Seamus Heaney. Vertaling in Afrikaans
Sunday, April 17th, 2022
Seamus Heaney. Vertaling van Engels in Afrikaans. Vert. deur Alwyn Roux.
Grawe
(’n Vrye vertaling van ’n gedig deur Seamus Heaney)
Tussen die vinger en die duim
rus die korterige pen; knus soos ’n pistool.
Onder die ruit die klaar krassende geluid
soos die graaf wegsink in gruiserige grond:
Vader, spit. Ek kyk af
soos die beurende romp laag tussen blombeddings
buig, opkom twintig jaar vort
ritmies gebuk om aartappels te plant
waar hy gegrawe het.
Growwe stewels nestel teen die hef, die steel
stewig teen die binneknie gehef.
Wortel hoë toppe uit, berg die skerpkant diep
om jong aartappels te strooi wat ons sou pluk,
sagkens oor hul koel hardheid in ons hande.
In godsnaam, die grysaard kon ’n graaf gebruik.
Nes oupa.
Oupa kry meer grond uit ’n dag
as enigiemand anders op Toner se bog.
Eens bring ek melk in ’n bottel
morsig met papier toegestop. Orent gekom
om te drink, en val terstond weer terug
inkeep, uitswenk, werp sooie
oor sy skouer, af en af
vir goeie turf. Grawe.
Die klam reuk van gemufte aartappels, die pappery
van sawwerige grond, stug ’n stuk gespit
deur wakende wortels bewussyn in my kop.
Maar geen graaf het ek om sulke mans na te volg nie.
Tussen my vinger en duim
rus die korterige pen.
Daarmee sal ek grawe.