Posts Tagged ‘Afrikaanse digkuns’

N.P. van Wyk Louw 50 jaar. Aankondiging

Wednesday, January 8th, 2020

Vanjaar (2020) is die vyftigste herdenkingsjaar van die sterfdatum van die gevierde Afrikaanse digter, prosaïs en dramaturg, N.P. van Wyk Louw, op 18 Junie, ’n week ná die eenhonderd-en-veertiende herdenking van sy geboortedatum op 11 Junie. Verskeie herdenkingsgeleenthede en -publikasies word vir vanjaar beplan. Versindaba, in samewerking met Bernard Odendaal en Ronél Johl, het einde verlede jaar ’n uitnodiging aan gepubliseerde digters gerig om met Louw se digterlike nalatenskap in gesprek te tree op enige manier wat hulle poëties goedvind – huldigend, voortskrywend, satiriserend, ironiserend of teensprekend. (Kyk hieroor ook elders op die Versindaba-webwerf by: https://versindaba.co.za/2019/10/24/np-v-wyk-louw-50-jaar-later-2020/.) In die weke wat intussen gevolg het, het interessante verdere moontlikhede begin opduik waaroor ons mettertyd aankondigings sal doen en het ons ook wonderlike gedigte begin ontvang wat ons van vandag af gereeld weekliks op Vrydae hier sal plaas. Ons hoop dat die gedigte in die eerste plek aan lesers genot sal verskaf en tweedens nog digters sal aanspoor om ook deel te word van die projek om een van die heel groot geeste in ons uitgebreide kultuurgemeenskap in herinnering te roep en te huldig.

 

Andries Bezuidenhout. Die modeontwerper as rockstar

Saturday, March 26th, 2016

Hedi_Slimane

Vir ʼn paar jaar al groei die wêreldwye ontwerperskleremark vir mans baie vinniger as vir vroue. Deesdae word daar ook spesialis modeweke vir mansklere in plekke soos Parys, Londen en New York gehou. Die ontwerp van mans- en vroueklere beweeg al hoe nader aan mekaar, met woorde soos “gender bending” en “androgeen” wat in die hoofstroommedia bespreek word. Hedi Slimane (sy voornaam word “Êdie” uitgespreek en sy van “Slimaan”, in die foto hier bo) is seker een van die belangrikste mense wat vir hierdie Renaissance (dalk ʼn onvanpaste woordkeuse) in modeontwerp vir mans verantwoordelik is.

Slimane, ʼn Franssprekende fotograaf en ontwerper, is in 1968 gebore. Sy ma was Italiaans en sy pa Tunisies, maar hy het in Parys grootgeword, in die negentiende arrondissement. Hy het op die ouderdom van elf begin om foto’s te neem en het op sestien begin om sy eie klere te maak. Hy wou aanvanklik ʼn joernalis word, maar het kunsgeskiedenis aan die École du Louvre studeer en ʼn ambagskap as kleremaker voltooi.

In 1996 het Yves Saint Laurent hom aangestel as direkteur van gereed-vir-dra mansklere. Later is hy as die maatskappy se artistieke direkteur aangestel. Binne ʼn paar jaar het hy ʼn totale stylverandering in mansmode veroorsaak met ontwerpe wat in populêre verwysings as “skinny” of “slim fit” bekendstaan – stywe broeke en noupassende baadjies waarvan die moue hoog gesny is, maar wat gemaklik dra. Die streng onderskeid tussen ontwerpersmode (“high fashion”) en straatmode (“street fashion”) is afgetakel. Hy het inspirasie uit sub- en straatkulture geput en soms tydens modebekendstellings gewone mense op die straat gebruik in plaas van professionele loopplankmodelle, gewoonlik brandmaer mans met lang, reguit hare, groot oë en bleek gesigte. Hulle lyk soos jeugdige rockmusikante uit die skaatsplank en post-punk underground.

Die “skinny look” is vandag nog die norm, dis nou mits die man in die baadjie die slank figuur het om dit te kan dra (sommige dra dit ten spyte van die gebrek aan ʼn slank figuur – mea culpa). Ek moet hier noem dat Karl Lagerfeld ʼn hele paar kilogram verloor het om in Slimane se pakke te kan pas. Ook meer formele mansmodes is hierdeur beïnvloed en die tradisionele onderskeid tussen Britse en Italiaanse snyerspaktradisies het al hoe meer vervaag (Britse pakke het tipies losser aan die lyf gehang en die baadjies was effe langer en Italiaanse pakke het knus om die lyf gepas en die baadjies was korter). By selfs hoogs tradisionele Savile Row instansies het hoër mougate en knapper silhoeëtte die norm geword. Losser broeke met hoër middels begin nou eers weer gewild raak (nog nie in Suid-Afrika nie, maar waarskynlik binnekort).

In 2000 het Slimane Yves Saint Laurent verlaat om by Christian Dior te gaan werk. Hy het Dior se mansklerereeks herdoop na “Dior Homme”. Sy reekse het uitstekend verkoop. In hierdie tydperk het hy in Berlyn gaan woon en ʼn aantal fotografiese boeke oor die stad se lewendige ondergrondse kuns- en ontwerptoneel gepubliseer, asook ʼn aantal boeke oor Londense rock bands, veral in die punk genre. Hy het klere vir mense soos David Bowie, Jack White (van White Stripes) en Madonna ontwerp. Brad Pitt is in ʼn pak deur Slimane getroud (sy eerste huwelik). In die vroeë 2000s het David Bowie persoonlik ʼn prys vir ontwerp aan Slimane by ʼn seremonie oorhandig.

In 2007 het Slimane besluit om nie sy kontrak met Dior te hernu nie en is Los Angeles toe. Vir ʼn paar jaar het hy homself op fotografie toegespits, veral met Los Angeles se ondergrondse musiektoneel as onderwerp. Hy het boeke gepubliseer en as kurator van uitstallings opgetree. Sy ontwerpe is verder deur hierdie toneel se estetika beïnvloed. In 2012 het Slimane weer as hoofontwerper na Yves Saint Laurent teruggekeer. Hy het besluit om die maatskappy se naam te verander van Yves Saint Laurent na Saint Laurent Paris toe. Die ontwerpe wat hy vir die maatskappy gedoen het, het verkope met meer as 35% laat groei (meer daaroor hier). Daar is op die oomblik gerugte dat Slimane Saint Laurent weer gaan verlaat.

Slimane is sku vir die media en staan selde onderhoude toe. Hy waak egter nougeset oor sy openbare beeld. Hy het nog nie besluit om sy naam, soos baie ander modeontwerpers, in ʼn handelsmerk te verander nie. Hy is heel snedig oor mense soos Tom Ford, wat hy as ʼn bemarker, eerder as ʼn ontwerper, beskou. Hy skroom nie om joernaliste wat hom kritiseer te straf nie. Hy het Cathy Horyn, die New York Times se modekritikus, verbied om die opening van een van sy reekse modeontwerpe by te woon. Kanye West wou ‘n opening bywoon, maar is net toegelaat mits hy geen van die ander openings in dieselfde week bywoon nie (dis dalk beter om nie West se reaksie hier te bespreek nie) – lees hier meer oor sy mees onlangse reeks.

ʼn Soektog na foto’s van Hedi Slimane op Google kan ʼn vermaaklike spel word. ʼn Mens sukkel om foto’s op te spoor waar hy nie vanuit ʼn baie spesifieke hoek na die kamera kyk nie. Die agtergrond, sy haarstyl en klere wissel, maar die manier waarop hy na die kamera kyk bly dieselfde. Dan is daar ʼn video van ʼn seldsame onderhoud met hom. Dis ʼn studie in miskommunikasie, of dalk wankommunikasie. Dalk is dit deels as gevolg van die feit dat die onderhoud in Engels gevoer word – Slimane slaan soms na Frans oor.

Nietemin, Hedi Slimane bly ʼn interessante figuur in ontwerp, populêre kultuur en besigheid en waar die drie velde oorvleuel. Dit verg ʼn sterk ego om in elk van hierdie velde te oorleef en om ʼn impak te kan maak op die skaal wat hy het. Daar word na regte na hom as “the designer as rockstar” verwys. Met dít, asook Loftus Marais se gedig “Die digter as rockstar” in gedagte, het ek ʼn ligsinnige poging aangewend om ʼn figuur soos Slimane in die Afrikaanse digkuns te insinueer.

AS HEDI SLIMANE ʼn AFRIKAANSE DIGTER WAS

sou sy woorde styf om gedigte gespan het –
ekonomies, knapgeknip, sou selfs die andersheid
van Shakespeariaanse en Italiaanse sonnette
in sy blik na mekaar begin kyk het
met versmoue hoog gesny, enkelknooprym
en assonansie slinks omgeserp.
kyk hoe skugter is hy, laat geen onderhoud toe nie
maar patrolleer elke werf, tydskrif, blog
vir mistastings en korrigeer met sanksie en Sanskrit.
kyk hoe skimp hulle vir uitnodigings
na nog ʼn bekendstelling.
kyk hoe trippel hulle met kamera en mikrofoon.
hy sou ieder uitgewer van naam laat verander
(van Human & Rousseau na Rousseau Homme)
waarvoor selfs feministe hom sou moes vergewe
vir dít en als waarvoor mindere penisse kortgeknip word.
die establishment en uitgewers verhang borde vir hom
en die gedagte dat hy ʼn volgende bundel
aan iemand elders sal toevertrou (Protea Sunnyside)
ʼn verskrikking! bel Koos Bekker, bel Nederland
gee vir hom sjampanje, gee vir hom ʼn voorskot
massering en facial op die huis.
gaan laai hom persoonlik by die lughawe op
dis nie enige digter nie, nee,
vergeet van Krog en Breytenbach
dis Hedi Slimane hierdie.
o, kurator van bundels, edisies wat gedruk
en herdruk word. hoor hoe dreun die perse
hulle lê tydskrif, tablet en liefdesverhaal
vir die digkuns neer, want hierdie stansas
lees gemaklik, pas beter as handskoene
sit laag op die heup en bowe alles
verloor jou gewigtige boekrak
want voor hom was daar geen vernuwing nie
net prikkelskoppe, stuiptrekkings
en wat eens tradisie genoem is, het hy herskryf
sowaar, die hoop van taalstryder en taalmasochis
en wat oorbly is die dun, duidelike buitelyn
wat so elegant op elke stomme tong silhoeët.

ag, as Hedi Slimane maar net ʼn Afrikaanse digter was
want eenkant hang als hier so sakkig, so slapvlag
en aan die ander kant sit dit so kategories vás.

  •