Posts Tagged ‘AVBOB 2020-Poësieprys’

Mediavrystelling: AVBOB Poësiegala 2020

Saturday, August 8th, 2020

POËSIE SNOER ONS SAAM: DIE 2020 AVBOB POËSIEPRYS

 

AGTERGROND: DIE AVBOB POËSIEKOMPETISIE

 

Die AVBOB Poësieprojek het ontstaan en gegroei uit ʼn plek van verlies en verlange – die dubbele tragedie wat ons op ons lewenspad volg waar ons ook al gaan. Dit is ʼn reis wat gelei het tot hoop, vertroosting en genesing.

As ʼn begrafnisonderneming, verstaan AVBOB op alle vlakke die behoefte aan woorde van diepgaande waarde wanneer agterblywendes voel hul lewens word verskeur. AVBOB verstaan ook hul smagting na troos in tye van krisis. Juis binne hierdie konteks het die onderneming Suid-Afrikaners van alle ouderdomme uitgenooi om gedigte in al 11 amptelike landstale in te skryf, met die temas van Liefde, Hoop, Dood en Geboorte as riglyne. So is die AVBOB Poësiekompetisie in die lewe geroep.

Na slegs drie jaar is die resultaat van hierdie sonderlinge inisiatief ʼn gemeenskap van meer as 18 000 toegewyde digters, meer as 80 000 gedigte wat ingeskryf is, en meer as 10 000 gedigte wat tans beskikbaar is as deel van ʼn gratis aanlynbiblioteek. Met die vierde kompetisie wat op 1 Augustus 2020 geloods is, sou ʼn mens weliswaar kon redeneer dat die projek as ʼn nasionale juweel beskou moet word – ʼn kernbelangrike argief wat ons kultuur getrou boekstaaf, en ʼn sosiale hulpbron wat mense in staat stel om hul emosies te verwoord en uitdrukking te gee aan hul waarhede op maniere wat nie in die gewone daaglikse handel en wandel moontlik is nie.

Poësie word dikwels afgemaak as onbenullig, gemaksugtig of onbeduidend. Die teendeel is egter waar: die mag van die digkuns moet nooit onderskat word nie. Terwyl die wêreld wat ons ken skynbaar ineenstort onder die impak van ʼn onvoorsiene en oënskynlik eindelose pandemie, bring poësie ons terug na mekaar, en na onsself. Want poësie behoort aan mense. Dit is demokraties, energiek, bemagtigend en vokaal.

ʼn Mens hoef nie ʼn lang lewe en dekades se ervaring te hê om jou unieke waarheid in die vorm van ʼn gedig uit te druk nie. Dié feit verduidelik waarom twee van ons bekroonde digters slegs sestien jaar oud is – die jongste wenners van die kompetisie tot op hede!

Omdat poësie die konvensionele grense tussen oud en jonk afbreek, is dit verhewe bo ander vorms van artistieke uitdrukking. Juis om hierdie rede het ons jong digters reeds die alchemie van pyn ontdek; dat dit as ʼn katalis vir kreatiwiteit gebruik kan word. En dit is presies en uiteindelik wat AVBOB se poësieplatform vandag is – ʼn spilpunt van genesing, ʼn smeltkroes van skeppende talent.

Die hoogtepunt van al hierdie skeppende aktwiteit is die toekenning van pryse aan ons topdigters in elke taalkategorie. Ons is egter dank verskuldig aan al Suid-Afrika se digters. Want dit is hulle wat hul weg met woorde deur die duisternis tot in die lig moet baan, wat emosies moet ontdek en bestuur in hul soeke na waarheid, en wat bereid moet wees om hul siele te deel om vir ons te wys wat voorheen ongesien, ongesê, onverteld was.

Die AVBOB Poësiegala

 Die jaarlikse AVBOB Poësiegala-aand, met die immer sprankelende Rozanne McKenzie as gasvrou, het oor die afgelope drie jaar ontwikkel tot ʼn byeenkoms van en welkome hawe vir geesgenote. Dit is ʼn plek waar digters en lofsangers, gesproke-woord kunstenaars en spesiale gaste, taalliefhebbers en woordaanhangers kan saamkom vir ʼn viering van die digkuns – as ʼn kunsvorm, as ʼn medium vir verandering, en, ten diepste, as ʼn onweerlegbare waarheid: woorde op ʼn bladsy het die mag om ons saam te snoer. Terwyl globale pandemies en oppervlakkige verskille ons verdeel, bring poësie ons terug by mekaar. Dit ontknoop en herweef ons maatskaplike weefsel.

Teen hierdie agtergrond, op 6 Augustus 2020, in die brawe nuwe wêreld van sosiale distansiëring – en vir die eerste keer sedert die bekendstelling van die AVBOB Poësiekompetisie in 2017 – het die jaarlikse prysoorhandigingsgala virtueel en aanlyn plaasgevind (met lewendige stroming op sosiale media). Dié nuwe formaat het ʼn radikale afwyking van die gewone agenda beteken. Die regstreekse musikale nommers van vorige jare moes plek maak vir die kragtoere van plaaslike uitvoerende digters. Gesproke-woord kunstenaars Puno Selesho, Kedibone Mphethi, Loftus Marais en Given Masilela het lewe verleen aan hul eie werk, asook gedigte vanuit AVBOB se gedrukte bloemlesing. Elke uitvoering – hetsy in Afrikaans, Engels, Sotho of Zoeloe – was genuanseerd en oortuigend.

AVBOB-bestuurshoof Carl van der Riet, Engelse redakteur Douglas Reid Skinner, en digter en dosent Liesl Jobson was die gassprekers wat gepraat het oor die meriete van poësie as deel van die rouproses en die sosiale nut en waarde daarvan.

Carl van der Riet het uitgewei oor die ‘rykheid, talent, oneindige vergifnis en ongebonde potensiaal’ van die werk wat ingeskryf is, en die feit dat die projek Suid-Afrikaners in staat stel om ‘’n taal (te ontdek) – die taal van poësie – wat ons almal verbind’. Liesl Jobson, self ʼn digter, se onderwerp was die rol van die digter as ’n mondstuk in tye van omwenteling en swaarkry. Sy het gevra: ‘Wat is die rol van die digter te midde van hierdie oënskynlike vakuum?’ Haar antwoord: ‘Die digter moet ʼn stem daaraan verleen voordat dit te laat is.’ Ter illustrasie het sy verwys na die Amerikaanse skrywer en psigoterapeut Francis Weller se woorde omtrent smart: ‘(Weller) kon net sowel oor poësie geskryf het, want poësie is ʼn “wilde” kunsvorm wat “in wese buite die bestemde en goedgekeurde lê… dit loop oor van groeikrag… dit is polsend, vurig, ongetem en ontembaar… poësie is niks minder as die lewenskragtigheid van die siel nie…”.’

Douglas Skinner het vanuit Londen sy dankbaarheid uitgespreek teenoor al die digters wat gehelp het om die aanlynbiblioteek te bou, en ook sy redaksionele ervaring van die projek gedeel. “Dit is soos om onder ʼn waterval te staan met ʼn teelepel in jou hand,” het hy verduidelik. Les bes het hy gewys op die absolute noodsaaklikheid van die digkuns in ons lewens.

Die Amerikaanse omgewingskundige, John Muir, het geskryf dat mense nie net brood nodig het nie, maar ook skoonheid. ‘In ons land wil dit gedoen wees. Maar dit is juis waar AVBOB in die prentjie pas. Hul volgehoue vrygewigheid oor ʼn breë spektrum van maatskaplike inisiatiewe maak ʼn groot verskil in ons land. Dit is (metafories gesproke) die brood wat die leerproses voed. Deur die kompetisie het AVBOB ʼn ruimte geskep waarbinne die digkuns vir ons almal toeganklik is. En dit is die wonderwerk: Al wat ons hoef te doen, is om die deur van die poësiebiblioteek oop te maak, om ons oë en koppe oop te maak, en te lees.’

Om poësie te lees, is beslis een manier om ʼn digter te word. ʼn Digter is ʼn digter danksy ander digters – dit is waar en waarom die drie volumes van die AVBOB Poësie-bloemlesing so waardevol is. Volume 3* is tydens die galageleentheid bekendgestel en is, soos sy voorgangers, die resultaat van ʼn jaarlikse poëtiese pelgrimstog wat talle Suid-Afrikaners lok om hul woorde en waarhede in hul moedertale te deel.

Die jongste bloemlesing, wat saamgestel is deur die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, saam met digter en skrywer Goodenough Mashego, bevat 102 plaaslik geskrewe gedigte – 66 gedigte (ses in elke ampstaal) wat in opdrag geskryf is, 33 deur die eerste- tot derdepryswenners in elke taalkategorie, en drie gedigte in die |Xam-taal wat besig is om uit te sterf.

De Lange glo dit is deurslaggewend belangrik om ons inheemse tale te bewaar. ‘Geskiedenis op sigself vertel nie die hele verhaal van die mens nie; die kunste vorm die ander helfte, en taal is die menslikste ding wat ons het. Dit is ook deur en deur verweef met wie ons is en waar ons is. Taal is nie net hierdie deursigtige medium wat ons gebruik om dinge te sê nie; dit is die kwas, dit is die skilderdoek. Dit skep werklikheid. Daarom is poësie ʼn kragtige medium.’

Carl van der Riet het gesels oor die belangrikheid van die jaarlikse bundels. ‘Ons wil hê hierdie bloemlesings moet dien as ʼn historiese rekord, ʼn lewende bewaarplek van en vir al ons tale. Ons wil hê hierdie volumes moet ʼn stem gee aan die komplekse, merkwaardige en veelfasettige land waarin ons bly. En, uiteindelik, wil ons hê dit moet dien as die geboekstaafde bewys van ons nimmerfalende geesteskrag.’

Besoek gerus die AVBOB aanlynpoësieversameling, wat vryelik beskikbaar is by www.avbobpoetry.co.za. Daar wag die werk van die digters wat ons help om ons weg deur ons wêrelde te vind deur die ritmes van hul verse, die krag van hul stemme en hul eie lied.

*Volume 3 van I Wish I’d Said kan bestel word by www.naledi.online of 078 648 8616, en is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels. Of SMS die woord ‘poem’ na 48423 (teen ʼn standaardkoste van R1.50 per SMS) om dit per pos te ontvang, teen ‘n totale koste van R240.

 

Medianavrae:

Dirk de Vynck

Skakel- en kommunikasiebestuurder

E-pos: dirk@etal.co.za

Sel: 082 321 1246

 

 

Die 2020 AVBOB Poësieprys-wenners:

 

Die 2020 AVBOB Poësieprys-wenners is, in alfabetiese volgorde van taalkategorie:

 

TAALKATEGORIE:                           Afrikaans

WENNER:                                         Maretha Maartens

GEDIG:                                             Peperboom

 

Tweede plek:

Maritha Broschk

Gedig:  Swanesang

 

Derde plek:

Hannes Visser

Gedig: Vir Piet Visser (21.7.1925-19.7.1967)

 

TAALKATEGORIE:                           Engels

WENNER:                                          Bernice Puleng Mosala

GEDIG:                                               Un-

 

Tweede plek:

Archie Swanson
Gedig:  my guernica

 

Derde plek:

Mike Linden
Gedig:  To Louise, on her leaving to study

 

TAALKATEGORIE:                           Ndebele

WENNER:                                          Pristine Siyabonga Mtsweni

GEDIG:                                               Siyathokoza Somnini

 

Tweede plek:

Nthotshe Maria Mashifana
Gedig: Ngibelethele phasi!

 

Derde plek:

Bongi Julia Sindane
Gedig: USomnini uMduduzi

 

TAALKATEGORIE:                           Sepedi

WENNER:                                          Tebogo Patricia Mamabolo

GEDIG:                                               Palo ya Dikgare

 

Tweede plek:

Mapule Ramaila Moswane
Gedig: Tsa Bophelo bja mohu

 

Derde plek: 

Nthinyela Octavia Motimele
Gedig: Ithobalele

 

TAALKATEGORIE:                           Sesotho

WENNER:                                          Sekhobo Samuel Moshe

GEDIG:                                               Nketse motlotlo

 

Tweede plek:

Kgobani Mohapi
Gedig: Pakamahlomola kgaotsa re a qela

 

Derde plek:

Puleng Ntou
Gedig: Tshepo

 

TAALKATEGORIE:                           Siswati

WENNER:                                          Sibahle Thwala

GEDIG:                                               Lilanga lisitsembiso lesisha

 

Tweede plek:

Beketele Mahlalela

Gedig: Somiso sidlangile

 

Derde plek:

Famoti Mdluli
Gedig: Ngingulomfana

 

TAALKATEGORIE:                           Tsonga

WENNER:                                          Given Maceke

GEDIG:                                               I vukati muni?

 

Tweede plek:

Tinyiko Lucky Ngobeni
Gedig: Vuswa bya tolweni

 

Derde plek:

Ringeta Lucky Rikhotso
Gedig: Wa ndzi tiyisa

 

TAALKATEGORIE:                           Tswana

WENNER:                                          Lesego Motlhankane

GEDIG:                                               Loso

 

Tweede plek:

Ontlametse Ntwayagae
Gedig: Leka gape

 

Derde plek:

Jonas Maponya
Gedig: Loso

 

TAALKATEGORIE:                           Venḓa

WENNER:                                          Ntakadzeni Makuya

GEDIG:                                               Iwe lufu

 

Tweede plek:

Mafutha Mengwai
Gedig: Mme a vhananga

 

Derde plek:

Lufuno Masuvhekele
Gedig: Ndi na ḓora

 

TAALKATEGORIE:                           Xhosa

WENNER:                                          Siwaphiwe Fortune Shweni

GEDIG:                                               Abazali nobuzali

 

Tweede plek:

Athi Simamkele Dyantyi
Gedig: Kutheni ndilel’apha?

 

Derde plek:

Songezo Xelelo
Gedig: Uyandithanda Mntu wam?

 

TAALKATEGORIE:                           Zoeloe

WENNER:                                          Sebastian Jili

GEDIG:                                               Nhloboni yobuthongo lobu?

 

Tweede plek:

Siyabonga Nxumalo

Gedig: Kufikile

 

Derde plek:

Muntomuhle Mcambi
Gedig: Ugedla lakwethu

 

PROFIELE: AVBOB POËSIE PRYSWENNERS

Die 11 eerstepryswenners van die AVBOB Poësiekompetisie het elk ʼn kontantprys van R10 000 en ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 ontvang. Hulle het die kompetisie om diep persoonlike redes aangegryp, op soek na iets verskuil onder die oppervlakke en oortollighede van ons daaglikse lewens, en in die proses gedigte geskep wat van die blad af glip en emosies diep binne-in ons raak.

Hoe bring ʼn mens voldoende hulde aan ons digters wat elk onverskrokke ʼn gedig geskep en dit ingeskryf en blootgestel het aan die oë van ander? In sy programrede by die gala-aand, het AVBOB-bestuurshoof, Carl van der Riet, sy dankbaarheid teenoor die nasie se digters uitgespreek: ‘Ek wil graag elke digter bedank vir haar en sy waagmoed en vir hul bereidwilligheid om kwesbaar te wees – dit verg enorme moed om ʼn mens se intieme gedagtes en gevoelens met ander te deel. Ons vereer julle vir jul eerlikheid en vrygewigheid, en dat julle hierdie reis met ons deel.’

 

 

Maretha Maartens (Afrikaans)
Maretha Maartens is ʼn vryskutskrywer wat in Bloemfontein woon en al verskeie toekennings vir haar werk ingepalm het. Sy skryf sedert die ouderdom van 13 toe sy ʼn Olivetti-tikmasjien by haar pa present gekry het. Maretha het vir die kompetisie ingeskryf omdat dit vir haar soos ʼn welkome tuiste vir digters voel. Haar wengedig is geïnspireer deur ʼn onuitwisbare oomblik tydens haar ma se laaste winter op aarde – die bewustheid van die naderende dood.

 

 

 

 

Bernice Puleng Mosala (Engels)
Bernice Mosala is ʼn kopieskrywer wat in Sandton bly. Sy het deur ʼn sosialemedia-boodskap bewus geword van die kompetisie, maar skryf reeds sedert Graad 7 gedigte om uitdrukking aan haar gevoelens te gee. Haar gedig is geïnspireer deur haar broer wat op 18-jarige ouderdom die hoof van die huishouding moes word nadat hul pa die familie aan hul lot oorgelaat het. Bernice beskou poësie as ʼn sterk medium om sosiale bewustheid te skep en verandering te weeg te bring.

 

 

 

Pristine Siyabonga Mtsweni (Ndebele)
Een van twee van ons jongste wenners ooit, Pristine Siyabonga Mtsweni, is ʼn Graad 9 leerder van Kameelrivier, Mpumalanga. Hy het ʼn passie vir taalkunde, en by uitstek vir die behoud van sy moedertaal – dit het hom gepla dat sy pa dieselfde Ndebele- handboek gebruik het wat hy vandag gebruik. Poësie stel die jong digter in staat om taal uniek te verbeeld en te verwoord, en Pristine het vir die kompetisie ingeskryf om te bewys dat hy die wêreld met woorde kan verander. Die doel van sy gedig, wat hy geskryf het nadat sy moeder oorlede is, is om troos te bring aan siele wat rou.

 

 

Tebogo Mamabolo (Sepedi)
Tebobo Mamabolo bly in Soshanguve, oos van Pretoria, en werk as ʼn gehaltebeheerkonsultant in die farmaseutiese sektor. Sy het by die bekendstelling van ʼn poësiebloemlesing van die kompetisie te hore gekom en besluit om in te skryf om haar vaardighede te slyp. Die dieper inspirasie agter haar inskrywing was die dood van haar kind wat gelei het tot die begeerte om ander te help om die pynlike oomblik van afskeid te verstaan en te verwerk.

 

  

Sekhobo Moshe (Sesotho)
Sekhobo Moshe is in Bloemfontein woonagtig. Hy is ʼn produktiewe en bekroonde skrywer, mentor en uitvoerende kunstenaar wie se genres die spektrum van romans tot radiodramas dek. Hy is die stigter van die Yaka Nalane (My Geskiedenis) Sentrum vir die ontwikkeling van die kunste, en ʼn gevierde lofsanger. Sekhobo is ook tans besig met sy meestersgraad in Bemarkingsbestuur. Hy het vir die kompetisie ingeskryf om mede-Suid-Afrikaners aan te moedig om Sotho-digkuns en die ryk idiome daarvan te waardeer.

 

 

Sibahle Thwala (Siswati)
Die jongste wenner van die kompetisie tot op hede is die 16-jarige Sibahle Thwala wat bly en skoolgaan in die dorpie Jeppes Reef in Mpumalanga. Hy het vir die kompetisie ingeskryf omdat hy gevoel het dit sal hom ʼn geleentheid gee om die lewens van ander deur sy woorde aan te raak. Hy het op 12-jarige ouderdom begin gedigte skryf en is deur Shakespeare en TS Eliot geïnspireer. Sibahle is ʼn onversadigbare leser wat boeke van sy onderwysers leen om by die huis te lees.

 

 

Given Maceke (Tsonga)
Given Maceke bly in Mghezimani, ʼn klein dorpie in Limpopo. Hy het in 1998 begin gedigte skryf, maar moes sy skryfpogings beperk weens ʼn gebrek aan finansies wat sy uitgewersplanne gekortwiek het. Given het vir die kompetisie ingeskryf om die Tsonga-taal te bevorder, om ʼn liefde vir poësie aan te moedig, en om sy talent te demonstreer. Sy gedig is geïnspireer deur die moedige manier waarop mense hul smart hanteer.

 

 

Lesego Motlhankane (Tswana)
Lesego Motlhankane het in die plattelandse dorpie Ganalaagte grootgeword en bly tans in Potchefstroom. Sy mentor was die bekende digter Kabelo Kgatea, en Lesogo is die eerste voorgraadse student van Noord-Wes Universiteit wat ʼn bloemlesing van Setswana-gedigte die lig laat sien het. Hy glo poësie is noodsaaklik vir die uitdrukking van ʼn mens se emosies en om bewustheid by ander te skep. Hy het vir die kompetisie ingeskryf omdat hy voel dat ʼn mens se moedertaal gekoester en erken moet word.

 

 

Ntakadzeni Makuya (Venḓa)
Ntakadzeni Makuya is gebore in Matangari, Thohoyandou, waar sy steeds bly en werk as ʼn Opera News Hub-skepper, wat sy haar ‘hustle job’ noem.  ʼn Vriend het haar aangemoedig om vir die kompetisie in te skryf, en sy het dit gesien as ʼn platform vanwaar sy na die wêreld kan uitreik. Nadat ʼn lid van haar gemeenskap in ʼn motorongeluk omgekom het, het sy die gedig geskep om troos aan die agterblywendes te bring.

 

 

Siwaphiwe Fortune Shweni (Xhosa)
Siwaphiwe Shweni is ʼn boorling van Ngcobo in die Oos-Kaap, waar hy ʼn agripreneur is. Hy het reeds in die laerskool begin skryf, en sy gedigte is al in ʼn verskeidenheid bloemlesings gepubliseer. Hy het die derdeprys in die 2018 kompetisie verower en weer ingeskryf om sade van hoop en vertroosting te saai vir mense wat dit nodig het. Sy gedig verken die verhouding tussen ouers en kinders, en die name wat hulle daaraan gee.

 

 

Sebastian Jili (Zoeloe)
Sebastian Jili is ʼn vryskutjoernalis wat in Mafakatini naby Pietermaritzburg gebore en getoë is. Hy het ʼn RASA-toekenning verower vir ʼn kortverhaal wat hy in 2015 geskryf het. Sebastian het vir die Poësiekompetisie ingeskryf om mense te help verstaan dat die dood nie die einde van die pad is nie, maar ʼn deurgang. Na die dood van sy moeder het hy hom tot poësie gewend vir troos, en hy glo dat sy gedigte direk uit sy siel vloei.

 

 

 

  •