Posts Tagged ‘ATKV Woordveertjie vir poësie’

Vat vyf, Nathan Trantraal – Wenner van die 2014 ATKV Woordveertjie vir poësie

Thursday, September 18th, 2014

Nathan, van harte geluk met die toekenning van die 2014 ATKV Woordveertjie vir beste digbundel. Chokers & survivors was inderdaad ‘n grensverskuiwende debuut. In retrospeksie, hoe voel jy oor die ontvangs wat jou bundel gehad het?

Baie dankie Louis. Ek dink daar is ‘n part van my wat voel soes Chauncey Gardiner in die Jerzy Kosinski boek ‘Being there’ in die way mense baie van my actions en intentions misinterpret het hierdie jaar. Miskien selfs in die way sommige mense die boek verstaan het. Maar soes met Chauncey het die misunderstandings to a great degree in my favour gewerk. Meestal voel ek die boek het achieve wat ek uitgeset het om te achieve though, en dit was om iets new te introduce en aan, en waar mense nie die specifics vestaan hettie, het hulle relate aan die openness van die writing, en dit was nice vi my. Is nice as jy ‘n show gedoen het, en ‘n teenage laitie kom agtena en gie jou ‘n hug en sê vi jou dankie, wan hulle wag al baie lank vi die boek om geskryf te word.

Wat beteken dit vir jou as digter om op dié manier vereer te word?

Ek wiettie eintlik ‘ie. Toe ek op skool was het ek vi jare derde innie klas gekom. Toe ek in stannet vyf was toe werk ek baie hard en toe wen ek al die pryse wat jy kan wen in stannet vyf.  Om eerste te kom en om derde te kom het nogal vi my dieselfde gevoel as ek honest moet wies. Dit was nice om met Wilma Stockenström en Marlene Van Niekerk in te compete virre prys en te wen, maar dis meestal omdat ek ‘n egotist is, ek kannie regtig enige iets van human worth daaraan attribute nie. That said, ek dink dit is ‘n massive step vi Kaapse Afrikaans, ek dink die ATKV het ‘n open spirit ge-demonstrate en cheers to that. Die groot eer op die aand though as ek might digress, was toe een van die dudes wie die WAT opgestel ‘et vi my gese ‘et hulle het my boek ge-reference en dat daar woorde daaruit in die woordeboek included was.

Jy en jou vrou, Ronelda Kamfer, was in onlangse tye dikwels oorsee (meestal Nederland en omstreke) waar jy ook aan verskeie poësiefeeste en – projekte deelgeneem het. Vind jy hierdie blootstelling intimiderend of nie? Anders gestel: watter invloed het dié groter blootstelling op jou eie digkuns?

Nee Louis, ek moet sê ek gan nie oorsee om te skryf nie, dai sal wees ampe soes iemand wie in ‘n ghetto groot geraak ‘et wie Seapoint toe gaan op soek na skryf materiaal. Die stories is hier. As ek intimidated wil voel lees ek JM Coetzee ek hoefie dit te gan soek ‘ie. As ek overseas gan dan gaan ek daa met die mind dat ek might iemand daa iets leer en nie die other way around nie.

Hoe vergelyk die Afrikaanse digkuns, volgens jou, met dié van Nederland, byvoorbeeld? (Enige buitelandse digters wat jy sou wou uitsonder?)

Ek dink as jy wil great digkuns lees in Europe sal jy verder moet kyk in die geskiedenis. Met ‘n paar excpetions sal ek sê Europe het die cultural wasteland geword wat Eliot predict het. Skrywers daar coast op ‘n reputation wat hulle nie self gewerk het voor nie. Is ‘n bietjie soes die English football team wie die World Cup gewen het in 1966 en dink hulle is therefore nog altyd contenders. Afrikaanse digkuns isse sad storie op sy eie vir my, omdat Afrikaanse digters dink digkuns is koekies bak, jy het jou Opperman mould, jou Breytenbach mould, jou Eugene Marais mould etc. Digters hier dink hulle hoef net te voldoen aan baie spesifieke vooropgestelde vereistes om goed te wies.

Vanjaar het daar reeds weer ‘n hele aantal nuwe digbundels in Afrikaans verskyn. Watter van hierdie sou jy uitsonder as ‘n gunsteling en hoekom juis dié bundel?

Om heeltemaal eerlik te wees Louis, ek dinkie ek het hierdie jaar ‘n bundel gelees nie. Gedigte miskien hier en daar.  Hier en daar ‘n paar boeke gelees, Dostoevski, Roth, Pinter, Coetzee en comics, baie baie comics. Ek het nog nie opgehou skryf vandat ek Chokers begin skryf hettie, en as ek skryf lees ek meestal X-Men en Batman ek lees dit agter die artwork aan, dit het ‘n soothing effect op my brein as ek skryf maak woorde my siek, so ek vermy letters so much ek kan.

*

Vraagsteller: Louis Esterhuizen

18 September 2014

 

 

Petra Müller bekroon met ATKV Woordveertjie vir Poësie

Friday, September 13th, 2013

Tydens die ATKV Woordveertjietoekennings wat Vrydagaand toegeken is, is Petra Müller (foto) se bundel, Om die gedagte van geel (2012: Tafelberg) as die wenner aangewys. Ander bundels wat genomineer was, was Pirouette  van Aniel Botha (Queillerie), Kry my by die gewone plek aguur van Loftus Marais (Tafelberg). Dié toekennings het ten doel om uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord te bekroon en die finaliste in die onderskeie genres is pas bekend gemaak.

Die beoordeelaars was Karen de Wet, Diana Ferrus en Danie Marais. Volgens hul commendatio slaag die digter daarin “om verskeidenheid en samehang onder die dak van een bundel saam te bring. Lesers sal die bundel geniet vir die aardsheid en onomwonde blootsheid daarvan. “

Oor die digproses het Petra Müller haar soos volg uitgelaat tydens die onderhoud wat Melanie Grobler met haar gevoer het ten tye van haar bundel se verskyning: “Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: ‘ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.’ Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.”

In haar resensie oor die bekroonde bundel het Joan Hambidge die volgende waarneming gemaak: “Om hierdie bundel in al sy geledinge te takseer, was ‘n ongelooflik inspirerende ervaring. Met elke herlees, word die leser gedwing tot ‘n bestekopname oor die posisie van hierdie digterskap. Enersyds liries, andersyds ‘n sterk verhaalmatige aanslag wat die bundel stuur […] Ek het hierdie bundel in een vloed gelees – gedink hoe sou sy Die aandag van jou oë kon troef. Wel sy hét veral met die eerste drie afdelings. Dit is ‘n bundel van die hierosgamos: ‘n versoening van al die opposisies in hierdie digterlike onbewuste. ‘n Boek oor die omtes van die hart.”

‘n Welverdiende bekroning, inderdaad.

Vir jou leesplesier volg een van die gedigte hieronder.

*

Elsie

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

© Petra Müller (Uit: Om die gedagte van geel, 2012: Tafelberg)

Omslag

  •