Posts Tagged ‘Alwyn Roux’

Alwyn Roux. “daar was storms in haar oë”

Monday, July 26th, 2021

Twee dae, twee bundels. Die meeste sterre is lankal dood (2020) deur Johann de Lange en Bientang (2020) deur Jolyn Phillips. Een gedagte: wat ‘n uitsonderlike oesjaar het die Afrikaanse poësie nie in 2020 opgelewer nie? Albei bundels het by Human & Rousseau verskyn en is keurig uitgegee. Tog is dit twee uiteenlopende bundels.

De Lange se bundel is dié van ‘n bekwame digter. Daarvan is die titels van die onderskeie afdelings reeds sprekend, wat nie net digterlik is nie, maar ook gesofistikeerd in soverre dit met die tradisie in gesprek tree – vergelyk: (1) “Inskaduwings van die lig”, (2) “Die sysies & die spreeue”, (3) “Vergete vuur”, (4) “‘n Beiteltjie”, (5) “Alles van waarde”, en (6) “Gebedewiel”. Afdelings vier en vyf verwys die digter onderskeidelik na twee groot geeste – Van Wyk Louw en Lucebert – met wie hy reeds van sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982), in gesprek is.

Phillips se bundel, ànders as dié van De Lange, skep nie die illusie van vormvastheid of beheer nie; alhoewel, dit is juis die vloeiendheid van die teks wat jou boei. Dié vloeiendheid vind ‘n oorsprong in ekstase, soortgelyk aan Julia Kristeva se Powers of horror (1982). Wanneer jy begin lees, kan jy nie anders as om iemand anders nader te wink en die opdrag te gee, Lees hier! nie. En dan moet jy net keer dat daardie persoon nie wegloop met jou bundel nie.

Waar lê die poësie? Die poëtiese moment by De Lange is te vind in presiesheid; by Phillips, in oormaat.

Is dit regverdig om te vra watter bundel jy as leser bo die ander verkies? Glo het die huis van poësie vele wonings. Maar dis nie ‘n onregverdige vraag nie. Dit vereis eerlikheid. Is jy dapper genoeg om eerlik te wees? Nee, niemand kon my nog ooit van dapperheid beskuldig nie.

Maar ek kan dit sê: Waar die ervaring by Phillips ontbreek, maak De Lange daarvoor op. Dit beteken egter nie dat ek De Lange bo Phillips verkies nie. Ook: De Lange het ek al gelees; Phillips is nuut. En het ons al ooit só ‘n verruklike stem in Afrikaans aangehoor?

 

* Die titel is ontleen aan ‘n versreël uit “//Klaas” in Bientang op bladsy 37.   

Alwyn Roux. Winterreise

Friday, July 2nd, 2021

Onlangs het ek Gerard Scholtz se werkswinkel oor haikoe skryf by die FynArts Festival in Hermanus bygewoon. Die uitsig oor die berg en die see vanaf die stoep van die gastehuis waar die werkswinkel aangebied was, was die perfekte milieu om ‘n haikoe te inspireer.

Alhoewel inspirerend (in die sin van ‘n vertrekpunt skep vir die skryfoefening), het ek nie ‘n haikoe oor die natuurskoon geskryf nie. Ek het twee haikoes geskryf na aanleiding van ‘n musiekstuk deur Arvo Pärt (“Cantus in memoriam Benjamin Britten“) wat Scholtz vir ons gespeel het:

 

Twee haikoes

beierende klok
vou die koue om jou jas
krummels vir die voëls

*

beierende klok
stratuswolke in die lug
winterreise wag

 

Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans

Saturday, June 19th, 2021
Dit is tans ongelukkig so dat die meeste akademiese tydskrifte agter ‘n betaalgordyn lê en redelik ontoeganklik is vir mense wat nie daarop ingeteken is nie. Sodat ons lesers ingelig kan bly in terme van wat tans oor die letterkunde en, spesifiek, oor die poësie geskryf word, sal Versindaba in die vervolg ten minste die opsommings van artikels wat oor die Afrikaanse en die Nederlandse poësie handel, publiseer. Ek begin met die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, wat vir alle lesers toeganklik is. By die volgende skakel kan alle uitgawes van dié tydskrif besoek word:

https://www.suiderafrikaanseverenigingvirneerlandistiek.org/tn-a2

 

Die volgende artikels wat op die Afrikaanse digkuns betrekking het, het die afgelope jare in die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans verskyn. Ek plaas telkens ‘n skakel na die betrokke uitgawe, maar lesers sal daar na die spesifieke artikel moet soek.

 

Alwyn Roux en Yves T’Sjoen

’n Kartering van Breyten Breytenbach se betrokkenheid by die Gorée-instituut vir demokrasie, ontwikkeling en kultuur in Afrika (1987-2017)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_67b40e2f400944b9af07bc067ae36309.pdf

 

Marius Crous

Enkele Nederlandse gedigte oor Bach en sy musiek

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_acca397ce81c4d62aa96de6dd8b0ff69.pdf

 

Marni Bonthuys

Riekert, Weideman en Myburgh: Die representasie van Noordwesterse ruimte in drie Afrikaanse digbundels

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_77df0c7ee2614910aa40e46bf325c311.pdf

 

Ronel Foster

Van VOC-verversingspos tot V&A Waterfront, en verder: Die representasie van die Kaap in enkele gedigte

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_92102a9bc87a4b6fb95ac4c7ce683d87.pdf

 

Bernard Odendaal

Nawerkings van Herman Gorter se Mei (1889) en Verzen (1890) in die Afrikaanse digkuns

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_2cc8aea34de24a07a3ee34daa01893b0.pdf

 

Marius Crous

’n Diergerigte lesing van “Beeld van ’n jeug: duif en perd”

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_2cc8aea34de24a07a3ee34daa01893b0.pdf

 

Bernard Odendaal

Naklanke van Paul van Ostaijen se avant-gardistiese digkuns(-beskouings) in Afrikaans (deel 1)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_70f24affb3004ecab93c4c24271be2f0.pdf

 

Bernard Odendaal

“Poësie as spel”: George Weideman oor die naklanke van Paul van Ostaijen se avant-gardistiese poësie in sy eie digkuns (deel 2)

https://b3f77c64-2d72-45e8-b3d8-aba14b158ae9.filesusr.com/ugd/1ca66c_70f24affb3004ecab93c4c24271be2f0.pdf

 

 

Marlies Taljard

(Inhoudsbestuurder: Versindaba)

 

Wenners van Mont du Toit kwatrynkompetisie

Sunday, May 9th, 2021

 

 

Eerste prys: Daniel Hugo (Kwatryn 12)

 

Persië was bekend vir lekker wyn

en vir Khajjam se pittige kwatryn –

met ‘n kombinasie van dié twee

oorleef ons die knellendste kwarantyn.

 

 

 

Tweede prys: Herman Wasserman (Kwatryn 27)

 

Lumier

Uit elke pestilensie se puin

sal weer ‘n bloednuwe dag verskyn –

ons klink saam ‘n glas en bly verwag

uit gekneusde druif die dieper samesyn.

 

 

 

Derde prys: Alwyn Roux (Kwatryn 115)

 

Chanson

Skink woorde, lief, uit die bokaal,

dat ons mekaar besing in taal –

geïsoleer, verskans teen nood, sing

ons van laafnis, atonaal.

 

 

 

Die beoordelingspaneel

Professor Joan Hambidge (UK)

Professor Marlies Taljard (UFH)

Dr. Stefan van Zyl

Me Nini Bennett

 

Kommentaar

Ons het altesame meer as 200 inskrywings vir die Mont Du Toit Kwatrynkompetisie ontvang. Dit is te verstane dat die keuse van drie wenners bykans ‘n onbegonne taak was. Uit die lang kortlys wat onlangs op Versindaba verskyn het, kan gesien word hoeveel uitstaande kwatryne ontvang is.

Uiteindelik het ons die keuse van wenners op grond van tegniese vaardigheid gemaak. Een van die vernaamste eienskappe van die Persiese kwatryn is immers die streng dissipline wat dit van die digter vereis. Die Persiese kwatryn, ook Rubāʿī” (رباعي) genoem, is ‘n strofe met vier reëls wat ‘n volledige gedig verteenwoordig. Gewoonlik het die Persiese kwatryn ‘n rymskema AABA, hoewel AAAA ook voorkom. Die eerste drie reëls dien gewoonlik as inleiding tot die laaste reël wat die kern van die kwatryn bevat. Die inhoud is bondig en geestig en druk dikwels universele wysheid uit, maar kan ook hedonisties in sy wêreldbeskouing wees met ‘n tipiese onderliggende carpe diem-filosofie. Dit is ‘n vorm wat algemeen gewild geword het, veral ook in die nie-Persiese wêreld. Sham-e-Qias, skryf oor die Persiese kwatryn:

“This new poetic form fascinated all classes, rich and poor, ascetic and drunken, rebel outsider, all wanted to participate in it…. the sinful and the good both loved it, those who were so ignorant they couldn’t make out of the difference between prose and verse, began to dance to it”.

Dit is ook wat ons gesien het met inskrywings wat alle verwagtinge oortref het en vanuit alle oorde gekom het. Ons hartlike dank aan alle deelnemers wat hierdie kompetisie so prettig gemaak het en wat dit so geniet het om deel te neem. Ofskoon almal nie gewen het nie, kan elke digter verseker wees dat sy/haar bydrae deur baie lesers geniet is en daartoe bygedra het om die Covid-19-pandemie vir baie van ons effens draagbaarder te maak.

Ons hartlike dank aan Stephan du Toit van Mont du Toit Kelders wat die prysgeld vir die wenners geborg het en wat aan elke digter wie se kwatryn op ‘n wynbottel gebruik word, ‘n kas wyn belowe.

 

 

Alwyn Roux. Samespraak: Ontmoetings twee en drie

Monday, April 19th, 2021

 

Tydens die tweede ontmoeting van SAMESPRAAK het drie Samespraaklede referate gelewer. Dié referate het ‘n wye spektrum van onderwerpe gedek, wat op vergelykenderwyse (Afrikaans-Nederlands/Nederlands-Afrikaans) ondersoek is.

 

Delia Rabie (UP) ‘n Analise van die konseptualisering van verlies in Blou is nie ‘n kleur nie en De dag aan zee
Francine Maessen (UvA) De nieuwe generatie ecokritiek: een vergelijking tussen Pieter Odendaals Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en Dominique de Groens Sticky drama
Jessica van Wynsberge (UGent) Magisch realisme in postkoloniaal perspectief: Toorberg van Etienne van Heerden en De trein der traagheid van Johan Daisne

 

Die videomateriaal van die afgelope seminare is op SAMESPRAAK se webblad te sien: https://www.samespraak.com/afgelope-seminare.

 

 

Vir die volgende byeenkoms op 28 April, kan uitgesien word na die volgende referate:

 

Bibi Burger (UP) Die uitbeelding van vroulike karatkers in De Vlaschaard (1907) deur Stijn Streuvels en Laat Vrugte (1939) deur CM van den Heever
Alwyn Roux (Unisa) Van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) as vertrekpunt vir die vergelykende lees van Schaffer se Mens dier ding (2018 [2014]) en Krog se Met die oog op môre (2020)
Jerzy Koch (UAM) Literêr-historiese laboratorium van die Afrikaanse literatuur

 

Indien jy belangstel om deel te word van SAMESPRAAK, kontak my gerus by erouxap@unisa.ac.za.

 

 

Alwyn Roux. Samespraak, Schaffer en Stilet

Wednesday, March 17th, 2021

Samespraak is ’n nuwe samewerkingsprojek wat die vergelykende (transnasionale) bestudering van Afrikaanse en Nederlandstalige literatuur op die hart dra.

Die saadjie vir Samespraak is in Junie 2020 geplant toe ek op die webblad Versindaba ‘n pleidooi gelewer het vir die skep van ’n aanlyn forum spesifiek gerig op die vergelykende bestudering van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde.

In hierdie skrywe het ek verwys na Nerina Bosman en Wannie Carstens se artikel in De Lage Landen, getiteld “Tussen geleentheid en uitdaging: Die Nederlandistiek in Suid-Afrika”, wat in Februarie 2020 verskyn het. Hierin dui Bosman en Carstens (2020) aan dat “daar steeds ‘n gesonde belangstelling in die bestudering van Nederlands as akademiese terrein” in Suid-Afrika bestaan; dit blyk veral uit “nagraadse skripsies, verhandeling, en proefskrifte van studente”, asook die publikasies in akademiese tydskrifte. Verder noem hulle dat “samewerking tussen individuele navorsers en hulle nagraadse studente in beide die Lae Lande en Suid-Afrika eweneens ‘n goed gevestigde gebruik” is “met gedeelde publikasies en navorsingsprojekte”.

Alhoewel, soos Bosman en Carstens (2020) tereg opmerk is daar ook talle uitdagings vir die Nederlandistiek in Suid-Afrika “as gevolg van die politieke klimaat en die tersiêre omgewing waarin ons in Suid-Afrika werk”, wat onder andere befondsing en krimpende studentegetalle insluit.

As ’n manier om opnuut belangstelling vir die bestudering van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde te kweek en die uitdagings wat daarmee op ’n koste-effektiewe wyse te oorbrug, het ek die voorstel gemaak dat ‘n studiegroep vir die vergelykende bestudering van Afrikaanse en Nederlandse in die lewe geroep word.

Die voorstel was uiters goed vanuit verskeie oorde ontvang. Yves T’Sjoen, hoogleraar aan die Universiteit Gent, het op Versindaba geskryf dat gesien die historiese taalverwantskap tussen Afrikaans en Nederlands én die veelsoortige interaksies tussen Afrikaanse en Nederlandstalige literatuur, waarvoor aandag in sowel Suid-Afrika as die Lae Lande bestaan, so ’n digitale uitwisselingsplatform (sonder ’n residensiële universiteit) ’n pragtige uitdaging en ’n relevante akademiese gesprekstool is. T’Sjoen se uitspraak, “Geen leerstoel, maar een internationale en interuniversitere leertool” het dan ook Samespraak se motto geword.

Die alombekende digter en skilder Breyten Breytenbach het eweneens sy stem by dié van T’Sjoen gevoeg en gesê dat dit “tog vanselfsprekend (en vanandersprekend) [is] dat die onderlinge bevrugting en wedersydse gasvryheid en ontdekkings en toeligtings en nuuskierighede waarby die uitwisseling tussen die twee tale (en taalgebiede) al so lank baat, en soveel substansie het, meer koherensie en sigbaarheid verkry.”

In Julie 2020 het Samespraak ‘n bestuur ryker geword met bestuurslede vanuit Suid-Afrika, België, Nederland, Kroäsie, Pole en Tsjeggië. In September het Remona Voges-Van Huyssteen, destyds werksaam by LitNet en tans by Protea Boekhuis, ‘n webblad vir Samespraak ontwerp. Gaan besoek gerus ons webblad by www.samespraak.com.

Die Samespraakbestuur het dit goedgedink dat ons Alfred Schaffer, bekroonde digter en dosent aan die Universiteit Stellenbosh nader, om gedurende die eerste jaar van Samespraak se bestaan die inwonende skrywer moet wees. Schaffer het ons inisiatief vanuit die staanspoor ondersteun en die uitnodiging goedgunstiglik aanvaar.

Die eerste Samespraakontmooeting het op Woensdag, 24 Februarie 2021 afgeskop en dit was ‘n reuse sukses. Yves T’Sjoen (UGent) het die openingslesing van die studiegroep behartig. Die titel van sy referaat was “Met Alfred Schaffer op de brug”. Hierin het hy nie net die doeleindes van die studiegroep duidelik onderstreep het nie, maar ook die talle navorsingsmoontlikhede vir die bestudering van Alfred Schaffer se werk uiteengesit. Hier is openingslesing van T’Sjoen:

Martina Vitackova (UGent) en Andries Visagie (US) het elkeen ook ‘n bydrae gelewer; Martina se referaat het gegaan oor borskankernarratiewe in Afrikaanse en Nederlandse literatuur, en Andries het ’n lesing gelewer oor postkoloniale benaderingsmoontlikhede van kortverhale deur Jan Rabie en Harry Mulisch. Hier is albei opnames:

Die volgende Samespraakontmoeting vind plaas op Woensdag 24 Maart en daarna weer op 28 April. Die program vir 24 Maart lyk soos volg:

Samespraak: Tweede ontmoeting op Zoom

Woensdag 24 Maart 2021, 14:00 tot 15:30 (Suid-Afrikaanse tyd; GMT+2)

14:00-14:30 Delia Rabie (UP) Die femme fatale en die jong nimf in Van Heerden en X: ‘n verkennende studie
14:30-15:00 Francine Maessen (UvA) De nieuwe generatie ecokritiek: een vergelijking tussen Pieter Odendaals Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en Dominique de Groens Sticky drama
15:00-15:30  Jessica van Wynsberge (UGent) Magisch realisme in postkoloniaal perspectief: Toorberg van Etienne van Heerden en De trein der traagheid van Johan Daisne

‘n Skrywerswerkswinkel saam met Alfred Schaffer vind plaas op Woensdag, 26 Mei. (Die tweede semester se program is nog nie vasgestel nie; as jy dus voel dat jy by Samespraak betrokke wil raak, kontak my gerus by samespraak@gmail.com).

Intussen het die Samespraakbestuur ook kers opgesteek by die geakkrediteerde tydskrif Stilet. Die sekretaris van Samespraak, die doktorsgraadkandidaat Francine Maessen, het saam met Yves T’Sjoen en myself, ‘n oproep om bydraes vir ‘n spesiale uitgawe aan Stilet voorgelê. Die oproep om bydraes behels dat Samespraaklede in 2021 hulle navorsingsprojekte aan Stilet kan voorlê vir publikasie in ‘n spesiale uitgawe wat in 2022 uitgegee word. Vir die inhoud van die spesiale uitgawe stel ons drie soorte bydraes voor:

Eerstens akademiese artikels wat ons wil beperk tot die volgende twee onderwerpe: vergelykende (transnasionale) studies wat die deelnemers tydens die studiejaar onderneem het, of ‘n artikel oor die akademiese, kreatiewe en vertaalwerk van Alfred Schaffer en sy rol as kulturele bemiddelaar tussen Afrikaans en Nederlands. Die tweede tipe bydrae wat in aanmerking kom, het betrekking op die transnasionale ontvangs van Schaffer se werk (onderskeidelik in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebied). Laastens word kreatiewe bydraes van Schaffer self aangebied, spesiaal geskryf vir hierdie uitgawe van stilet.digital. Die kreatiewe werk van gevestigde en jonger skrywers in reaksie op Schaffer se oeuvre kry ook ‘n plek in die kreatiewe deel. (Vir meer inligting oor die Stilet-uitgawe, besoek gerus https://stilet.digital/samespraak/.)

Samespraak is bevoorreg om gedurende die aanvangsjaar van sy bestaan in 2021 die P.C. Hooft-pryswenner Alfred Schaffer as inwonende skrywer by ons betrokke te kan hê. Ons wil Alfred dan ook van harte gelukwens met die belangrike toekenning en ons sien uit om sy werk vanjaar by Samespraak indringend te bespreek en navorsingsartikels vanuit verskillende perspektiewe oor sy werk te lewer.

Alwyn Roux. Sitkamer: Maak jouself (on)gemaklik

Friday, February 26th, 2021

Die eerste episode van die podsending Sitkamer het pas verskyn.  Mercy Kannemeyer neem die leiding in die gesprek tussen boekliefhebbers oor die betekenisassosiasies van ‘n sitkamer. Die gespreksgenote is Earl Basson, Bibi Burger, Janien Linde, Alwyn Roux en Remona Voges-Van Huyssteen. Daarnaas gesels Alwyn Roux met Yves T’Sjoen oor die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika en Mercy Kannemeyer met die P.C. Hooftpryswenner Alfred Schaffer.

Luister na die eerste episode by die volgende skakel: Episode 1: Maak jouself (on)gemaklik. In gesprek met Yves T’Sjoen en Alfred Schaffer by Sitkamer • A podcast on Anchor. Die temalied van Sitkamer is gekomponeer deur Franco Prinsloo en Angie Gallagher is Sitkamer se formidabele redigeerder.

Maak seker om ons te volg op Facebook by Sitkamer | Facebook en stuur gerus ‘n e-pos na sitkamerpod@gmail.com. Sitkamer word met trots aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA).

Alwyn Roux. Die ongenaakbare fladdering van duiwe

Wednesday, October 28th, 2020

Op 27 Mei 2020 ontvang ek ‘n getekende kopie van Gisela Ullyatt se Die waarheid oor duiwe (Protea Boekhuis, 2020). Voorin skryf die digter: “Vir Alwyn. Mag jou eie duiwe losgelaat word een van die dae. Mag ‘n paar gedigte tot jou spreek in hierdie bundel. Duif-groete Gisela”. Dit laat my dink: as gedigte dan met duiwe wat losgelaat vergelyk kan word, is ‘n digbundel seker soos die lugruim wat die voëls in hul vlug huisves. Dié gedagte laat dink my aan Roland Barthes se stelling in S/Z (1974):

The text, in its mass, is comparable to a sky, at once flat and smooth, deep, without edges and without landmarks; like the soothsayer drawing on it with the tip of his staff an imaginary rectangle wherein to consult, according to certain principles, the flight of birds, the commentator traces through the text certain zones of reading, in order to observe therein the migration of meanings, the outcropping of codes, the passage of citations (Barthes, 1974:14).

Die gedigte in die bundel is egter nie soseer van die lugruim nie, maar eerder van ons gebondenheid aan die aarde. Die waarheid oor duiwe word op fenomenologiese wyse benader, wat die menslike belewing van dinge liggaamlik verken.

In die openingsgedig, getiteld “die waarheid oor duiwe” (8) word die waarheid oor duiwe onthul deur ‘n agtjarige kind wat binnein ‘n duiwehok klim om te gaan sien wat daar die hok aangaan:

die waarheid oor duiwe

daar trek die bure in my agtste jaar
na ‘n swanky suburb anderkant
brandkopbrug en los hul duiwehok
by die kweperbome in ons agterjaart

die hok my ogiesdraadkasteel
die lemoenduiwe royalty

eers hou ek hulle dop
deur skrefies en gaatjies beloer ek
gesnaweldes later klim ek versigtig in
sit op flertse duiwemis bestudeer die saad
in die hoop dat hulle uit my hand sal vreet

ek betas flets eiertjies
knus in houtkasnessies
hulle laat my gloei

ek aanskou die fights die jagsheid
die ongenaakbare fladdering

die swanky bure het ná ‘n ruk
hul not-so-swanky hok kom terugvat
en net ‘n leë vierkant
op die vergeelde gras gelos

Uit die blik van die kind word die “ogiesdraadkasteel” as ‘n toweragtige wêreld onthul soos “lemoenduiwe” deur die “gaatjies beloer” word. Dan klim die kind in die duiwehok en “sit op flerste duiwemis” en “betas flets eiertjies / knus in houtkasnessies”. (Hoe mooi die beskrywing van die belewing: “hulle laat my gloei”!)

Met die adjektief, “ongenaakbare”, word die “fladdering” van die duiwe nader gekwalifiseer, wat met “fights” en “jagsheid” gepaardgaan. Die gedig laat blyk dat die waarheid oor duiwe ‘n veelkantige ding is en nie slegs op een manier beskou kan word nie.

Een van die betekenisse van die woord “ongenaakbaar”, soos opgeteken in die WAT, is dit “wat min menslikheid of genade betoon of waaraan nie ontsnap kan word nie”. In die gedig sinspeel die “ongenaakbare fladdering” op weerloosheid wat op verskillende maniere in die bundel uitgewerk word. (Luister na Tinarie van Wyk Loots se voorlesing op RSG se potsending wat hierdie broosheid op ‘n pragtige wyse vertolk.)

Vergelyk ook die uitbeelding van ‘n sterwende man in die gedig “in die tyd van kiewiete” (bl. 14-15), opgedra aan Louis B. Hierin word die “borskas” van die sterwende  met dié van ‘n “kwarteltjie” vergelyk word:

jou vrou probeer jou voer met piesangbrood
maar jou borskas is ‘n kwarteltjie
jou longe ingesonke mynskagte
waarin suurwater drup
jy kyk hoe die kanarie
in sy kou versmoor

Omgewingsbeelde word gebruik om die “longe” van die sterwende as “ingesonke mynskagte” uit te beeld. Ons herken ons eie weerloosheid aan die omgewing waarbinne ons leef.

‘n Gedig opgedra aan Wilhelm Knobel, getiteld “wanneer verse begin droom” (bl. 70) ontvang spesiale vermelding vir Versindaba se lykdig-kompetisie in 2014. Met verwysing na die lewe van Wilhelm Knobel, word in die tweede en derde strofes gewys op die verhoudings van Knobel met sy ouers. Vergelyk strofe drie wat heenwys na Knobel se verhouding met sy vader:

jou vader is ‘n toegerankte
brandpad nooit oopgeskraap nie
elke woord ‘n pendoring jou brein
skarrel soos die vlakhase en tarentale
wat hy stelselmatig afmaai hy stroop jou
koringlande tot slegs
vergeelde stoppels oorbly

Ullyatt kry dit reg om iets omtrent die wesensaard van vaderfiguur vas te vang deur ‘n omgewingsbeeld van onbegaanbaarheid aan die vader toe te dig.

Afdeling twee, ‘n hoogtepunt van die bundel, dui op die wyse waarop die menslike liggaam uitgelewer is aan mediese sorg. Dié strekking hiervan herinner onder andere aan Marlene van Niekerk en Adriaan van Zyl se roman Memorandum: ‘n verhaal met skilderye (2006) en Michel Faber se Undying. A love story (2016).

In die gedig “pâte de fois gras” (26) word die ek-figuur se liggaam met dié van ‘n “galdik gans” vergelyk:

pâte de fois gras

vir tien jaar al voer jy
my vet met pil-orgies
pomp jy my
lewer op tot galdik gans

soggens druk ek
kapsule na kapsule
uit kliniese stulpverpakkings
aropax effexor wellbutrin

geel ligte begin
in my spieëls kaats
ek rys tot ‘n sjiffonkoek
waaruit meelstof sif

in jou kliniese toetskombuis
word ek slow food
jy lig die kastroldeksel op
roer my grysstof om

jy glip jou shiraz uit jou wynrak
jou noritake onbevlek
jou salotte afgesweet
die kaviaar glinster

stetoskopies luister jy
met jou koue pote oor my
smeer my dun vreet my op
met kraakbeskuitjies

vir my volgende afspraak
lui die voorskrif: 1 x lewer in netvet

Dit is nie maklik om oor die bundel te skryf nie.

Ek dink weer aan die metafoor van die duiwe as gedigte wat losgelaat word en aan Barthes se metafoor oor die teks wat soos ‘n vierkant in die lug is waarbinne die wiggelaar die vlug van voëls probeer peil.

Alhoewel Ullyatt se verse nie die waarheid van duiwe noodwendig as iets “moois” uitbeeld nie, is daar skoonheid te vind in die feit dat die verse uiteindelik bo die sinnelike uitreik, wat die grense van die ervaring oorskry.

In “nawoord” (83) sluit sy af:

nawoord

(met ‘n naaldwerkskêr het ek
al daardie duifeiertjies
oopgeknip ‘n paar duiwe
laat uitvlie per ongeluk
ek en die kweperbome
het gekonsulteer getreur
maar van my duiwehok kon
ek myself nimmer losflenter)

Bronne geraadpleeg 

Barthes, Roland. 1974 [1970]. SZ. Vertaal deur Richard Miller. Oxford: Blackwell.

Faber, Michel. 2016. Undying. A love story. Edinburgh: Canongate.

Van Niekerk, Marlene en Van Zyl, Adriaan. 2006. Memorandum: ‘n verhaal met skilderye. Pretoria: Human & Rousseau.