Posts Tagged ‘animasie’

Gert Rautenbach. Die eerste twaalf treë op Mars

Tuesday, August 4th, 2015
Die eerste twaalf treë op Mars

Die ATKV het verlede jaar die vrugte van ‘n droom onthul wat jare aan die kom was.

Filmverse: Afrikaanse gedigte met animasie – films wat die sintese van kuns vier: woorde, musiek, ballet, animasie, storie en droom – alles in een oomblik. Is so iets hoegenaamd moontlik? Is dit ‘n goeie idee of ‘n resep vir kakofonie? Ek kon my nuuskierigheid nie keer nie en het die DVD bekom, om te besluit.
.
Die idee het van twee kante ontwikkel.
By die ATKV het Nita Cronje vroeër ‘n ander konsep gehad – Skilder met Woorde – waarin ‘n oorspronklike beeldende kunswerk met ‘n gedig gekombineer is in ‘n uitstalling wat in ‘n verdonkerde lokaal belig is. Dit was ‘n groot sukses, maar na ‘n paar jaar hiervan was die beperkings van die formaat duidelik – wat gedoen met die uitstalling buite seisoen, dis duur om weer op die planke te bring en vereis groot ruimte en tyd. Terselfdertyd – iewers anders in die wêreld – het Diek Grobler, ‘n beeldende kunstenaar, die unieke poëtiese moontlikhede van animasie ontdek nadat hy aan die groot Sowjet filmmaker, Yuri Norshteyn (wie se Tale of Tales die Mount Everest van animasie is), blootgestel is.
.
Animasie, soos digkuns, het ‘n magiese krag: die kruis van twee lyne wat skielik lewe skep. Beide is abstraksie en reduksie en soeke na essensie, maar terselfdertyd warm en onmiddellik. Die tegnologie wat animasie moontlik maak (en maklik maak) was besig om te ontplof op ‘n ongekende wyse. Skielik was ‘n kunsvorm binne die bereik van enige iemand met ‘n selfoon en PC.
En tog het die grootste probleem gebly: inhoud.
Animasie kan nie kuns word sonder inspirerende inhoud nie. Al die tegnologie in die wêreld kan niks hieraan verander nie. En toe skielik, die idee – wat van ons gebruik gedigte as die inhoud?
Die res is geskiedenis. Diek het die ATKV gaan sien, wat op daardie stadium op soek was na die regte konsep om Skilder met Woorde mee op te volg. En na al die onderhandelings, pyn en lyding, bloed, sweet en trane, is ‘n program ontwikkel wat aan belangstellende kunstenaars die kans gebied het om Afrikaanse digkuns-animasies te skep.
So, waarmee het hulle te voorskyn gekom?
Dit is werklike baanbrekerswerk. Na al die sif, skaaf en alchemie het ons twaalf gedigte – twaalf chemiese eksperimente, reaksies wat soms vuurwerke gee, soms ontploffings, soms smelt in die hart en soms net fizzle.
Maar belangrikste van alles: die eerste twaalf treë in ‘n nuwe wêreld. Wat ook opvallend is, is die ontsettende sorg wat gegaan het in die verskeidenheid van die produksies, en hoedat dieselfde aanslag nooit twee keer herhaal word nie.
Hoe weet ‘n mens hoe om iets reg te doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie?
Probeer is die beste geweer.
Die gedigte dan soos volg:
.

1. Vroegherfs – NP van Wyk Louw

Ek dink die Here vlug elke keer as van Wyk Louw sy mond oopmaak – dis net instruksies vir God (en nie maklikes nie): O Heer, dat hierdie dae geheilig word.

Vroegherfs is so klassiek as wat dit kom in Afrikaanse digkuns – en dit kry hier die ballet-van-’n-sagte-wind behandeling. Die klassieke tapyt, ongetwyfeld die mooiste, maar dit voel soos die veilige keuse in die groep.

Die jaar word ryp in goue akkerblare…

2. Bitterbessie dagbreek – Ingrid Jonker

Hierdie gedig is so bekend dat ‘n mens vergeet om oor die woorde te dink (wat ‘n fout is). Ek moes fokus op die beelde, want alles is ongelukkig dieselfde groen/bruin tekstuur waarin die detail moeilik gesien word – ‘n klomp fotospronge deur die…

dennebos herinnering

dennebos vergeet

het ek ook verdwaal

trap ek in my leed

Ingrid Jonker lees dit self.

dennebos herinnering

3. Finis – Lina Spies

Jy het al die liedjies van my kindertyd weer in my laat sing.

Dit is waaragtig wat hierdie pragtige filmvers doen. Dis net ‘n kwas wat mooi sprei oor die doek, maar dis asemrowend! Soos ‘n saad wat saam met die woorde ontkiem in ‘n wonderlike blom.

Finis

4. Jy vra my hoe my eerste soen was – Danie Marais

Hier is gutzpah soos wat ek nog nooit gesien het nie. Geen stem wat die gedig lees nie. Om die waarheid te sê, geen gedig nie – net donker beelde van figure wat kom en gaan en raak en dan – in stilte, die woorde, lyn vir lyn, op die skerm:

met jou lang vingers oor my rug het jy

maklik maklik

ses jaar se depressie

sewe maer magtelose jare

uit my lewe uit gestreel

soos mens ‘n kreukel

uit ‘n hemp stryk

Alles onderstebo en agterstevoor – die beelde wat die gedig voorafgaan pak weliswaar ses jaar se depressie in twee minute – maar ek het sommer dadelik hoendervleis gekry.

Fortune favours the bold, sê hulle: hierdie animasie is reeds gekeur om gewys te word in die groot internasionale KROK fees in Rusland later vanjaar.

Jy vra my hoe my eerste soen was

5. Belydenis van ‘n studentedigter – Loftus Marais

As Loftus Marais sy kaarte reg speel gaan hierdie drie minute hom die  rock-ster van Afrikaanse digkuns maak. Dit is ‘n onweerstaanbare opstuur van studenteskryfsels wat in regte Cartoon Network styl gedoen word. Ongetwyfeld die crowd-pleaser van die klomp.

‘n vyfvoetige jambis loop in lang gras

6. Visioen van ‘n lessenaar – Antjie Krog

Antjie Krog se ou staatmaker word gedoen met die woede maar sonder die woedende mens – net die arme lessenaar, tikmasjien, stoel en skryfbehoeftes wat die klappe moet vat.

ek skryf omdat ek woedend is

7. Die skedel lag al huil die gesig – Wilma Stockenström

Van die twaalf gedigte hier, is hierdie een vir my die beste. Is dit nie die droom van enige kunstenaar op aarde nie: om een frase te skep wat menswees troos. Die skedel lag al huil die gesig. Wat ‘n gedagte. Mamma mia.

Verdien definitief sy eie filmvers.

hoe slim tog is ons met ons innerlike uurwerkvernuf

8. What abou’ de lo – Adam Small

Margot Luyt het vir Adam Small gevra om hierdie gedig vir hulle oor die telefoon te lees – en uiteindelik is sy stem net so gebruik.

Baie jare terug het ek Small saam met sy seun sien optree op Oudtshoorn. Hy het begin deur vir die gehoor te sê dat daar geen grootsheid sonder stilte kan wees nie.

Dit is presies wat hierdie pragtige filmvers kommunikeer – eerder as op en af spring, is dit net iemand (een mens of twee – ek kan nie besluit nie) wat koffie maak en ‘n sigaret rook terwyl hy/sy na die gedig oor die radio luister…

What abou’ de lo

9. Last grave at Dimbaza – Fanie Olivier

Hartseer verdra nie truuks nie. Om by hartseer uit te kom moet jy fokus. Hier is die een filmvers met genoeg van die regte goed om jou diep te roer. Dis die brief aan ‘n mynwerker wat die nuus breek dat sy baba (wat hy nog nie gesien het nie) oorlede is.

Alle eer aan Anna-Mart van der Merwe vir haar voordrag hiervan.

Beauty Douglas was born. She died.

10. ‘n Gewone blou Maandagoggend – Ronelda Kamfer

Ronelda Kamfer se Maandagoggend – wat die banale met die horribale meng – is die grillerigste van die klomp. Haar eie droë traak-my-nie-agtige leesstem maak dit nog meer effektief.

Op die hoek van Wildflower en Rose straat
Het ‘n meisie met haar toekomstige moordenaars gejoke

11. Timotei Shampoo – Gert Vlok Nel

Ek is Gert Vlok Nel se grootste fan – maar hierdie filmvers, met twee film-modelle wat om die beurt na mekaar en weg van mekaar kyk – was vir my totaal pretensieus.

Timotei Shampoo

12. Ek sal sterf en na my vader gaan – Breyten Breytenbach

En dan Breyten – die staf van die lewe – wat sou ons sonder hom gedoen het?

Dit is weer die digter self wat dit lees met ‘n pragtige toonsetting van Laurinda Hofmeyr en ‘n minimalistiese animasie wat die vryheid van kleinheid seëvier.

ek sal sterf en met min bagasie in die pad val

Hallelujah.

Nou ja, dit was die eerste twaalf treë op Mars.

Praat ek snert? Het ek die kat aan die stert beet? Gaan kyk en besluit self.

Wie gaan die volgende twaalf treë gee?

Die goeie nuus is dat daar weer ‘n kans is. Die ATKV nooi voornemende kunstenaars wat belangstel na twee werkswinkels wat Filmverse 2 gaan afskop.

Gauteng – 14/15 September

Stellenbosch – 21/22 September

Vir enige navrae oor Filmverse, kontak Nita Cronje op nitac@atkv.org.za

©Gert Rautenbach / 2015

Gert Rautenbach

Gert Rautenbach is een van die produktiefste Afrikaanse bloggers op die internet en Versindaba het hom gevra om hierdie maand as gasblogger deel te neem aan die webblad.

Hy skryf al vir meer as ‘n dekade lank oor die letterkunde, films, musiek, gedigte en kuns op sy persoonlike blog http://gertrautenbach.blogspot.com – en hy weier om op te gee.

Gert het grootgeword in die Klein Karoo – op ‘n plaasskool skoolgegaan en as koshuisbrak in Pretoria gematrikuleer.. Blogging is sy droomwêreld, maar in die regte wêreld werk hy as ‘n IT projekbestuurder in Kaapstad.

  •