Posts Tagged ‘Angus Buchan.’

Nini Bennett. Covid-dagboek, 27 Mei 2020

Tuesday, October 19th, 2021

 

 

Aanlyngodsdiens raak nou absurd. Ek lees iewers dat jy virtueel kan bieg – jy moet net jou kredietkaart swipe vir die aflaatboete. Wat my laat wonder: Kan jy op die B/boek sondig? Kan mens krediet aangaan met sonde, soos met skuld? (Ek sal wentelkrediet verkies.) Kan hardnekkige sondes gedelg word met ’n debietorder? Sal ons dan nou meer sondig sodat die genade groter kan word? Party dae is ek dankbaar ek’s ’n sinikus en nie naïef of goedgelowig nie…dink net hoeveel scammers sit voor die bieghok en lag vroom al die pad bank toe.

Nog méér verstommend is die Katolieke Kerk wat exorcism via ’n selfoon en die internet beoefen. Ja, jy’t reg gelees. Soos ek aflei, moet dit ’n slimfoon wees en die priester wat die demoon uitdryf, gesels oor die foon met ta. Só: ’n demoon kan foonpraat. Is hierdie demone geletterd? En kan hulle WhatsApps ontvang (en stuur?) Wel, te oordeel aan die smartphone-ding is hulle mobiel geletterd. Ek wonder nou of mens die demoon kan video-call? Skynbaar begin die gremlins te skree as hulle ’n kruis of rosary sien. Dan kan die smartphone-priest seker ’n foto of video van ’n rosary vir ou Niek se belhamels pos, of hoe? “There are priests who carry out exocisms on their mobile phones. That’s possible, thanks to Jesus” – aldus kardinaal Ernest Simoni. En nee, dit is nie fopnuus nie. Die priester lees die Latynse uitdrywingsleviete aan die demoon oor die foon voor (kompleet soos in ’n kontaksituasie), en daar gáán die bose bliksem.

Nou; hierdie exorcisms is nie beperk tot slimfone nie. Volgens Vatican News werk die Vatikaan se switchboard oortyd – alles pleidooie vir aanlyn duiwelsuitdrywings. Met meer as 500 000 versoeke per jaar om ’n legio duiwels te verja, het daar uiteindelik ’n swartmark vir spookvangers & ander demone ontstaan. Want moderne tegnologie is die mens se beste vriend, óók teen antieke vrese. The Sacred Order of Saint Michael the Archangel file nou al die klagtes aanlyn. Volgens die kardinaal is die duiwel mal oor moderne tegnologie. Daar hét jy dit, julle Facebook-slawe wat nou hier lees. Wel, ’n demoon het ’n besliste impak op sy omgewing, soos die tonele uit die film, The Exorcist, ons tereg ook wys. Hy kan laaie oop en toe maak, oor ’n afstand van 5 meter gwel en goete laat leviteer. In my geestesoog kan ek die klein satang sien wyk, pylstert punt in die wind wég met die glasvesel. Wat gebeur met ’n aanlyn-uitdrywing – gaan jou dongle in vlamme uitbars? Kan mens ’n demoon stream? Kan mens een DOWNLOAD (amper soos ’n virus, maar daai woord is al passé?) Wat se kwaad kan ’n duiwel alles vanlyn aanvang?

Angus Buchan het toe mos onlangs sy Online 2020 Mighty Men Conference gehou. (Hy maak dit by herhaling duidelik dat dit net vir mans is.) Hier is ’n vreemde nuwe vorm van apartheid in charismatiese godsdiens aan die ontstaan en dis die net-vir-mans-of-vir-vroue-saamtrekke. Maar Angus se show is op YouTube beskikbaar, en vroue, die tweedehandse voyeurs (burgers; lees ook ‘mense’, aldus die Groot Boek) kan nou koekeloer wat die manne aanvang. Ja, geslagsgelykheid in die Bybel is so uit soos sonbrandolie vir ’n Albino.

Soos mens kon raai, trek Angus nou ’n Paulus op ons met die lockdown. Ná ’n groot stryd is hy eindelik genees van Covid en breek hy soos ’n leeu uit ‘n hok (sý woorde). Hy sit by ’n tafel, die Bybel oopgeslaan en preek met ’n krag en vaart wat sy stembande laat grint terwyl sy arms só propeller, ek’s bevrees hy gaan opstyg en wegvlie. Dis Angus, die martelaar, die held van sy eie verhaal. (Besef mense dan wraggies nie dat masochisme ’n versteuring is nie?)

Wat my nou laat wonder oor charismatiese aanlynbyeenkomste in die algemeen. Hoe gaan mense dit doen? Jy kan byvoorbeeld kerkhou via Microsoft Teams of Zoom, oor-die-lug in vreemde tale babbel en sing … en as jy suggereerbaar genoeg is, kan selfs geloofsgenesing vir jou werk. Picture this: Dan sit jy voor jou rekenaar, oë toe, arms in die lug, wuiwend –  en wanneer die healer se opsweping ’n crescendo bereik, spring jy op, skop daai rolstoel in die gang af of slinger die verdomde kruk by die venster uit. Dalk toets ’n Covid-geval dan terstond negatief. Sal massapsigose aanlyn kan werk? Of is die truuks afgestem op ’n kontaksituasie waar die kollektief reageer op die charismatiese herder se suggestie, manipulasie – en hulle eie aansteeklike bygeloof? Gaan die versperrende afstand van die swartspieël nie eerder ’n helse spul bedrog expose nie? Of gaan dit dalk juis die weg baan vir nuwe vorme van religieuse waansin?

Iewers in Maart het die Pous gebid dat die Here Korona wegvat. Ja, die ou man het, soos sy gebruik is, in sy nagrok op ’n balkon ’n skare toegespreek. Dis net eienaardig, want eintlik is vloede, peste, oorloë en aardbewings God se departement. Dis geprofeteer. (Die duiwel se departement is heavy metal en orgies.) Kan die kerk ’n aanlyn-mis hou? En kan jy kollekte EFT?

Kerkgangers (die kuddetjie word beperk tot 50) sal seker toenemend die voordele van aanlynkerk in al sy fasette begin insien, aldan nie. En dan gaan daar ’n nuwe studieveld met die prefiks, “teotegno-” ontstaan. Sela.

*

Die digter en satirikus, M.M. Walters se bundel, Satan ter sprake bevat satiriese verse oor die godsdiens soos vanuit die oogpunt van Satan beskryf; verfrissende poësie. Die gedig “Pardon”, en ek haal aan, die laaste strofe:

 

Moet ék, engel wat kwansuis nie van die lig is,

nou gaan na die donker, die duisterheid

waar u versteek bly vir u maaksels?

Moet ék voorspraak maak vir hemelse geregtigheid,

ék wat blameer word vir die donker dekadensie?

Moet ék waaragtig nou die woord voer?

Met hierdie hele godsrykfiasko het ek mos

van die begin af niks te doen gehad nie?

 

*

Ons kan inderdaad met nostalgie terugkyk na die dae wat ons blinkoog gepraat het van “kompers”. Dit was die sewentiger-, tagtiger- en vroeë negentigerjare.Tog het die koms en siening van hierdie dinosourustegnologie uit die staanspoor die mens met eksistensiële vrae rondom God, of met ’n religieuse/spirituele bewussyn ten opsigte van die wonder van tegnologie, gelaat. In George Weideman se onderstaande vers eggo die komper drie maal in die slotreël “ek is ’n komper ek is ’n komper ek is”, die titel wat God Homself gegee het in Eksodus 3:14, “EK IS”, oftewel: “My Naam is: Ek is wat Ek is.”

Ook in Prevot van der Merwe se speelse gedig word die komper gesien as ‘n soort medium of bemiddelaar waardeur daar kontak gemaak kan word met God. Die woordspel is dubbelduidig – dit was die dae toe digters nog rekenaars gemistifiseer het.

 

Ek het vir my ’n komper bestel

 

Ek het vir my ’n komper bestel

en die dae een-een afgetel

en kort-kort opgewonde soos ’n kind gedink

aan liggies en knoppies en goeters wat blink.

 

Ek het in my kamer op en neer gestap

soos iemand wat op ’n ou vriend wag.

Ou woorde en muwwe vrae. My tong is dom

van antwoorde soek en mor; my lippe stom

 

van al die bar gesprekke met myself.

Ek sou die komper rooi en geel wil verf –

dis vrolik; ek hou van vrolike geselskap

met goeie wyn en af en toe ’n goeie grap.

 

Toe kom my komper my kom-peuter

wat glo met ritse syfers kan goël en speel

en ek verf en poets hom en begin my verkneuter

in al die gul woorde wat ons gaan deel.

 

Oor die wyn het ek hom begin voer en voer

en hy het geknabbel aan die bloedsmaak van my vrae:

Gotjong waaroor kan ons gesels my broer

oor lewe en dood? liefde? metafisika?

 

Toe kom sy antwoord reëlmatig dog beslis:

ek is ’n komper ek is ’n komper ek is

 

– George Weideman (29/7/70)

 

*

 

die hemel help ons

 

hello god

as jy nog wakker is

dit is maar alleen hier by die rekenaar

so laat in die nag

askies ook dat ek so casual met jou praat

dis net

ek weet nog nie hoe om

HOOFLETTERS TE TIK NIE

wag nou kan ek u U

vertel, van my liefde vir my vrou en seuntjies

groter liefde, as vir U meestal, as ek nou moet eerlik wees

so askies tog

liewe God

en as my nommertjie opkom

op die Hemel se IBM-compatible

onthou tog om te

SAVE

voor U

DELETE of

QUIT

 

– Prevot van der Merwe (1990)

 

Die kortverhaalskrywer, Koos Prinsloo se bundel, Die hemel help ons (1987) se gelyknamige verhaal kon moontlik as sneller of interteks vir bogenoemde vers gedien het.

 

Verwysing:

Cillie, A. L. 1991. Pret met poësie. Kaapstad: Best Books.

Walters, M.M. 2004. Satan ter sprake. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Nini Bennett. ’n Getekende kopie, asseblief

Thursday, June 18th, 2020

 

“Ek gaan jou boek bestel, maar dan moet jy dit vir my teken.”

“Sal jy vir my iets voor in die boek skryf en dit teken?”

“Ek soek ’n getekende kopie, asseblief.”

Dít is die versoeke wat ’n skrywer, wat pas ’n boek vrygestel het, aanhoor. Maar wat is die redes – of die dryfvere – agter die teken van ’n boek? Wat maak dit vir die koper so spesiaal, of selfs gesog?

Professionele boekversamelaars, daardie ywerige bibliofiele, ken die waardekategorieë van getekende kopieë. Laasgenoemde behels waar en wanneer die boek geteken was en aan wie die getekende kopie gerig was – en of daar ’n inskripsie voor in die boek is, aldan nie. Die skaarsste, of vraag en aanbod van ’n boek, die ikoniese status van die skrywer of ander historiese gebeure bepaal ook die waarde van so versamelaarskopie. Van die mees gesogte getekende kopieë is byvoorbeeld Where the wild things are (Maurice Sendak, $25 000); To kill a mockingbird (Harper Lee, $25 000), of A farewell to arms (Ernest Hemingway, $17, 500).

Suid-Afrikaanse lesers se oogmerk met getekende kopieë berus waarskynlik meer op die sentimentele as die finansiële waarde van ’n getekende kopie. En nie alle boekkopers is boekversamelaars nie, en die begeerte om getekende boeke te bekom is waarskynlik nader aan die besit van memorabilia. Dit is onthougoed en kosbare bêreboeke; memento’s.

In The strange history of Bonnie and Clyde beweer die skrywer, Treherne, dat getekende kopieë onderliggend dieselfde logika vorm as met relieke. Die woord “relieke” hou verband met die woord “remains”, en kan dui op enige vorm van fisieke oorskot of besittings wat met ’n heilige geassosieer word. Dalk moet “heilige” eerder in ’n figuurlike sin gebruik word, want musiek-, film- of sportsterre se “relieke” is ook uiters waardevol.

Binne die Christendom verwys die begrip reliek onder meer na 2 Konings 13: 20-21, waar ’n Moabietiese man in Elisa se graf begrawe is maar met die aanraking van Elisa se beendere weer lewendig geword het. Nóg so ’n voorbeeld is Handelinge 19: 11-12, waar doeke en voorskote wat in aanraking was met Paulus se vel, op hul beurt weer siekes kon genees by wyse van die bemiddeling van ’n genesende, goddelike krag. Die gebruike van relieke kom steeds volop voor onder aanhangers van charismatiese godsdiens, byvoorbeeld op die televisieprogram, Kruiskerk, word doeke met die palmafdruk van ’n betrokke pastoor (en selfaangestelde geloofsgeneser), verkoop. Dit sê nogal baie van magiese denke – of magiese objekte – en die rol van bygeloof binne geloof.

In Mei 2018 het die aartappelboer en lekeprediker, Angus Buchan, ’n gebedsaamtrek vir reën op Mitchell’s Plain gehou waar hy ’n groep gangsters toegespreek het. Hy het tydens die diens van sy klere ontslae geraak en in slegs ’n T-hemp, denim en sokkies verder gepreek. Sy Bybel, baadjie, hemp, stewels en Stetson het hy aan bendeleiers uitgedeel met die opdrag dat hulle hul gawe van leierskap in diens van die Here moet stel, en nie misdaad nie. Hierdie uitdeel van Buchan se persoonlike klerasie tref mens onmiskenbaar as die oordrag van relieke (al is dit ’n grandiose gebaar). En weer eens voer magiese denke die botoon.

En van die charismatiese na die poëtiese: In Alruin beskryf H.J. Pieterse die erotiese proses as ’n gewyde of spirituele belewenis wat in herinnering geroep word deur relieke:

.

OU PARFUUM WAT SWAAR

.

Ou parfuum wat swaar

in hout intrek.

Jy het uit geel herfsreën

binnegekom.

.

Die rook van jou sigaret

maak marmerpatrone.

Ons buig inmekaar,

gesmelte glas op roosglas.

.

In die nanag sê jy reëls

uit ’n ou vers of gebed

in die swart katedraal

van jou slaap.

.

Later kry ek in my bed

’n haarpatroon, ’n geur;

relieke

van ’n liefdestyd.

 

Bloedrelieke. Wat ’n mooi woord is dit nie! Toe Abraham Lincoln op 15 April 1865 doodgeskiet is in die Ford-teater, sou niemand kon raai hoeveel keer sy doodsklere – bloedrelieke – van hande sou verwissel nie. Hierdie bebloede hemp, jas, broek en das was op ’n kol in die betrokke teater in ’n glaskabinet toegesluit nadat Jan Publiek stukkies bebloede materiaal uit die jas geskeur en dit verder beskadig het. Die klere was op ’n stadium selfs toegesluit in die Greensboro-bankkluis; daar was duidelik angs en verwarring oor wat om met die morbiede nalatenskap te doen. ’n Ander voorbeeld is die berugte bankrowers, Clyde Barrow en Bonnie Parker wat in 1934 doodgeskiet is in ’n polisiehinderlaag in Louisiana. Dié twee rampokkers was baie gewild onder die Depressie-geteisterde inwoners van Texas en het met hulle dood heroïese status bereik. Hulle is weliswaar ver van heiliges…maar ’n skare mense het op die koeëldeurboorde Ford V8, waarin Barrow en Parker se liggame gelê het, toegesak. Daar is letterlik bloedrelieke gemuit van die polisietoneel – sommige verbygangers het glasstukke in die pad opgetel terwyl ander weer met ’n skêr (bebloede) haarlokke uit Parker se haardos geknip het. En dit bring ons by die begrip murderabilia. Dit is, soos mens kan aflei, versamelaars wat artefakte wat aan moordenaars en/of slagoffers behoort het, versamel – dit betrek ook voorwerpe wat gebruik is op misdaadtonele, byvoorbeeld wapens, klerasie, of selfs die kuns wat die moordenaars in die gevangenis gemaak het. Die sielkundige dryfvere agter dié donker en makabere versameldrang is kompleks, maar dui in kort daarop dat dit aan die versamelaar ’n gevoel van mag gee en dat die items op ’n primitiewe vlak ‘trofeë’ in die hande van die besitters word: Die jagter jag nou sélf die jagter deur eienaarskap van laasgenoemde se besittings te neem.

Memorabilia verloor waarde as dit skoongemaak word, byvoorbeeld die af- of uitwas van bloed. Dit moet outentiek, in takt bly; die rugbytrui van ’n rugbyheld wat opgeveil word, moet byvoorbeeld nie gewas word nie (die sweet moet daarin bly).

Treherne het opgemerk dat getekende kopieë as relieke gesien kan word. Relieke dra die spore van die lewe; dis om iets van die rou DNS van iemand te besit, of menslike weefsel, as jy wil, outentiek en onvervals. Getekende kopieë hou ’n bekoring vir boekliefhebbers in. Die outopen-tegniek, waar die skrywer se handtekening in drukkersink verskyn en onderworpe is aan reproduksie, beskik slegs oor kuriowaarde, niks meer nie. Wat is meer persoonlik as die skrywer se outograaf in regte ink, iets van sy identiteit, en wat is meer verteenwoordigend van ’n skrywer as sy skrif self? En ’n inskripsie gerig aan ’n bewonderende leser?

.

Wanneer ’n digter sterf

 

stroom huldeblyke in

oor die enorme verlies en bydrae

van óns stilgemaakte digterlike stem

 

Wanneer ’n digter sterf

staan die literêre lykbesorgers gereed

met oordrewe takserings

oor die kwadratuur van sy sirkel

 

Wanneer ’n digter sterf

is daar onbetaamlike vrae

oor die lewenstyl en selde

of hy ’n rondeel of distigon kon skryf

 

Wanneer ’n digter sterf

word hy stellig, indien onderteken

aangekoop en gou vergeet

tot ’n ander digter kort hierna vertrek

 

Wanneer ’n digter sterf

mag sy gedigte tog ’n ewige leser beërf

 

(Joan Hambidge. Uit: Lot se vrou, Human en Rousseau: 2012)

.

Verwysings

https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/buchan-gives-his-shirt-boots-and-stetson-to-gangsters-at-prayer-meeting-20180324

https://en.m.wikipedia.org/wiki/Relic

Pieterse, H.J. Alruin. Pretoria: HAUM-Literer, 1989.

Treherne, J. The strange history of Bonnie and Clyde. New York: Cooper Square Press, 2000.