Posts Tagged ‘Andries Bezuidenhout’

Onderhoud met Breyten Breytenbach

Monday, November 19th, 2012

Breyten Breytenbach in gesprek

 met Andries Bezuidenhout

 

*

Andries Bezuidenhout (AB): Breyten, baie geluk met die publikasie van katalekte en dankie vir hierdie geleentheid om namens Versindaba ʼn gesprek met jou daaroor aan te knoop.

Breyten Breytenbach (BB): Dankie, Andries.

AB: Die bundel is deel van ʼn driemanskap in blou, geel en rooi, met verwysing hulle baadjies, die skilder se primêre kleure. Die ander twee is die windvanger (2007) en die beginsel van stof (2011). Willem de Vries het jou reeds gevra of die drieluik uit ʼn doelbewuste skryfproses kom, waarop jy geantwoord het dat dit eerder ʼn produk van hoe dit uitgegee is: “Dit bied ruimte vir verontskuldiging.” Aangesien ons hier sonder subredakteurs met skêre en bladsye sonder voete kan werk, wil ek hoor of jy nie dalk hier daaroor wil uitbrei nie?

omslag

 BB: Tja, vrypas beteken seker nog nie dat mens Versindaba moet oorlaai en die rug breek nie! Jy sien dat ek in rooi so tussen jou reëls praat (en ek weet nie of die webmeester dit so sal kan gebruik nie) omdat ek eintlik by die beweging van jou denke en vrae wil inval as “tweede stem”. In my pa se tyd was om “tweede stem” te sing ʼn kuns van versterking /verdieping en om “in te val” by die toonwysie ʼn daad van beswering en van solidariteit. Nou, met die verheerliking van die individu, die goggol, het ons die subtiele verwewing van tweesang of meersang verleer (en verloën) en wil ons in ons ego-gekanker nie wéét dat die oppervervlakking van “individuering” geen oplossing bied vir eksistensiële angs nie. Dis nou vir die mondvol as invalstegniek! Die strekking van die antwoord op Willem de Vries se vraag was bloot dat aanbieding as drieluik die illusie van deurlopendheid skep, die behoefte aan ordening en beheer gelyk gee (wat menslik is) en die onaangename inhoud daarom lêgemaak kan word in die herkenbare gerusstelling van struktuur- en patroonmaking. Waarmee ek geensins wil sê dat aan bande lê en snoering nie goeie tugtiging vir die wydlopende gees is nie; Inteendeel! Die gesprek ontstaan in die dialektiek met verstomming. Bv. (ek dwaal af): met die toemaak van katalekte was die gevoel, “ik heb gezeg,” – en kyk nou net hoe wyd en syd mondloop ek al weer hier…

AB: Ek lees verder in die onderhoud met Willem de Vries dat katalekte ʼn “versameling fragmente van ou dig- of prosastukke” beteken.

omslag

BB: Dit is so. Ek probeer self nie sin maak uit fragmentariese aantekeninge of flardes van die droomvanger in die venster opgehang nie. As ek my mag weerspreek: vryheid lê in die ontoeganklike of onverhaalbare. Die tweede afdeling veral bestaan uit die stuipbewegings wat oorgebly het van die donker vlammedans rondom die helder – ? – denke van maak. Dis notaboekgemompel.

AB: Ek het natuurlik gedink dis ʼn Breytenbach-nuutskepping, maar dit blyk dat die taaloutoriteite die woord in die woordeboek aangee. Die subtitel is “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”. Die versameling van artefakte het natuurlik ook ʼn hele paar beeldende kunswerke in. Ek het Willie Burger een keer hoor sê dat jy gewoonlik jou dig- en skilderwêrelde uit mekaar uit hou.

BB: Willie het gelyk. To each day its own sins and imperfections. En mens se behoefte aan interpretasie is, om dit so te stel, om klipspringerig oor ʼn vol rivier waar daar nie klippe is nie te wil padgee.

AB: Jou bundels het meestal van jou kunswerke op die omslag, maar hierdie gesprek tussen woord en beeld lyk na ʼn pasverandering in hoe die bundel aangepak is. Dalk iets daaroor?

BB: Die poging om beeld en woord met mekaar te laat praat sonder dat die een noodwendig ʼn tweede stem vir die ander is, het ek al op ander maniere ook vroeër gedoen. Soos in All One Horse. Miskien is ek op soek na die “derde stem”, die spookstem (tussen die twee) as legitimering! Wat my besig hou is die ooreenkomste in kernelemente tussen woordtaal en beeldbeweging: kleur, ritme, gesprek geïnisieer deur tekstuur of onderlaag, die handloop en die uit-die-hand-laat-loop. Maar wanneer jy twee soorte van beweging of ossillering binne dieselfde aandagsveld plaas gaan hulle wil “digstring” al is hulle ook hoe uiteenlopend van aard.

AB: Ek sien daar is ʼn kopknik in Versindaba se rigting, vir digstringe in “kleinreis” en “die digters se manifes van meelewing” wat voorheen elektronies gepubliseer is en wat nou op papier verskyn. Dalk iets oor jou ervaring van Versindaba as ʼn forum vir digters?

BB: ʼn Lekker werf waar daar meestal op beskaafde manier omgegaan word met gedigte as konsentraat van ʼn eiesoortige geblaf. En ʼn lekker manier om op hoogte te bly met wat in en rondom die poësiewêreld aangaan.

AB: Laat ek nog ʼn stert aan die vraag se romp spyker: Sien jy publikasie op die web as iets heeltemal anders as publikasie op papier?

BB: Eintlik wel. Maar dis nie ʼn waarde-oordeel nie. Papier is ʼn gesprekgenoot, ʼn “répondant” wat nie deur die virtuele vervang kan word nie. (ʼn Tydsame mond-en-gat-afvee soos in teenstelling met die redelik onverantwoordelike en amper anonieme vervlugtiging van broek-aftrek op die web – om dit effens te kru kaalkop te stel.) Versindaba se waarde en sin vir waardes is juis dat dit ʼn forum bied vir woordvreters wat nie die aas van poësie kan weerstaan nie.

AB: Jy het pas by ʼn geleentheid in Frankryk oor die werk van Mahmoud Darwisj opgetree. Jy het ook onlangs in Johannesburg van jou vertalings en omdigtings van sy werk voorgelees. Ek het twee vrae hieroor. Eerstens oor die vertaling van gedigte. Ek het dit besonder baie geniet toe jy by die geleentheid in Johannesburg gepraat het oor die gebruike van die rekenaarwoordeboek en die middelvinger op die muis se “right click”. Ek wil jou uitlok om iets hieroor te sê.

BB: Vertaalwerk het vir my baie in gemeen met die “objet trouvé”, ʼn collage-agtige werkwyse waar die naaimasjien en die engelboud saam op dieselfde tafel beland en lang stukke (of stikke?) gesels. Wanneer jy gebruik maak van ʼn spellchecker, sê nou maar ʼn Engelse een wat deur jou Afrikaanse teks hardloop, word ʼn aantal moontlike woorde vir jou aan die hand gedoen wat skielik klank- of stam- of oorsprongsverbintenisse met die “oorspronklike” woord uitwys (of nie) wat jou anders gaan laat kyk na stuk en stik. Dit word ʼn taalverskieting.

AB: Ook oor vertaling, maar op ʼn ernstiger noot, wil ek jou vra om iets te sê oor die Pirogue Kollektief  se werk en hoe julle jul betrokkenheid by die publikasie van vertaalde werke sien.

BB: Die Kollektief hoop om elke jaar drie vertaalde bundels van Afrikadigters te publiseer in ons reeks Pirogue Poets. Dit sal hopelik ʼn versameling van “modern classics” daarstel. Elke publikasie onder die vaandel (want selfs ʼn pirogue het ʼn vlag) van ons eie uitgewery, Island Position, word slegs deur die kwaliteit van die werk bepaal; dit verskyn in die digter se eie taal met daarnaas die vertaling in Frans of Engels. Die eerste het so pas die lig gesien: ʼn boeklengte gedig van Abdellatif Lâabi vertaal deur André Nafis-Sahély.

AB: Nou vir die tweede vraag oor Mahmoud Darwisj en jou betrokkenheid by kwessies rondom Palestina. Ek wil glad nie terugkeer na gesprekke oor “betrokke literatuur” nie, maar dit lyk vir my asof daar in hierdie absurde tye ʼn nuwe bewussyn van kuns as vorm van morele agentskap is. Jy woon vir dele van die jaar onderskeidelik in Suid-Afrika, Frankryk, Senegal en die VSA. Is daar ʼn verskil in die onvangs van byvoorbeeld iemand soos Darwisj se poësie in plekke soos New York en Toulouse?

BB: Natuurlik. Ek is tans in New York (Sandy se sandsakke is nog plek-plek te bespeur) maar kom nie meer gereeld hier nie. In Toulouse waar ek vorige week deelgeneem het aan ʼn reeks verrigtinge rondom Darwiesj se lewe en sy werk was daar ʼn sterk emosionele entoesiasme omdat daar al lank ʼn Arabies-sprekende bevolking in die streek is, met burgerlike organisasies en publikasies en aktiwiteite. Hier in die rogue state van Kapitaal en Doodstraf word Darwiesj deur kenners as digter gereken maar enige uiting van pro-Palestinisme (wat nié noodwendig anti-Joods is nie behalwe vir dié wat dik tussen die ore is) word gelykgestel aan proto-terrorisme. Terloops, ek dink die sg. Palestynse kwessie is die morele merker van ons tyd – soos Apartheid dit was vroeër jare – en ons algemene oë-toemaak en anderpad-kyk is die lafhartige teken van die insinking van etiese verbeelding.

The Memory of birds

AB: Die volgende vraag begin met ʼn uittreksel uit jou toespraak in Stockholm in 1991, wat later in The memory of birds in times of revolution (1996) gepubliseer is: “[C]reating is a coming to grips with death through the illusion of life. Africans, Asians and Arabs may not be in the position to outlive the West, but they are certainly much better at dying than the Whites are; they do so all the time in many unsolicited and ingenious ways. Creation is the making of death. I’m not going to elaborate any further on this except to say that to my mind there’s a difference between exploring the void and adding to the emptiness” (bl. 68). Ek skat “void” sou as “leegte” vertaal kon word en “emptiness” as “leegheid”. Skepping gaan dus oor leegtes (of die leegte), eerder as leegheid?

BB: In die praktyke van zen (soos in die poësie) sal daar verwys word na die bearbeiding of beoefening – lering, lediging – van die “leegte” of die niet (om nou maar met Nietzshe te praat, dis nou te sê as die snor nie in die pad kom nie); om die maan as skepding te gebruik. Terwyl die “maak van leegheid” byvoorbeeld hysbakmusiek of geblikte applous of pornografie of die oorfoonverduideliking van kunswerke of politici se toesprake of die politieke korrektheid van die ôsom cool se poetry sal wees.

AB: Die volgende uit dieselfde toespraak: “[I]n presenting these works to you (more precisely, these workings) I hope to have you share in the joy I experienced when making them. They are certainly not intended to transmit guilt, or a message or some late post-modernist truth; if anything, I wanted them to flesh out the nakedness of being by way of exploring and, ideally, extending consciousness, a joyful pilgrim’s guide along the miserable road from the agony of birth to the obscenity of death” (bl. 67).

BB: As ons nie saam-saam in ʼn dans die niet kan vertrap nie sal die ysterkoei mos nooit sweet nie.

AB: Oor Leonard Cohen het ons al gesels, so ek kan die versoeking nie weerstaan om die aanhaling op bl. 9 van katalekte uit sy gedig “You’re not supposed to be here” in die bundel Death of a lady’s man (1978) te noem nie. Ek weet daar is spore van baie ander se artefakte in katalekte, maar ek noem Cohen omdat hy ook ʼn digter, musikant en beeldende kunstenaar is, alhoewel op ʼn ander manier. Ek wil ʼn meer onlangse liriek van Cohen betrek: “Going home” van sy laaste plaat Old ideas (met hierdie titel kan dit net ʼn plaat wees!), wat ook as gedig in die New Yorker gepubliseer is.  Dit lyk vir my of daar ooreenkomste tussen Breytenbach en Cohen se gewoonte om hulself aan te spreek is en deur middel van die gesprek die obseenheid van die dood minder obseen te maak.

BB: Ek voel geëerd dat jy B se naam selfs net in dieselfde asem as Cohen s’n noem. Soos die verwaande skilder eens sou gesê het: “Ek het alles in gemeen met Pablo Picasso behalwe dat ek nie Picasso is nie.” Probleem met beide B en Cohen is dat hulle terugpraat wanneer hulle aangespreek word – en ook, verdomp, nie wil ophou praat nie. Die niet is skynbaar eindeloos!

AB: Die Cohen van “You’re not supposed to be here” en die een van “Going home” klink vir my verskillend, asof hy in ʼn ander ruimte beland het. Ek het waarskynlik nou ʼn subredakteur nodig om hierdie relaas te snoei. (Vra vrae, Bezuidenhout, moenie opstelle skryf nie!) Eintlik wil ek uitvis oor hoe jy Cohen lees.

BB: Met die hart. “Van my hart tot joune.”

AB: Breyten, hierdie vraag het ook ʼn lang aanloop. Ek sou egter bereid wees om van al die ander vrae ontslae te raak as dit beteken dat ek net hierdie een kan inglip. In die toespraak waarna ek reeds verwys het praat jy oor die kunswerk as ʼn landskap, ʼn selfportret en ʼn afbeelding van die kunstenaar se voorouers (bl. 68-69) – anders gestel, ruimte, die self en geskiedenis. Ek hou nogal van Tony Hoagland se gedigte, maar ook sy essays oor die digkuns. Die volgende aanhaling kom uit sy bundel Real sofistikashun: Essays on poetry and craft (2006): “Modern consciousness may indeed be splintered, but it is one function of poetry in our time to fasten it back together – which does not mean to deny its complexity. When poetry can name the parts and position them, when it brings us out of the speedy, buzzing fog that is selfhood and modern life, our sense of being alive is heightened and intensified. How strange it is that when I read a particular poem, which brings the world into focus for me, that I can feel my own self come into focus. I was already part of that world, I know – but the unifying, clarifying impact of the poem delivers me to a deeper, and more conscious state of being-in-the-world. Deeper and better than before, when I was only lost in it.” (bl. 172) Ek deel sy sentiment oor die gebrek aan ruimte wat die tipe omhelsing van die versplintering van ons tye vir poësie as iets betekenisvol laat. Om by katalekte uit te kom: in hierdie verband het die artefak getiteld “’n Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming” vir my baie beteken – “Ruimte is beweging.” Soos die manifes wat daarop volg, lees ek dit as ʼn tipe waardering van die rol wat die verbeelding in dig- en skilderkuns speel om die (gewaande?) spanning tussen tyd en ruimte te ondermyn. Ek weet jy voel woorde op papier moet vir sigself praat, maar kan ek jou versoek om iets meer hieroor te sê? Die rede vir my astrantheid is my eie worsteling met vrae oor die ruimte vir digkuns as ʼn staanplek (of loopplek?) vir morele agentskap.

BB: Ek wil nie jou vraag ontduik nie – en tog is die “antwoord”, die “tweede stem” reeds in die noot wat jy aangegee het. Is beweging, die opgaan en afgaan daarin, die herkenning van die besitname van bewussyn (ook die opvang van die onbewuste se seine) wat, paradoksaal, besittingloos word en die afkortings tussen jou as loopplank en jy-as-jou-eie-voorsaat-en-landskap ophef – is daardie dans met die niet dan nie ook ʼn “worsteling” nie? Dis by Hoagland se “better than before” waar ek dalk kapsie sou wou maak. Miskien is die beginbetekenis reeds ʼn goeie begin (tensy hy daarmee meer doeltreffend as voorheen bedoel): die belangrikheid van die openingsreël waarna Ritsos verwys in ʼn brief geskryf terwyl hy in ballingskap was, dat beweging die etiese kartering moontlik maak? Ek hou van die gebondelde implikasies van “morele agentskap” want dan vra mens ook soos aan enige agent, agent namens wié of wat? Wie probeer ons verteenwoordig? In watter hoedanigheid probeer ons ʼn aandeel in Utopia verkwansel? Want dan kom ons by die geskiedenis van etiese verbeelding (wat niks met moralisme te doen het nie). Ek verkies dit eintlik bo “morele agentskap.”

AB: Ek sien die gebruik met onderhoude oor nuwe digbundels op Versindaba is om die digter te vra of daar ʼn gedig is wat hulle sou wou uitlig en hier weergee. Kan ek hierdie gebruik as ʼn laaste astrante versoek rig?

BB: Ha! Nou maar kom ons speel die spel en beproef die arme webmeester nog meer. En voor ek afsluit wil ek jou bedank, Andries. Ek is seker dis die begin van ʼn ganse cohen van gesprekke.

 

die hand se oggendbewegings

1.

wanneer jy soggens wakker word

op die rug

soos ʼn lyk

asof uit ʼn ryk gloeiende tuin

is jou arms op skouerhoogte gevou

met die hande twee verlepte blomme

leeg teen die bors geklou

 

uit watter ruimte van vlug

het ek gestort?

 

of het die lyk te swaar

soos ʼn droom van verlore vryheid

teen die hart gekoester

uit jou hande geglip

oor hierdie grens van lig?

 

2.

dis stil

jy loop soos ʼn kat deur die huis

versigtig om hierdie stilte

die nog bewerige opweging

tussen onsigbaarheid en ewigheid

nie te versteur nie

 

tot op die terras buite:

laatseisoen se eerste newel

het alles gestol in ʼn gloed

van stilte

 

die byna onruikbaarheid

van as op die lug uit dowwe

verkoolde berge

en stof uit die Sahara

 

die swaar somer het alles gedors

tot versenging

en dis nog nie die uur

van skaduwees nie

 

deur stoppels van die buurman se tuin

sluip ʼn kat op vieserige voete

op jag na ʼn tor

of die spartelende stowwerige sakdoekie

van ʼn mot

 

onder die vyeboom waar dit nog nag is

sit en pik ʼn gekuifde hoepoe

vlytig soos ʼn optekenaar

na wat nie te sien is nie

asof die hele wêreld ʼn toetsbord sou wees

 

dis stil in die kloof

dis stil langs die druiweprieel

dis stil teen die mure

 

miskien het ʼn boot vol stil stemme

deur die nag gevaar

om die stilte tot oopmaak te klief

want as jy stil genoeg luister

na jou asem se handbeweging

kom daar weer wolke

die eerste strooisel swaels

lig teen die heuwel

ʼn hond se blaf uit die vallei

en kan jy weer verte en die nabyheid

van kanferfoelie ruik

 

hoeveel oë het so oor geslagte en geboortes

gesien hoe hartstilte die enigste tikmasjien is

om te getuig van beweging

se newel van kom en vergaan

soos vlerkies om die mond

met ʼn sakdoek afgevee?

 

René Bohnen. 2012 Melville gedigte

Monday, October 15th, 2012

En daar spring Andries Bezuidenhout my voor! Net toe ek klaar geskryf het aan my verslaggie en dit wou plaas, sien ek sy lekker fotobeeld (https://versindaba.co.za/2012/10/15/andries-bezuidenhout-melville-poesiefees-fotobeeld/) van die fees. Laat ek dus liewer net aansluit by sy beelde.

Die gees was daar, Vrydag was die strate nat, die wolke donker en ons was bevrees dat dit meer Woodstock as Melville gaan wees. Maar toe Hennie Meyer Saterdagoggend nege-uur die mieliepitte begin pak op die tennisbaan, was dit droog – soos vere.

Die duiwe het dalk nou al die hele gedig opgepik, ek weet nie.

Ek het baie sessies bygewoon, Afrikaans en Engels, voorlees en performance, stigtelik en dansend – oral het ek iets interessant gehoor. Op die sypaadjies is vriendskappe gesmee of sommer hervat of losweg teen die vensters uitgeasem om drywend daar te wag tot volgende keer, volgende jaar.

Bekende, minder bekende en heeltemal onbekende digters het gemaklik skouers geskuur en in gemengde groepe voorgelees. Daar was ook twee Oopmond bekgevegte, waar ek Toast Coetzer en Danie Marais sien kragte meet het.

Doodmoeg het ons Sondagmiddag om en by halfses klaargemaak. Daar was digters van Kaapstad en Durban, kruis en dwars het hulle gekom, gewapen met bundels en CD’s. Bontspul, was ons. Heeeerlik!

Ongelukkig het ek die twee belangrike paneelbesprekings nie kon bywoon nie, ek het egter straatpraatjies gehoor wat die “lojale verset”-onderwerp voortsit. Die digter as “sexual shapeshifter” is net-net buite my gehoorveld ernstig bespreek oor snye pizza, oor bottels water. Kuier-kuier die aand in. Nouja, volgende jaar maak ons weer so.

Andries Bezuidenhout. Werksaansoek

Tuesday, June 14th, 2011

Dis waar, Mevrou, ek’s ʼn bietjie duurder.

Maar sien, ek bring my eie goed –

besem, lappe, borsels,

Sunlight, Cobra, Dandy Andy-skuurder,

Selfs die Hoover, Mevrou, myne sucks sweeter

as ʼn Lektrolux. Net stiller, hahaha.

Met shopping kan mevrou als nou maar los.

Met my sak die vlakke meel en suiker

in die flesse nie onverklaarbaar nie

en die telefoonrekening word nie opgeja’ nie.

Verder, Mevrou, bring ek eie kos.

G’n gelol met beker en blikbord nie.

My seun laai my af, Mevrou,

in sy eie kar. Van treingeld of taxigeld

is daar geen spraak nie,

of wegbly oor strikes en geweld

of die tsotsi’s se vermaak nie.

So ja, Mevrou, dis immers waar:

My beskaafde loon ís effe duurder

as die koste van ʼn garden variety char.

Maar op Mevrou se gewete

kom my kinders nie rus nie. Almal deur die skool.

Een in Australië (loodgieter as nering),

die ander terug van die myn

(die ene met die motor, gekoop van die geld vir die tering).

Sielsrus met my, Mevrou –

jou blinkwit automaid, in lewende lywe.

Ons kyk mekaar mos in die oë as gelykes.

 

Net dít Mevroutjie, as u een ding sal doen –

as Mevrou my tog maar Tannie sal noem.

Andries Bezuidenhout. Klop klop, wie’s daar?

Wednesday, June 8th, 2011

(aan my daaglikse dosis amlodipienmaleaat)

hierdie hart ʼn vlermuis
wat aan ribbebene hang
sleutelbene vlerke
wat vlak onder die vel span
snags wriemel die gedierte, koponderstebo
slaan aan my borswand
krap aan my maag
hamer die bloedlus
wat so aanhou knaag

© Andries Bezuidenhout. Junie 2011

Digstring indeks

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

Opgedateer tot en met 4 Oktober 2019 – Redaksie

Inhoud

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Andries  BezuidenhoutVeelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” . Nov. 2014

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Emma Bekker. Nagvangs. Mei 2016

Nini Bennett. Da Capo. April 2016

René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

Hendrik J. Botha. Breindood. April 2016

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Marius Crous. Die ander man

Hans   du Plessis .Josef

Heilna du Plooy du Plooy. “Ouhoutfluit”

Anne-Ghrett ErasmusSkilder

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Louis Jansen van Vuuren. “Passasie”

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Willem Krog.  “Vir pa”  Nov. 2014

Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Jannie   Malan. Watermerk” Nov. 2014

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

Charl-Pierre Naudé : “Eergister en môre, met visse”  Nov. 2014

Fransi Nieuwoudt. ” ‘n ontstaan “. Febr. 2017

Hennie Nortjé. Ons Land. Okt 2019

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Alfred Schaffer. “Droomstart”  Nov. 2014

Bibi Slippers. “En route: Suid Afrika”

Bibi Slippers. Yskas. Nov. 2017

Susan Smith. “By die soetdoring” . Febr. 2017

Hilda Smits. “Vir Primo Levi”

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

Etienne Terblanche. Vir die Golden Gate-weduwee

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Ilse van Staden. Dertien kraaie. Febr. 2017

Jacobus van der Riet. Die Heilige Nikolai van Japan. April 2016

De Waal Venter. Die wetenskaplike en die fee. Okt. 2017

De Waal Venter. Die res is net seëlversameling, Okt, 2019

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Cas Vos. Vaar-wel

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

 

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe – En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte – ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe” hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

Andries Bezuidenhout. Sinekdogee

Wednesday, October 13th, 2010

SINEKDOGEE

i am tired, so very tired
tired of the hate stare
– Wopko Jensma

Suid-Afrika, moenie nou met my foeter nie,
ek bevind myself in ʼn situation
in my kamer vol oorlamse Dorpers en verkeersknope.
Jy’t in elk geval moer toe verdwyn
& sit met ʼn bek vol skande agter baksteen en klei.
Ek’s dr. Roelof Serfontein wat yl,
ek’s Trompie gehok, ek’s die Buiter
ontmasker in die Kasteel se gat.
Wat het régtig met Lazar Bach gebeur?
Ag Suid-Afrika, ek kan jou slegs verbeel,
jou ruik in die rook bo Skukuza of Sharpeville.
Jy seil nie deur die skoorsteen nie, nè?
Jy snuif my murg, vibreer in my harsings.
Is dit jy wat biblioteekboeke in rakke laat smeul?
Is dit jou kwasjiorkorkraaie wat kinderoë uitpik?
Is dit jy wat pes uit slymvliese broei?
Ek voel jou wankel, steier –
jy’s om my, ek dryf in jou domein,
hierdie binnekant is jou vertrek.

Suid-Afrika, ek wil slaap,
maar jy lol met my deur die vliegtuigpatryspoort.
Ek sien jou daar onder sluip. As ek skree, sal jy my hoor?
Ek’s Pierre van Ryneveld, Enola Gay
met ʼn klein seuntjie uit Pelindaba in my pens.
Is dit jou mynskagte wat etter uit die aarde naald?
Is dit jou torings daardie, sonwysers vir verdwaalde tyd?
Hoe kwaadaardig is die suburbs op jou rug?
Raak jy dronk van jou kampongs se madalalyne,
van spilpuntbesproeiing se uitspattige spirale,
die verbete kolk van verneder en wraak?
Hoor hoe huil hulle in Kanada en Australië
as o moedertong, o soetste tong hul verhemeltes rasper.
Ja, jy met jou bladwisselende kleurslagbome,
is dit jy wat die stok langs Piet Retief se rugstring af moker
en hom plant sodat sy bene in die lug marionet?
Suid-Afrika, ek sien jou hoeke, jou kante, jou rante –
die plekke wat jou opmaak laat spaander soos krappe.
Dis net ek, sagte doppie, wat op die strand agterbly.

Suid-Afrika, hier waar ek tuimel kan ek net grense sien.
Is jy ʼn ertjie, ʼn nier, ʼn kriewelende dier,
die drol op die drumpel van Afrika se hol?
Ek is Laika, Loeloeraai, ek’s Yuri Gagarin.
Sal ek jou oopvlek soos ʼn kosmiese chirurg,
of ʼn gangster met ʼn lem?
Wie’t die arak vir Autshumao geskink?
Wie het die prys van paraffien opkatrol?
Sal ons kommuniste of kwerekweres verkwalik,
Robert Mugabe of die Amerikaners?
Waar is jou buttonkoppe en tiksters nou?
Nou’t Doman al jou koringlande kom brand.
Moerland, as jou wet maar net woord was,
hoe lyk jou as of jou is, jou was of jou word
as jy doer is, ʼn buitelyn, van jou binnegoed verwyder?

Suid-Afrika, vanaf die maan kan jy my nie sien of hoor nie
al stuur ek krete in Morsekode –
omdat almal dit kan lees, slaan niemand ag nie.
Ek is Niel Armstrong, Fritz Deelman, Buks de la Rey.
Gmf. Jy weet nie wie Deelman is nie?
G’n wonder. Hy’s uit die toekoms van ʼn ander verlede.
Suid Afrika, my fok, make up your mind!
Kom Susanna van Mombassa, Madagaskar of Macassar?
Ruik jy dit ook – statistiek of boeke wat oorkook,
of die stank van aangebrande hoop?
Geknelde land, is jy iewers op die sfeer?
Is jy die klank wat ʼn ooglid maak as dit toeknip?
Is jy die toonaard van lippe wat oopsmak voor stembande tril,
die strot wat mik voor die derm sluk?
Is jy die geluid van spons voor hande dit wring
om Ruth First van die muur af te was?
Is jy die ritsel van ʼn lykbesorger se kam
deur hare aan die kop op ʼn kis se kussing?
Sal ek uiteindelik kan aankom deur jou te verlaat?
Die wyse vrou van Mahlabatini wil nie sê nie.

Suid-Afrika, luister nou, ál jou stukkende parte,
jou verwikkelde dele van die groter geheel –
ek hang in suspensie bo my bed,
in die vliegtuig, ʼn satelliet,
ek dryf in die maan se slu atmosfeer
& ʼn god het ek nie teëgekom wat jou kan seën nie,
ook nie by God’s Window of Golden Gate nie.
Waar’s Gito Baloi en Lucky Dube?
Word nasies gebore, of borrel hulle tot lewe
uit lou konkoksies van plasma en selle?
Of sterf hulle net, die dood as genesis
wat jy duskant die graf tot lewe roep?

Suid-Afrika, ek is moeg, so vreeslik moeg.
Hoe roep ek jou afvallige lede
met my stem, akrobaat op ʼn string
tussen sterre en komete, selle en atome?
Hoe lyk die weerkaatsing van donker materie?
Kom jy hiérna toe,
na die padstal diékant van die dood?
Of is jou somtotaal maar net
die afwagting voor jy eendag jou opwagting maak?

(Na Allen Ginsberg se “America”)

Andries Bezuidenhout. Vrydagaand: Toonsettings van Antjie Krog

Monday, August 16th, 2010

Ek probeer eerskomende Vrydagaand (20 Augustus) iets nuuts, by die Centurionteater. Ek het twee van Antjie Krog se gedigte, “Huwelikslied 2” uit die bundel Verweerskrif en “Verhuising” uit Beminde Antarktika, getoonset en die talentvolle kitaarspeler Erika Strydom gevra om saam met my op te tree. Ons gaan hierdie twee toonsettings opvoer, asook songs van my twee CD’s Insomniak se droomalmanak (2003) en die meer onlangse Bleek berus (2009). Ek en Erika het ook besluit om ʼn paar Brixton Moord & Roof Orkes-treffers in te sluit, maar effe te herinterpreteer. Die vertoning is deel van ʼn woord- en sangweek waaraan kunstenaars soos Coenie de Villiers, Jak de Priester en Herman van den Berg ook deelneem. Kaartjies kos R100 en is by Computicket beskikbaar. Ek en Erika begin 20:00 speel.

  •