Posts Tagged ‘Alwyn Roux gedig’

Alwyn Roux. Oggendlied

Monday, June 13th, 2022

 

 

 

Oggendlied

Na Louise Glück 

 

Van pyn is altyd iets te maak.

Ma verswyg die feit,

maar Sondae klink die orrelspel

in elke register uit – Bach Händel Mendelssohn,

terwyl sy haar sorge aan Hom toevertrou.

Met ʼn oop gemoed

in dié gewyde uur

haar kennis en beperkings aan Sy voete lê.

Geen wonder ek is aangewese op stilte nie

in wêrelde verdiep

asof luisterend na ʼn afgeslote lied.

 

Alwyn Roux

 

Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll

 

Alwyn Roux. Herberg

Sunday, October 31st, 2021

 

Herberg

De Oude Warande, Tilburg 2010

 

ek woon in ’n herberg

in sneeu

 

met gedagtes

en sonder koerante.

 

ek slaap rustig

en droom volledig

 

sonder begin

of einde.

 

niks pla nie,

want ek woon

 

in ’n herberg

in sneeu

 

met gedagtes

en sonder koerante

 

en droom volledig

 

© Alwyn Roux, 2010

 

(Hierdie gedig het ook verskyn in Literator, 33(2) 2012)

 

Alwyn Roux. Vredig

Monday, June 21st, 2021

 

Vredig

 

onvatbaar lig

in die seisoen

met berge

aan die horison

verbeel

 

*

 

die inslag vind

tot roerloos wees

asof ’n rots

onwankelbaar

in see

 

*

 

gedagteloos

die tyd verwyl

as weekdier

tussen rotse

skuil

 

© Alwyn Roux, 2021