Posts Tagged ‘Aristoteles’

Nini Bennett. Bioluminessensie en poësie

Monday, May 30th, 2022

 

 

“The sea was luminous in specks and in the wake of the vessel, of a uniform slightly milky colour. When the water was put into a bottle, it gave out sparks…”

Só begin Charles Darwin sy dagboekinskrywing van 6 Januarie 1832. Hy was aan boord van die HMS Beagle, ook bekend as die skip waarmee hy na Suid-Amerika gevaar het om natuurhistoriese navorsing te doen. Darwin verwys hier inderwaarheid na bioluminessente lewensvorme. Dit was aanvanklik ’n raaisel om die liggewende vermoëns van organismes te verklaar, aangesien die uitstraling van lig op skynbaar willekeurige wyses by die onderskeie spesies geskied het.

Bioluminessente spesies fassineer die mensdom al vir eeue lank. Reeds in 350 v.C. het Aristoteles die waarneming gedoen dat sekere diere ’n “koue lig” uitstraal. Die Romeinse filosoof Plinius het verwys na vermolmde hout wat “’n gloed afgee”. Bestudeer ’n mens bioluminessensie, dan gaan jy terug in tyd – meer as 75% diepsee-organismes beskik oor die vermoë om hulle eie lig te vervaardig. Een van die oudste organismes aan die mens bekend – en een wat die vuurdoop van ewolusionisme oorleef het – is die jellievis wat na beraming 500 miljoen jaar oud is. Ek het opgemerk dat verskeie films wat biotegnologie of wetenskapfiksie betrek, gebruik maak van die jellievis as “model” om futuristiese lewensvorme, óf lewe wat in ’n laboratorium ontstaan het, óf alien-lewe, aan die kyker te bied. ’n Ander oervis, die seeduiwel (anglerfish) beskik oor bioluminessente antennas wat as kunsaas prooi, soos kleiner visse, in sy bek in lok. Hierdie liggewende komponent in die seeduiwel se antenna bevat fotobakterieë.

 

 

En of dit gloeiwurms in grotte is … of vonkende plankton wat soos ’n sterrehemel onder die seewaters skyn; of die silwer borduurwerk om ’n vis se romp; of die nederige vuurvlieg met ’n flitsie in sy stert: bioluminessente  lewe is verstommend, oeroud, en beskik oor gesofistikeerde sein- en kommunikasiestelsels. Skrikwekkend futuristies. Bioluminessensie verwys in ’n neutedop na lewende organismes soos marienediere, byvoorbeeld jellievisse, fungi, mikro-organismes, fosfor in die see, bakterieë, en insekte wat self lig kan vervaardig. By ’n vuurvlieg, byvoorbeeld, dien die ensieme lusiferien en lusiferase in die kewer se buik as katalisators wat in die teenwoordigheid van suurstof en water (vog) reageer om lig te vorm.

Die lantern van die Photurus-vuurvliegie is bedek met skubbe in ’n geriffelde patroon, amper soos dakteëls wat oor mekaar geplaas is. En tog laat dit die lantern byna 50 persent helderder skyn as wat dit die geval sou gewees het as die skubbe plat gelê het. Gepraat van biomimese, of die mens se nabootsing van biologiese verskynsels in die vervaardiging van produkte en tegnologie: hierdie ‘ontwerp’ van die vuurvlieg se lantern word gebruik om ligemissiediodes (LED’s) doeltreffender te maak. Wetenskaplikes het LED’s bedek met ’n geriffelde oppervlak wat soortgelyk is aan dié van die vuurvliegie se lantern. Die gevolg was dat die LED’s tot 55 persent meer lig uitgestraal het. Haas ongelooflik!

Lank voor die implementering van veiligheidsligte in myne, het myners bottels gevul met vuurvlieë gedra om hul omgewing te verlig. Interessant genoeg dien die lanterns van ligdraende organismes min of meer dieselfde doel as by die mens, wat lig kunsmatig moet vervaardig. ’n Bioluminessente organisme straal (of flikker) lig óf as deel van hulle kamoeflering en mimikrie; óf om alarm te maak teen gevaar, byvoorbeeld predatore; óf om te dien as lokmiddel (vir prooi); óf om as deel van reproduksie hulle maats te lok of te herken.

Bioluminessensie het al menige digter geïnspireer; verreweg die meeste verse oor dié biologiese onderwerp handel oor vuurvlieë, wat uit ’n digterlike perspektief as die magiese verbeeld word. Alhoewel mens begrip het vir die (soms) naïewe bedigting van vuurvlieë, is daar wel digters wat ’n meer wetenskaplike beskouing rondom hierdie ligdraers verwoord. ’n Interessante waarneming in die verband is die assosiasie wat talle digters tussen vuurvlieë en sterre maak.

In The Prophet vra Kahlil Gibran: “Shall the nightingale offend the stillness of the night, or the firefly the stars?”

En N.P. Van Wyk Louw:

 

Seemeeu

 

Lewe

en sterwe

is swewe

en swerwe

tussen blydskap se wolke

en see van die smart;

iets van die vuurvlieg,

iets van die ster,

en stilte en dood lê weerskant

soos die horison daar ver.

 

(N.P. van Wyk Louw. Versamelde gedigte, 1981)

 

Ook Robert Frost dig oor die ooreenkoms tussen vuurvlieë en sterre:

 

Fireflies in the Garden

 

Here come real stars to fill the upper skies,

And here on earth come emulating flies,

That though they never equal stars in size,

(And they were never really stars at heart)

Achieve at times a very star-like start.

Only, of course, they can’t sustain the part.

 

In “Swanger vrou” skets Jonker die herinnering van ’n betowerende jeug teenoor die ontluistering en onthutsende werklikheid van swangerskap, strofes 3 en 4:

 

Nòg singend vliesrooi ons bloedlied,

ek en my gister,

my gister hang onder my hart,

my kalkoentjie, my wiegende wêreld,

en my hart wat sing soos ’n besie,

my besie-hart sing soos ’n besie;

maar riool o riool,

my nageslag lê in die water.

 

Ek speel ek is bly:

kyk wáár spat die vuurvlieg!

die maanskyf, ’n nat snoet wat beef –

maar met die môre, die hinkende vroedvrou

koulik en grys op die skuiwende heuwels,

stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,

o treurende uil, groot uil van die daglig,

los van my skoot maar besmeer

met my trane besmeer

en besmet met verdriet.

 

In Marlise Joubert se vers, “Waterberge” word die allure van ’n mooi jeugherinnering aan die hand van ’n vuurvlieg verbeeld, strofes 3-4:

 

dis nie ’n taal uit my Boland se berge nie

nog minder ’n taal van die San of ’n kind uit die Karoo

dis ’n anderste wartaal gekruisig in die bloed

wat uit die Waterberge val

’n donker rivier deur jou lyf laat reën

waar die vreemdeling geen weerkaatsing vind

geen afbeelding wat roer

tensy jy die vuur verstaan dat elke vlam

soos ’n witbasblom sy eie musica sacra straal –

 

ek reis soms terug op ’n oggend soos nou

met die Stabat Mater drywend agterna

ek steek gemaklik weer lanterns aan

vlieg geluidloos soos ’n vuurvlieg deur die veld

 

Dalk is die wetenskap rondom die ligdraende organismes méér poëties as die digterlike idee self. Die meeste lede van die vuurvliegfamilie is bekend vir hul vermoë om ’n fosforessente gloed te gee, wat veral in die donker opvallend is. Die organe wat die vuurvliegies laat lig uitstraal, is fotogeenselle (lanterns) wat gekoppel is aan senuwees en lugkanale. Uiterlik vertoon die lanterns soos gelerige kolle aan die onderkant van hierdie insekte se buik, bedek met ’n deursigtige film of kutikula. Onder hierdie selle is ander selle gevul met uriensuurkristalle wat lig kan weerkaats. Saam werk hierdie selle slegs as daar ’n senuwee-impuls van die brein van die insek is. Suurstof-tragea kom die fotogeensel binne en met behulp van die ensiem lusiferasie, wat die reaksie versnel, oksideer ’n verbinding van lusiferien (’n lig-uitstralende biologiese pigment) en ATP (adenosien-trifosforsuur). As gevolg hiervan gloei die vuurvlieg blou, geel, rooi of groen.

Interessant genoeg bestee vuurvlieë ongeveer 98% van hul energie aan die skyn van ’n ligstraal, terwyl ’n gewone gloeilamp slegs 4% energie in lig omskakel, want die res van die energie word in die vorm van hitte versprei.

In die trope lyk dit asof baie insekte uit die Lampyridae-gesin se ligensieme saam skyn. Hulle sit terselfdertyd hul “flitsligte” aan en blus dit tegelykertyd. Wetenskaplikes noem hierdie verskynsel die sinchrone flits van vuurvliegies. Die proses van sinchrone flitsing van vuurvliegies is nog nie volledig bestudeer nie en daar is verskillende verduidelikings oor hoe insekte tegelyk hulle lig kan uitstraal. Volgens een teorie is daar ’n leier in die groep kewers van dieselfde spesie, en hy dien dan as die dirigent van hierdie “koor”.

Ook die inkvis vorm ’n geliefkoosde onderwerp vir digters wat graag natuur-, eko- of wetenskappoësie beoefen.

In Johann Lodewyk Marais se bundel, In die bloute word ’n inkvis dubbelduidig en enersyds as Ars poëtikale siening, en andersyds as bioluminessente verskynsel voorgestel:

 

Die inkvis word in die treilnet

van die woord harteloos gevang.

Swyg sou nie onvanpas wees nie:

jou sien en weet bra sonder nut.

Maar met die diefstal van sy ink

bring jy hom meteens aan die lig.

 

 

Voorts, in Johann de Lange se bundel, Weerlig van die ongeloof word die intelligente inkvis in verband gebring met taal en die vermoë om te kommunikeer.

 

Die inkvis is ’n geisja

wat ligvoets dans oor koraal,

verwissel vlug kimono’s

in ’n ondersese taal.

 

“The Rime of the Ancient Mariner” van Samuel Taylor Coleridge, ’n baie lang gedig, het in 1798 verskyn in die eerste uitgawe van Lyrical Ballads. Ten tye van die skryf van die gedig was daar nog nie ’n korpus wetenskaplike kennis wat bioluminessente lewe kon verklaar nie. Eers is die 1940’s het dr William McElroy, ’n wetenskaplike van Johns Hopkins-Universiteit, voortgebou op die navorsing van Raphael Dubois en lusiferien onttrek om die samestelling daarvan empiries te ontleed. In ondergemelde strofes beskryf Coleridge inderwaarheid dinoflagellate, ’n eensellige filum wat ’n groot deel van die plankton se biomassa uitmaak.

 

Beyond the shadow of the ship,

I watched the water-snakes:

They moved in tracks of shining white,

And when they reared, the elfish light

Fell off in hoary flakes.

 

Within the shadow of the ship

I watched their rich attire:

Blye, glossy green, and velvet black,

They coiled and swam; and every track

Was a flash of golden fire.

 

Ongeag die invalshoek – mities, magies of wetenskaplik – dit is duidelik dat digters die bioluminessente vermoëns van organismes bedig as tipe seintaal of kommunikasie, en ek haal aan uit Cloete se Karnaval en Lent:

 

my insekte kan mekaar van ver roep

in die nag mekaar ruik

mekaar opspoor met feromoon

sonder radio of telefoon

van ver af in die donker

gloei die koue geel lig van vuurvliegies

en gloeiwurms morse vir mekaar . . .

 

 

Verwysings:

 

https://theconversation.com/what-is-bioluminescence-and-how-is-it-used-by-humans-and-in-nature-100472?fbclid=IwAR3PMbatSAP77yxJomg8s9TblznUvKWeuyNS2Xz0AzTXxhAEoavfAzirOPQ

https://www.jw.org/af/biblioteek/tydskrifte/g201402/lampie-photuris-vuurvliegie/

Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, J. 2010. Weerlig van die ongeloof. Pretoria: Protea Boekhuis.

Jonker, I. 1963. Rook en oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Joubert, M. 2007. Passies en passasies. Pretoria: Protea Boekhuis.

Marais, J.L. 2012. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

 

Marlies Taljard: Hoe vou ʼn mens sy liggaam in die vorms van woorde (Deel 2)

Sunday, May 10th, 2015

Daar is reeds veel geskryf oor Heilna du Plooy se “Gesprek met die beeldreeks The Hunt van Maureen Quin” wat in haar nuutste bundel, Die stilte opgeskort (2014) verskyn onder die titel Die jag. Die doel van hierdie kort artikel is – soos ek in my vorige blog aangedui het – om die fokus te laat val op (onder andere) enkele narratologiese aspekte van dié gedigreeks.
The Hunt is ʼn reeks van 12 bronsbeelde deur die beeldhouer Maureen Quin wat tussen 1991 en 1999 ontstaan het (te sien by http://www.quin-art.co.za/hunt.htm). Quin self sê oor die beeldreeks: “I do not want to prescribe to the viewer what to see or experience, but I have tried to express the horror I feel for man’s inhumanity to his fellow man, compounded with the wanton destruction of our environment in the name of development, greed, power and self gratification.” Elders sê sy: “I am African and it saddens me to see that Africa is self-destructing. Finding an artistic solution for my thinking about these problems has not been easy. I had to explore many avenues before I found a way to express the vision which I so desperately wanted to represent in a tangible form.”
The hunt bestaan uit 12 bronsbeelde wat tematies aan mekaar verbind is. Die slanke, gespierde figure is deels mens, deels dier en beeld die verhouding uit tussen jagter en prooi. Oor die ontstaan van die reeks skryf Quin: “Initially I did not set out with any preconceived ideas or themes. I followed my creative instinct until I had reached an indefinable moment when the central theme of what I was doing gradually begun to emerge and manifest itself. From that point onwards I was lead intuitively to the completion of the series.”
Quin se betiteling van elke beeldhouwerk en die feit dat dit altyd in dieselfde volgorde uitgestal en afgedruk word, insinueer ʼn duidelike narratiewe inslag. Die titels suggereer ʼn basiese storie met ten minste twee perspektiewe, naamlik dié van die jagter en dié van die prooi: Bushman – Hunter – Chase I – Chase II – The hunted – The kill – Pietà – Grief – Remorse – Devastation – Supplication – The ultimate sacrifice.

The hunter - Maureen Quin

The hunter – Maureen Quin

Hoewel du Plooy in haar gedigreeks, waar die beelde telkens saam met die gedigte afgedruk is, dieselfde volgorde gebruik waarin die Quin-werke uitgestal en afgedruk word (sy laat Chase II uit), benoem sy haar gedigte anders, en inkorporeer sy soms meer as een beeldhouwerk in dieselfde gedig. Haar titels lui: Die Man (n.a.v. Bushman) – Die jagter (n.a.v. Hunter) – Jag (n.a.v. Chase I) – Die prooi (n.a.v. The hunted) – Naweë (n.a.v. The kill en Pietà) – Anagnorisis (n.a.v. Grief, Remorse, Devastation en Supplication) – Pathos (n.a.v. The ultimate sacrifice).

Die titels Anagnorisis en Pathos het betrekking op die plot of die intrige van die tragedie soos Aristoteles (384-322 v.C.) dit in sy Poetika beskryf. In die tragedie word die val van die held uitgebeeld, dikwels deurdat hy ʼn oordeelsfout begaan of weens ʼn inherente menslike swakheid. Die held hoef nie te sterf nie, maar sy lewenslot moet drasties verander. Daarbenewens kom hy ook dikwels tot insig aangaande die lot van die mens of die inherente menslike kondisie. Aristoteles beskryf dié insig as “a change from ignorance to awareness of a bond of love or hate” (ek gebruik Gerald F. Else se vertaling van Aristoteles se Poëtika).
Aristoteles definieer die tragedie soos volg: “Tragedy, then, is a process of imitating an action which has serious implications, is complete, and possesses magnitude; by means of language which has been made sensuously attractive, with each of its varieties found separately in the parts; enacted by the persons themselves and not presented through narrative; through a course of pity and fear completing the purification (catharsis, sometimes translated “purgation”) of such emotions.”
Nabootsing of mimesis waardeur die werklikheid of die waarheid deur middel van kuns gerepresenteer word, gee volgens Aristoteles vorm en betekenis aan dié werklikheid of waarheid – in teenstelling tot Plato se insig dat die werklikheid nie deur kuns gerepresenteer kan word nie. Omdat die poësie volgens Aristoteles se insig meestal met universele waarhede werk, word ʼn universele werklikheid of waarheid in gedigte uitgebeeld, en nie enige toevallige gebeurtenis nie. “Handeling met ernstige implikasies” beteken dat dit geskik is om vrees of medelye te ontlok en raak gewoonlik etiese, psigologiese of sosiale kwessies aan. Die feit dat die handeling volledig behoort te wees en groots in omvang beteken, aldus die Poëtica, dat dit nie net ʼn reeks episodes is wat uitgebeeld word nie, maar die konsep van nabootsing is hier belangrik in die sin dat handeling selektief uitgebeeld word. Enige aspek van die handeling wat nie in sigself universele waarhede bevat nie, word uitgelaat. Die taal moet geskik wees vir poëtiese uitinge en moet meer melodieus wees as prosa. Die tragedie maak staat op dramatisering en nie, soos die epiek, op vertelling en die rol van die verteller wat die storie vertel nie. Die tragiese handeling gee aanleiding tot emosies van vrees en medelye. Dan kom die katarsis en word alles wat vuil of besoedel was, in die laaste toneel (die pathos) gesuiwer (deur dit te omskep in voordeel) of verwyder (deur dit uit die emosionele sisteem uit te werk).
Aristoteles onderskei ses elemente van die tragedie, waarvan plot (storie) die belangrikste is. Volgens hom is die plot wat enkelvoudig maar kompleks is, die beste soort plot. Dit is die soort plot wat gekenmerk word deur ʼn ommekeer en ʼn insig. Die ommekeer (peripeteia in Aristoteles se terme) vind plaas wanneer die handeling wat sy loop in ʼn bepaalde rigting geneem het, skielik “omgekeer” word. Insig (anagnorisis, wat in Engels dikwels vertaal word as recognition, knowing again, knowing back, knowing throughout) is ʼn ingesteldheidsverandering van onkunde na bewuswording van ʼn band van liefde of haat, soos wanneer Oedipus die koning van Thebes doodmaak en dan uitvind dat dit sy vader was wat hy vermoor het. Die derde plot-element waarna Aristoteles verwys, is lyding (pathos). Dit kan ook met die woorde ramp, onheil of ellende vertaal word en is ʼn destruktiewe of pynlike handeling.
Neem ʼn mens nou weer die gedigreeks Die jag in oënskou, blyk dit dat hierdie reeks opgebou is volgens Aristoteles se beskrywing van die tragedie: In Die Man word die figuur in besonderhede beskryf. Elke gewrig is
ʼn hefboom wat werk
om in sy onskuld oop
te staan min te verberg
(my kursivering)

Die figuur is “onmiskenbaar mens” en het in sy hand ʼn instrument
wat soos ʼn speer so skerp word
wanneer hy hom verweer

Die volgende gedigte, Die jagter en Jag bevat die aanvanklike handeling wat medelye ontlok (Die prooi). Die ommekeer (peripeteia) kom in Naweë:
Ná die geveg staan die jagter
vervreemd in die aller-
innigste stilte

Sonder luister hoor hy die kreun
van sy eie soort en hy weet,
ons is nou een.
(My kursivering)

Insig in die onvermoë en die weerloosheid van die mens en veral die kunstenaar met gepaardgaande verslaenheid en die besef dat boetedoening moet volg, is die tema van die lang gedig Anagnorisis:
Hoe vou ʼn mens sy liggaam
in die vorms van woorde
uit ʼn vergete woordeskat?
Hoe wys ʼn mens se slim
slim hande smart?
Hoe sê ʼn mens se slim
slim mond verslaenheid?
Is daar woorde vir die maaksel
van ongeborgenheid
en onherbergsaamheid
wat voortspruit uit die mens se wil?

Die laaste gedig van die reeks, Pathos, verwys duidelik na die kruisiging van Christus en die moeder se pynlike offerhandeling.
Uit hierdie bespreking behoort dit duidelik te wees dat Heilna du Plooy se gedigreeks Die jag nie ʼn blote beskrywing of ʼn eenvoudige herinterpretasie van ʼn reeks beeldhouwerke is nie. Sy struktureer die reeks doelbewus met inagneming van Aristoteles se beskrywing van die tragedie en maak selfs van sy terminologie gebruik om haar werkwyse openbaar te maak. In my volgende blog sal ek uitbrei op die voorafgaande insigte en probeer aantoon wat die verhouding is tussen die gedigreeks en die primêre kunswerk.