Posts Tagged ‘Avbob-poësieprojek’

Resensie. I wish I’d said … Vol. 3

Tuesday, November 10th, 2020

 

 

 

I wish I’d said … Vol. 3. ‘n Produk van die AVBOB-Poësieprojek. Johann de Lange & Goodenough Mashego (Reds.) Naledi, 2020.

Resensie: Joan Hambidge

 

I

 

Die derde uitgawe van I wish I’d said (Ek wou nog sê), onder redaksie van Johann de Lange en Goodenough Mashego, bring die hele komplekse aspek van multitaligheid na vore. Verskillende inheemse tale wat telkens vertaal word na Engels. Soms deur die digter, soms deur ‘n redakteur. Met Douglas Reid Skinner as voortreflike vertaler en redigeerder van die Afrikaans na Engels. Die leser kry telkens die oorspronklike gedig met die vertaling. Met 11 redakteurs wat hier keuses moes maak.

 

Daar is opdragverse en inskrywings. Meer as 18 000 digters is al geregistreer op die webblad.

 

Carl van der Riet, die CEO van AVBOB, sien hierdie projek as ‘n “space of healing” en hy verwys na die moord op Uyinene. En die digter se gedig vertolk namens ander die verlies aan ‘n die geliefde persoon. Johann de Lange, die hoofredakteur en self die skrywer van uitsonderlike lykdigte, wys op hoe gedigte ons konnekteer. Poësie, skryf hy, is ‘n kerk waar ons kan vergader.

 

Die een gemeensaamheid van al hierdie gedigte is dat dit die universaliteit van die dood aanspreek. Elke mens is al met die dood gekonfronteer: hetsy onverwags; ander kere weer die slopende aftakeling van ‘n geliefde of kennis. Met ‘n begrafnis. Of verassing. Met rituele. Wat in hierdie Covid-tyd dramaties verander het. Net 50 mense met maskers word toegelaat.

 

In hierdie spanningsvolle tyd waarin mense daagliks gekonfronteer word met die pandemie se verwoesting en koerante getalle verskaf, het die dood soos in Bocaccio se Decameron ‘n harde, alledaagse werklikheid geword.

 

En hoe sal digters hierop reageer? Hoe gaan jy ‘n vers skryf wat steeds tref?

 

Die Versindaba se projek waarin digters reageer op die Covid-pandemie het al tot belangrike en ontstemmende gedigte gelei.

 

O.a. René Bohnen se ontstemmende gedig oor hierdie onderwerp 1. (https://versindaba.co.za/2020/10/27/rene-bohnen-klien-covid-skilde/)

 

Die hele tradisie van die funeraire poësie is alreeds deur verskillende literatore ondersoek.  Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996) waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator.

https://literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/640/810  Besoek 8 November 2020

 

En Cloete se lykdigte is voortreflike huldeblyke aan die afgestorwenes waarvan die vers oor Peter Sellers ‘n hoogtepunt bly. 2.

 

En die Ierse digter Paula Meehan se “Child burial” is een van daardie onthoubare en verdrietige verse wat ‘n mens gewoon oorbluf laat:

 

you chose to be made flesh, word within me.

I’d cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop. 3.

 

Vanaf ons ouer digters (Marais, Totius, Leipoldt) tot nou word die impak van die dood in die digkuns weergegee in treurverse, klaagsange of lykdigte.

 

II

 

Dat daar alreeds ‘n derde bloemlesing gepubliseer word, wys op die relevansie van die onderwerp en dat digters nog lank nie uitgeskryf is nie. Hierdie projek boekstaaf dus nie alleen die dood nie, maar word terselfdertyd ‘n dokument van ons tyd oor die enorme impak van die pandemie én hoe digters as’t ware met hul rug teen die muur dig.

 

Maretha Maartens se aangrypende “Peperboom” is as die wenner aangewys met Maritha Broschk en Hannes Visser in die tweede en derde plek.

 

In die Afrikaanse afdeling is daar verse van Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Loftus Marais, Marlise Joubert en Ronelda S. Kamfer, elkeen digters wat hul gevestig het as belangrike stemme. In “Releasing midnight” aktiveer Elisa Galgut tereg “earth’s diurnal course”.

 

Die lykdig verset sig altyd teen die kortstondigheid van alles en wil iets vir tyd-en-ewigheid daarstel. Wanneer dit oor ‘n belangrike mens handel, wil dit iets van die impak van die dood registreer op die spreker. Hannes Visser se lykdig vir sy vader (“Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)” wil die onomkeerbaarheid van die verdwyning van die vader herstel in die gedig. Die ma het teatraal alles van die pa verwoes in ‘n vuur (heel simbolies!), maar die spreker probeer steeds onthou en bestendig in hierdie sterk gedig.

 

Ronelda S. Kamfer se vers werk met reuke en hoe dit herinnering aktiveer (“Lykskouing”), terwyl Loftus Marais aweregs kyk na die hele gedoente van begrafnisse.  In “Begrafniskitsch” ontluister hy hierdie ritueel:

 

 

alles so gepas, verstaan

die dood is tog die onsubtielste ding.

 

 

III

 

Gedigte oor afgestorwenes verraai altyd komplekse emosies van verlating, verlies, verdriet en onrus. En waarskynlik skuldgevoelens of “unfinished business”. Corné Coetzee se gedig sê dit alles …

 

En T.T. Mudau in “Just remove that stone” wys eweneens op die vrae wat die dood van die oorledene na vore bring. By die swart digters is die orale aspek belangrik en die voordrag; hierom die herhaling van woorde en uitroepe. En uiteraard word ‘n gedig vir Mandela ook ‘n politieke aanklag soos Puleng Nokomo se gedig illustreer (155).

 

Elke huldeblyk verklap iets van die digter se lewenshouding. Elke gedig oor die dood word uiteraard en by implikasie ‘n soort teologiese of religieuse besinning. Leef ons na die dood? Gaan ons die geliefde weer sien? Het hulle veilig “aangekom”? Of word jy gewoon deel van die kollektiewe onthou, soos C.G. Jung aanvoer. In die swart tale is daar uiteraard ‘n ander spirituele ervaring (die woord soul / siel is hier) as by die digters wat Katoliek of Calvinisties of agnosties is. Archie Swansea gebruik ook “soul” in sy gedig “my guernica”. Michèle Betty se vers “Zoetrope” wys hoe die agtergeblewene hunker na ‘n tyd wanneer die herinneringe verskans sal word in die lyf. Talle mense ervaar dan dat die oorledene so deel word van hul gesprekke en onthoue dat dit as liggaamlik ervaar word.

 

Inderdaad word elke vers ‘n Lasciare suonare, soos Andries Bezuidenhout in sy uitstekende vers bewys.

 

Vir die maestro van stilte, sê hierdie gedig oneindig veel. Klakkas tot klankkis. Meer as ‘n huldigingsvers. ‘n Vers wat die verskillende diskoerse van tale (en musiek) saamsnoer. Abdullah Ibrahim se se motto oor tyd en ruimte en plek verklap alles.

 

“We arrive in place when we resolve things.” Dalk deur ons almal in al ons landstale saam te plaas in een plek, mag heling bring.

 

Hierdie antologie maak geweldig baie perspektiewe oop vir sowel die digkuns as die metafisika. Die logo van AVBOB verklap dit reeds.  Daardie boom gaan ook ‘n kis word. Maar tans groei die boom nog.

 

Hierdie bloemlesing het die volgende vers na vore gebring:

 

Die waarheid van duiwe

Joan Hambidge

 

Twee duiwe vasgekeer voor

‘n toe venster: deux,

d’eux, Dieu …

 

vir hierdie twee duiwe

verskrik maak ek

die venster oop,

 

twee vertrekkendes:

die digter wat die waarheid

van duiwe verken

 

en my begeleier, kenner

van priester Lacan

se towerwoorde

 

op Chomsky se swartbord:

die dood drievoudig

onverstaanbaar.

 

 

Endnote:

 

 

1  klein covid skilde

René Bohnen 

 

onthou jy omhelsings

en die glooiings van vingerpunte op jou vel

sensitief soos ‘n sonar

van liefde?

 

ek dokumenteer dagbreke –

onthou dae sonder deure

en die son meer

as ‘n geraamde gedagte

anderkant die balkon

 

in my huis is ‘n landskapskildery

‘n naelstring na my geboortevallei –

 

dag honderd-een-en-vyftig

my gedig ‘n vergesig

op ‘n land van swart amber

en bitter heuning

 

ek voel soos die eerste letter

van ons –

‘n ou man hoes, die wind waai,

ons loop op dun ys

maar ons maskers is mooi

 

dag tweehonderd-en-twee

die son kom op

die bokmakierie roep

vierlettergreepgeel

 

wat is tydelik, wat is tyd?

ek stoot my woorde

voor my by die deur uit

 

 

Alle grappies op ‘n stokkie

T. T. Cloete

 

Die ektoplasma maak mislik.

Alle vlae hang stigtelik

by alle teaters halfmas.

Peter Sellers is vandag veras

by Golder’s Green. Wat mens afkerig maak

is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak

van sy lyk. Die diens vir die lastige rou

en konvensie is deur John Hester gehou,

Peter se vriend, ‘n kannunik.

Maak dit vrolik

om van die walglike oorlas

verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas

uit The Goon Show

sy eerste, sy derde en vierde vrou

mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom

het ongenooid daar aangekom,

sy’t vermetel met Spike Milligan opgedaag.

Sy is kywende weggejaag

deur Michael. Vir die groot

mededinging met die lastige dood

was Lynn Frederick

heel paslik

geklee in ‘n rok wat inderhaas

spesiaal ontwerp is deur die modebaas

Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras

vrolike musiek pas

immers by die toneel

is Glenn Miller se In The Mood gespeel

op Peter se versoek. ‘n Lyk is darem ‘n verleë ding.

Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.

Tog het iets vreemds gebeur:

‘n donderstorm wat ineens losbars versteur

en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,

dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.

 

Wat pla

bedink agterna

in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina

of is die grap bygedra

deur die baaslykverbrander?

To steal one’s thunder

Pas by die toneel. Behoort die oorskot

aan die duiwel, aan God?

behoort die donder

 

aan God, aan die duiwel? I wonder …

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=peter+sellers  Besoek 8 November 2020

 

 

3  Child Burial

Paula Meehan

 

Your coffin looked unreal, fancy as a wedding cake

I chose your grave clothes with care, your favourite stripey shirt

 

your blue cotton trousers They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. I chose a gansy of handspun wool,

 

warm and fleecy for you. It is so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you the paths of wild birds,

 

the names of the flowers the fishes, the creatures

Ignorant you must remain of the sun and its work,

 

my lamb, my calf, my eaglet my cub, my kid, my nestling

my suckling, my colt. I would spin time back, take you again

 

within my womb, your amniotic lair, and further spin you back

through nine waxing months to the split seeding moment

 

you chose to be made flesh, word within me.

I’d cancel the love feast the hot night of your making.

 

I would travel alone to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth drop by bright red drop.

 

https://www.irishtimes.com/news/health/child-burial-by-paula-meehan-1.117323

 

 

Ronelda S Kamfer. Pantodon buchholzi

Monday, October 26th, 2020

 

AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig

 

Pantodon buchholzi*

 

die dood spring in my op

soos ’n vis wat uit die water

spring

ek sit en probeer

trooswoorde

aanmekaar ryg

soos my ouma my

visgraatvlegsels

plat op my kop

geplant het

ek gaan soek haar

in my onderbewussyn

soos sy my geleer het

om te maak

wanneer jy met die

dooies

wil praat

maar al wat ek terugkry

is

ai my kind

ai my kind

jy moenie so vasklou

aan my

nie

 

* Butterfly fish

 

© Ronelda S Kamfer, 2020

 

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Ronelda S Kamfer verskyn wel.)

 

Loftus Marais. Agterplaas

Thursday, October 22nd, 2020

 

AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig

 

Agterplaas

 

die wind is beterweterig vanaand

die buurt se kleure diep

die grasperk, vibacreet is anoniem

daar is ‘n wye soort paniek

terwyl vandag homself in gister omsit

nou

die oomblik staan voor my

hier by my agterdeur

net soos ‘n hoflike teleurstelling:

“jammer jong

oor hoe dit als so droewig is soms

oor jou vriend se kankerdiagnose

oor jou suster en haar huilery

oor al die ernstige politieke skokke elke week”

ek knik

dat ‘n moment

so sommer voor jou deur kan staan en met jou praat

is wonderlik

net totdat dit verdwyn

en jou aan al die laters oorlaat

 

© Loftus Marais, 2020

 

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Loftus Marais verskyn wel.)

 

Corné Elizabeth Coetzee. Die menigtes

Saturday, October 17th, 2020

 

AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig

 

Die menigtes

 

Altyd die menigtes

– ná twee of drie in ’n kamer mekaar aanpraat:

ons wil om die dood

dít of dát of dié stad of daardie ryk

of hierdie nooitvolprese skat besit –

wat huis, haard, bees,

gryse ma en jong, sagte vrou moet los

en aantree.

 

En dan nóg afstaan:

(hier, waar skoon water eers

soos sluiers oor rante gestroom het)

baie vergruis

baie aan doodsmoorsiekte

baie aan uitsuigsiekte

baie aan maersiekte

baie aan gebrek

baie aan kapmes, klip-teen-kop, woede

baie aan verlang

baie in die trein toe die brug breek

baie aan loesings

baie voor gewere

baie aan die galg

baie aan koekies seep

 

en van al hierdie menigtes

wou geeneen toe al sterf nie, nie só nie,

nie vir die mans in die kamer se begeerte nie.

 

© Corné Elizabeth Coetzee, 2020

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Corné Elizabeth Coetzee verskyn wel.)

 

Nini Bennett. Allerliefste, ek stuur vir jou…

Thursday, August 27th, 2020

 

I wish I’d said…SO1E09

 

Dit is die nostalgie van stofstrate, donkiekarretjies en rieldanse. Die Noord-Kaap; die leefwêreld van Lynthia Julius.

“Ek is 25 jaar oud en ’n digter,” sê sy pront. Met die eerste ontmoeting danksy AVBOB se gewilde poësieprogram besef ek dadelik: hiér is ’n baie sensitiewe digter. Mens wil haar vasdruk, haar beskerm teen die aanslae van die lewe. Maar Lynthia het in haar jong lewe reeds haar kwota pyn en swaarkry leer ken. Eers was dit die ontwrigting toe hul gesin moes wegtrek van haar geliefde Springbok na ’n klein dorpie, Ritchie, 40 km suid van Kimberley. En dan was daar die selfdood van ’n vriendin; die diagnose van ’n stoornis by Lynthia waarmee sy moes leer saamleef…en ’n selfdoodpoging van haar moeder. “Ek was kaal in my kuns, ek was naak en eerlik,” vertel sy van haar AVBOB wengedig (2017). Lynthia het ontdek dat sy haar verdriet kon myn tot poësie.

 

Vir Al Jarreau

 

Allerliefste, ek stuur vir jou

’n please call me

want niemand sal ’n student wat broke is

blameer nie

 

my ma het selfmoord try pleeg

en ’n houer pille geword

nou maak die nikotien nie die duiwels stil nie

en wyn bring nie waarheid nader nie

 

en as jy bel stuur tog jou hande

en as jy kom bring tog jou hitte

nie jou mond nie

ek weet jou mond word stom oor goed wat breek is

bring jou arm en ’n been

jou bene dra my as my oë glas is

 

bel tog

kom tog

 

ek weet nie

ek weet nie

of sy orrait gaan wees nie

ooit weer godin sal wees nie

ek is bang.

ek is bang sy dood

ek is bang sy lewe en sy’s dood

 

bel tog

kom tog

ek het nie airtime nie.

 

“Ek het altyd soos ’n buitestaander gevoel,” vervolg sy. “Ek het gevoel ek is anders as ander mense.” Dit is hierdie einste buitestaanderskap wat bygedra het tot die vorming van Lynthia se digterskap – en die kuns om fyn waar te neem. Die aanpassing as student aan die Noordwes-Universiteit het egter sy eie uitdagings gebied en sy het terugverlang huis toe. Springbok toe. Áltyd Springbok. Na legendes soos Oom Piet wat kitaar speel en vals sing met sy wyn by sy linkertekkie en ’n daggastompie by sy regtertekkie terwyl die braaivleisvure brand.

“Ek was moeg van die intellektualisme van goed / moeg van Celan en moeg van Chopin / moeg van Foucault, Mbembe, Nagel, Chomsky/ ek was moeg van die intellektualisme van goed / ek wou hardloop / die Noord-Kaap al in verby Griekwastad, Groblershoop, Upington, Keimoes / Kakamas, Pofadder, Aggeneys / ek wou hardloop tot in Mamma se huis / tot in die buitetoilet (…)”

Die narratief van die AVBOB Poësieprojek is dat daar vertroosting, genesing en hoop volg na die dood, of ná ’n pynlike, simboliese aflegging van iets kosbaar vir die digter. Verlies. En dít is met Lynthia ook die geval. Sy het die genesende krag van die woord leer ken. Nou kan sy lag oor die gedigte wat sy ingestuur het vir die AVBOB Poësiekompetisie: “Jy kry “we come bearing good news”, óf “we have carefully considered your poem”, dan weet jy jou gedig is nie aanvaar nie! Ek het ’n klómp gedigte ingestuur.”

Na afloop van die I wish I’d said-program het my gedagtes bly terugdwaal na daardie fyn nuanses tussen woord en beeld wat vir kyker verborge bly. Ek wou meer oor Lynthia uitvind en het besluit om haar te kontak vir ’n gesprek.

NB:  Lynthia, 2020 is ’n bedrywige jaar vir jou as digter. Eers het jou debuutbundel, Uit die Kroes die lig gesien – baie geluk daarmee! – en toe verskyn jy as een van die gekose digters op I wish I’d said. Jy vertel in die program van die blootstelling wat jy geniet, maar ook van die dualisme dat jy eintlik vir jouself, en nie vir ’n gehoor wil skryf nie – maar in dieselfde asem noem jy dat jy besef jou stem móét gehoor word. Vertel asseblief meer.

LJ:  Ek sukkel om gewoond te raak aan die blootstelling. Die I wish I’d said-program is in 2018 geskiet en toe het ek nog nie ’n clue gehad oor wat nog gaan kom nie. Daar’s ’n liedjie, “Dear old Nicki”, van Nicki Minaj (wat ek baie lief voor is) waar sy met haarself praat. Sy sê vir haar ou self “I live the life now that we would day dream.” Ek sou graag as twaalfjarige Lynthia wou hoor dat my melancholie nie my skuld is nie, dat depressie soos enige ander siekte is en daar hulp is. As ek nou kan ’n depressiewe kind help sal dit mos baie selfsugtig wees om te swyg.

NB:  Jy verwys na ’n onstellende diagnose, ’n geestesstoornis, waarmee jy moet saamleef. As mens kyk na die biografiese geskiedenis van sommige skrywers, skilders en komponiste, dan blyk dit dat stoornisse soos byvoorbeeld depressie of bipolariteit ironies ook hulle “voordele” gehad het as dit kom by die skeppingsproses. Melancholie is onder meer die katalisator van skeppende idees, ensovoort. Wat is jou siening of belewenis hiervan?

LJ:  Melancholie is die katalisator. Ek stem met dit saam, maar ai, hoe onregverdig is dit dat dit die prys van kuns moet wees. Ek lees laas ’n aanhaling raak wat lui, “You write so beautifully – the inside of your mind must be a terrible place.” Dit het my hartseer gemaak oor dit so waar is. Ek praat nou die dag met my vriend Douglas Reid Skinner die storie van die kunste wat uit soveel seer uit kom. Hoe sal ons maak? Vat, maar jou goijna (puch) vat en baie water drink.

NB:  Jy noem dat jy spyt is dat jy nie volledig in Nama gedigte kan skryf nie, en die taal baie graag wil aanleer. As jy jou drome rakende die oordrag en uitbou van die taal vrye teuels kon gee, wat sou dit wees?  Wat se projekte? Vertel ons asseblief, sonder énige beletsel op jou drome.

LJ:  ’n Kunsskool. ’n Kunsskool in Namakwaland. Ons van die Noord-Kaap moet gedurig plekke soos Joburg of die Kaap toe gaan om diep in die kunste te gaan. Ons het nie eers ’n kunstefees nie en hier is soveel talent en ons het soveel om te bied.

NB:  I wish I’d said…SO1EO9 is ’n aangrypende program en dit vang die essensie van die digter, Lynthia Julius, treffend vas. Vertel ons van jou belewenis van die verfilming van die produksie. Enige hoogte- of laagtepunte?

LJ:  Dit was lank. Ons het die Vrydag en Saterdag geskiet. Justin Strydom, wat die onderhoud met my gevoer het, was fantasties. Hy’t my op my gemak laat voel en ek het dit baie geniet, maar hier namiddag toe skop die moeg in en ons moet nog skiet. Dit was uitdagend. Ek weet nie hoe akteurs dit uithou nie. Ek het nooit beplan om oor Ritchie te praat nie. Ek het dit nie eens as iets gesien wat ’n belangrike rol in my lewe gespeel het nie. Toe my ma begin praat van hoe ek ontwortel was (sy het nooit voorheen daaroor gepraat nie), het ek eenkant gesit en begin huil. Ek het eers met die verfilming rêrig besef wat die trek Ritchie toe aan my gedoen het. Ek het dit al die jare net uitgeblok en nie daaroor gepraat nie. Dit was ’n eye opener.

NB:  Temas wat sentraal staan in die werk van bruin digters, is die heling van (heterogene) identiteite. Waarom dink jy is poësie so kragtige medium in die uitdrukking en genesing van hierdie identiteite?

LJ:  Ek dink nie mens moet ’n sekere tema as sentraal sien bloot oor die groep digters dieselfde ras het nie. Ek het altyd gehoor daar word gepraat oor digters in Afrikaanse poësie, maar in dieselfde asem word daar gepraat van ‘bruin digters.’ Ek het ’n broertjie dood daaraan. Ek hoor al hoe meer en lees al hoe meer raak dat ek ’n jong bruin digter is, of ’n jong bruin stem is. Niemand plaas die term ‘wit’ voor digters wanneer daar oor digters van my ouderdom geskryf word wat nie bruin is nie. Ek is baie huiwerig om vrae te beantwoord waar daar van bruin skrywers gepraat word.

En die wenner is…

Die groot dag het uiteindelik aangebreek: Op 6 Augustus het AVBOB hulle poësiepryswenners vir 2020 is tydens ’n aanlyn galageleentheid bekend gemaak. Maretha Maartens het weggestap met die eerste prys, ’n bedrag ter waarde van R10 000 en ’n boekgeskenkbewys van R2 500. Tydens hierdie spoggeleentheid is die AVBOB Poësie-bloemlesing, volume 3, ook bekendgestel. Op ’n AVBOB Poësieblog word die belangrikheid van dié projek onderstreep: “Met die vierde kompetisie wat op 1 Augustus geloods is, sou ’n mens weliswaar kon redeneer dat die projek as ’n nasionale juweel beskou moet word – ’n kernbelangrike argief wat ons kultuur getrou boekstaaf, en ’n sosiale hulpbron wat mense in staat stel om hul emosies te verwoord en uitdrukking te gee aan hul waarhede op maniere wat nie in die gewone daaglikse handel en wandel moontlik is nie.”

Vir meer inligting besoek www.avbobpoetry.co.za

Verwysing:

https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=3414610435269516&id=100001617786153

 

Nini Bennett. Die genesende waarde van die woord

Wednesday, November 27th, 2019

 

Dit is dalk nie toeval dat die god Apollo geassosieer word met digkuns en genesing nie. Inteendeel: dié Griekse en Romeinse god word gesien as die historiese landmerk in die ontstaan van poësieterapie, soos ons dit vandag ken. Of, om dr Louis Hoffman, ’n kliniese sielkundige van Colorado, aan te haal: “Before there was psychotherapy, there was poetry, which can be recognized as one of the oldest healing arts that has been utilized across many different cultures throughout history.” In The Natural and Cultural History of Tears verwys Tom Lutz na die heel eerste geskrewe rekords van ’n mens wat huil – wat ook heel waarskynlik die eerste geskrewe elegie vorm, naamlik die Ras Shamra-tekste. Hierdie Kanaänitiese kleitablette, gedateer in die veertiende eeu v.C, is in 1928 opgegrawe in Sirië. Dit het waarskynlik aan die antieke stad, Ungarit behoort en het verlore geraak tydens ’n aardbewing. Op ’n tablet is daar ’n narratiewe gedig oor die dood van Baäl, ’n aardgod wat deur verskeie antieke Midde-Oosterse kulture aanbid is. Volgens Lutz vertel een van die fragmente hoe Baäl se suster, die maagdelike godin Anat, die hartseer nuus aangehoor het en “haarself versadig het aan trane; sy het haar trane soos wyn gedrink.”

Die terapeutiese waarde in die lees en skryf van poësie lê in die verwerking van emosie. Die doel van terapie is onder meer om die pynlike ervaring te besoek, te herleef, afstand te kry daarvan, dit weer te besoek…in die proses om sin te maak daaruit op emosionele, sowel as kognitiewe vlak. Daar is dus parallelle tussen psigoterapie en poësieterapie. ’n Gedig is ’n veilige plek om in die diepste registers van verdriet te delf, sonder die inmenging van kommentaar of rede. En om te skryf is ’n daad van geloof, om Ingrid Jonker aan te haal. Om oor persoonlike trauma te skryf, skep die moontlikheid dat iemand daar buite – ’n leser – mag resoneer met die vers en sal ‘antwoord’ deur empatiese aanvaarding. Effektiewe psigoterapie bied emosionele ontlading. Pasiënte beskryf dikwels hoe “lig” hulle voel na ’n sessie; eienskappe wat inderdaad met dié van poësieterapie korreleer.

In die Chinese taal bestaan die woord “poësie” uit twee letters: die eerste een beteken “woord”, en die tweede een “tempel”. ’n Gedig is met ander woorde ’n woordtempel; of poësie is die gebruik van die sakrale woord. William Wordsworth, op sy beurt, beweer: “Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings; it takes its origin from emotion recollected in tranquility”. Om poësie te skryf, beteken dat jy diep in jouself moet soek na ’n outentieke stem in die strewe na selfrealisering. Ons stem is tog die beliggaming van wie ons is, hetsy gesproke of geskrewe. Ons stemme verskil in terme van ritme, tonale verskeidenheid, variasie, en die idiosinkrasie van assosiasies, beelde of ander somaties-sensoriese metafore. Om psigiatriese medisyne te drink, gee gestalte aan die wetenskap van pyn; en poësie – aan die kuns van pyn. Medisyne se verhouding met pyn is dus ’n verdowende of narkotiese een, terwyl die simbiose tussen poësie en pyn vra vir ekspressie: vir die artikulasie van die pyn. Om te genees beteken etimologies gesproke om heel te maak; om met poësie die geestelike laserasies te heg en die persoon te herenig met die wêreld om hom. En vir diegene wat eensaam of depressief is, bied poësie ‘n sensitiewe deelgenoot om, metafories gesproke, beter in die donker te kan sien. Die Ierse digter, Alice Kinsella vertel van haar belewenis met depressie tydens die skryf van haar bundel, Flower Press: “Writing these poems became a way for me to simultaneously remember and let go. I could honour the past while giving myself permission to heal. Perhaps it’s the same for many poets who write after a loss. Writing allows us to feel the consolation of memory, without feeling haunted.”

Ten spyte van individuele verskille, is ons almal uiteindelik uitgelewer aan dieselfde lot – ons is gewikkel in ’n ewige dialoog met siekte, dood en sterfgang. En ons moet konformeer; ons kan nie pal loop en kla oor die laste van die lewe nie. Poësie, egter, is die volmaakte medium om uitdrukking te gee ons pyn en verlies – woorde gelei én dit genees.

Die gewilde en hoog aangeskrewe AVBOB Poësieprojek is ’n meertalige webtuiste en platform waar digters en lesers verenig rondom die genesende krag van poësie. Besoek www.avbobpoetry.co.za as jy nog nie ’n profiel geregistreer het of gedigte ingestuur het nie. Die kompetisie sluit 30 November om middernag.

Gemeenskappe wat treur

Na die terreuraanval van 11 September 2001 het poësie van oraloor opgeskiet. In ’n artikel in die New York Times is dié verskynsel gedokumenteer: “In the weeks since the terrorist attacks, people have been consoling themselves—and one another—with poetry in an almost unprecedented way … Improvised memorials often conceived around poems sprang up all over the city, in store windows, at bus stops, in Washington Square Park, Brooklyn Heights, and elsewhere…” Gemeenskappe wat treur, begin poësie te skryf (en te lees). In ’n vorige blog beskryf ek ook die webtuistes wat oornag ontstaan het ná die aardbewing van 11 Maart 2011 in Japan (https://versindaba.co.za/2018/08/19/nini-bennett-voetstoots/). Slagoffers en oorlewendes is na ’n sosiale katastrofe stomgeslaan, letterlik en figuurlik, en reik uit na poësie om die onmoontlike, die onuitspreeklike, te probeer verwoord of te verstaan. In sommige kulture in Korea en Indië huil professionele roubeklaers by sommige oorledenes (gewoonlik mense van statuur) se begrafnisse.

Ongeag die onmoontlikheid, die pyn of angs van ’n situasie: digters het nog altyd dwarsdeur trauma geskryf. Wilfred Owen, ’n bekende Engelse digter het tot met sy dood op die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog sy verse in sy dagboek gepen. Hannah Szenes het op soortgelyke wyse haar gedigte vir haar ma bewaar – nadat sy gevang, gemartel en uiteindelik tereggestel is as Joodse SOE-agent. Paul Celan het sy gedigte tydens WO II in ’n Roemeense oorlogsghetto geskryf. Ook gevangenes skryf poësie as deel van hulle rehabilitasieprogramme. Terminaalsiekes, en mense wat palliatiewe sorg ontvang, lees poësie as eufemisme vir hulle lyding – en dit is iets wat doulas, hulle sterwensbegeleiers, goed verstaan; daar bestaan selfs webtuistes van hierdie begeleiers se keuse van poësie. Die meeste doulas is vroulik. Dit is vroue wat tradisioneel die liggame van geliefdes uitgelê, versorg, of gebalsem het; en dit is vroue wat blomme op grafte sit. Dit is vroedvroue wat kinders help om gebore te word, en dit is vroue wat help om die laaste uitvaart of oorgang te versag. Die ewige begeleiers van lewe en dood. Die onderstaande gedig van Arseny Tarkovsky is vir my ’n sublieme vergestalting van hierdie efemere aard van dinge:

 

And this I dreamt, and this I dream,

And some time this I will dream again,

And all will be repeated, all be re-embodied,

You will dream everything I have seen in dream.

 

To one side from ourselves, to one side from the world

Wave follows wave to break on the shore,

On each wave is a star, a person, a bird,

Dreams, reality, death—on wave after wave.

 

No need for a date: I was, I am, and I will be,

Life is a wonder of wonders, and to wonder

I dedicate myself, on my knees, like an orphan,

Alone—among mirrors—fenced in by reflections:

Cities and seas, iridescent, intensified.

A mother in tears takes a child on her lap.

 

Soos uit die Russies vertaal deur Virginia Rounding.

 

Die helende metafoor

Linguiste, sielkundiges, filosowe, skrywers en literêre kritici se bemoeienis met die metafoor is welbekend. In sy essay, The Poet, verwys Ralph Waldo Emerson na die ontwikkeling van taal as “fossielpoësie”. Idiomatiese taalgebruik en clichés is voorbeelde hiervan. Wat vandag sal deurgaan as ’n futlose segging, was eens op ’n tyd ’n vars en skerpsinnige metafoor. Afrikaanse voorbeelde is waarskynlik uitdrukkings soos “die uurglas loop leeg”, of “elke donker wolk het ’n silwer randjie”. Hierdie trope en beeldgebruik (die fossiellae van die taal) herinner ons aan die eens lewendige poëtiese oorsprong van so segging.  En dit is hoe die mens sin maak uit nuwe verskynsels – hy vergelyk dit met die bekende in sy kultuur, omgewing en identiteit. Volgens Aristoteles lê die waarmerk van goeie digterskap in die gebruik en aanwending van die metafoor: “But the greatest thing by far is to be a master of metaphor. It is the one thing that cannot be learnt from others; and it is also a sign of genius, since a good metaphor implies an intuitive perception of the similarity in dissimilars.” Tog is metafore nie beperk tot die argitektuur van taal nie; dit is intrinsiek deel van die mens se verbeelding en denke – en dis ’n verlengstuk van die bewussyn. ’n Metafoor is die knoop tussen woord en beeld; tussen taal en sensoriese ervarings; en tussen taal en narratiewe. ’n Metafoor noop ’n digter, skrywer of leser tot figuurlike rollespel; om jouself op metaforiese wyse te verplaas in iemand anders se skoene en die sensoriese en emosionele belewenis van daardie persoon te deel. Met analogisering soos hierdie loop identifikasie en empatie hand aan hand.

’n Metafoor is ook die die draer van ’n ‘storie’, byvoorbeeld in Richard Dawkings se River Out of Eden (1995) word die konseptuele metafoor van “the river of genes” gebruik. Die rivier kan vertak met verloop van tyd; óf hierdie vertakkings kan uitmekaar dryf om nuwe spesies te vorm; óf die takke kan opdroog (uitsterf); óf die takke kan herhaaldelik verdeel en bly eskaleer in die 30 miljoen takke, soos ons dit vandag ken. Wetenskaplikes maak mildelik gebruik van uitgebreide metafore om ’n konsep te verduidelik. Ook die nimlike wetenskaplike, Carl Sagan, dwing bewondering af met die gebruik van sy besonder poëtiese taal.

Narratiewe medisyne

“One sheds one’s sicknesses in books,” het D.H. Lawrence op ’n keer gesê. Tog is biblioterapie al vir eeue met ons, en is daar heelwat professionele biblioterapeute in lande soos die VSA en Kanada. In Dante se tyd is boeke in apteekwinkels verkoop – letterkunde is met ander woorde gesien as ‘medisyne’: leesstof met farmaseutiese eienskappe. “Prose not Prozac”, lui die voorskrif. Of: “Literature not lithium”, is bekende kwinkslae onder die moderne voorstanders van biblioterapie. Volgens Samuel Crothers, die man wat die konsep biblioterapie gemunt het, dui die begrip op woorde wat emosies heel; die gebruik van lektuur om mense te help met emosionele, sielkundige of sosiale probleme. Biblioterapie het sy ontstaan te danke aan die antieke beskawings van 300 v.C se biblioteke, waar inskripsies by die ingang van die geboue beloof het dat die lees van boeke genesing vir die siel inhou. Volgens Crothers bestaan biblioterapie uit drie dele: identifikasie, katarsis en insig. Die veronderstelling is dat ’n leser (sal) identifiseer met sekere aspekte van ’n verhaal, en na ’n katarsis verligting sal ervaar via die gedeelde emosies met die karakters in die verhaal; en uiteindelik tot nuwe insigte sal kom in die hantering van soortgelyke persoonlike emosies. Alhoewel biblioterapie nie altyd binne formele verband gebruik word nie, lees mense om te genees. Soldate wat aan PTSS ly, kry dikwels ’n “voorskrif” van romans of ander verhale om hulle te help met die verwerking van trauma – die transformerende krag van narratiewe terapie.

 

Verwysings

www.avbobpoetry.co.za

https://aeon.co/essays/metaphors-grow-the-mind-and-feed-the-soul-dont-lose-them?fbclid=IwAR1eHBqbfbVyGB-p8U_9Y5NjHxzUe7-sSq9tJql3lTlZmHwapFM6aTsWUb4

https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-empowerment-diary/201904/how-poetry-can-heal?fbclid=IwAR1sCNS2Nm-wxjv6vmo1k9RwmLcXYKN4x6PIYOt1io78Uuq4JIeWDn2eWKw

https://www.goodtherapy.org/blog/can-poem-be-healing-writing-poetry-through-pain-0131185?fbclid=IwAR11lXPbybqjG8mI-ONp0vKDELULyclepwqWnxxZ7oWEZ0Kc1JncsgodUQs

https://www.theodysseyonline.com/why-poetry-heals?fbclid=IwAR0GiUINlYQBp3-MOsRTcQSck6qXqJ23g8yJjPpbImwt6JDJEvNfPKrtKsc

https://www.theguardian.com/global/2016/jun/18/poetry-can-heal-it-helped-me-through-depression?fbclid=IwAR33UEXT9z48tczEK14fbObiIEqItU3dvTvUoxDu2IpJzZELKA8Ha5gcqlo

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

.

Nini Bennett. Die bloedlyn van ’n taal

Tuesday, November 12th, 2019

 

“There is no language that is superior to another.” Dít was president Cyril Ramaphosa se boodskap aan Suid-Afrikaners op Erfenisdag, 24 September 2019. Die VN het 2019 verklaar as die jaar van die inheemse taal. Die president het ’n skare toegespreek in die Mxolisi Jacobs-stadion in Upington tydens die amptelike vieringe van dié geskiedkundige dag. Aldus Ramaphosa doen die regering alles in sy vermoë om meertaligheid te beskerm – maar verál die inheemse tale van die Noord-Kaap; tale wat kan uitsterf, soos die N|uu-, Nama- en Khwe-tale. Vyf studente gaan van 2020 af opgelei word as Nama-onderwysers aan die Universiteit van Namibië, terwyl die 23 000 openbare skole teen die einde van 2020 almal toegerus sal wees in die onderrig van Afrika-tale. Ons kulturele diversiteit moet verenig onder die kollektiewe waardes van respek, waardigheid en gelykheid, het die president aangevoer. Die taalstryder, Katriena Esau (oftewel Ouma Geelmeid) was teenwoordig tydens hierdie verrigtinge. Esau is die 2014-ontvanger van die Order of the Baobab (silwer) vir haar besondere werk in erfenisbewaring. En dit is die einste Katriena Esau wie se gedig, The bloodline of language (soos vertaal vanuit N|uu), opgeneem is in AVBOB se eerste bundel, I wish I’d said (Redakteurs: Johann de Lange en Mantoa Motinyane). Vervolgens die eerste strofe van hierdie eenvoudige, dog aangrypende gedig, soos dit opgeteken is deur David M.N. van Wyk en vanuit die Afrikaans vertaal is deur Douglas Reid Skinner:

 

I was born into the language

I drank it

I never just heard it

or learned it from someone

I drank it from my mother’s breast

Soon as I got some sense I heard language, N|uu language,

I heard N|uu from my pa and ma and my gran and grandpa,

N|uu we spoke at home

Afrikaans I learned to speak from those farmers

That language, we had a hard time of it with the white people and

that language

But N|uu was the language of the heart

(…)

Katriena Esau is een van vier mense op aarde wat N|uu praat, ’n antieke San-taal wat na beraming 25 000 jaar oud is. Die 86-jarige Esau knyp met haar maandelikse ouderdomspensioen en skenkings geld af om kinders in haar tuisskooltjie te onderrig in N|uu en Nama-gebruike. En Katriena is die volledige argivaris van die N|uu-taal; die enigste lewende digter wat die taal beliggaam.

 

 

In sy ikoniese biografie, Long walk to freedom beskryf Nelson Mandela die vormende invoed van die Xhosa-digter (of imbongi), Krune Mqhayi. Die jong Mandela was in 1937 ’n leerder aan die Wesleyaanse kollege in Healdtown, ’n dorpie naby Fort Beaufort. Toe Mqhayi op ’n dag by die skool opdaag, geklee in ’n tradisionele Xhosa-karos en spies, was die jongman bekommerd oor die skoolhoof, dr. Wellington, se reaksie. Die hoof het koloniale waardes aangehang. Tot Mandela se verbasing het dr. Wellington niks gesê nie; net stilswyend na die digter se politieke relaas oor Afrika-nasionalisme geluister. Die droom dat alle mense in Suid-Afrika kan saamleef en mekaar se kultuurerfenis en diversiteit op kollektiewe wyse kan respekteer, het vir die eerste maal posgevat by die oud-staatman – asook die herinnering aan Mqhayi, wat hy vir jare in die gevangenis, en later tydens sy presidentskap, sou koester. Ook ons voorste digter, Breyten Breytenbach, het tydens sy Mandeladag-lesing aan die Universiteit van Gent aangesluit by die Mandela-nostalgie. Ten spyte van kritiek op die huidige regeringsbestel het Breytenbach beaam: Die geskiedenis verbind ons. Ons rykdom is ons diversiteit. Kuns is een van die laaste toevlugsoorde waarsonder ons nie kán nie.”

Suid-Afrikaanse poësie: ’n historiese blik

Die koloniale tydperk

Om te sê dat poësie deur swart digters sy beslag eers in die twintigste eeu gevind het, reflekteer slegs die korpus geskrewe werk en nié die ryk orale tradisie nie. Afrika-poësie het ’n lang en glorieryke geskiedenis van lofdigters (izibongo en imbongi) wat lofpoësie, gebede, tradisionele himnes, fabels en treurdigte voordra. Digters het oorwegend hulle skoolopvoeding in sendingskole ontvang, en die invloede van Engelse digters soos John Keats, Percy Shelley, Thomas Gray en Oliver Goldsmith is sigbaar in hulle werk. Herbert Isaac Ernest Dhlomo, B.W. Vilakazi en die satiriese poësie van Herman Charles Bosman staan uit as eksponente van hierdie periode.

Die post-koloniale tydperk

Vier maande nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, verskyn Alan Paton se seminale Cry, The Beloved Country – ’n roman wat op simboliese wyse hierdie tragiese tydvak in ons geskiedenis binnelui. Die poësielandskap van 1948-1990 was inderdaad ’n stormagtige een. Deur die loop van die vyftigerjare was Drum magazine ’n gewilde platform vir die publikasie van swart poësie, wat intussen ’n ryk en diverse kultuur van verstedeliking begin weerspieël het. Belangrike digters soos Peter Clarke, Richard Rive en James Matthews is met die tydskrif geassosieer. Protes teen die onderdrukkende apartheidsregime het toegeneem – ’n bloeitydperk (letterlik en figuurlik) vir struggle-digters wat dekades lank gely het onder diskriminerende wetgewing, ballingskap, huisarres, detensie en marteling.  Daar is ’n verbod op die publikasie van sekere digters se werk geplaas; ook is hulle reg tot openbare toesprake, insluitend die beoefening van orale poësie, in die ban gedoen. Hierdie digters het egter die soeklig laat val op sosiale ongeregtighede en plaaslik, sowel as in die buiteland aandag getrek met hulle gedigte in literêre tydskrifte soos COSAW (Congress of South African Writers) en Staffrider. Die sensuur op publikasies was hewig, en van hierdie digters het verkies om hulle stem eerder in buitelandse tydskrifte te laat geld. Binne die Afrikaanse geledere het die Sestigers, waarvan Jan Rabie, André P. Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker die vernaamste was, radikale vernuwing op sowel tematiese, sosio-politieke en linguistiese gebied gebring. Die sestigerjare het eweneens sy nuwe generasie wit Engelse skrywers opgelewer, soos byvoorbeeld Douglas Livingstone, Lionel Abrahams en Stephen Gray. Indekse soos Voices from within: Black poetry from southern Africa vermeld die Sharpeville-slagting (1960) en die Soweto-opstande (1976) as waterskeidingsoomblikke in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die struggle-digters het met ’n groter dringendheid as ooit geskryf; genoop tot die mobilisering van die massas teen die apartheidsregering. Poësiebyeenkomste is nou ondergronds gehou in ’n tipe versetpoësie wat gekenmerk is deur die gebruik van rewolusionêre slagspreuke. Die kataklismiese nadraai van die marteldood van Steve Biko in 1977 het nuwe momentum aan die protesbeweging gegee. Swart digters se werk was teen dié tyd heeltemal gemarginaliseer en vooruitsigte op publikasie binne die landsgrense was feitlik nul. In teenstelling hiermee het Afrikaanse uitgewershuise floreer en ’n stortvloed poësie uitgegee (dikwels van minderwaardige gehalte). In 1970 het Antjie Krog, toe 17 jaar oud, se debuutbundel Dogter van Jefta verskyn en Krog het ’n herrie in die pers veroorsaak ná die publikasie van haar gedig, My mooi land in ’n skooljaarblad: “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land.”

Op sy beurt beeld die ghetto-agtige Soweto-poësie, wat sedert die sestigerjare toegeneem het, Soweto uit as ’n sosiale en metafisiese hawe – maar ook as een van verset. Dit is poësie wat geskryf is in ’n rou Engelse idioom en wat rym en vaste vorm vermy ten gunste van die ‘naaktheid’ van die vrye vers; ’n lingua franca wat Afrosentriese Engels voorstaan en wegdoen met Eurosentriese invloede. Die tagtigerjare is gekenmerk deur die versetpoësie van die werkersklas (“worker poets”), asook die lofdigte van vakbonde, byvoorbeeld Black Mamba Rising.

Post-apartheid

Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het ’n nuwe demokratiese bestel aangebreek wat gekenmerk is deur “honeymoon literature”, of “the literature of celebration”, om die kritikus, Stephane Serge Ibinga aan te haal. ’n Belangrike tema van post-apartheid-poësie is dié van nasiebou, asook die herevaluering van identiteite in die verlede op pad na die ideaal om op outentieke wyse uitdrukking aan die Self te gee. ’n Inklusiewe Suid-Afrikaanse digtersgemeenskap waarbinne ons diversiteite verenig kan word, was uiteindelik in die vooruitsig: ’n gemeenskap waarin die wonde van die verlede, maar ook die ongelykhede in die hede kollektief aangespreek sou word.

Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie

Performance poetry het die afgelope dekade met rasse skrede toegeneem. Laasgenoemde genre het sy oorsprong te danke aan die inheemse orale tradisies van die izibongo of lithoko, asook die praattaal van die dag, soos dit neerslag vind in die populêre kultuur. Die protespoësie van die sewentiger- tot negentigerjare is dikwels begelei met musiek (of deur musikante self beoefen); en is verder kruisbestuif deur Amerikaanse hip-hop en rap (kletsrym). Professionele digters en kunstenaars kry blootstelling via poësiefeeste soos Poetry Africa of Badilisha Poetry X-Change, waar poësie verder versprei word deur potgooie, of gelees en gedeel word op literêre webtuistes soos LitNet, Poetry International – SA en die sosiale media. Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie is dus die assimilasie van alle diverse invloede – soos hierbo genoem – met die magdom multimediafunksies wat die internet bied. Die opkoms van onafhanklike uitgewers wat selfpublikasie moontlik maak, asook e-tydskrifte (e-zines) skep ’n verskeidenheid platforms vir ’n digter in Suid-Afrika om sy stem te laat hoor.

Suid-Afrikaanse poësie en meertaligheid

’n Mens kan seker tereg vra: met soveel invloede, style en tradisies; met só ’n heterogene register van Suid-Afrikaanse poësie – waarheen nou? Die droom om ons digterlike erfenis wat so divers is, te verenig, loop inderdaad ook die risiko van verdeling. Diversiteit kan maklik wegsplinter. Afrikaans verkeer onder druk, veral na die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat op 10 Oktober bevind het dat US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is. Daarteenoor toon Kaapse variëteite stadig maar seker ’n opbloei, terwyl van die Khoisan-tale op die rand van verdwyning is. Daar is genesing nodig vir die verwonding van die verlede vir al die tale in Suid-Afrika. In 2017 het die begrafnisondernemer, AVBOB, se Poësieprojek afgeskop. Naas die bevordering van skeppende poësie, is dit ook ’n vertaalprojek met ’n antropologiese fokus. Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lesers ontwikkel begrip vir ander mense se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die doelwitte van die AVBOB Poësieprojek is, in lyn met die uitgangspunte van die bekende internasionale Creative Europe-vertaalprojek, soos volg: Dit ondersteun en bevorder kulturele en linguistiese diversiteit in Suid-Afrika; dit bevorder die verspreiding en sirkulasie van gekeurde poësie in al 11 tale; dit bevorder die literêre vertaling van tale wat minder gehoor word, of tale wat uitsterwing in die gesig staar; dit bied blootstelling en erkenning aan talentvolle Suid-Afrikaanse digters; die projek bied ’n uitstalvenster vir vertalers; dit skep die moontlikheid van publikasie in die I wish I’d said-bundels; dit lei tot bekronings in al 11 landstale; en dit bereik nuwe gehore via die Ek wou nog sê…-geselsprogram.

Drie jaar gelede het wenkbroue gelig toe AVBOB hulle Poësieprojek aangekondig het: hoe op aarde kan ’n begrafnisverskaffer ’n vennoot in die bevordering van poësie wees? As ’n mens daaroor dink, is dit heel logies. AVBOB ervaar daagliks smart en verlies wat te groot is vir woorde. Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes dikwels vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette. Want gewone woorde is ontoereikend. ’n Nuwe – of ‘spesiale’ – taal is nodig. En hierdie taal is poësie, die volmaakte uitdrukking van verlies. Baie mense in Suid-Afrika is om die een of ander rede getraumatiseer. Om te dig oor die dood, impliseer ook noodwendig ontwrigting, trauma en pyn. Maar die dood is ook onlosmaak deel van sy binêre opposisie, die lewe. Om ’n gedig tussen duisende ander op ’n webwerf te publiseer, verg vertroue. Daarom is die AVBOB Poësieprojek ’n belangrike stabiliserende faktor tussen gemeenskappe en tale. Ten spyte van beloftes aan regeringskant om meertaligheid te bevorder en dan die teendeel doen, gebeur dit tog danksy die reuse-belegging van een maatskappy wat Suid-Afrikaanse poësie laat floreer.

Besoek www.avbobpoetry.co.za om jou profiel te registreer of gedigte in te stuur. Die kompetisie sluit op 30 November om middernag.

 

Verwysings

https://www.bbc.com/news/world-africa-39935150?fbclid=IwAR2VzOpDsr2g9hJmWDghSfM7H0Gl9DHFcrNDx0B3jIzfQLf67Su_kVwF1ME

https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_poetry?fbclid=IwAR1TpFhR4Y8qXMP-nyFUsaELVpmqMNWcQjOzLZXezeMdQANxOeoQHH48_Mo

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/there-is-no-language-that-is-superior-to-another-ramaphosa-celebrates-heritage-day-with-a-focus-on-african-languages-20190924?fbclid=IwAR0hpcxoLj0j8LNiVUPkoe3WiIFS8NYL1XikVlad2k-PfxPmKGl2tTbdQ64

Chapman, M. en A. Dangor. Voices from within. Black Poetry from southern Africa. 1986. Cape Town: Creda Press.

De Lange, J. en M. Maphumulo (reds.). I wish I’d said…Vol. 2. 2019. Kaapstad: Naledi.

De Lange, J. en M. Motinyane (reds). I wish I’d said. 2019. Kaapstad: Naledi.

Mandela, N.R. Long walk to freedom. 2013. New York: Little, Brown and Company.

 

 

 

 

 

 

 

Marlene Malan. Avbob digkunsprojek

Wednesday, July 31st, 2019

Die Avbob digkunsprojek

In Suid-Afrika lééf die digkuns– en dit danksy die reuse-belegging wat een maatskappy in die poësie én in die bevordering van al elf amptelike landstale maak.

Avbob se aanlyn-poësiekompetisie, wat op 1 Augustus vir die derde agtereenvolgende jaar bekend gestel is, is die bewys hiervan, sê Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap Brand et al wat dié projek namens Avbob bestuur.

So lyk die statistiek ná die suksesvolle afhandeling van twee kompetisies waaraan gepubliseerde en ongepubliseerde digters deelgeneem het: 50 000 inskrywings is ontvang wat vier temas (geboorte, hoop, liefde en die dood) dek, 6 000 gekeurde gedigte is op die Avbob Poetry-webtuiste geplaas. Elf redakteurs (een vir elke amptelike taal) en een hoofredakteur doen die oorsig- en keurwerk, en twee bundels poësie (I wish I’d said I en II) is deur Naledi gepubliseer, met onderskeidelik 100 en 101 gedigte.

Vanjaar se wenners van die Afrikaanse afdeling is Tom Dreyer (1ste), Gaireyah Fredericks (2de), Hélen Möller (3de) en Maretha Maartens (4de).

“’n Mens kan jou maar net begin indink waar die statistiek aan die einde van jaar drie, dit is op 30 November, gaan staan,” sê Van der Westhuizen. Avbob maak ‘n aansienlike belegging in die digkuns met hierdie projek. “Wat die belangrikheid van die program en projek betref, meen ek dat Avbob nie naastenby die erkenning kry wat dit verdien nie. Geen ander korporatiewe instelling het al ooit so ’n belegging in die geskrewe woord – wat nog te sê die poësie – gemaak nie. Die projek bevorder die digkuns van alle inheemse tale, waarvan Afrikaans een is. Só iets bestaan gewoon nêrens elders nie.”

Die projek is al nasionaal en internasionaal bekroon: Pendoring, Assegai, PRISM en M&M Global Awards.

Jaarliks word die nuwe skryfkompetisie op twee maniere aangekondig: Die bekendstelling van ’n nuwe bloemlesing I wish I’d said, vanjaar met Johann de Lange en Mandla Maphumulo as redakteurs (verlede jaar De Lange en Mantoa Motinyane), asook die opname van ’n TV-gespreksprogram (Ek wou nog sê …). Vanjaar bevat dit onderhoude met twintig Afrikaanse digters en liriekskrywers wat later op VIA-TV uitgesaai gaan word. Daniel Hugo is die gespreksleier. In die TV-reeks gesels die genooide digters oor die belangrikheid – en genot – van hul skryfwerk in Afrikaans.

I wish I’d said II bestaan uit die verse van die wenners sowel as dié van opdragdigters – mét die Engelse vertalings van die gedigte uit die tien inheemse tale. Dit maak daarvan terselfdertyd een van die grootste literêre vertaalprojekte in die land.

Naledi kan nou met reg as Suid-Afrika se voorste uitgewer van die digkuns beskou word, sê Hugo. Nege bundels het sedert begin vanjaar by hulle verskyn.

 Volgens Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi, beleef Suid-Afrika beslis ’n poësie-oplewing in alle taalgemeenskappe, “maar in die besonder in Afrikaans. Dis belangrik vir die behoud en groei van ons letterkunde dat daar ’n professionele en inklusiewe platform sal wees wat digters aanmoedig en beloon en die digkuns bevorder. Digkompetisies soos hierdie, asook mediablootstelling soos die TV-program, is baie waardevol. Poësie is nie meer buite bereik van gewone mense nie. As uitgewer probeer ons meedoen hieraan en ’n meer verwelkomende atmosfeer vir opkomende en gevestigde digters skep.”

“Hoewel baie gevestigde digters aan die kompetisie deelgeneem het, is die vier wenners óf ongepubliseerde óf selfgepubliseerde digters,” vertel Hugo. “Nie een is as digter deel van die hoofstroomletterkunde nie. Die gehalte van hul werk was besonder goed. Die gesprekke tydens die opname was met ’n groot verskeidenheid digters, onder andere die vertaler De Waal Venter, die liriekskrywer Jak de Priester en die toonsetter van gedigte Leon Gropp.”

Twee digters wat aan die program deelgeneem en vanjaar by Naledi gepubliseer het, Willem van der Merwe (Nuwe vrese) en Hannes Visser (Die jaar toe pa …) sê die projek en die TV-program is goeie nuus vir die digkuns.

Hannes Visser en Daniel Hugo op die stel.

Volgens Visser “is daar ’n oplewing in die Suid-Afrikaanse digkuns. Dit het ’n voor- én nadeel. Die nadeel is dat gedigte teen die spoed van lig op Facebook uitgespoeg word sonder enige redaksionele versorging. Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is. Ons almal lees poësie om persoonlike redes. Vir mý lê die waarde van digkuns daarin dat die leser met die minimum woorde ’n volledige prentjie kry – dit stimuleer die verbeelding en bied nie alles op ’n skinkbord nie. Om na ’n program soos Ek wou nog sê… te kyk, voeg ’n derde dimensie by die poësie – daar is die woorde op die blad, die klank in die ore en nou ook die visuele waar die kyker die digter kan sien.”

Van der Merwe sê “op die stel het Daniel my gerusgestel en ek het begin babbel oor inspirasie, belesenheid en hoekom ek so lank gewag het om my tweede bundel te publiseer. Ek het amper slim gevoel. En toe voel ek skielik ’n ongekende deernis oor hoe aktief en lewendig die digkuns nog in ons land is”.

Volgens Hugo het talle digters op Donderdagaand 25 Julie by die oorhandiging van die pryse gesê hulle is bekommerd oor die voortbestaan van hul moedertaal “en dat dié projek die enigste in die land is wat hul skryfwerk publiseer, op die webtuiste en in boekvorm. Jy hoop verniet die regering gaan iets doen om moedertale te bevorder. Dit móét met privaatgeld gedoen word.”

In I wish I’d said II skryf De Lange die Avbob-poësieprojek “het die reservoir vir elegiese digkuns geword”. Die gedigte kom uit “die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing. Nie net gedigte oor die dood en verlies nie, maar ook gedigte oor die viering van die lewe, gedigte wat met die afwesiges én aanwesiges praat, wat ’n stem gee aan die stilte en die stilgemaaktes, wat praat oor woorde wat mense nagelaat het om te sê.”

Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, skryf in die inleiding tot die bloemlesing dat die kompetisie nie net ’n ruimte bied waar gewone Suid-Afrikaners oor hul hartseer en hoop kan praat nie, “maar dit is ook ’n plek waar ons mekaar kan ontmoet en gedagtes uitruil, waar ons ons gevoelens met mekaar kan deel, en waar ons sáám kan droom.”

Van der Westhuizen meen die belangrikheid van die projek lê daarin dat dit “véél eerder gaan oor hoop in ’n wanhopige land en tydsgewrig. Dit laat mense óór taal- en kultuurgroeperings van hul verskille vergeet. Die poësie bind hulle saam.”

  • Besoek avbobpoetry.co.za of Avbob Poetry se Facebook-blad om aan die kompetisie deel te neem.
  • I wish I’d said I en II: naledi.co.za; R200 en R220 onderskeidelik. Bestel by info@naledi.online of te koop by alle voorste boekwinkels.
  • Digters wat aan vanjaar se TV-program deelneem, is: Tom Dreyer, Gaireyah Fredericks, Hélen Möller, Hannes Visser, Emma Bekker, Fourie Botha, Clinton V du Plessis, Willem van der Merwe, Danie Marais, Eunice Basson, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Jannie Malan, Jolyn Phillips, Fanie Olivier, De Waal Venter, Pieter Hugo, Christo van der Westhuizen, asook Leon Gropp en Jak de Priester.
  • TV-uitsendings, VIA (Kanaal 147):

.

Hoofuitsendings:

S02E01: 16 Oktober @ 18:30

S02E02: 23 Oktober @ 18:30

S02E03: 30 Oktober @ 18:30

S02E04: 6 November @ 18:30

S02E05: 13 November @ 18:30

S02E06: 20 November @ 18:30

S02E07: 27 November @ 18:30

S02E08: 4 Desember @ 18:30

S02E09: 11 Desember @ 18:30

S02E10: 18 Desember @ 18:30

Herhalings:

S02E01: 27 Oktober @ 16:00

S02E02: 3 November @ 16:00

S02E03: 10 November @ 16:00

S02E04: 17 November @ 16:00

S02E05: 24 November @ 16:00

S02E06: 1 Desember @ 16:00

S02E07: 8 Desember @ 16:00

S02E08: 15 Desember @ 16:00

S02E09: 22 Desember @ 16:00

S02E10: 29 Desember @ 16:00

.

© Marlene Malan – 2019

  •