Posts Tagged ‘Amanda Lourens’

Resensie: Die waarheid oor duiwe (Gisela Ullyatt)

Saturday, April 4th, 2020

 

 

 

Die waarheid oor duiwe deur Gisela Ullyatt. Protea Boekhuis, 2020.

Resensie: Amanda Lourens

 

Gisela Ulyatt se debuut is ’n besondere versameling verse oor broosheid, kortstondigheid en verganklikheid. Die bekoorlike voorblad met die afbeelding van ’n porseleinduif deur Toni Pretorius slaag daarin om die tematiek van die bundel vas te vang, wat dalk ten beste beskryf kan word as ’n uitbeelding van lewende wesens op hulle kwesbaarste, omring deur ’n  talmende somberheid en uitgelewer aan ’n onbekende en onverskillige noodlot.

 

Soos in Pretorius se kunswerk die geval is, stel die digter-spreker haar in ’n posisie van weerloosheid op voor haar gehoor – wys sy letterlik die kwesbaarste dele van haar menswees, soos die duif wat die wondbare maagkant wys. En die “waarheid oor duiwe” wat deur die loop van die bundel ontbloot sal word, is dan inderdaad ook die digter se waarheid.

 

Die bundel gebruik as motto vier lieflike, maar droefgeestige reëls deur Johan Myburg, wat dan ook ’n voorsmaak van die toonaard daarvan gee:

 

die dae het onrustig geword

met die pote van duiwe

op die windgrys dak

 

dit het onherroeplik winter geword

 

Die bundel is in sewe afdelings verdeel, maar word nie beheer deur ’n baie strakke indelingsmeganisme nie, sodat temas mekaar eggo oor die grense van die afdelings heen. Die eerste afdeling bevat die titelgedig (p.8) met ’n beheersde terugblik na die kinderjare toe wegtrekkende bure hulle duiwehok in die spreker-hulle se agterplaas gelaat het, sodat sy met verwondering die voëls en hulle doen en late dopgehou het. Die hok met die duiwe word vir haar as sensitiewe waarnemer haar “ogiesdraadkasteel”, en die duiwe self word “royalty”, wie se “fights, […] jagsheid / […] ongenaakbare fladdering” sy soos ’n nuushond dophou. Verlies is egter die einde van hierdie verhaal, want:

 

die swanky bure het ná ’n ruk

hul not-so-swanky hok kom terugvat en net ’n leë vierkant

op die vergeelde gras gelos

 

Verlies, droefheid, sterwe en ondergang in verskeie gedaantes is dan die tema van heelwat van die gedigte uit die eerste afdeling, alhoewel uiteenlopende onderwerpe, en ook op verskillende wyses, aangeraak word. In “pop goes the weasel” (p.20) is dit die dood van ’n groen parakiet wat sonder veel omhaal ten tonele gevoer word, maar in “agter gordyne” (p.18) en “vir liam” (p.16) word die dood van ’n  vrouefiguur en ’n kind  met ’n veel swaarder emosionele lading verhaal. In laasgenoemde gedig sorg die intertekstuele oproep van Totius en Antoine de Saint-Exupéry vir twee sterk slotverse:

 

op die agtste dag

besluit jy oplaas hierdie wêreld

was nooit jou woning nie

 

reis liam reis deur sterre

na waar daar vosse

rose en stiltes is

 

In “postpartum” (p.11) raak die leser die toeskouer van verbrokkeling ten spyte van die geboorte van ’n baba. Die realisme daarin herinner aan ’n jong Krog se ontluisterende huisvrougedigte, terwyl wrang ironie saamklink in die spreekwoord van die “baba met die badwater uitgooi” wat geaktiveer word:

 

met ’n skurwe elmboog

toets sy die water in die roomgeel bababad

 

weggooidoeke

en poeier staan gereed

 

so ook die teebekers taankleurig van binne beskuitkrummels ’n pappery

 

geen water uit die krane nie net ’n hol geborrel van niks

 

wasmandjie loop oor van bra’s broekies en jockeys

die strykplank kners onder verskrompelde skooluniforms

 

op die mat die hond se modderspore die kat doop sy gebied met vrank pis

 

die baba brabbel in sy biesiemandjie sy skiet die water uit

 

Kunstenaarskap kom ter sprake in die kort reeks gedigte oor Helen Martins  (“vir ’n uiltuin”, pp.12-13), wat deur ’n lieflike droomkwaliteit omgeef is. Tog boei die donkerder, rock-geïnspireerde “vir eppy” (p.17) my meer, juis deurdat die komplekse aard van kunstenaarskap daar onder die soeklig kom:

 

haar kitaar haar donker lover

sy speel sadomasochisties

tot haar vingerpunte bloei

 

sy is comfortably numb

 

Die tweede afdeling bied veral gedigte wat die digter-spreker se siektebelewenis tot boustof neem. Sosiale kommentaar word opgelet in gedigte soos “beendigtheid” (p.24) en “intensiewe sorg” (pp.30-31) (oor onderskeidelik ’n eie kwaal en die vader se siekte) waarin die mediese bedryf uitgebeeld word as vals en geldgedrewe, maar ook verbeel word as ’n godsdienstige kultus wat nie-ingewydes tot ’n infeksiegevaar reduseer en pasiënte verontmenslik:

 

die offerlam lê

op die intensiewesorg-altaar

tussen blêrende masjiene

priesteresse in uniforms gluur jou aan

tussen steriele wagtorings van grafieke en lêers

 

stilte word met elke hartklop opgehef

die dood is ’n raserige ou vrou

by die deur rammel sy oumensgebede af

waarna niemand wil luister nie

die oubaas langs jou hyg

in sy suurstofmasker

hurk die donkerte

 

almal is verkneg in kampies van glas

 

in ’n ritueel van antiseptiese seep

was ons hande voor besoektyd

ons wag dat die voorhangsel ooptrek

voordat ons die allerheiligste binnekruip

waar akoliete waak

[…]

 

Te midde van haar eie siekte ervaar die spreker hoedat sy van haar eie naam vervreem raak wanneer sy dit op onpersoonlike mediese vorms oplet (“my naam”, p.25), maar paradoksaal genoeg is sy persoonlik geteiken deur die naamlose siekte en word sy implisiet ook die siekte se eiendom, soos sy in die slotparagraaf van “jy omsingel my” (p.28) met sy Bybelse toespelings konstateer:

 

patologieverslae verbloem

jy is nie malaria herpes bilharzia nie

dalk wel leukemie meen die spesialiste

die moontlikhede legio

wanneer jy jou tentpenne

daagliks in my steek

 

jy het my by my naam geroep

 

Uiteindelik word ook taal en haar vermoë om ’n liefdesgedig te skryf, deur die siekte afgetakel (“ek wou”, p.29). Dit is interessant dat die gedigte in hierdie afdeling juis gekenmerk word deur ’n groter mate van strakheid en ’n fokus op die materiële, teenoor die meer liriese aard van die eerste afdeling.

 

Die derde afdeling bestaan uit die vier gedigte in die kort reeks wat “al daardie dae” heet, en kyk onder meer na kollektiewe en individuele sielkundige letsels – die gevolge van onder meer die apartheidsverlede asook ’n genadelose laerskoolonderwyseres.

 

Eindes, afskeide en die sterflikheid is weer eens in die vierde afdeling aan die orde, en die tekstuur van hierdie groep verse word baie goed weerspieël in die eerste hiervan met die titel “sneeukoningin” (p.40):

 

vandag se lug ’n krakeluur in ys ek is gereed

om vir die laaste keer te skilder

 

maande se sneeu

en geniepsige yskeëls

het my verfkwaste verniel

die skilderdoek beluister

’n stil seisoen

ek neem afskeid in die kleur van swane

in drome lok my winterkoning kinders om stukke ys

in die sneeupaleis te splyt

ek besweer die toendra met ’n blou slee

met wit honde en klokkies

hierdie landskap wat selfs die finne koudlaat

 

dae gaan verlore maar jare herwin ek hierdie spieël geskep uit ’n kleurlose palet van

vreemde heksagone

 

Hierdie triestige, winterse tyd gaan gepaard met verskraling en ‘n verlies aan kreatiwiteit, soos blyk uit die slotstrofe van “onteer” (p.43) met die slim spel met “skraps” en “skraap”, terwyl die motief van die duiwe weer opgetel word:

 

alle gedigte uit my geskraap

en skraps is die middag

waaruit bosduiwe vlug

 

Intertekstualiteit kom ook heelwat voor in hierdie afdeling, onder meer in “jy’t weggegaan” (p.46) na die bekende Louw-gedig, maar met die verskil dat die geliefde gesien word as deel van die subjek:

 

jy bewoon ’n herberg in my

onder silwer verberg ek jou

ek droom jou om

trek luike dig

 

’n Hoogtepunt in die afdeling, maar ook die bundel, is Ulyatt se omdigting van die Ophelia-gegewe in “ophelia” (p.52), met beelde van ondergang asof uit die onderbewussyn:

 

uit swart wilgers se skaduwees

kom hy na haar

bou met slik stewiger walle

om sy waterblommetjies digter te laat groei

 

hy vleg ’n krans uit pendorings

kroon haar as sy bruid

 

stadig vaar sy stroomaf

tussen mosbegroeide beentjies

drywende voëlneste

haar ruiker van lantana mimosa magriete

 

so geel soos vinkmannetjies

haar rok ’n modderroos

 

hy staan op die wal verkyk hom

aan hoe die bruid verpletter

siltsteen oopgekraak

 

Die tweede kort gedig onder die titel “oorsprong” (p.55) beeld duiwe uit as die draers van die botydelike, wat waarskynlik ook die naaste is wat die digter aan die metafisiese kom. In “alfa” lees ons:

 

vlerkig in eteriese vlug

’n duif oor mitologiese stede

waar geelwordende engele

bach in katedrale fluister

 

‘n Besoek aan ’n Boeddhistiese sentrum is die boustof vir die reeks haikoes wat in die vyfde afdeling aan bod kom. Die digter slaag goed daarin om indrukke en teksture in hierdie kort verse vas te vang, waarvan die volgende ’n uitstekende voorbeeld is:

 

stilte

is windklokkies

van glas

 

Die sesde afdeling behels onder meer elegiese verse oor kunstenaars soos Kurt Cobain, Wilhelm Knobel, Ernst van Heerden en André P. Brink, tesame met herinneringe aan die kinder- en studentejare.

Die bundel sluit af met ’n laaste sewende afdeling waarin daar enersyds teruggekyk word na die kinderdae en die persoonlike verlede, maar waarin die dood ook ’n haas tasbare teenwoordigheid word – asof ’n kringloop voltooi is. Die slotgedig vertel hoedat die spreker haarself nooit kon losmaak van die herinnering aan die vergete duiwehok nie, maar dit is in die treffende “gedig in vibracete” (p.81) dat daar ’n versugting gehoor word om van die aardse asook die eie herinneringe ontheg te raak – om as’t ware ’n Boeddhistiese staat van volkome vrywees te bereik:

 

ek

vroeëperskebloeisel

bespieder van vibracrete-heinings

en die bure se boomlose jaart

hulle hond howl soos ginsberg

sonder ’n beat

geen kaddisj opgedra aan die son nie

eerder ’n venynige wiegelied

 

heilige here van laerskooldae

if you happen to listen

laat my alles afsterf

verlos my en die brak

van ons vibracrete-dae

 

Teen hierdie tyd het die bundel die “waarheid oor duiwe” op gestadige wyse onthul, maar sonder enige grootdoenerigheid of breedsprakigheid. En hierdie waarheid is dat verlies die essensie van alle aardse dinge is – dít is die alfa en die omega.

 

Die waarheid oor duiwe ontroer op ’n manier wat jou as leser vir ’n wyle tot stilstand dwing. Aanvanklik was my kritiese indruk dat die fokus dalk té veel op die konkrete is, dat die metafisiese en die besinning aan die agterspeen suig. Maar soos die bundel in jou wese ingroei, besef jy dat die dieper besinning juis ingeweef lê in die besondere tekstuur van die verse – die fisiese wêreld is die noodwendige vehicle vir die broosheid wat die lewe is.

Mag daar nog vele verse uit Ulyatt se pen verskyn.

 

 

Resensie: Knapsekêrels (Pieter Fourie)

Sunday, July 2nd, 2017

Omslag

knapsekêrels deur Pieter Fourie. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-77-3, Formaat: Sagteband, 143p.)

Resensent: Amanda Lourens

Fourie se knapsekêrels wat onlangs as ’n lieflik versorgde bundel by Naledi verskyn het, is onomwonde een van die groot digterlike verrassings van die laaste paar jaar. Fourie, wat met hierdie bundel die status verkry as die oudste debutant in die Afrikaanse poësie, het egter hoegenaamd nie nodig om hom op dié status te roem om vir sy bundel ’n plek in die Afrikaanse poësiesisteem te verseker nie. Ongeag ouderdom of digterlike ervaring is knapsekêrels ’n bundel wat deur ’n bedrewe woordkunstenaar tot stand gebring is, soos blyk uit die uiters digte, maar weliswaar oënskynlik eenvoudige verse.

As eerste gedagte: Lesers moenie dink dat “knapsekêrels” met sy bladspieël van min woorde enigsins ʼn “maklike” lees gaan wees nie. My eerste lees was eerder ʼn kennismaking met Fourie se sonderlinge taalgebruik en onpretensieuse styl, maar dit is veel later eers dat die betekenis begin deurskemer het. En ná die lees en oorpeinsing hiervan is dit steeds asof daar ʼn nog verdere dimensie is wat my ontglip. Tyd en herlees sal hopelik hieroor helderheid bring.

Ander resensente het reeds gewys op die verbande en gesprek tussen hierdie bundel en Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks, maar dit is waarskynlik belangrik om ook op die titellose insetgedig te let, met sy toespeling op Opperman se bekende “Vakansiebrief”:

in onrus sit ’n oompie

mymer: “my dae verdwyn

soos kwartels in lang gras”

besin

ryg string na string

woordkrale in

In ʼn onderhoud op Versindaba vertel Pieter Fourie hoe hy as student onder Opperman se leiding werklik met gedigte kennis gemaak het. Die leser sou die raaiskoot kon waag dat Opperman se destydse uitspraak oor Blum se debuut (“ʼn Digter behoort te debuteer soos Blum. Met agting vir sy vak”) Fourie moontlik met sy eie debuut laat wag het totdat hy werklik meester van sy vak geword het. Vir die groter poësietoneel, so terloops, is dít dalk die beste raad denkbaar.

In hierdie kort gedig lê belangrike sleutels tot die bundel, wat te make het met die digter se selfverklaarde skeppingsproses, maar ook met die leser se benadering tot die bundel. Die digproses is hiervolgens een waarin besinning sentraal staan, en daarna volg die inryg van die “woordkrale”, oftewel die afgemete woorde wat in kunstige stringe naas mekaar gerangskik word om betekenis tot stand te bring. Dit is dus ʼn strategie waarvolgens die ervaring eers deurdink word, en daarna word die woorde gekies wat die ervaring en die betekenis daarvan die beste verwoord.

Terselfdertyd moet die leser bereid wees om met min woorde te werk – moet hy of sy die gapings sien en interpreteer. Die Opperman-vers lui oorspronklik “my dae verdwyn / in stiltes soos kwartels in lang gras”, maar in Fourie se bewerking word juis “in stiltes” verswyg; terselfdertyd word die nienoodsaaklike sinselemente weggelaat. En dit is juis hoe Fourie dikwels werk: Net die allernodigste word gegee, en noodsaak die leser om aktief tot die dans van betekenisgewing toe te tree.

Terselfdertyd is daar ʼn ooreenkoms tussen Fourie en Opperman in die sin dat beide sterk uit die aardse put, maar dat daar deur die gedigte gevul met aardse beelde tog ʼn sterk bewussyn van die groter strome van lewe en dood loop. Die Opperman-gedig werk onder meer met beelde wat ten nouste met die aardse verband hou, maar wat direk tot die mens spreek en ʼn soort atavistiese verlange ontlok:

[…]

Die berg se donker lies, vars spore

Van die likkewaan en kuttels van ʼn bok

Roer iets in my van lank tevore;

[…]

Dieselfde sensitiwiteit vir ou herinneringe wat terselfdertyd met die groter vraagstukke van menslikheid verband hou, word duidelik by Fourie gesien, soos byvoorbeeld in ʼn gedig soos “gompou” (p.93).

Fourie skryf gedigte wat intiem met die Suid-Afrikaanse bodem asook die fauna en die flora verband hou. Die taalgebruik is deurgaans gestroop, maar die digter bedien hom op ʼn meesterlike wyse van streekstaal wat baie in onbruik vervalle woorde en idiome weer na die oppervlak bring. Die versbou is eweneens ekonomies, en enumerasie is ʼn tegniek wat dikwels ingespan word – hetsy vir die opeenstapeling van naamwoorde of werkwoorde ten einde op essensiële eienskappe of handelinge te fokus.

Knapsekêrels, volgens die HAT, is ʼn “onkruid (Bidens pilosa) met (dun swart) klitserige saadjies wat aan klere en die wol/hare van diere vassit as dit daarteen skuur” – tot die ontvanger se groot frustrasie, soos alle Suid-Afrikaners sal kan beaam. Fourie se verse haak hulle letterlik aan die leser vas, en noodgedwonge sal jy dae lank herkou aan ʼn op die oog af eenvoudige gedig soos byvoorbeeld “suurklontjie” (p.56), wat handel oor vervreemding en verlies:

vreemd vir mekaar

draai ons

beteuterd om

.

dis nie meer

dieselfde nie

.

in die wegstap

kan ons net gis

.

iemand

het ’n stukkie

uit die maan gehap

.

Hierdie soort verkonkretisering van emosie word deurgaans gesien.

Aan die ander kant is dit ook by uitstek die knapsekêrels van die lewe waarvan Fourie gedigte maak – die groot temas van lewe, liefde, verlies en dood; ervarings wat universeel bly kleef en nie losgelaat kan word sonder deeglike besinning nie.

Die bundel bestaan uit sewe afdelings met interessante titels (ek moes my in twee gevalle na die woordelys agterin wend om die betekenisse na te slaan). Hulle is: “kiekie”, “knelter”, “oumeidsoen”, “veervolk”, “goljaartjie”, “duwweltjie” en “stilte”. “Oumeidsoen” beteken “ʼn besoek aan die Kaap en veral Tafelberg, nadat jy die ‘oumeid’ by aankoms op die stasie moes soen”. ʼn Goljaartjie is “’n vroligheid (vrolikheid? – AL), bokjol, joligheid”. Die bundel beweeg dan ook rofweg deur momente van aanskouing, aardse belewing, hoop en ontgogeling na ʼn sterk doodsbesef, maar dan wel een waarin die wete van lewe uiteindelik die opponerende – en kreatiewe – mag word.

In ʼn paar van die gedigte in die eerste afdeling word portrette van bepaalde maakprosesse aan die leser voorgehou. Daar is onder meer ʼn putgrawery, waarvan die uitkoms veel meer as net die vind van water is: “kyk op / hygenthert / helderoordag / sienderoog / die sterre skyn!” Ook kom daar “pragskywe / wit boerseep” te voorskyn, sowel as “ʼn dosyn / mudsakke sout” en “blink / ses zinksalfblikkies / snuif!”. Hierin kan moontlik ʼn basiese respek vir kreatiewe prosesse gelees word, sodat die leser al hoe sterker begin uitsien na die digterlike produkte wat gaan volg.

In die afdeling “knelter” sou ʼn mens gedigte verwag wat handel oor struikelblokke of knelterpunte – die HAT dui juis aan dat “knelter” ʼn verouderde vorm vir “kniehalter” is. Teen die verwagting in, behels hierdie afdeling egter vele gedigte wat op die aardse, op basiese drifte, en op spys en drank afgestem is. Die gedig “aftreeman” (p.37) gebruik heelwat enumerasie om die waarde van beeldende taal vir ʼn beter begrip van die natuur te illustreer, en wys terselfdertyd op die enorme kreatiewe moontlikhede wat die lewensfase van “pensjin” inhou:

 

ek pensjin vandag

vyftig jare

op hierie plaas

.

kry dak oor my kop

’n tuintjie

water

weiding vir dertien bok

.

sal nie op my gat

loop sit

september

jaar wat kom

speel ek perdalks

veldgids

vir blom en plantjie

.

in elke raakvatnaam

’n feëverhaal

vir die reg verstaan

.

verneukhalfmensies

rooikalkoentjies

ouma-met-die-bont-skoentjies

.

skotteloortjies

bob’jaantoontjies

poublommetjie

gansies

swartoognooi

.

basviooltjie

ghaap

wittjienkerientjee

.

klapklappie

piempiempie

kamiemie

 .

waterkannetjie

witkaree

boesmankers

.

ystergras

.

as my eerste lam

vir ooi se biesmelk kniel

trap ek vir hul

’n stofkap uit die riel!

.

Die uiterstes van uitsien en hoop teenoor ontgogeling en aftakeling is ʼn belangrike tema in die derde afdeling (“oumeidsoen”). In “kaap toe” (p.51) word daar met min woorde omgegaan, maar die gedig is skrynend in die uitbeelding van die hoop op die “eendag” wanneer dit moontlik sal wees om te ontkom aan die doodse roetine van blote oorlewing:

leeftyd al werk ek

vir patat

soutsnoek en brood

jy baar

maak kinders groot

.

kaap toe

kaap toe

dit moet ons nog doen

.

nie hoorsê nie

ons eie

oumeidsoen

.

Hierdie afdeling is dan ook een waarin die lyding van die arbeider treffend uitgebeeld word in byvoorbeeld die skrynende “dopstelsel” (p.63), met sy ontginning van streektaalvorme soos “hondjie byt” (rugpyn as gevolg van baie bukwerk) en “die swartvarkie skrou” (die drang na drank).

“Veervolk” bevat ʼn aantal knap verse oor verskillende voëlsoorte, maar Fourie gebruik die voëlportrette ook om skerp kommentaar op die menslike aard te lewer, soos byvoorbeeld in “namakwaduifie” (p.80) waar diegene sonder vertoonsug gesien word as met selde ’n swak plek in hulle mondering:

parmantig laag

in vlug

eintlik

gevaarlik

.

vertoon paartyd

nooit

met pronk en fuif

weet sommer net

.

lae profiel

het selde ooit

achilleshiel

.

Die gedigte in “goljaartjie” handel onder meer oor ʼn oorgawe aan die aardse en sensuele, maar behels ook omskepping in die gees van medelewing, soos blyk uit “onthaal” (p.85) wat omgaan met die Bybelse gegewe van die water wat deur Jesus op die huweliksonthaal in wyn verander is. In die lang gedig “plaasskuurdans” (p.89) kom verskillende stemme (in die gedaantes van verskillende musiekinstrumente) aan die woord, sodat die eindproduk ʼn bont mengelmoes is waarin die universele verhaal van lyflike begeerte vertel word. Die volheid en rykheid van die aardse word aangetoon in “kotiljons” (p.98-99). Enumerasie word ook hier ingespan, maar nou ten opsigte van aksies, waaruit die vitale aard van die Karoo-omgewing blyk:

die dag wemel

skitter

sing

skyt

pis

gons

.

stokoud

karoo-kotiljons!

Die bundel loop ten einde in die afdeling “stilte”, wat ʼn reeks gedigte oor verskeie vorme van sterwe insluit. Daar is dié wat sterf om deur die mens as voedsel geniet te word (“slak” en “hemelhappies”); daar is sterfte as gevolg van die mens wat die dierelewe probeer beheer (“sterwende hond”) en deur ongelukke en met ’n gevolglike bevraagtekening van God se ontferming (“begrafnis”). Tog verken Fourie die ineengevlegtheid van lewe en dood op ʼn baie subtiele wyse. Die slot van “sterwende bobbejaan” (p.132) dui aan hoe die sterwende moederdier tot aan die einde nog lewensbron is:

dan

sleep sy hom

styf teen haar

.

oë dof

haar hand

gee pram

.

Die slotgedig (“voorland”, p.134-135) gebruik taal wat intiem aan die aarde verbonde is, om die mens se uiteindelike bestemming te verbeel:

ons soek

deur kakiebos

asbos

taaibos

na nuwe veld

’n buitepos

[…]

wei ons

verneukpan in

.

vind

die buitepos

.

bokveld!

Hierdie slot vir die bundel kan natuurlik ironies óf metafisies gelees word, maar die digter laat dit aan die leser oor.

Dit is werklik moeilik om aan enige punte van kritiek te dink. Elke vers is tot in die fynste besonderhede afgerond en elke woord is op sy blik. Die bundelopset is deurdag en geen gedig skaad die groter geheel nie.

Met hierdie bundel het Pieter Fourie die dwarslat vir debute sommer héélwat gelig.

Bronne:

Esterhuizen, L. 2017. Onderhoud met Pieter Fourie (knapsekêrels). Versindaba. Beskikbaar: https://versindaba.co.za/2017/05/17/onderhoud-met-pieter-fourie-knapsekerels/ [2017, 18 Mei].

Hambidge, J. 2017. Klokhelder stilte uit ’n bedrewe hand. Die Burger: 29 Mei, p.7.

 

  •