker

draf die dood   die kappende, dolwende dood

(daar’s gister en môre, maar nou is ondraaglik) (77).

 

Hierdie refrein met sy d-assonansie herinner aan Germaanse towerspreuke in stafrym (Krell & Fiedler, 1968:4-5). Die herhaling van die d- en p-klanke in ritmiese reëlmaat wat die klank naboots waarmee ‘n panga ‘n liggaam tref, is ‘n bindende faktor dwarsdeur die gedig en lê op paradigmatiese vlak klankmatige relasies tussen belangrike woorde wat op vernietiging dui, soos “dood”, “donker”, “draf”, “bloed”, “beendere”, “dûende”, “dorstige”, “dom”, “dik”, “ondraaglik”, “kap”, “panga”.

Die karnavaleske aard van die gedig lê in die personifiëring van die dood as apokaliptiese figuur wat die Wet van God parodieer en die ander kant van die menslike natuur ontbloot wanneer hy die goddelike gebod vernietig en ‘n eie wetmatigheid van vernietiging en verskrikking skep waardeur God, alle outoriteit en sosiale norme uitgedaag word (Kristeva, 1987 (b):41-49). Die metafoor “geruisloos draf die dood …”, waarin die dood metafories as ‘n “drawwende” gedaante voorgestel word, roep beelde op van Middeleeuse voorstellings van die dood wat met sy sens oor die aarde loop en mense afmaai. Dié beeld van die dood as wrekende figuur word versterk deur terme soos “kappende”, “dorstige”, “dom” en “dik” wat as attribute saam met “dood” gebruik word, maar ook meer eksplisiet deur reëls soos “kyk hoe verkneukel die dood hom in fyn stiksels harspan” (78). Die dood as vernietiger van menswees word egter die beste geïllustreer deur die groot gelykmakings- en ontmenslikingsproses wat in die dood plaasvind:

 

die uitgepakte mummifiserende lyke

is nie meer man of vrou of swart of wit

is net onafwendbaar

ontontwarbaar

mensloos mens

geslag deur die hande van dié wat reeds dood is (78).

 

Die implikasie van hierdie reëls, naamlik dat harmonie tussen swart en wit, tussen man en vrou eintlik slegs in die dood moontlik is, laat ‘n mens sidder. Die slotsom “lip en tong en oog en hart / is nóóit mensblywend genoeg om te duur nie” (strofe 7) sluit hierby aan met sy troostelose suggestie dat alle lewe vir die dood bestem is, ‘n lewensingesteldheid wat sterk herinner aan Eugéne Marais se bekende refrein uit “Skoppensboer”:

 

Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag

is Skoppensboer.

(Marais, Eugéne, in: Brink, André P., 2000:30).

 

Die gedig “klaaglied” steun sterk op herhaling: eerstens in die vorm van alliterasie en assonansie, maar ook herhaling van woorde en verwante frases, soos:

 

elke ledemaat wéér

elke tong draai weg

elke arm ontdek alleen haar stilte (77).

 

In hierdie aanhaling versterk die oordrywing “elke” wat “ledemaat”, “tong” en “arm” bepaal, die totale gebrek aan beskrywende woorde om die gruwel te representeer. Opeenstapeling van weersinwekkende beelde elders in die gedig laat iets van die apokaliptiese lag, wat Kristeva as stylkenmerk van Céline eien, weerklink – die wellus van die beskrywing van naakte gruwel:

 

‘n ma met ‘n kind aan haar pelvis gekap

‘n ligpienk panty in die femur gekerf

oor ‘n vlerkdun skapula druip ‘n stringetjie krale (77).

Hierdie sintaktiese konstruksie word in strofe 5 herhaal met ewe gruwelike detail:

in die gouddonker hart van Rwanda

kap ‘n panga die tande dwars in sy gesig

kloof ‘n panga haar vagina tot ravyn

skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui

die heuwels word wakker in ‘n droesem van bloed

en die onwelvoeglike spektakel van been (77).

En in strofe 6 nog ‘n maal:

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse

koffie, avokado, heuning, honde

‘n uitspansel kraaie word gevoed met bloed (78).

 

Ironie vorm in hierdie gedeeltes die basis van die weersinwekkendheid wat daaruit spreek – die skreiende kontras tussen die normale betekenis van woorde en die gruwelike verband waarin dit hier gebruik word. Let byvoorbeeld op die ironiese relasie wat tot stand kom deur die klankmatige ooreenkoms tussen “skapula” en “kap”, of op die ironie van ‘n stringetjie krale wat “druip” oor die skapula van ‘n kind wat na alle waarskynlikheid reeds dood is. Die vergelyking “skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui” is niks anders nie as ‘n onwelvoeglike oortreding van beskaafde sosiale norme. Dit is trouens opmerklik hoe dikwels die beskrywing van lyke en verminking geskied in kos-terminologie: “‘n ligpienk panty in die femur gekerf“, “‘n baba tot turksvymoes in ‘n vysel gekap“, “skil ‘n panga die kleintjie se kop soos ‘n ui“, “koffie, avokado, heuning … word gevoed met bloed” (my kursivering – MT). Hierdie stylkenmerk word trouens ook deur Kristeva verbind met die karnavaleske wat dikwels gekenmerk word deur opposisies soos “high and low, birth and agony, food and excrement, praise and curses, laughter and tears” (Kristeva, 1987:49) wat ook omruiling van magsposisies impliseer.

Die gedig “klaaglied” maak veelvuldig gebruik van klankmatige en sintaktiese herhaling en refrein. In ‘n frase soos “geruisloos draf die dood deur die donker / draf die dood   die kappende, dolwende dood” sou ‘n mens op ‘n transsintaktiese vlak in die herhalende donker o-vokaal ‘n argetipiese weeklag kon hoor en  in die plofklanke d, p en k die nabootsing van die geluid waarmee ‘n panga ‘n liggaam tref. Die transsintaktiese inskripsie van emosie wat geleë is in die ritme en intonasie, die sterk inkantiewe, melodiese inslag van die gedig as geheel en die uitdagende eise wat aan die sintaksis gestel word, aktiveer in hierdie gedig die semiotiese vlak van taal.

Semiotiese betekenis steun veral op die meerduidigheid of polisemie van die woord soos vervat in die konsep van zero-twee-logika, wat deur die wiskundige Dedekind uiteengesit word. Waar die relasie 0-1 in die wiskunde normaalweg dui op die verskil tussen “waar” en “vals”, dui die relasie 0-2 op die subtiele meerdimensionele en onbepaalde aspek van ‘n relasie waar die terme “waar” en “vals” nie die relasie bevredigend kan beskryf nie. Kristeva gebruik dié begrip om ambivalensie in poëtiese taal te beskryf. Ook in poëtiese taal is dit nie belangrik of ‘n bepaalde uiting “waar” of “vals” is nie, maar gaan dit veral om die verhouding tussen die woorde, konsepte of dinge waarvan die gedig “praat” (Lechte, 1990:113).

Op die vlak van die bundel vertoon die gedig onder bespreking sterk ooreenkoms met  onder andere die gedigsiklus “land van genade en verdriet” (37-44) uit die tweede afdeling van die bundel, sowel wat betref die woordgebruik, metaforiek én die strekking. Die opvatting dat die mens bestem is vir die dood, word veral in die vierde gedig van die siklus geïllustreer deur die aanvangstrofe:

 

ons dra die dood

in duisend klowende gedaantes

drummelend

droef

dra ons die dood (39)

 

In dié gedig word die dood simbolies van die beroulose houding en die versteurde sosiale verhoudinge binne ons land, soos blyk uit die slotstrofe van die vierde gedig in “land van genade en verdriet”:

 

die dood klap sy beroulose kleppe in ons taal

ja, die onverdrote deeglike dood (39)

 

Sodoende word die web van die bundel verdig en word verbande gelê, nie slegs tussen gedigte onderling nie, maar ook die onderlinge verband tussen ons eie situasie en die situasie elders in Afrika word vrugbaar ontgin. Op die abstrakte vlak word skokkende verbande blootgelê tussen die wreedhede van ‘n burgeroorlog in Rwanda en die onverdraagsaamheid wat heers tussen burgers van hierdie land.

Ofskoon die gedig “klaaglied” duidelik die Rwandese burgeroorlog as basiese gegewe het, soos ook blyk uit die datering van die digter aan die einde van die gedig: (Kigali/Butare, Junie 2000), is daar tog duidelike aanduidings dat die gedig ook op ‘n meer universele vlak gelees moet word. Die tweede strofe van die gedig, wat uit ‘n enkele reël bestaan, “die lank ingehoue skreeu skreeu”, het heel waarskynlik Edvard Munch se bekende skildery “Die Skree” as interteks. Ook Picasso se “Guernica” (1936), die skildery wat die Spaanse Burgeroorlog uitbeeld en waarin die skreeuende perd en die wenende moeder die sentrale gegewe vorm, word deur dié apokaliptiese reël opgeroep. Hierdie twee intertekste verbind die gedig aan universele wanhoop en aan oorloë en hulle verskrikking oral ter wêreld as universele gegewe.

Die verwysing na “beendere” roep weer die gedig “roofsonnet”, een van die sentrale gedigte in die bundel, op:

 

littekens kom oral voor behalwe in been

as skelet bly ons die langste mens

daar waar ons dieselfde is, gaan ons die moeilikste tot niet (31).

 

Die boodskap wat uit dié gedig spreek, is een van hoop en versoening. Dit is ‘n gedig wat klem lê op ooreenkomste tussen mense ten spyte van verskille in velkleur of politieke oriëntasie. Die teenstrydige aanname dat ‘n mens as skelet die langste mens bly, dui onder andere daarop hoe moeilik dit is om menslikheid “tot niet” te maak.

Verder verwys strofe 6 waarskynlik intertekstueel na D.J. Opperman se bekende gedig “Gebed om die Gebeente”. Vergelyk Krog se:

 

soveel beendere speek in die piesangplantasies

soveel lyke vlot langs die oewers

soveel vingers in die mae van visse (79)

 

met die slotreëls van Opperman se gedig:

 

Maar soveel beendere lê onder die roosmaryn …

Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd –

ek ken as moeder ná ‘n halwe eeu van pyn:

een land vol skedels en gebeente, een groot graf

waaroor u noordewind die droë dissel waai

en spruit en krans vul met die afloskrete van

die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai

– dat ons as een groot nasie in dié grammadoelas

met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,

en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas

ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

(Opperman, D.J. in Brink, André P, 2000:249)

 

Ooreenkoms tussen Krog en Opperman se gedigte is egter nie beperk tot die beeldmateriaal alleen nie. Ook in die tema van versoening tussen die verskillende rassegroeperinge in hierdie land wat in sowel Opperman se “Gebed om die Gebeente” asook in Krog se bundel as geheel die tema vorm, lê ‘n belangrike ooreenkoms opgesluit. Die tema van versoening wat uit Opperman se gedig spreek, spreek dus ook implisiet in die Krog-gedig mee.

Die ooreenkoms met ‘n teks soos Esegiël 37, wat trouens ook ‘n interteks vir Opperman se gedig is, val eweneens in Krog se gedig op. Dié gedeelte handel oor ‘n gesig wat die profeet Esegiël gesien het:

 

Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

Toe vra die Here vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe. Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

(…)

Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor … So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe …”

(Esegiël 37: 1b-6; 11-12).

 

Die saamlees van bogenoemde twee tekste met die gedig “klaaglied”, bied ‘n verruimende positiewe perspektief op ‘n oënskynlik uitsiglose gegewe. Die boodskap van versoening tussen strydende politieke groeperinge en die belofte van heropstanding en nuwe lewe kan, saamgelees met groot dele van die bundel Kleur kom nooit alleen nie, gesien word as deel van die versoeningsproses wat een van die sentrale bundelgegewens is.

Maar ook die slotreël van die gedig: “die swart skitterhart van ons”, soos gekontrasteer met die reël “die skitterswart hart van almal” wat in strofes 5 en 8 voorkom, dui op ‘n verruiming van insig. In ‘n woord soos “skitterswart” is “swart” (in sy negatiewe konnotasie waarskynlik, as “skitterend in sy swartheid”) die kernwoord. Veral as dit saamgelees word met die frase “die gouddonker hart van Rwanda” in die vorige reël is daar motivering om “swart skitterhart” as negatiewe beskrywing te ervaar.  Daarteenoor is “hart” (slotreël) die kernwoord in “skitterhart” (skitterende hart). Die woord “skitterhart” dra besliste positiewe betekenis, soos in “skitterskoon”/”skitterblink”, ens. Die persoonlike voornaamwoord “ons” in kombinaie met “skitterhart” dui op insluiting, in teenstelling met die woord “almal” (verwysend na die gesiglose massa) in kombinasie met “skitterswart”.

Die beswerende funksie van die teks waardeur die abjekte na die oppervlakte gebring word, korreleer op teoretiese vlak met psigoanalitiese praktyke waardeur die psigose uit verdringing opgediep word om dit te kan hanteer. Psigoanalise berus op die aanname dat rou en medelye, skuld en vergiffenis eers moontlik is met kennis en konfrontasie.

Dit is bepaald betekenisvol dat Krog nie in die apokaliptiese en afgryslike bly vassteek nie, maar dit transendeer deur steeds die positiewe te laat deurskemer – sy dit dan ook slegs deur indirekte intertekstuele verwysing. Hierin kan ‘n besliste vereenselwiging met die vrou-figuur as draer van lewe gesien word in teenstelling tot die na-oorlogse Europese digkuns wat dikwels in vertwyfeling en wanhoop bly vassteek in ‘n uitsiglose toekomsperspektief.

 

Bronverwysings:

BRINK, André P. (Oorspronklik saamgestel deur Opperman, D.J.). 2000. Groot Verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

BYBEL. 1989. Verklarende Bybel (1983-vertaling). Kaapstad: Lux Verbi.

KRELL, Leo & Fiedler, Leonhard 1968: Deutsche Literaturgeschichte. Bamberg: C.C. Buchners Verlag.

KRISTEVA, Julia.  1980.  Desire in Language: a semiotic approach to literature and art. Thomas Gora, Alice Jardin & Leon S.  Roudiez (trans.)  New York: Columbia University Press.

KRISTEVA, Julia. 1987. Word, Dialogue and Novel. Alice Jardine, Thomas Gora & Léon S. Roudiez (trans.) In: Moi, Toril (Ed.). 1987. The Kristeva Reader. Oxford: Basil Blackwell.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

LECHTE, John. 1990. Julia Kristeva. London: Routledge.

SMITH, Anne-Marie, 1998: Julia Kristeva: Speaking the unspeakable. London: Pluto Press.

 

  •