Posts Tagged ‘Annora Eksteen gedig’

Annora Eksteen. Digterspa

Wednesday, February 23rd, 2022

 

 

 

Digterspa

 

gisteraand by ‘n funksie

het ek ‘n man sien sit

sy denkersvoorkop en silwer hare

het my weer aan die dink

oor my pa gesit

 

vanmiddag het ek hom sien sit

die ou digter met sy hand op sy ken

die ou draadstoele

die stinkhout

die soetdoringboom

 

my windklokkies klingel sag

troostend in die ligte wind

 

hy praat met my en sê

nokkie my ou bokkie

ek verstaan

jy’s ‘n digterskind

dis van my

dit kom daarvandaan

 

en ek stuur my pakkie aan

 

Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll

 

Annora Eksteen. Net soos dit, het ek lief

Friday, December 31st, 2021

 

Net soos dit, het ek lief

 

As ek tog maar in so ‘n vywertuin

kon sit en dink oor waarheen sy my lei,

maar sy was somer ek was nektarwyn

en al wat ek wou doen was sing en vry.

 

Dit draai toe om toe sy geskryf het: skryf,

ontdek en kyk: dit is hoe jy genees,

en jy sal voel my hand bly op jou lyf,

soos dit my lief, dan kan ons enkeld wees.

 

Dit was riskant, ek het dit goed geweet,

maar so bevrydend, het ek ook besef

al is als dikwels bitter smart, so wreed.

 

Ek vaar riviere oor die aardbol heen,

Wu Zao in haar geparfumeerde lamp,

en hier my lam – jou sterre in my hand.

 

© Annora Eksteen, 2021

 

Annora Eksteen. Skulpe in my hand

Friday, December 31st, 2021

 

Skulpe in my hand

 

Verstom oor haar wysheid en haar skulpe in my hand,

gebleik en broos, witblou ligroos, soet heuning appelkoos,

en op dit in fynskrif – die dae het ophou bestaan.

Op hierdie strand vol seepampoentjies lê soveel skulpe van ons land,

 

gebleik en broos, witblou ligroos, soet heuning appelkoos,

hierdie woorde van haar aan my, oseaanklippies in my hand.

Op hierdie strand vol seepampoentjies lê soveel skulpe van ons land,

met al die skulpe hou ek op met huil, met al die woorde hou ek op met skuil.

 

Hierdie woorde van haar aan my, oseaanklippies in my hand,

en op dit in fynskrif – die dae het ophou bestaan.

Met al die skulpe hou ek op met huil, met al die woorde hou ek op met skuil,

verstom oor haar wysheid en haar skulpe in my hand.

 

© Annora Eksteen, 2021

 

Annora Eksteen. Dagbreekdans (Ses skilderye met ‘n sonneblom)

Friday, December 31st, 2021

 

Dagbreekdans (Ses skilderye met ‘n sonneblom)

 

Die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

deur ‘n kristalkoepel op ‘n eikehoutvloer wat alles verlig.

Dan begin die geel glans glinster op ‘n oopgekelkte blom.

 

Oor Welgemeend waar water kabbel in ‘n versameling alom

en oor Wellington waar wasig ‘n beeldetuin groei, welig in lug.

Die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son.

 

Ver en verder by Wits tot oor Wespark as die oggend kom

oor ‘n nederige nis se lank gelede 1970 skielike doodsberig.

Dan begin die geel glans glinster op ‘n oopgekelkte blom.

 

Oor boekrakke stukkende dakke mense nog slapend in Ōṁ

dansend deur vlaktevensters oor jong digterskoppe wat sug.

Die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son.

 

Die daeraad dans nou ‘n chanson op die pols van ‘n cajón,

dit skyn deur ‘n kantgordyn en vul die kamer pragtig in lig.

Dan begin die geel glans glinster op ‘n oopgekelkte blom.

 

Vers-moeg krabbel ek: ek is so geskok deur die lewe, daarom

werk ek aan in eensame nagte, my fokus op die môre gerig.

Die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son.

Dan begin die geel glans glinster op ‘n oopgekelkte blom.

 

© Annora Eksteen, 2021