Posts Tagged ‘Albert de Vos’

Andries Bezuidenhout. Die soeke na Salome, ʼn onderhoud met Albert de Vos (AD)

Thursday, April 14th, 2016

wolfman artwork

Ek beskou Albert de Vos (ook bekend as AD) as die kaliber Afrikaanse liriekskrywer wat saam met mense soos Koos du Plessis, Anton Goosen, David Kramer, Amanda Strydom en Valiant Swart genoem behoort te word. Ten spyte van ʼn sterk kultusgevolg, het AD tot nou toe nog nie vergelykbare openbare erkenning vir sy bydrae gekry nie. Dis dalk deels omdat hy glad nie in bemarking belangstel of sy albums by hoofstroom (of selfs alternatiewe) platemaatskappye uitgegee of laat versprei het nie. Gelukkig maak die web dat musiek nou makliker bekombaar is as in die verlede. Ek luister al lank na AD se musiek en ʼn hele aantal komposisies van sy drie albums (elkeen persoonlik by hom gekoop) bly in die “best of” lêer op die geheuestokkie in my kar. Met my tydelike verhuising na Kaapstad loop ek AD toevallig raak en ons drink ʼn koppie koffie by die Sidewalk Café in Vredehoek se Derrylaan. Hy bly in dieselfde woonstelblok as ek en Irma, twee verdiepings boontoe, maar aan die hawe se kant van die gebou (beter uitsig, minder wind as ons). Na ʼn paar oor en weer kuiers vra ek hom heel diplomaties of hy bereid sou wees om ʼn onderhoud oor sy musiek toe te staan. Wonder bo wonder stem hy in. Aangesien hierdie ʼn blad die digkuns as fokus het, het ek met die vrae probeer om veral op die wisselwerking tussen liriek en die Afrikaanse letterkunde in AD se werk te fokus – ʼn kenmerk van sy musiek wat reeds met die eerste luisterslag opval. Hier is my volgende blog dan, in die vorm van ‘n onderhoud en ‘n interaktiewe gids van AD se musiek wat op die web beskikbaar is.

Andries Bezuidenhout (AB): Ek het jou in die laat-1990s in Brixton in Johannesburg leer ken. As ek reg onthou het ons by die Abelarde Sanction – daardie berugte underground kroeg op die hoek van Ripley en Fulham – ontmoet. Jy het toe pas jou eerste CD, Diep Karoo, uitgereik (luister hier na Diep Karoo se titelsnit). Dis deur Willem Möller van die destydse Gereformeerde Blues Band opgeneem, soos al jou albums daarna. Sal jy iets meer oor hierdie CD vertel?

diepkaroo

Albert de Vos (AD): Ek dink dit is die gunsteling van my drie CD’s, waarvan ek nog net my eie kopie oor het. Dit is opgeneem in Willem se huis in Sharpstraat, Yeoville, nog op die ou manier met ‘n reel-to- reel bandopnemer. Behalwe vir Willem was daar ook baie goeie musikante ingeroep soos Barry van Zyl op dromme en Ian Cohen op baskitaar. Daar was nie baie geld vir lang studio-tyd nie, maar Willem was baie geduldig met my, wat met my skrale kennis van musiekteorie soms gesukkel het om presies op die regte plek in te val. Een van my goeie herinneringe van die maak van daardie CD was die lewendige opname van “Kan Dit Nie Verloor Nie” in Willem se sitkamer. Ek dink dit is die enigste keer wat ek nog ooit ‘n eie liedjie saam met ‘n rock ‘n roll band gedoen het. In Etienne Leroux se roman Onse Hymie praat hy van die “diep karoo” en dit is waar ek die titel vir die CD gesteel het. Vir my het die diep karoo ook betekenisse soos die onderbewuste of die finale Groot Stilte.

AB: Diep Karoo het ʼn besonderse mooi omslag. Iets daaroor?

AD: Die kraan kom uit die tuin op Matjiesfontein waarvan my gewese vrou, Carine, ‘n skets gemaak het. Dit het mooi gepas by die Diep Karoo-tema: die dorheid van die “wye en droewe” land en ook ‘n verwysing na die groter dors. Op die agterste omslag staan ek by ‘n ou kerk in Sentraal, Port Elizabeth met ‘n klein draagbare radio in my hand op soek na ‘n sein. Dit was ook veronderstel om een of ander dieper betekenis te hê, but search me.

AB: Die musiek op Diep Karoo was meestal introspektief (bv. die titelsnit), maar dit het ook sosiale kommentaar gelewer. Ek dink nou spesifiek aan “Wie’s jy nou?” (luister hier daarna), ʼn ironiese blik op wit manlikheid na die oorgang van apartheid na ʼn nuwe bestel. Van jou latere werk verwys ook na hierdie onderwerp (bv. “Een setlaar, een kitaar” – luister hier daarna en die tragikomiese “Spierwit blues” – luister hier daarna). Wil jy iets oor protes en musiek sê?

AD: In die sewentigs toe ek begin kitaar speel het, het ek die gewilde folkmusiek konserte in P.E. met groot opgewondenheid bygewoon en daar kennis gemaak met protes in musiek. Dit was deur die bank Engelse musikante wat hulle uitgespreek het teen apartheid en ek sou nog meer as tien jaar moes wag om te hoor dat dit in Afrikaans ook gedoen kan word. Daardie jare het ek ook net Engelse liedjies gesing, om Afrikaans te sing was vir my bloot outyds of uncool soos hulle vandag sou sê. Toe teen die einde van die tagtigs kom daar mense soos Johannes Kerkorrel wat die toneel verander het, maar teen die tyd dat ek Afrikaanse liedjies begin skryf het, ná 1994, was protes uit die aard van die saak nie meer so aktief nie. Ek het begin besef dat die land se probleme baie diep lê en dat oplossings moeilik gaan kom en aldus kan sommige van daardie liedjies dalk beter onder klaagliedere geklassifiseer word. Of is die klaaglied ‘n soort indirekte vorm van protes?

AB: Na Diep Karoo het jy Wolfman uitgereik, in 2003. Daar was weer ʼn kunswerk op die omslag – ʼn foto van ʼn beeldhouwerk. Iets hieroor?

wolfmancover

AD: Daar was iemand in P.E. wat daardie houtbeeldjies gemaak het , ons het een gekoop vir die huis, en dit het toe jare later goed aangesluit by die konsep van die nuwe CD wat ek opgeneem het. Nadat ek gekla het oor die toestand van die land, het ek my gewend tot die mens asook my eie innerlike psige wat natuurlik net so problematies was: die mens met sy siel en sy dierlike drange wat gedurig in ‘n toestand van oorlog is. Ek moes die titel van die CD dalk met ‘n koppelteken geskryf het: Wolf-Man of dalk Wolf/Man.

AB: Baie van jou lirieke vind aansluiting by Afrikaanse letterkunde en letterkundige figure. Ek dink nou aan die soektog na Salome (ʼn verwysing na Etienne Leroux se Silbersteins) asook die lied “Strate van Oudtshoorn” waarin die spreker op soek is na Breyten Breytenbach tydens ʼn kunsfees. Albei hierdie lirieke is op Wolfman. Dalk iets oor jou werkswyse met sulke verwysings?

AD: Musiek en lees het nog altyd saamgeloop vir my en die skrywers wat geskryf het oor die dinge waarin ek belang gestel het, of wat tot my gespreek het, was dus my verwysingveld. Ek het natuurlik gou besef dat nie baie mense hierdie boeke gelees het nie of daarin belangstel nie, maar ek dink ek het die lirieke darem so geskryf dat op verskillende vlakke verstaan kan word. Dit was veral Etienne Leroux, met sy romans wat in verskillende lae geskryf is, by wie ek gaan kers opsteek het vir sommige van my liedjies. Om Leroux se boeke te verstaan moet ‘n mens iets weet van Jung se sielkunde, die Griekse mitologie ensovoorts, maar jy kan sy boeke ook net lees as blote stories en dit so geniet.

AB: Daar is ook verwysings na Hennie Aucamp in van jou lirieke, bv. “Langafstandliefde.” Kan jy uitbrei oor Aucamp en hoe jy hom sien en as invloed in jou eie werk? Hy was immers ʼn groot invloed in ʼn sekere genre van Afrikaanse musiek.

AD: Hier vanwaar ek sit en tik kan ek aan die anderkant, teen Seinheuwel, die woonstelblok sien waar Hennie gebly het; hy het vir my selfs na sy afsterwe nog steeds ‘n teenwoordigheid in hierdie deel van die stad. Daar is vir my twee Hennie Aucamps: Die Hennie met die plaas agtergrond en dan Hennie die flâneur (stadswandelaar) en die romantiese stedeling wat dikwels geskryf het oor die alleenloperman as jagter midde in die eensaamheid van die stad. Dit is by laasgenoemde Hennie Aucamp wat ek aanklank vind. Ja in “Langafstandliefde” vertel ek van die Hennie Aucamp boek wat ek nie kon opspoor nie. Uiteindelik het ek egter by daardie einste boekwinkel oorkant Ant Café die boek gevind. Dit was “Wolwedans”.

AB: Dan is daar Karel Schoeman. Ek is nie bekend met enige direkte verwysings na hom in jou lirieke nie, maar met die oor en weer kuier het ek opgemerk dat jy ʼn groot versameling van sy romans het. Hier in Kaapstad is die apokaliptiese landskap van “Afskeid en vertrek” natuurlik ʼn onstemmende teenwoordigheid. Dalk iets oor Schoeman en hoe jy hom lees?

AD: (Hennie Aucamp verwys êrens na Karel Schoeman as “die ou non”!) Karel Schoeman se stiltes spreek seker tot die introvert wat ek is. Daar gebeur mos nooit enigiets dramaties in sy verhale nie. Sy verhale het die gevoel van ‘n doodse Sondagmiddag met net ‘n strepie sonlig wat oor die vloer val. Dikwels in sy verhale is daar ook die karakter wat soek na iets, sonder dat die persoon regtig weet wat daardie iets is. Ken ek dit nie! In Karel Schoeman se boeke is daar gewoonlik ook die alleenloper wat homself afsonder van ander mense en daarmee kan ek myself nogal vereenselwig. (Dit is natuurlik nie ‘n gewensde lewensstyl as ‘n mens veronderstel is om die kollig op te soek as ‘n musiekmaker nie.) “Afskeid en vertrek” is uit druk maar uiteindelik ná ‘n lang soektog het ek ‘n tweedehandse kopie by ‘n boekwinkel in die hande gekry. Dit is nogal ‘n ontstellende boek en by die lees daarvan hoop ek altyd dat dit nie profeties van aard is nie.

AB: In “Soek na Salome” (luister hier daarna, of kyk hier na ‘n akoestiese weergawe wat in ‘n hotel in Lambertsbaai opgeneem is) verwys die spreker na ʼn man met ʼn huis in die “stille baai” en dat hy nie daar kan woon nie, omdat hy na Salome soek. Wil jy iets oor jou persoonlike geskiedenis en die tyd wat jy in Port-Elizabeth gewoon het sê? Ek is veral in die beroemde folk klub daar geïnteresseerd. Jy het nou die dag genoem dat van Johnny Clegg se eerste optredes by hierdie klub was. Ek dink ek het ook iewers gelees dat David Kramer vroeg in sy loopbaan daar opgetree het.

AD: Port Elizabeth is bekend vir sy wind en die die folk klub daar het dan ook die gepasde naam, The Four Winds Folk Club, wat al in 1969 gestig is. Eenmaal per jaar het hulle die vernaamste folkmusikante van regoor die land genooi en in die vroeë sewentigs is hierdie konserte in ‘n groot saal gehou wat volgepak was. Ek het in verwondering en aandagtig gesit en luister en kyk na die vingers van die kitaarspelers soos Syd Kitchen, Edi Niederlander, Johnny Clegg en baie ander. Later het ek ook dikwels by die folk club opgetree, meestal liedjies van mense soos Bob Dylan gesig. Dit was veral nadat die vernuwing in Afrikaanse musiek begin het in die tagtigs, dat ek baie gefrustreerd in P.E. begin voel het, omdat die stad so afgesonderd was van wat besig was om te gebeur. Tog het ek daar ook baie aangename mense ontmoet en in die laaste jare voordat ek P.E. verlaat het, was ek lid van ‘n bluesband. Ons het onsself The Backyard Howlers genoem en alhoewel daar dikwels meer mense op die verhoog as in die gehoor was, was dit goeie pret. In 1981 tydens my dienspligjare in Simonstad, het ek te wete gekom dat Edi Niederlander kitaarlesse gee vir beginners en ek dit het my ‘n kans gegee om haar op ‘n persoonlike vlak te ontmoet. Sy het egter gou agtergekom dat ek nie heeltemal ‘n beginner was nie en my lesse diplomaties beëindig.

AB: “Strate van Oudtshoorn” (luister hier daarna) is vir my ʼn tipe motto as dit kom oor dink oor hoe ek met my eie sosiale identiteit spook. Laat ek dit hier aanhaal:

die plakkate is teen die vensters, ’n ballon dryf in die lug
deur die tralies van die stede het ons na die Klein Karoo gevlug
Afrikaners raak plesierig, hulle speel en wroeg en lag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn,
ek soek na Breyten Breytenbach

ek dwaal in Jan van Riebeeck, raak verlore in Voortrekker
my Sarie Marais is in die wolke, dis nie van witblits nie — dis iets sterker
is daar ’n storm aan die broei? ek weet nie, want die wind waai nou nog sag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn,
ek soek na Breyten Breytenbach

gou verdwyn die name van Botha, Biko en Hani
nooit sal jou kinders wat nou is eers na hulle vra nie
na die blou van ons hemel staar ek sonder om iemand te verwag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn,
ek soek na Breyten Breytenbach

ek is Boer, ek is Brit, ek is vry en vreemd
ek is al die kleure van die reënboog nou
ek is lig soos die son, ek is donker soos die nag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn,
ek soek na Breyten Breytenbach

in die verte flikker die vlamme van gister se vreugdevure
eers was hier graffiti, nou net afgebreekte mure
ek voel so half leeg nou, al die heilige beeste geslag
ek loop deur die strate van Oudtshoorn,
ek soek na Breyten Breytenbach.

Ek weet Koos Kombuis het ook al ʼn rubriek daaroor geskryf. Het jy toe vir Breyten Breytenbach gevind? Op ʼn ernstiger noot, dalk iets meer oor waar die liriek vandaan kom?

AD: Dit was in Oudtshoorn by KKNK in die laat negentigs toe daardie lirieke ontstaan het. Ek onthou daar het iets gebeur en dus was daar sprake dat Breytenbach nie weer na Suid-Afrika sou kom vir openbare optredes nie. Dit was ongeveer tien jaar ná die Voëlvry-toer en die opgewondenheid van daardie protesjare was aan die kwyn. Breyten het op ‘n manier die hoop en opwinding van daardie oorgangsjare verpersoonlik, iemand wat ek nie saam met my hoop wou sien verdwyn nie. Gelukkig het ek egter ‘n paar jaar gelede deur die strate van Stellenbosch geloop en toe onverwags op Breyten Breytenbach afgekom en hom woordeloos gegroet. (Ek het nogal gevlei gevoel toe Koos Kombuis daardie lirieke volledig aangehaal het in sy rubriek, alhoewel hy my toe effens terug aarde toe gebring het, deur by te voeg: maar die ou kan nie sing nie!)

AB: In 2008 het Gemengde gevoelens uitgekom. Daar is drie pragtige liefdesliedere (soms met ʼn twist) wat my bybly – “Vol son”, “Judy” en “Weet jy hoe dit voel?” (luister hier daarna). Ek sou graag iets meer oor een of elkeen van hierdie liedere wou weet. Die verwysing na daardie lieflike film Bagdad Café in “Judy”, bv.

gemengde gevoelens1

AD: Ek sal liefs aanhalingstekens gebruik wanneer ek van daardie “liefdesliedere” praat, want ek was maar in ‘n redelike twisted state of mind toe ek dit geskryf het! Daardie jare was ek minder van ‘n kluisenaar as nou met die gevolg dat interessante avonture hulle aangemeld het wat goeie materiaal vir liedjies verskaf het. Ja,so byvoorbeeld was daar wel ‘n meisie met die naam Judy wat tydens ons laaste ontmoeting vir my haar lewensverhaal vertel het. Sy was ‘n soort wêreldburger, ‘n swerwer en haar gunsteling rolprent was Bagdad Café en by ons laaste samesyn het sy het vir my ‘n reëltjie gesing uit die klankbaan: I am calling you can’t you hear me, I am calling you…Mens kan mos nou nie anders as om ‘n liedjie oor so iets te skryf nie. Ek het taamlik bewolk gevoel tydens my Jozi-jare en die liedjie “Vol son” is opgedra aan twee mense wat son vir die donker en suiker vir die bitter gebring het. Die “sugar babe” in die refrein is nie dieselfde persoon as die vrou met die nagswart hare wat met haar demone baklei nie, maar hulle kom altwee uit daardie tydperk en toe plaas ek hulle saam in die liedjie. “Weet jy hoe dit voel” is ‘n mengsel van verskillende Stellenbosch-herinneringe en een van die bestanddele is ‘n onskuldige insident wat toe deel van die liedjie geword het: Ek onthou ek het saam met ‘n groep jong mense om ‘n tafel by die Dros gesit. Ná ‘n paar biere het ek die moed bymekaar geskraap en een van die studente gevra om saam met my daardie aand te gaan uiteet. Sy het ingestem, en ek het haar later die aand voor haar woonstel in die straat ontmoet, en ons het saam na ‘n Indiese restaurant in Dorpstraat gestap onder ‘n volmaan in die hemel. Vir ‘n paar ure was ek weer ‘n jong student op sy eerste date. Ek het haar nooit weer gesien nie en ek kan nie onthou wat haar naam was nie, maar ek onthou hoe mooi sy gelyk het in haar swart rok.

AB: Sonja Badenhorst het jou in ʼn onderhoud op LitNet ʼn “woordskilder en sosiale kommentator” genoem. Julle het gesels oor die feit dat Gemengde gevoelens meer persoonlik as die vorige twee albums was, asook die feit dat die verwerkings meer gestroop was (nader aan jou solo optredes). Enige kommentaar hieroor?

AD: Toe ek besig was met die lirieke van Gemengde gevoelens was ek geslaan met die koors van die sogenaamde midlife-crisis en een van die simptome is ‘n teruggryp na die verlore jeug. Dit het beide positiewe en negatiewe episodes en emosies tot gevolg gehad, en een van die maniere waarop ek dit hanteer het, was om liedjies daaroor te skryf. Ja, so die liedjies se lirieke is feitlik almal persoonlik van aard, behalwe vir “Een Setlaar, Een Kitaar”, wat seker sosiale kommentaar op ‘n manier is. Al die wit mans met hulle kitare wat ek daardie jare in Pretoria ontmoet het en my laat wonder het oor my setlaarskap. Is ek ‘n setlaar in wese of omdat ek so gebrandmerk word deur sommige mense? Wat die gestroopte verwerkings betref: ek het besluit omdat ek altyd solo optree, ek meeste van die musiek op die CD sonder of met min begeleiding gaan hou, sodat dit sal klink soos wat mense my gewoonlik hoor.

AB: In dieselfde onderhoud noem jy dat die onderwerp van vroue in jou lirieke die moeilikste vraag is wat sy jou vra. Sonja Badenhorst vra of vroue “ʼn belangrike (en moontlik onontbeerlike) katalisator tot jou musiek” is en jy antwoord dat jou lirieke “negentig persent outobiografies” is, maar dat “om die stories agter die liedjies te vertel… van die magic [sal] wegneem – elkeen wat daarna luister moet maar sy eie storie opmaak.” Jy voeg by: “Ek kan ook probeer slim wees en sê dat die vrouens simbole is vir die vroulike skaduwee in my onderbewuste… of so iets.” Ek lees ʼn bietjie Jung daarin. Wil jy nie tog die geleentheid gebruik om iets meer hieroor te sê nie?

AD: Daar is interessante leesstof te vinde op die internet onder die opskrif: Romantic love is a hoax! In hierdie artikel word die die Franse minnesangers van die Middeleeue daarvan beskuldig dat hulle met hulle liefdesliedere, romantiese liefde uitgevind en versprei het en dat hierdie soort “liefde” maar eintlik ‘n klug is. Ek is seker daarvan dat daar ‘n sekere soort liefde is wat verklaar kan word met Jung se teorie en in “Soek na Salome” het ek met daardie idee gespeel. En as ek aan die liedjie “Langafstandliefde” dink, kom fluister Hennie Aucamp in my oor: Ek weet al hoe minder wat liefde is, maar ek het ‘n sterk suspisie dat dit onbeantwoorde seks kan wees. Was daardie lang liefdesgedigte met komplekse ritmes en ryme in days of yore nie maar bliksemafleiers vir die frustrasie van mans wat nie onder die baie rokke van hul geliefde kon inkom nie? (Aanhaling uit Allersiele ). Dan dink ek egter aan Woody Allen wat ten spyte van sy erge sinisme elke jaar ‘n rolprent maak met romantiese liefde as tema, soos die onlangse Magic in the Moonlight. Die magic moet bly, ek wil darem nie te veel Jung of Freud in my liedjies sit nie. (Met die bontspringery en systappe hoop ek darem ek het jou vraag oor vroue op ‘n manier beantwoord.)

AB: Daar was ʼn rukkie terug ʼn debat oor die vertaalbaarheid van Bob Dylan toe ʼn kommersiële kunstenaar ʼn hele album met Dylan vertalings opgeneem het (hy’t voorheen Leonard Cohen gedoen). Jy het Dylan al vertaal en opgeneem. Is Dylan vertaalbaar?

AD: Ek dink ek het daardie kunstenaar voorgespring met my vertaling van Bob Dylan se “I Want You” en ek het daardie liedjie gekies omdat ek baie hou van die stadige weergawe daarvan te vinde op Bob Dylan at Budokan. Dit was nogal ‘n proses met die kopiereg en ek dink nie ek sal weer so iets aanpak nie. My opinie is dat hy wel vertaalbaar is. Ek sal egter ‘n onderskeid maak tussen ‘n liriekskrywer en ‘n digter; met my beperkte letterkundige agtergrond sal ek byvoorbeeld nie ‘n groot digter soos T.S. Eliot probeer vertaal nie.

AB: Jy vind sterk aanklank by Dylan en ons het nou die aand na Tom Waits in jou woonstel geluister. Wie is jou musikale rolmodelle?

AD: Daar is so baie rolmodelle en ek gaan nou heelwat name uitlaat: Toe ek op hoërskool was, was daar net een band vir my en dit was Creedence Clearwater Revival en toe ná skool het ek skielik ‘n kopverskuiwing ondervind van rock na folkmusiek. My groot held van daardie tyd was Dave Cousins (hooflid van Strawbs ) met sy melankoliese lirieke en liedjies. Daar was baie ander ook soos Paul Simon, Neil Young, Cat Stevens, selfs John Denver! Ek het gereeld ‘n vriend besoek wat by ‘n platewinkel gewerk het om hierdie plate te koop en op ‘n dag het hy vir my gesê: “Albert why do you always listen to this sensitive shit?!” Toe stel hy my voor aan mense soos Bob Dylan, Bruce Springsteen, the Doors en later het ek ook kunstenaars soos Nick Cave en Tom Waits ontdek. Gedurende my dienspligjare het ek vir Willem Möller ontmoet wat toe al reeds ‘n uitstekende blues kitaarspeler was en daardie styl, afkomstig van al die groot blues geeste van Amerika, het my ook later beïnvloed. Dan natuurlik die Afrikaanse grotes: Gert Vlok Nel, David Kramer, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel… Iemand anders na wie ek dikwels luister en wat moeilik geklassifiseer kan word, is Van Morrison met sy mistiese lirieke en sy kragtige stem. Daar is nou vir jou ‘n ou wat kan sing, Koos!

AB: Jy het al in Port Elizabeth, Johannesburg en Pretoria gewoon, asook Kaapstad, op meer as een geleentheid (as ek reg is). Hoe beïnvloed die stede waar jy woon jou musiek? Is jy sensitief vir die stedelike landskappe waar jy jou bevind? Ek merk op dat jy ook verkies om in groot woonstelblokke te woon.

AD: Ek het groot geword op ‘n heuwel wat uitkyk oor Port Elizabeth se straatligte en dit is seker hoekom ek nou nog steeds daarvan hou om hoog in die lug te bly. Daar is eintlik net twee stede waarna ek direk verwys in my lirieke, Port Elizabeth en Johannesburg. Toe ek begin liedjies skryf het in P.E. was ek baie rusteloos en opsoek na groener en groter wievelde. Vandaar die liedjie, “Môre” (gaan ek ‘n kaartjie koop), wat gaan oor iemand wat so half ‘n gevangene voel op ‘n plek. Johannesburg was die eerste groot stad waarin ek gewoon het, ook in ‘n woonstelblok en nie ver van die bekende 7de straat in Melville nie. Dit was interessante dog ook dikwels eensame jare wat heelwat stof vir liedjies verskaf het. Dit is seker vreemd dat ‘n introvert soos ek nie baie van stil en verlate plekke hou nie; ek geniet die diep Karoo, maar net vir ‘n paar dae op ‘n keer. Ek wil graag ‘n liedjie oor Vredehoek in Kaapstad skryf, maar ek is bevrees die wind gaan die woorde wegwaai.

AB: Ons het nou die aand oor Willem Anker se drama Samsa-masjien gesels en jy het die drama in gepubliseerde vorm op jou boekrak. Samsa-masjien het pas weer ʼn hele rits Fleur du Cap toekennings gewen. Is jy lief vir teater?

AD: As ek die tyd kon terugdraai sou ek iets gaan studeer het wat te doen het met teater of film. Van my vroegste herinneringe is hoe ek stories opgemaak het en dan moes my broer, meestal teen sy wil, as my mede-akteur in hierdie stories speel. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n klein rolletjie gespeel in ‘n drama, geskryf deur ‘n vriendin, waarin sy die hoofrol vertolk het. Ek het dit baie geniet. In hierdie drama is van my musiek op die klankbaan gebruik en die stuk eindig met my wat “Eenuurvrou” sing. Dit is opmerklik hoedat musiek en liriek dikwels ‘n baie groter trefkrag kry wanneer dit gehoor word saam met ‘n toneel in ‘n rolprent of op die verhoog. Daar was ‘n moontlikheid dat die liedjie “Stille Water” op ‘n klankbaan sou kom. Toe ek besig was met Diep Karoo het iemand wat betrokke was by die maak van ‘n dokumentêr my gevra om iets te skryf wat sou pas by die film: Daar het een of ander reeksmoord gebeur op die dorpie Christiana en die mense op die dorp wou nie eintlik daaroor praat nie, want lelike dinge was nie veronderstel om op so ‘n kristelike dorpie te gebeur nie. Ek het toe die liedjie “Stille Water” geskryf vir die film. My kompetisie was egter Johannes Kerkorrel en een van sy liedjies is gebruik, maar dit was ‘n interessante ondervinding.

AB: Nou vir daardie standaardvraag as ʼn onderhoud einde se kant toe staan: Toekomsplanne? Is jy en Willem Möller weer besig met iets in die ateljee?

AD: ‘n Paar jaar gelede het ek sagteware gekoop wat my toelaat om my sitkamer of soms slaapkamer in ‘n klankateljee te omskep. Op dié manier het ek ‘n klompie nuwe liedjies opgeneem en sommige van hulle is al gedokter deur Willem sodat hulle nou beter klink. Ek glo nie ek sal weer ‘n album opneem nie, maar eerder enkel liedjies op die internet laai. Ek vind my nou in die stilte van ‘n soort oorgangsfase, maar dalk duur dit nie lank nie, want elke nou en dan wonder ek skielik wat geword het van die meisie met haar swart rok.

Diskografie:

Diep Karoo (1997)

Wolfman (2003)

Gemengde gevoelens (2008)

Uit die argief:

‘n Vorige rubriek oor AD se musiek op LitNet (2004).

Onderhoud met AD deur Sonja Badenhorst op LitNet (2010)

Video:

AD sing “Soek na Salome” in ‘n hotelkamer in Lambertsbaai. Video deur Marcia Moon.

  •