Franco Colin. Na ‘n besoek aan die Afrikaanse Taalmonument
Friday, May 20th, 2022
Na ‘n besoek aan die Afrikaanse Taalmonument
Heuwels en berge, soos Golgota of Sinai,
was dikwels die bakermat of bakens van Woorde.
Hierdie suideliker koppie huldig ʼn idiolek,
gestip met ʼn omhaal van graniet parels
en spits obeliske wat wolke prik.
Menhirs herdenk noordelike
bloedverwante en rondborstige hutte
herroep Afrika-tale. Amper liturgies
betree jy ʼn katedraal wat uitmond
in ‘n kraal, of dalk ‘n laer, want sienderoë
vervorm die bewapende beton
tot die strategiese borswering van ‘n fort:
die verhewe plasing wat die vyand
op ʼn afstand kan bespied;
die kantele en skietgate om skerp-
skutters te verskans; ʼn loodregte
kanonloop op bomwerpers
gemik; selfs ʼn Masada-waterbak
om ʼn dors te les en ʼn binneplein
gebolwerk teen ʼn aanval ̶
dalk het argitek Jan van Wyk voorsien
dat hierdie toe nog geborge vors
aanstons in ʼn staat van beleg sou kom.
© Franco Colin, 2022