Posts Tagged ‘Anthony Osler’

Gisela Ullyatt. Mame se kindjie: gedigte oor gestorwe kinders.

Sunday, July 7th, 2013

Pablo Picasso. Moeder en Kind.

 

Vir Liam

jy’s ’n klein

pienk planeet

met ’n ses-en-dertig

grade Celsius son,

waar jy vandaan kom

is dit altyd mooiweer

is dit altyd warm

 

jou ouers wentel

om jou

in hul eie bang bane.

jou stil ma

met haar vars keisersnit-wond.

jou pa

met sy grysgroen oë,

wie sy trane moet verloën.

 

Liam, dis mooiweer

en warm ook hier –

maar jou borskassie

is ’n maankind

wat na die klein en ver planeet

verlang

waar elke teug liquid sunshine is

 

jy, klein planeet

met voedingsbuis

waarin moedersmelk konstant drup

ook suurstof het jy

en ’n hartmonitor

(maar ’n planeet moet

vry tussen sy sterre

kan beweeg)

 

op die agste dag

van jou aardse hospitaalhotel

besluit jy oplaas:

hierdie wêreld was nooit my woning nie.

 

dus: reis Liam

reis deur sterre

na jou planeet waar daar vosse

en rose en stiltes is

 

jou ouers laat jy agter,

al wentelend om hul eie

leë aardbol.

maar jy,

jy weet van beter.

jy sal altyd hul eie klein

planeet bly.

 

Gister ontvang ek en my man die boodskap dat vriende van ons se premature baba na agt dae aan septisemie oorlede is. Ons is geweldig bedroef, omdat ons die outjie gaan sien het in die intensiewe sorg. Daar was groot hoop vir hom. Hy sou twee maande daar moes vertoef, totdat hy die negemaand-baken oorsteek. Nooit het hy sy oë oopgemaak tydens ons besoek nie. Net die borskassie wat op en af dein, met rukke en stote, tot die groot bekommernis van sy ouers. Nie sy ma óf pa word toegelaat om die brose mannetjie op te tel en teen hulle te sus nie. Wat my laat wonder het of die hospitaalsisteem iewers iets mis.

Besoektyd was oor. Ons het hom agtergelaat in die oorverhitte saal. Dit het my laat dink aan die Suid-Afrikaanse Zenmeester en menseregte-advokaat, Anthony Osler, se woorde: “Sometimes, this life feels just too hard”.

Om ’n kind te verloor, is ’n ander soort dood. Rückert skryf sy roerende “Kindertotenlieder” in 1833 en 1834 nadat hy twee kinders aan skarlakenkoors afstaan. Mahler komponeer vyf van hierdie as Lieder nadat hy, ironies genoeg, sy dogter, Maria, ook aan skarlakenkoors verloor.

Totius is een van die eerste Afrikaanse digters wat oor hierdie onderwerp skryf nadat sy dogter deur weerlig getref is (“O die pyn-gedagte”): “Ja, lieflingskind, / een straal het jou skone liggaam verskroei”.

In die hedendaagse konteks skryf Susan Smith eweneens ’n roerende vers – “by die dood van ’n kind” – wat sy aan die ouers opdra (laaste twee strofes):

 

het jy versigtig langs haar ingekruip

en die oorgeblewe stukkie kind van jou

wat weer klein en lig geword het

vas teen jou lyf getrek

 

en toe

–       soos kleintyd –

die storieboek sorgsaam oopgevou

en haar blindweg die nuwe landskap

 ingelees

 

Hier word die sterwende kind, in teenstelling met die premature baba, wel vasgehou en dan “ingelees” in die sterwenslandskap.

Alhoewel Antjie Krog se “by jou vertrek” nie oor die fisiese dood van ’n kind handel nie, skryf sy oor die hartverskeurende ervaring van ’n kleinkind wat finaal Israel toe vertrek saam met haar Israeli-moeder (laaste drie strofes):

 

in jou voorgeskiedenis

skeur ’n

mens klere en werp

as

 

op die hoof. ek bloei

 

uit my

milt

 

’n Paar jaar gelede maak ’n ander premature baba hoofopslae in Bloemfonteinse koerante: sy word op ’n stortingsterrein ontdek; haar lewe klou aan ’n nerf-fyn draadjie. Niemand weet wie die ma is nie en die baba word vir maande in intensiewe sorg gehou. Daarna het die berigte opgedroog. Sou sy nog leef, en indien wel, sou sy beskadig wees, haar eerste oomblikke op aarde iets wat sy altyd gaan aanvoel? Deur watter dale van skaduwees sou die ma nie moes kruip om haar dogter-kind, naelstring en al, in ’n vullisblik te smyt nie? Ek was erg ontroer deur hierdie storie en sluit af met ’n gedig wat ek oor hierdie anonieme baba geskryf het.

 

broeikas

sy skuil in die buik van ’n broeikas

ontblote goudvis in ’n tenk,

dun hospitaalpypies vislyn oor haar.

 

naamloos vir nou.

want haar eerste housewarming

was ’n ingeduikte vullisdrom

haar bestemming die stortings-

terrein (langs suid-park begraafplaas)

waar brandende bande nou al vir weke

aangrensende buurte se kele verkool

 

sy is gemus in pienk

(gehekel deur ’n kinderlose volunteer-tannie)

hier waar sy lê onder ’n karos van plastiekbuisies:

gemasjien teen die sterwensoomblik.

 

tog spin die broeikas baarmoedersproke.

dae op daardie godverlate vlakte van ontbinding.

miere wat haar halssnoer in swart pêrels. aan haar naelstring

begin knaag. die son het haar met ’n laaste ave maria ingesalf

 

toe die moeder haar

hande afvee

aan haar bloedskandelike rok.

 

Bronne:

Brink, A. ed. 2008. Groot Verseboek, Deel 1 en 3. Kaapstad: Tafelberg.

Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.

Osler, A. 2008. Stoep Zen: A Zen Life in South Africa. Aucklandpark: Jacana.

Smith, S. 2012. In die Afwesigheid van Sin. Pretoria: Protea.

  •