Andries Bezuidenhout. Badkamergesprek met ʼn spinnekop
Wednesday, October 7th, 2020
AVBOB- Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig
Badkamergesprek met ʼn spinnekop
The itsy bitsy spider climbed up the waterspout.
Down came the rain and washed the spider out.
– Tradisioneel
Hoe benoem ek jou, verlangse familie van Animalia?
Kan ons bladskud, jy van die filum Arthropoda?
Dalk nie. Jou subfilum Chelicerata klink ʼn bietjie grillerig
en vir die klas Arachnida is ek beslis versigtig.
Vir jou orde – Araneae – is ek volstrek te bang.
Agtvoetig, elk met kloutjies of kammetjies, boeklonge
in jou abdomen en kefalotoraks,
kaakklemme en spintepels ook iewers daaraan vas,
jou agt oë blykbaar ieder halfblind,
maar die fynste trilling kan jy stip opvang.
Nou hoekom is dit dat jy nie boontoe vlug
as ek waarskuwingsgolwe na jou toe sloep nie?
ʼn Paar van julle spartel reeds op die bedreigde spesie-lys.
Nie dat jy direk onder skoot is nie, dis gif vir insekte (jou prooi)
en plante (jou blyplek) wat die dood na jou toe boemerang.
Miskien is dít die ding met watervlakke wat styg –
hoe langsaam dit opduik. Dis toe ek sjampoe uit my oë was
dat ek sien hoe jy dryf, hoe krom jou pote na binne buig.
© Andries Bezuidenhout, 2020
Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:
https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_
AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB
(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Andries Bezuidenhout verskyn wel.)