Posts Tagged ‘Anton Docke gedig’

Anton Dockel. Saadpluime

Sunday, July 11th, 2021

 

Blowball II 1943

 

Saadpluime

 

Jy antwoord nie meer nie

maar ek stuur nog selfoonfoto’s

 

Van voëls wat wegvlieg– vêr

soos regmerkies oor die see

dit was Valsbaai.

 

Van die Swartland

se canola – lappe geel

vasgespeld met bloekombome.

 

Van stroompies –

Slingers lig wat om klippe deurglip

en teen skemer aanslaan soos ou silwer

dit was Blyderivier.

 

Van die ylheid van dors bossies

tussen vaal gruis, blouklip en roesbruin

in die Moordenaarskaroo

 

Al mag die wind my whatsapps skep,

prentjies wegwaai soos saadpluime

pos ek dit nogtans

êrens mag dalk ’n selfoon pieng

 

 

© Anton Dockel, 2021