Posts Tagged ‘André P Brink’

Daniel Hugo. Karel, André en Ingrid

Monday, August 10th, 2020

Dit is bekend dat André P. Brink op ’n keer die romanskrywer Karel Schoeman getipeer het as ’n “ou tantetjie wat doilies hekel”. Dit het gebeur in sy resensie van Die noorderlig (1975) en slaan dan veral op Schoeman se “presieuse” vertelstyl en “selfbewuste estetisme”, terwyl hy glo net skynbaar betrokke is by die aktualiteite van sy tyd.

Toe ek die resensie destyds in Rapport teëgekom het, was ek nogal verbaas oor Brink se venynige formulering. Tog was die kritiek só effektief dat ek die boek nooit gelees het nie. Tot onlangs. Ek kry ’n tweedehandse eksemplaar in die hande en lees dit gefassineer in een aand deur.

Die boek handel oor twee universiteitsvriende wat mekaar ná jare weer in Amsterdam ontmoet. Hulle begin gesels oor die derde lid van hulle intieme vriendekring van destyds: Estelle Naudé,  ’n jong digter met ’n politikus-pa wie se lewensuitkyk sy totaal verwerp. Sy raak in Kaapstad bevriend met bruin anti-apartheidsaktiviste en wit liberale – “Kleurlinge en Kommuniste” volgens haar pa (p. 110). Ten slotte pleeg sy selfmoord omdat sy magteloos voel teenoor die gewelddadige bestel wat gelei het tot die dood in polisie-aanhouding van haar bruin minnaar. Niemand kan dit mislees nie. Estelle Naudé is ’n gekamoefleerde Ingrid Jonker.

En tog swyg Brink soos die graf daaroor. Waarom? Omdat hy dan onvermydelik ook die aandag op homself sou moes vestig. Hy verskyn naamlik as die baie onsimpatieke karakter “Francois” in die verhaal. Hy was haar minnaar en die verhouding het skipbreuk gelei. Estelle beskryf hom soos volg: “Baie selfverseker, sjarmant, aantreklik; hy draai sy sjarme aan en af soos ’n kraan, en geen mens kan dit weerstaan nie – daardie kleinseuntjie-glimlag … Maar al waarin hy belangstel, is sy loopbaan. Hy’s heeltemal koelbloedig, hy sal oor lyke loop vir bevordering of publisiteit” (p. 73).

Dat die woord “koelbloedig” Brink kwaai moes gekwets het, blyk uit sy beskuldiging in die resensie dat Schoeman se boek “iets kils en bloedloos” bevat. Hy praat ook in verband met die herkenbare, aktuele gegewe van die novelle as “’n bietjie skimp-op-’n-veilige-afstand”.

Die derdepesoonsverteller, Paul, probeer aanvanklik wel om objektief te bly. By hulle eerste ontmoeting beskryf hy Francois as “lank en slank” met ’n elegansie wat “vaaglik Europees” is (p. 73). Ná Estelle se begrafnis ontmoet hy hom weer. Dié keer beskryf hy hom lig spottend. Francois maak naamlik sy verskyning “in die halwe rou van ’n liggrys pak en ligpers das” (p. 109).

Wat Brink die meeste moes gegrief het, is die verwysing na die “legende” wat ontstaan het en deur almal aanvaar is “dat Estelle haar om die lewe gebring het uit liefde vir Francois” (p. 111).

Die karakter Ina is nog veel afwysender tenoor die Brink-figuur. Sy praat byvoorbeeld van “daardie mislike Francois” (p. 46).

Schoeman is ook nie van bitsigheid vry te spreek nie. Hy noem die Jonker-figuur “Estelle” – die naam van Brink se eerste vrou met wie hy getroud was toe hy die verhouding met Jonker begin het.

Dit is nie net Brink wat in die roman krities beskou word nie. Paul se oud-professor word genadeloos gesatiriseer. Professor Dreyer het voor die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam studeer en sy spesialiteit is die Nederlandse Tagtigers: Gorter, Kloos en Perk. Dit is ’n verwysing na prof. W.J. Badenhorst wat vir Schoeman klas gegee het by die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein. (Schoeman het daar gestudeer van 1957 tot 1959. In sy outobiografie verwys Schoeman naamloos na hom slegs as “ons bejaarde dosent”.) Badenhorst se bynaam was “ou Tamatie” wat op sy rooierige gelaat geslaan het – vandaar sy bynaam “Bakkies” in die verhaal.

Selfs Ingrid Jonker kom nie skotvry uit die boek nie. Haar selfmoord word wel as iets sinvols beskou, as ’n finale verset teen die onregverdige bestel. Haar vriendin Ina stel dit soos volg: “(H)aar dood was ’n daad … dit was haar eie antwoord op alles, heeltemal besonne en oorwoë” (p. 106). Maar Schoeman het klaarblyklik nie groot bewondering vir haar digkuns nie. Die (fiktiewe) versreëls wat Paul kan onthou, is uiters onbenullig, byvoorbeeld: “Ek val / soos ’n blom: deur die duister …” (p. 47).

Professor Dreyer, wat ’n opdrag gekry het om ’n monografie oor haar te skryf, het ook sy bedenkings oor die waarde van haar skryfwerk: “Sy het ’n belangrike naam in ons letterkunde geword … belangriker miskien as wat haar werk regverdig. Sy het blykbaar die verbeelding van die jonger geslag beetgegryp – met haar poësie én haar tragiese dood – en sy het die afgelope jare as ’t ware ’n modefiguur geword: ’n kultusfiguur sou mens byna kan sê” (p. 22).

Die lewenskets gaan uitgegee word deur die professor se skoonseun, ene Koos, wat saam met ’n vriend ’n “uitgewerytjie” begin het (p. 14). Dit is ongewyfeld ’n skalkse verwysing na Schoeman se eie uitgewer, Koos Human, wat die uitgewery Human & Rousseau saam met Leon Rousseau in 1959 opgerig het.

Estelle se pa, Servaas Naudé, is natuurlik Abraham H. Jonker se dubbelganger in die boek. Hy word uitvoerig en hilaries deur sy dogter geparodieer. Die slotoordeel oor hom kom uit Ina se mond: “Servaas is deel van die hele stelsel wat skuldig is aan Estelle se dood …” (p. 104).

Dat André P. Brink in sy resensie nie die aandag op Ingrid Jonker, en by implikasie op homself, wou vestig nie, is verstaanbaar. Dit is egter verbasend dat J.C. Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis nie ’n woord daaroor rep nie. Dieselfde gebeur in G.A. Jooste en Chris N. Van der Merwe se artikel oor Karel Schoeman in Perspektief en Profiel. Deur die aktuele literêre verwysings van die boek te ignoreer, word die politieke en satiriese dimensie daarvan in ’n groot mate ontkrag. En is Brink se negatiewe reaksie onbegryplik: daardie verwysing na Schoeman as ’n ou tantetjie wat doilies hekel. Met die hekel-beeld erken Brink wel (onbedoeld?) die satiriese bedoeling van die verhaal.

Daniel Hugo

Bronne

André P. Brink: Voorlopige Rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig, Human & Rousseau, Kaapstad, 1976.

J.C. Kannemeyer: Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II, Academica, Pretoria, 1983.

Petrovna Metelerkamp: Ingrid Jonker. ’n Biografie, Penguin Books, Kaapstad, 2018.

Karel Schoeman: Die noorderlig, Human & Rousseau, 1975.

Karel Schoeman: Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge, Human & Rousseau, Kaapstad, 2002.

H.P. van Coller (red.): Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 3, Van Schaik Uitgewers, Pretoria, 2016.

Met dank aan Wium van Zyl en Jaap Steyn wat my op die spoor gesit het van prof. Badenhorst as model vir prof. Dreyer in die verhaal.

 

Ampie Coetzee. Seks is ‘n Gebed

Monday, April 4th, 2016

C4Pgg7y

Seks is ‘n Gebed

(Hierdie teks is ‘n verwerking van gesprekke wat plaasgevind het met die verskyning van André P. Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe, Vlam in die Sneeu, en ook met die bekendstelling van Anton Brink se kunsuitstalling, waar die verhouding tussen hom en sy pa pynlike herinneringe gebring het. Die gesprekke het plaasgevind in die galery van die Breytenbach Sentrum in Wellington, op 19 Maart. )

.

Die uitspraak van André wat ek as inleiding wil gebruik, kom uit ‘n artikel van hom wat in 1964 (Standpunte 18.2) verskyn het: ‘Oor seks en religie’. Ek haal aan :

‘Die geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed  … die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, repektiewelik, die onontbeerlike vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment: elk is ‘n daad van blootstelling vir en voor die Ander, ‘n daad van weerloos-maak in volstrekte eerlikheid …’  (Contrary, 2013, 149)

Die rol van die vrouefiguur as sleutelfiguur word dan spesifiek uitgespel:

‘Die vrou bring geboorte; daarna  bring sy val; uiteindelik bring sy die moontlikheid van wederopstanding. Religie en seks is hier ongedifferensieer'(150)

Willie Burger haal soortgelyke woorde van André aan:  ‘ …seks is vir hom ” ‘n soort Mis-hou waarin die transsubstansiasie volkome is” en hy vra of seks miskien die ‘ongelowiges’ se ‘suiwerste religie ‘ kan wees  (Vlam in die Sneeu, 2015, 11).

th

André se eerste roman waarin die seksuele oomblikke geromantiseerd figureer is  Lobola vir die Lewe (1963, 89). Die verwoording van die seksuele is die vervulling van die liefdesdaad – en hier word die Bybelse betrek:

Ek haal aan :  ‘  … hoe mooi is jy , my roos van Saron, my beminde, en my hande reis teen jou sagte heuwels op, en af weer na die dale, beminde, o vannag, o vannag sal alle menslik eeue deur ons stroom

die bronstige Lilith wat met haar seun verkeer,

en Adam en Eva,

Simson wat hom lomerig aanvly teen die listige Delila,

en Dawid teen die skone Batseba,

en Salomo teen sy lelie-van-die-dale …’ (89)

.

En dan later, nou buite Bybelse verband :  ‘Kom, sê sy teen sy wang, Kom nou.

Hy voel hom diep ingly in warmte en sagtheid en genade terug in ‘n voorwêreldlike bestaan in lou diep water, beskermend, soos ‘n poel waar hy in afduik, diep, ver, teug na alle wondere en waar alles moontlik is en alles vriendelik en alles goed, so goed, so goed; en sy met soet gelukkige oë onder hom, met vuurlig en stilte …’ (90).

Hoe sou die Calvinistiese, die gelowiges, hierop reageer het – as skokkend en verbiedbaar? Die Wet op Publikasies het gekom. Dit was aan die begin van die Sestigerjare. En vir hierdie prosabegin, moet ons vir André dankbaar wees, alhoewel hy soms pretensieus was.

Byvoorbeeld: daar is in Lobola ook ander verbintenisse met die religieuse, wat taamlik eksplisiet is, nl. Die Katolieke Stasies van die Kruis. Dan ook ‘n soektog na selfontdekking (wat ‘n deurlopende tema in André se werk is). Dit sal seker verhelderend wees om die inhoud van hierdie 14 stasies na te gaan; maar dit sal beteken dat ooreenkomstes met Jesus se Via Dolorosa gesoek moet word in elke hoofstuk .

Die boeke wat deur André geskryf is in die begin van die sestigerjare waar seks en religie tot ‘n mate saamgaan (alhoewel die religie minder as die seksuele is), is dan Lobola vir die lewe ; Die Ambassadeur, ook in 1963; die liefdesbriewe van André Brink en Ingrid Jonker vanaf 1963-1965. Vlam in die Sneeu, onder redaksie van Francis Galloway. Dis uitgegee in 2015. Dan ook Orgie in 1965.  Dis belangrik om te besef dat die briewe nie fiksie is nie, maar dat daar deurgaans verwys word, spesifiek na die skryf van Die Ambassadeur, en in ‘n mindere mate Orgie.

thuneOs

Aangesien die briewe in Vlam dan waarskynlik van die eerste tekste was waarin die seks/religie-verbintenis tot ‘n mate figureer, sal ek eerste daarmee begin.

Die volgende gedagtes in die reeks is:

.

bl. 320: ‘Ek lees – of peusel – aan ‘n werk oor die magie The key of the mysterious. Mooi dinge in. Vir jou stuur ek dít: ‘”The least perfect act of love is worth more than the best act of piety. Judge not; speak hardly at all, love and act”‘

Ek verskil net:: elke daad van liefde is ‘n “act of piety”, is essensieel religieus. Dis al religie wat ons hét, waarvan ons séker is, en dalk wat ons nodig het.’

.

In Engels is ‘pious’: ‘for the glory of  God and the good of man’ (Oxford Woordeboek). Ek dink die gedagte in Engels gaan meer oor liefde in die algemeen, nie net tussen man en vrou nie. André wíl egter hê dat dit spesifiek ‘n ‘daad’ moet wees, die seksuele, en nie net liefde vir almal nie.

Dit gaan dan ook oor die verlange na die geliefde. In een van die briewe aan Ingrid skryf hy:

.

‘Ek leef in suiwerder verlange na jou as ooit tevore. Toe ek klein was, het my ma my soet gehou met ‘moenie liewejesus se hart seermaak nie’ Wees jy, my kokon, my liewe jesus. Dat ek in elke ding, elke dag, eers vra: is ek hierin waardig aan jou liefde’.

.

 (‘Kokon’ – die omhulsel waarin papies van skoenlappers toegespin word. André gebruik allerlei metafore vir aanspreekvorme by sy briewe. Hier is dit die pudenda, die privaatdele. Oral is daar sulke naampies waarmee briewe begin – meer by André as by Ingrid. Soos ‘Lagkind, my Kokon’; ‘Liefste liefling, ‘Kontjie; ‘ Beminde soos aarde’, ens. Mens sou ‘n bloemlesing kon maak – maniere om hallo te sê vir jou geliefde!)

Jesus, waardigheid, verlange, gaan saam met die godsdiens. Waarhede soos hierdie, dink ek, is emosioneel geskryf, wat natuurlik natuurlik is; maar ek glo nie dat ware liefde – seksuele liefde – met die liefde vir Liewe Jesus  hand-aan-hand hoef te gaan nie.

4daa35345cd645878bae6fa107ca07e5

In sy beskrywing van die seksuele daad, en ook die romantiek daar om is dit die meesterlike skryfvermoë van André, en (ook van Ingrid –miskien aanvanklik ingegee deur die leidende skrywer) die literêre insig, die kennis van ander skrywers se werk. Dis ‘n bloemlesing van aanhalings en metafore en beskrywings. Maar die sterkste was die seksuele.

Maar André dig ook vir haar. Hy sê:

.

 ‘En – gek, sal jy sê –jy’t ‘n onvermoede iets in my oopgemaak en my aan die dig gemaak! G’n “hoë en dwingende taak”nie – maar dalk ‘n soort noodklep om ons paar, maar kosbare, dinge te besweer en te laat dúúr’.  En van tyd tot tyd stuur hy ‘n paar ‘pleegsels’ (24. Dit was einde April, 1963).  Op die 9de Mei antwoord sy op hierdie gedig van hom:  ‘Weet jy, my hartjie, hierdie gedig “selfs heiliges” van jou is die mees geslaagde een sover. Het jou reeds gesê: net die einde aard te veel na Van Wyk Louw: wil voorstel dat jy dit inperk en werk om dié reëls’.

Dan haal sy aan:

.

Selfs heiliges

moet tekens nalaat om onthou te word

‘en: maar méér poëties: Dan’ (Sê sy tussenin)

maar jy word onthou net deur my liggaam

‘en:’ (sé sy)

die manier waarop jou klein duiweborste nesgemaak het

in my hande;

en jou maagdelike stil soet slaap by my daarná.

Maar noudat jy weg is

en ek jou enigste argief

wie sal hom op die woord verlaat …

…klein vergeefse vergeetbare tekens …(45)

.

Sy sê ook daarby  …’ ek stem ook saam met jou en Durrell: “‘Love is a form of metaphysical enquiry'”. (Miskien eerder dit as ‘n gebed!). (41)

André reageer nie op haar aantwoord nie. Sy het ook bygeskryf, as Ns.

‘Hoe lank sal dit duur

oomblik van werklikheid

sonder die waansin

En in aanraking met die droom’ (46-7).

.

Dit sal boeiend wees om te probeer vasstel vasstel watter van Ingrid se gedigte verwys direk na die liefdsverhouding.

Rook en Oker verskyn in 1963. Mens sou miskien al daaruit iets kon lees. Byvoorbeeld het die laaste strofe van die eerste gedig daarin – ‘Op alle gesigte’- nie iets wat alreeds, aan die begin van die verhouding, iets van ‘n eindiging daarvan, veral die bloed wat ‘wil verander in water’?

.

‘My dae soek na die voertuig van jou liggaam

my dae soek na die gestalte van jou naam

altyd voor my in die pad van my oë

en my enigste vrees is besinning

wat jou bloed wil verander in water

wat jou naam wil verander in ‘n nommer

en jou oë ontsê soos ‘n herinnering’ (3)

.

Dis briewe van die verhouding vanaf  21 April 1963 tot 31 Desember 1963, met ander woorde na die verskyning van Rook en Oker (die hele verhouding het natuurlik aangegaan tot 1965).

In Junie 1963 is daar  die volgende gedig:

.

Ons

Vir André

.

Só sal jy áfsterf van my

soos jou vergeefse saad

nakend soos water      brandblink

soos laat

april

soos hande nakend

mooi soos verganklikheid

soos ‘n laaste woord

treurig soos bloed

geen kleine

nét

dié kleine dood

Môre brandblink ons onverwekte

saad     die môre

breek aan die bloeisels

nuwe meisies soos maagde

môre

sterf en en jy                                    (Versamelde werke 91)

.

André probeer nóg gedigte skryf. Dit word later minder en minder!

Ek haal net enkele reëls uit ‘n later een aan:

.

‘Kon mens maar sonder sê

van liefhê liefhê

wéés

sodat niks gemeet hoef te word

aan die tyd nie

want hoe lank duur duur?

is? is? …..  (77)

.

Maar die liefde sterf.  Van André se kant af? Ek kan nie eintlik vasstel nie, behalwe dat hy ‘n ander vrou gekry het.

Hy en Ingrid se verhouding het twee jaar geduur, van April 1963 tot April 1965 (dit lyk asof dit beplan kon gewees het!)

Sy voorlaaste brief bring die Here by:

.

‘Twee jaar.

Ja, twee jaar. Loof die Here o my siel, en alles wat in my is, Sy Heilige Naam. Maar:

‘April is the cruellest month, breeding

Lilacs out of the dead land    …..’

.

Eers loof hy die Here (wat dan natuurlik deel van hulle liefde was!), dan haal hy aan ‘n strofe uit T S Eliot se Waste Land. Met April as eerste woord!

Die laaste brief is dan:

.

‘April

Lief kind, sit by my en luister  …..

….Ja, ek was toe by haar (Salomé). En ons het saam geslaap.

Ek staan nakend voor jou; ek wíl geen klere of beskutting behou nie.

Ek mag nie eens vergiffenis vra nie, want dit  impliseer skuld – en net so min as wat ek ooit skuld kan voel oor my en jou, kan ek dit hieroor voel’

.

Aan die begin het ek aangehaal dat André gesê het dat ‘die seksdaad is die seksuele aktiwiteit van gebed .. die belydenis van sonde’. Nou, wanneer hy afskeid neem van Ingrid sê hy dat hy by ‘n ander vrou gelaap het –en dat hy nie om vergiffenis vra nie want dit impliseer skuld .

Maar nou is dit nie die belydenis van sonde nie! En is seks dan nou nog ‘n gebed?

.

© Ampie Coetzee (Maart, 2016)

.

Zandra Bezuidenhout. Verjaardagrym vir ‘n Sestiger op sewentig

Monday, February 9th, 2015

VERJAARDAGRYM VIR ‘N SESTIGER OP SEWENTIG

 

Dié man, hy was ‘n Brink gewees,

besoek die kampus heel bedees.

Dit was die jare sestig toe,

Parys se dinge hier taboe.

So kom die jonge André P.

‘n lesing vir studente gee.

Van eksistensie wis ons niks,

ons kort ‘n skrywer as ‘n gids!

Hoe avant garde, hoe Frans sy flair;

‘n literêre porno-ster!

Ja, op sy wange het die blos geskyn

van ademlose nagte langs die Seine.

Ons hoor hy was waaragtig daar

met al die grotes deurmekaar.

Die klong van Potch noem almal op die naam:

van Robbe-Grillet en Levi Strauss

tot al die skrywende mesdames

met wie hy (miskien nooit) so hartlik was.

Dan lispel hy “Francoise Hardy”,

en bry sy “r” tot donker “g”.

Hy sê hy’t dae omgesit in Deux Magots,

gebras daar oorkant by die Lipp ook glo.

Die man se binnegoed was Frans,

ons kry dit alles eerstehands.

Barnard, Rabie en Leroux

klink skielik mak en taamlik “toe”.

Breyten was nog aan die blom;

sy dag sou laterjare kom.

 

Dié sater-sestiger had reeds statuur

wat lyf gee aan ons literatuur.

Hy kon vertel van jouissance

wat trillings stuur deur Afrikaans.

“Lokaal” en “realisties” was verby:

nou kon mens letterkundig vry;

charmeur, ambassadeur, wat jong studente

verlei met visies van die dekadente.

 

Jare later wil ons by die terugdink

‘n  ietsie op sy invloed skink.

Lig ‘n glas: salut aan hom,

‘n laat-lobola vir ons bruidegom.

Intussen kyk dieselfde Brink, op sewentig,

soos daardie dag

so effe skalks, so skamerig.

Eenmaal het hy in onse taal

‘n orgie aangestig,

as jongeling, dekades terug.

 

(Die gedig het voorheen verskyn in Tydskrif vir Letterkunde. 2005.
Temanommer: Andre P. Brink @ 70. Pretoria: Letterkunde-Vereniging. 213 p.)
© Zandra Bezuidenhout /2015

 

 

PEN Afrikaans: André P. Brink

Sunday, February 8th, 2015

 

Dit is met leedwese dat die bestuur van PEN Afrikaans hierdie nuus moet deel: Een van ons mees gewaardeerde stigterslede, André P. Brink, is op Vrydag, 6 Februarie, tydens ‘n vlug van Amsterdam na Kaapstad oorlede. Volgens sy weduwee, Karina, het hy ongesteld begin voel tydens die vlug, en in die lugruim bo Brazzaville sy laaste asem uitgeblaas.
André Brink was een van die reuse van die Afrikaanse letterkunde, maar het ook in Suid-Afrika en internasionaal aansien verwerf danksy die vertaling van sy romans in Engels, Frans en ‘n groot verskeidenheid ander tale. Hy het groot aansien geniet as akademikus en kritikus, en ironies genoeg is ‘n groot deel van sy nalatenskap op ‘n gebied waar hy nooit skeppend aktief was nie – die poësie. Brink het D.J. Opperman opgevolg as samesteller van die Groot verseboek en op kenmerkende manier gesorg dat dié publikasie nog verder gewen het aan gesag.
Ons is by PEN Afrikaans ook baie aan hom verskuldig. Dit is danksy André Brink en Breyten Breytenbach se voorspraak dat ons erken is deur PEN International.

Brink het sleg deurgeloop onder die sensors van die vorige bedeling. Die verbod op Kennis van die aand en Droë wit seisoen het bygedra tot sy politieke aktivisme. Die beweging om die Afrikaanse letterkunde in ‘n politiek betrokke rigting te stuur is gevoed deur sy aktivisme. Hy was dan ook in 1975 ‘n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, wat nie alleen ‘n waghond-funksie oor sensuur en vryheid van spraak vervul het nie, maar ook ‘n nuwe tantième-bedeling vir skrywers gepromoveer het.
Brink was ‘n skrywer wat alles in die stryd gewerp het vir sy mede-skrywers, ‘n meer regverdige, nie-rassige Suid-Afrikaanse samelewing en die reg op vrye uitdrukking. Met sy afsterwe raak ‘n baie besonderse stem stil. Ons as mede-skrywers is hom baie dank verskuldig en bring graag hulde.

Indien jy ‘n paar woorde wil deel oor wat André Brink se lewe en baanbrekerswerk vir jou beteken het, stuur dit asseblief teen Donderdag, 12 Februarie, na PEN Afrikaans se e-posadres (penafrikaans@gmail.com) of laat ‘n kommentaar op ons Facebook-blad (https://www.facebook.com/PenAfrikaans). Jy kan ook twiet na ons Twitter-rekening @PenAfrikaans – gebruik asseblief #DankieAndréBrink saam met jou twiet. Ons wil graag ons lede se huldeblyke in ‘n spesiale nuusbrief deel.

Vriendelike groete
Kerneels Breytenbach
Voorsitter

 

Bestuurder: Danie Marais

 

PEN Afrikaans Bestuur

Kerneels Breytenbach
Amanda Lourens
Bettina Wyngaardt
Desmond Painter
Heilna du Plooy
Louis Esterhuizen
Naas Steenkamp
Naomi Bruwer

  •