Wenner van AVBOB 2020-Poësieprys (Afrikaans)
Friday, August 7th, 2020
Maretha Maartens is die wenner van die 3e jaarlikse AVBOB 2020-Poësieprys: Afrikaans
Peperboom
“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”
Die lem vibreer deur bas en duramen
en jy, suurstofsoekend voor die venster,
kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.
Ma, jy was tog lewenslank lembestand
onknakbaar sterk en doodweerstandig
– ons lowerryke peperboom
huisboom, groen baken van ons binneland.
Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi
en die bessies wat jy strooi soos die sysies
streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.
Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.
“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid
wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”
Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak
– ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –
moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,
maar die takke uit jou stam sal jou peperbessies dra.”