Posts Tagged ‘AVBOB Poetry Project’

Ek wou nog sê. Episode 4 – 4 Januarie 2021

Saturday, January 2nd, 2021

 

 

 

Episode 4 van Ek wou nog sê word Maandagaand 4 Januarie 2021 om 19:30 – 20:00 op VIA uitgesaai. Daar is ‘n heruitsending op 10 Januarie 2021 om 22:00.

In hierdie episode voer Daniel Hugo ‘n onderhoud met Diana Ferrus en Joan Hambidge resenseer Ondertussen van Johann Lodewyk Marais.

Ek wou nog sê. Episode 3 – 28 Desember om 19:30

Saturday, December 26th, 2020

 

Episode 3 van Ek wou nog sê word Maandagaand 28 Desember 2020 om 19:30 – 20:00 op VIA uitgesaai. Daar is ‘n heruitsending op 3 Januarie 2021 om 22:00.

In hierdie episode voer Daniel Hugo ‘n onderhoud met Jacobus van der Riet en Nini Bennet resenseer Pleks van plaas van Jerzy Koch.

Ek wou nog sê. Episode 2 – 21 Desember om 19:30

Saturday, December 19th, 2020

 

 

 

Episode 2 van Ek wou nog sê word Maandagaand 21 Desember 2020 om 19:30 – 20:00 op VIA uitgesaai. Daar is ‘n heruitsending op 27 Desember om 22:00.

In hierdie episode voer Daniel Hugo ‘n onderhoud met Louis Esterhuizen en Joan Hambidge resenseer Uit die kroes van Lynthia Julius.

Aantal jeuginskrywings in die AVBOB Poësiekompetisie skiet die hoogte in

Thursday, December 10th, 2020

 

 

 

MEDIAVERKLARING
Uitgereik: 10 Desember 2020

 

’n Rekordgetal inskrywings is ontvang in die vierde jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie wat van 1 Augustus tot 30 November 2020 aangebied is. Dit vertel ’n gerusstellende verhaal oor die siel van Suid-Afrika.

In haar lof vir die kompetisie, noem die bekroonde Afrikaanse digter Antjie Krog dit “’n verstommende gebeurtenis wat jaarliks in ons midde ontplof: duisende gedigte in al die tale van ons land! Geskryf, gelees en vertaal! Ek kan aan geen ander kompetisie in die wêreld dink wat so omvangryk is in terme van taal, wat so versorgend uitreik na elke gedig, en so uniek is in effek nie as die AVBOB Poësiekompetisie.”

Kompetisiedata toon dat geen digter te jonk of te oud is om die pen op te neem nie: Vanjaar was ons jongste deelnemer sewe en die oudste 98. Ons het ook ontdek dat daar ’n skerp toename is in kwaliteitgedigte in Siswati en Setswana, met onderskeidelik 254% en 118% méér inskrywings. Ons het gesien dat mense hul gevoelens en vrese, hul ideale en hunkeringe met ons deel – ondanks (of dalk as gevolg van?) die jaar van die pandemie – deur ’n verstommende totaal van 41 139 gedigte; ook dat digters wie se werk gekies is vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek gesamentlik R1,23 miljoen aan publikasievergoeding verdien het.

Die kompetisie het voorts gewys dat die ware uitblinkers die jeuginskrywings is, want byna 75% van die totale getal is dié van skrywers jonger as 35.

Die hoofredakteur, Johann de Lange, sê dít is ’n werklik opwindende verskynsel. “Dié syfers dui op ’n passievolle begeerte by jongmense om hul ervarings te verwoord en om ’n rol te speel in die vestiging van ’n lees- en skryfkultuur. Dis ’n uiters positiewe ontwikkeling wat bewys dat poësie lewendig is onder die jonger generasie, deur dié belangstelling in en toewyding aan skeppende skryfwerk. Indien ons aanvaar dat poësie die kanaal vir die uitbeelding van ons diepste menslikheid is, kan ons ons hoop stel op ’n beter toekoms, omdat jongmense die poësie as ’n band tussen mekaar sien en as ’n manier om vir hulself ’n bepaalde stem te gee.”

Die toename in die belangstelling in Siswati- en Setswana-poësie is belangrik vir die poësiegemeenskap. Vir De Lange beteken dit dat ’n literêre tradisie besig is om as ’n kulturele verskynsel te ontwaak. “Inheemse tale was histories nooit ten volle verteenwoordigend binne die literêre kanon nie, maar ’n splinternuwe tradisie is besig om te ontwikkel. Dis betekenisvol, omdat jong digters nou hul unieke stem op ’n oorspronklike manier ontdek. Dit verskil van dié van hul voorvaders wat die struggle as bevryding beskou het, want hierdie uitdrukkingswyse – in die tyd van COVID-19 – dui op nuwe, energieke vasbeslotenheid en moed.”

Die kategoriebeoordelaar, prof. Stanley Mdonsela, het die gemeenskap Siswati-digters gelukgewens met die merkbare verbetering in die gehalte en die selfvertroue van hul inskrywings. “Dis omdat digters nuanses verstaan dat hul vaardige taalgebruik die beskouings en waardes van die Emaswati weerspieël,” sê hy. “Wanneer iemand sy moedertaal gebruik, is dit ’n hartsboodskap. Siswati-digters is besig om ’n nis vir hulself in die wêreld uit te kerf. Hulle het standpunt ingeneem – en dit is dat die Emaswati nie uitgesluit sal word van hierdie merkwaardige geleentheid om troos aan die treurendes te bring nie.” Madonsela voeg by: “Die aantal en gehalte van die gedigte is ongelooflik! Ek is heeltemal oortuig daarvan dat, as jy die getal jeuginskrywings in ag neem, die toekoms van ons taal veilig is in hul hande.”

Die Xitsonga-digter en akademikus, prof. Ximbani Eric Mabaso, besing die lof van die kompetisie: “AVBOB Poësie is ’n verwesenliking van veeltaligheid en multikulturaliteit op ’n ongeëwenaarde skaal – een wat moeilik geklop sal word in die dekades vorentoe. AVBOB het binne enkele jare ’n hele klomp debuutdigters gepubliseer: Dit het ’n onverwagse skeppendheid ontlok op terreine wat jare lank onontgin was. AVBOB Poësie het daarin geslaag om ’n behoefte aan mededinging na vore te bring, waar nuwelinge en gesoute digters ’n verhoog kan deel. Terselfdertyd trek hulle nie net geldelik voordeel uit die publikasie van hul werk nie, maar kan ook toekennings inpalm. Hierdie projek beteken digkuns vír gewone mense, déúr gewone mense – ’n inisiatief wat ook, deur papierpublikasies, die digitale kloof oorbrug. Lank leef AVBOB Poësie!”

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van AVBOB, deel die positiwiteit oor dié betekenisvolle, bemoedigende neigings. Die inskrywings wat tydens die afgelope viermaandetydperk ingedien is, het met meer as 25% gestyg teenoor die 30 573 wat verlede jaar ontvang is. Dit is meer as dubbel die getal inskrywings in 2017, die eerste jaar van die kompetisie.

“Hierdie ongelooflike toename is ’n teken dat al hoe meer Suid-Afrikaners sin in poësie vind. Ons voel geëerd deur hul belangstelling in die kompetisie en deur die indrukwekkende gehalte van inskrywings,” sê hy. “Een van die belangrikste doelwitte van die kompetisie was nog altyd om toegang te hê tot ’n vryelik toeganklike biblioteek van gedigte in al 11 amptelike tale. Elke gedig wat as deel van hierdie biblioteek aanvaar word, ontvang onmiddellik R300 (elektroniese oordrag) sodra die gedig gepubliseer word. Vanjaar het ons beoordelaars altesame 4 100 gedigte vir publikasie gekies. Dit beteken dat AVBOB Suid-Afrikaanse digters ondersteun het deur uitbetalings van altesame R1 230 000 as publikasievergoeding.”

Van der Riet kom tot dié gevolgtrekking: “Om die kunste te ondersteun, is inderdaad iets waaroor ons kan juig! Die statistiek wat hierbo genoem is, is getuienis van die ontwikkeling van ’n lewende monument. Dié sielvolle en dinamies groeiende projek bring hulde aan die mense vir wie ons lief was en wat ons verloor het. Dit bring ook eer aan dié wat nog lewe, dat ons hul skeppendheid in ’n ernstige lig beskou, en dat ons die kunste ondersteun met lewegewende energie en toewyding.”

Die wenners van die AVBOB Poësieprys van R10 000 vir elk van die 11 taalkategorieë word aangekondig by die vierde AVBOB Poësie-galageleentheid middel-2021. Die digters wat die kortlys haal, sal in die eerste helfte van volgende jaar daaroor ingelig word. Digters word aangemoedig om die AVBOB Poësieprojek op sosiale media te volg om meer te wete te kom oor kompetisieverwante aankondigings, of besoek die kompetisiewebblad-blog by www.avbobpoetry.co.za

  

BYKOMENDE ONDERSTEUNING WAT ONTVANG IS

“Ek was ’n Engels-onderwyser vir die grootste deel van my professionele loopbaan – en ek het daarin geslaag om aan te hou klasgee, selfs toe ek ’n skoolhoof geword het. Ek het altyd geweier om taalonderrig en literatuuronderrig van mekaar te skei. Letterkunde is tog niks anders nie as taal in sy verbeeldingrykste vorm. Dit het beteken dat ek ook skeppende skryfwerk aangebied het, want pogings om sélf iets te skep wat jy op die bladsye voor jou bewonder, laat jou waardering vir dié proses styg. Maar dis ook so dat, om jou gevoelens in woorde te omskep, ’n manier is om dit wat binne jou is te definieer en duidelik te maak. Want totdat jy dít wat jy dink verduidelik, weet jy nie werklik wát jy dink nie. Die AVBOB Poësiekompetisie is ’n briljante manier om ’n groot groep mense aan te moedig om hul gedigte in hul moedertaal te skryf – iets wat húl lewens verryk, sowel as dié van die mense om hulle.”

JONTY DRIVER

Jonty Driver, wat in Kaapstad gebore is, was voorheen hoof van Wellington College in Brittanje. Hy het vyf romans, vyf nie-fiksie-boeke (biografieë en memoirs), nege poësiebloemlesings, vier poësiebundels en ’n gedigteboek vir kinders gepubliseer.

*

“Sedert sy begin in 2017, het die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie (wat – verstommend – in al elf amptelike tale aangebied word) al hoe meer inskrywings gelok. Dat meer as 41 000 gedigte in 2020 ingeskryf is, getuig van die enorme menslike behoefte om denke te verwoord, om ervaring te orden, om emosionele perspektief en verfyning te soek, en om uit te reik na en kontak te maak met lesers. Vir my lyk dit of die kompetisietema, ‘Ek wou nog sê …’, ’n geïnspireerde keuse is. Jy staan verstom oor die getal en buitengewone reikwydte van die gedigte wat reeds deel is van die kompetisie se Poësiebiblioteek. Dít is ’n teken van mense se behoefte en begeerte om te skryf, asook die genot wat hulle daaruit put.”

MOIRA LOVELL

Moira Lovell was voorheen hoof van die departement Engels by Wykeham Collegiate, Pietermaritzburg. Haar werk het al in verskeie tydskrifte en bloemlesings verskyn, en sy het vier digbundels gepubliseer. Sy het ook ’n aantal kortverhale en verhoogstukke geskryf en in 2002 die Olive Schreiner-prys gewen vir haar drama Bedtime Stories.

*

“Poësiekompetisies het in Klassieke Griekeland ontstaan. Om die waarheid te sê, daar is geen méér demokratiese, gelykmakende manier om die digkuns te evalueer en te bevorder as deur dié soort mededinging nie. Veral twee dinge maak die AVBOB Poësiekompetisie vir my spesiaal. Eerstens die taalkundige omvang: Ek kan nie dink aan enige ander kompetisie wat soveel verskillende nasionale tale tot skeppendheid inspireer nie. Dié versiendheid is asemrowend, en die jaarlikse bloemlesing, wat die beste werk van al hierdie tale bevat, is besielend – ’n voorbeeld in verdraagsaamheid en inklusiwiteit. Tweedens verleen die fokus van die kompetisie op die ernstige, hartroerende temas van dood, hoop, liefde en geboorte ’n sfeer van waardigheid en empatie aan die projek. Daar is by my geen twyfel nie dat dié wonderlike instrument van demokrasie – om mense tot hul eerste literêre skryfpogings aan te moedig – van die beste nuwe Suid-Afrikaanse digters van die toekoms gaan oplewer.”

BASIL DU TOIT

Basil du Toit, wat in Kaapstad gebore is, het ’n nagraadse kwalifikasie in filosofie aan die Universiteit van Edinburgh verwerf. Kort nadat hy in 1980 na Skotland verhuis het, het hy ’n prys in die Nasionale Poësiekompetisie daar gewen. In 1989 deel hy die Sanlam-prys met die digter Douglas Livingstone. In 2015 is hy een van die wenners van die Poetry Business Book & Pamphlet-kompetisie (VK). Sy werk het al in verskeie poësietydskrifte verskyn, waarvan die mees onlangse die Poetry Salzburg Review is, en hy het twee digbundels, Home Truths en Older Women, die lig laat sien. Onlangs is sy mini-digbundel, Old, deur Smith/Doorstop in Sheffield gepubliseer.

 

 

Onderhoud met Johann de Lange

Wednesday, December 2nd, 2020

 

 

 

Nini Bennet gesels met Johann de Lange.

 

Johann de Lange en Goodenough Mashego is die redakteurs van I wish I’d said … Volume 3. Die AVBOB-Poësiekompetisie wat uiteindelik sal kulmineer in ‘n vierde volume van dié gedigte, het Maandagnag ten einde geloop. Daar lê nou ‘n  harde pad voor van keuring vir al die redakteurs wat die gedigte wat vanjaar ingeskryf is, moet keur. In dié verband het Nini Bennet gesels met Johann de Lange.

Nini Bennet: Johann, baie geluk met I wish I’d said (volume 3). Jy is sedert 2017 betrokke as hoofredakteur by die AVBOB-Poësieprojek se I wish I’d said-bloemlesings. Hoe verskil die digters se inskrywings van jaar tot jaar – is daar byvoorbeeld ’n soort Zeitgeist wat begin uitkristalliseer?

Johann de Lange: Daar is definitief ‘n groei nie net in die hoeveelheid inskrywings nie (ons het vanjaar 41 149 inskrywings ontvang) maar ook in die gehalte van die skryfwerk. Soos die bekendheid van die projek toeneem, trek dit ook meer gevestigde digters aan. Ek dink vir baie van ons digters is die kompetisie ‘n eerste kennismaak met die kultuur van skryf & deur te lees wat ander digters doen, is ‘n nuwe geslag digters besig om hulleself te skool. Daar is soms natuurlik eksterne faktore ook in die inskrywings, soos die pandemie byvoorbeeld. Daar is baie gedigte wat dit konfronteer.

Op ‘n ander meer indirekte manier is die invloed van die keurders sigbaar oor tyd. Ek praat nou spesifiek van Engels omdat ek dit nougeset volg. Daar is ‘n merkbare verbetering in die kwaliteit van verse wat ontvang is oor die afgelope vier jaar. Ek dink digters lees die verse wat die poësiebiblioteek gehaal het om te leer wat hulle onderskei van die wat gefaal het & bewustelik of onbewustelik  begin hulle daardie stemme emuleer. Die redakteur se seleksie & praktyd oefen as’t ware ‘n soort exolusionêre druk uit op die digters & hulle lewer sterker werk. Hulle leer meer van vorm, tegnieke, prosodie & groei. Ek glo dit is waar ook vir die ander redakteurs.

NB: Vertel ons gerus meer van die frustrasies – én vreugdes – wat jy as redakteur van so ‘n groot projek daagliks agter die skerms beleef.

JdL: Baie van die frustrasies het te doen gehad met ons pogings om die proses van keuring vlot te laat verloop. Daar was veranderinge wat aan die back end van die webwerf gemaak moes word. Maar dit is nou die 4de jaar & daardie probleme is iets van die verlede. Werk aan hierdie projek is louter vreugde. Watter digter sou nie heeldag met gedigte wil werk nie, ‘n ononderbroke stroom gedigte te kan lees, & beste van alles, om nuwe stemme te ontdek, & nuwe werk van bekende stemme.

NB: As dit by die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika kom, kan die AVBOB- Poësieprojek as monumentale onderneming en enig in sy soort beskou word; óók wêreldwyd. Vertel ons asseblief meer.

JdL: Wel, ek dink die Avbob-projek is uniek al net deur die hoeveelheid tale wat in een land betrek word, & dan is die kompetisie ook oop vir alle ouderdomme. So dit gooi ‘n baie groot worp uit. Ek dink ook wat die hoeveelheid inskrywings betref, is hierdie kompetisie uniek. Aan die begin het ons gehoop op so 5 000 inskrywings & toe kry ons 20 774, & elke jaar groei die kompetisie. In 2018 het ons 29 133 inskrywings gekry & in 2019 was dit 30 573. Ons het gehoop om ná vanjaar se kompetisie globaal 100 000 inskrywings te haal vir die vier jaar. Maar ons stoutste verwagtings is oortref met 121 629 inskrywings oor die vier jaar.

NB: Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind daar ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lersers ontwikkel begrip vir ander lesers se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die AVBOB Poësieprojek het ook ’n sterk antropologiese fokus. Wat is jou siening van bogenoemde?

JdL: Vertaling is uiters belangrik in ‘n multikulturele, veeltalige land soos ons s’n. Die droom was natuurlik om elke vers wat op die webblad geplaas word ook te vertaal, maar dit was eenvoudig nie finansieel moontlik nie. Kan jy jou voorstel wat 14 449 vertalings sou kos? Daarom vra ons die digters sélf om waar moontlik hulle verse te vertaal. Ons kry in ‘n ander sin báie vertalings in die vorm van Engelse gedigte deur sprekers van inheemse tale. Die kultuur & tradisie word op die manier oorgedra. Die Engelse kategorie is verreweg die grootste. Ek meen ons het vanjaar om & by 17 000 Engelse verse ontvang. Kan jy jou indink hoe voos die arme Engelse redakteur aan die einde van hierdie kompetisie was.

Wat vir my báie opvallend is, is hoe sterk die kulturele, rituele aspek in verse rondom die dood deur die verskillende taalgroepe is. Daar is ‘n sterk religieuse inslag. Rituele, tradisies ens. Die verse is ‘n ryk bron wat tradisionele, kulturele aspekte aanbetref, die tradisie van die praise song, bv waar die léwe van die gestorwene gevier word. Ek kry ook glimpse van die verskil in die tale self. Die nood wat daar is vir formalisering van spelling & grammatika in van die tale.

Die demografie van die verskillende taalgroepe bepaal egter nie die aantal inskrywings wat ons per taalgroep ontvang nie. Ek sou wou sê dit lyk vir my of sommige tale ‘n sterker poëtiese tradisie het as ander, maar dit sou gevaarlik & misleidend wees. Sommige tale het ‘n hoë aantal inskrywings, soos bv. isiZulu, isiXhosa, Tshivendi, Xitsonga, Sesotho, terwyl ander soos Sepedi of Siswati & isiNdebele kleiner getalle trek.

NB: ’n Mens leer uit jou foute. Is daar dinge wat jy nou – met Volume 3 – beter, ánders doen as voorheen?

JdL: Die jaarlikse bloemlesing het van jaar een sy beslag gekry & niks het verander sedertdien nie. Ons vra ‘n aantal gevestigde digters uit elke taal om vir ons splinternuwe verse te skryf rondom die dood, die idee van sterflikheid ens & die redakteurs vertaal dan daardie gedigte in Engels. Ons plaas ook die eerste drie wenners van elke taal se gedigte, weer eens met vertalings. En dan voeg ek elke jaar ‘n paar ‘verse’ in uit van ons sterwende of gestorwe tale om die idee van tradisie & van kontinuïteit te beklemtoon.

NB: Watter rol speel Westerse godsdiens in die hantering van die doodstematiek in die ingeskrewe gedigte?

JdL: Ek sien ‘n baie sterk Christelike komponent in die verse uit inheemse tale. Daar is aan die ander kant verse waarin die tradisie en geloof ‘n rol speel, voorvaders, gode etc. Dis ‘n baie belangriker aspek as by Afrikaanse & Engelse verse.

NB: Die tematiese kategorieë behels liefde, dood, geboorte en hoop. In watter kategorie ontvang julle die meeste inskrywings, en waarom dink jy is dit so?

JdL: Ons gedigte biblioteek op ons webtuiste www.avbobpoetry.co.za staan nou op 14 449 & verreweg die grootste aantal daarvan, 5 482, is in die Dood kategorie. En dit is verstaanbaar, dit is die sentrale tema van die projek, maar dit is ook omdat die dood, ons sterflikheid, een van die heel groot temas in die poësie is, dit is die een ding wat almal van ons regoor die wêreld verenig: dat ons gebore is, liefhet & hoop, & dat ons sal sterwe.

NB: Suid-Afrikaanse poësie is ’n heterogene register van ’n magdom style, invloede en tradisies. Daar is performance poetry, die inheemse orale tradisies van lofsangers en die kruisbestuiwing van rap en Amerikaanse hip-hop. Hoeveel van hierdie nuanses gaan verlore in geskrewe poësie, of kan ’n goedgeskrewe gedig die afwesigheid van die gesonge/gesproke medium oorleef?

JdL: Ek dink al daardie style word in die gedigte weerspieël in mindere of meerdere mate. Dit is dikwels die geval dat performance poetry nie altyd die tog na die papier ewe suksesvol aflê nie, maar gedigte is veronderstel om voorgelees te word, & nie net in die leser se gedagtes nie. Daar is dikwels goeie gedigte wat ons moet afkeur omdat dit nie by die tema of etos van die kompetisie hou nie. Die riglyne vir die kompetisie is dat die verse oor die dood, sterflikheid, oudword, etc. moet handel. Verse wat dus sterk eroties of polities is, sal afgekeur word. Ek dink dit sal ‘n wonderlike idee wees as ons sulke digters na ander webtuistes soos Versindaba kan verwys sodat hulle daardie gedigte geplaas kan kry. Iets waarna ons moet kyk. Daar is ook heelwat baie ontstellende verse oor Gender Based Violence wat ook nie geplaas kan word nie. Ons het planne daarvoor volgende jaar, dis ‘n belangrike kwessie wat aandag verdien & wat meer onder die aandag van die breër publiek gebring moet word.

NB: Die bundel is keurig verdeel in 66 opdraggedigte (6 in elke landstaal), die 33 AVBOB Poësiekompetisiewenners, en dan 3 gedigte in ƖXam, wat op die rand van uitsterwing staan – die lot van heelparty Khoisan-tale. Waarom het julle (in volume 3) juis op ƖXam besluit?

JdL: Die keuse van |Xam het in die eerste plek te doen gehad met die beskikbaarheid van materiaal. Die werk van Lloyd & Bleek het baie gedoen om groter bekendheid met daardie vertellers se werk te bring. Vir volume 4 wil ek na Khoikhoi kyk.

NB: ’n Goeie gedig moet verruk; moet die leser verras. Gee asseblief ’n voorbeeld van so ’n vers wat jou persoonlik bybly.

JdL: Daar is soveel goeie verse wat ek sou kon opnoem, maar een wat by my bly steek het om die eenvoud & veral om die humor is die volgende vers van Geoffrey Haresnape, nogal gepas in dié jaar van die vrou:

 

Tom Southcross Considers Eden and After

 

in the terrestrial paradise

Eve plucked a hanging fruit

upon a tree that waved its green

from an assertive root

 

in sampling it she found a world

that made her taste buds zing

she took it to her man and said

“you’ve got to try this thing”

 

Adam agreed to take a bite

and found that she spoke true

he felt a psychedelic charge

that shook him through and through

 

but god the father was not pleased

with what the pair had done

he nabbed them in the fading light

and sent them on the run

 

they had to leave the garden’s peace

where they drew easy breath

digging and spinning were assigned

until eventual death

 

the delver laboured with his wife

to prosper and beget

until at last her moment came

to pay a dreadful debt

 

and Adam, too, grew tired and soiled

from red earth work so dirty

the old hand tallied at his end

nine-hundred years and thirty

 

as for Eve’s total when she died

the ur-text does not tell

its patriarchal narrative

does not treat women well

 

NB: Baie dankie vir ’n prikkelende onderhoud, Johann.

 

I wish I’d said…vol. 3. Editors: Johann de Lange & Goodenough Mashego, Naledi, 2020. Die bundel kan bestel word by Naledi. E-pos: tertiaswart@naledi.online. Telefoonnommer: 0786488616

 

 

 

Marlies Taljard. Dat jy iemand sal hê by wie jy swak kan wees

Sunday, November 29th, 2020

“In the presence of death poets speak with particular urgency. Our own impending deaths or those of others generate a language of mystery while the things of the world, in their poignant ordinariness, call us back to life and the known.” So skryf Ingrid de Kok in Daily Maverick van 29 Junie 2020 in haar rubriek Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight). In hierdie rubriek (een van verskeie wat tydens die Inperkingstyd verskyn het) bespreek sy enkele Breyten Breytenbach-gedigte, onder andere “It is called grieving for the present” uit die bundel op weg na kû (Human and Rousseau, 2019):

 

nou weet jy wat dit is

om dood te gaan:

dat alles en almal en dit en dié

hier vir wie jy lief was

sonder om daarvan bewus te wees

moes sterwe terwyl jy nog leef

(Fragment)

 

Dit lyk inderdaad asof hierdie voorheen ongekende tye in baie opsigte lei tot ‘n herondersoek en herwaardering van dinge wat voorheen alledaags of vanselfsprekend was en ‘n fokus op ménse met wie ons ons lewens deel. In ‘n ander rubriek haal de Kok byvoorbeeld ‘n gedig van Patrick Cullinan aan:

 

To have love

To have love and then lose it:

the white hail in the orchard

lying with leaves it has stripped

and the storm moving away.

 

In hierdie gedig word die skok verwoord wat mense ondervind wat ‘n groot ramp oorleef het en daarvoor is die beeld van ‘n vernietigende haelstorm besonder gepas. Dit sou die moeite loon om ook die ander rubrieke van Ingrid de Kok uit dié tyd te lees waarin sy die problematiek van identiteitskepping in die vreemde tye waarin ons tans leef, ondersoek.

Fassinasie met, vrees vir en besinning oor die Virus kenmerk die Grendeltyd in baie opsigte, ook in die poësie. So sê die digter Cas Vos byvoorbeeld dat hy die gedig “Corona” ter elfder ure nog ingevoeg het in die bundel Beskut teen vrese wat ook in die Koronatyd by Naledi verskyn het, maar reeds voor die uitbreek van die virus finaal gekonseptualiseer was. In dié gedig word God as ‘n soort Grim Reaper uitgebeeld:

 

“Waar is God in dié doodsbleek dae? Kyrie eleison!”

Sonder visum is Hy Italië toe om haweloses

op te spoor.

 

 

Dit blyk uit verskeie gedigte wat tydens die Inperkingstyd ontstaan en iewers gepubliseer is, dat mense onder andere aan hulle geloof begin twyfel. Die boek Hooflyn wat ek onlangs ontvang het, is saamgestel deur Fanie Marais en deur Cordis Trust uitgegee. Dié boek bevat insigte wat die skrywer oor jare daagliks neergeskryf het, veral na aanleiding van sy dogter se dood in 1989. Dit is interessant dat die skrywer juis tydens die Grendeltyd besluit het om dié jare lange opgetekende gedagtes uit te gee. Soos in die bo-aangehaalde reëls van Cas Vos, kom vrae aan en oor God ook hier voor:

 

Ek het God gebid om antwoorde

In die plek meer vrae.

Hy het in die wind vertrek

en my met die leegheid

van ‘n studeerkamer gelaat.

 

en:

 

Jou God praat met jou

myne hoor my nie eens nie –

diskriminasie?

 

Desnieteenstaande is daar egter in dié boek heelwat meer bepeinsings oor die aard van liefde, vergifnis, dankbaarheid en hoop. Dit sien mens ook in talle ander publikasies en gedigte uit die Covid-19-tyd, naamlik dat basiese menslike waardes weer onder die vergrootglas kom en herwaardeer word. Baie mense wend hulle in dié tyd opnuut tot geloof in die Onsienlike. Op 20 Augustus publiseer Petro LM Gordon byvoorbeeld ‘n gedig in die Son met die volgende toewensing: “My hartsgebed is dat wanneer dit voel of alles vir jou te veel en te klein raak, jy iemand sal hê by wie jy swak kan wees. Bowenal onthou: Daar is altyd hoop.” Wat hier vir my interessant is, is dat gedigte oor die Koronavirus op allerlei forums (soos o.a. op Algoagemeenskapskerk) verskyn. ‘n Vinnige soektog het gewys dat talryke gedigte op Facebook verskyn, in hoofstroomkoerante, soos Media24 se koerante én in gemeenskapskoerante soos die Potchefstroom Herald. Ook vir kinders word op 17 Julie 2020 “oulike liedjies of gediggies om jou te help om jou kinders van COVID 19 te leer” op Media 24 geadverteer.

Dat die dodetal van Covid 19-slagoffers daagliks in die media uitbasuin word, het onteenseglik ‘n belangrike invloed op die tematiek van gedigte wat in dié tyd gepubliseer word. ‘n Mens vind genoeg getuienis daarvan op sosiale mediaplatforms. In ‘n bloemlesing, Sonstorie-digreis, wat tydens die Grendeltyd verskyn, kom dié gedig van Jopie Koen voor:

 

vyf verdiepings

 

was vyf verdiepings ver genoeg

op ‘n Sondagaand

in die eerste maand

vyf verdiepings op ‘n Sondagaand?

 

soos altyd was die stad vol liggies

maar dit was nie lig genoeg nie

en agter al die mure was bure

 

maar hulle was nie naby genoeg nie

 

Januarie was ‘n nat nat maand

en jou laaste gedig het juis van reën gepraat

 

maar ons het nie jou taal geken nie

dalk wou jy ons tóg iets vertel

van ‘n eensame woonstel

 

van vyf verdiepings

op ‘n Sondagaand

 

Hoewel dié gedig kennelik nie binne die Inperkingstyd geskryf is nie, is dit veelseggend dat dit tydens dié tyd in ‘n versamelbundel verskyn wat pyn, lyding, hoop, besinning en identiteitsondersoek as tema het. Dit is ook opmerklik hoe dié gedig die temas van depressie, eensaamheid en afsondering ten spyte van bure of vriende met wie egter geen kontak moontlik is nie, verwoord – ‘n tema wat telkens sentraal staan in die wêreld van Covid-19. Dit is opmerklik dat selfondersoek in dié tye aan die orde van die dag is – so asof mense verwag om te sterf en hul lewens in oënskou neem ten einde onreg reg te stel of vergifnis aan te bied. Van Marie Bredenkamp verskyn in dieselfde bundel die gedig “’n mens moet” met die slotstrofe:

 

‘n mens moet eenkeer

op jou knieë kan gaan

en onbeskroomd

in skamelwoorde stil verklaar

dat jy verkeerd was

sodat jy éénkeer

kan vergifnis vra.

 

Hoewel verlies, pyn en nood van mense wat geliefdes aan die virus afgestaan het, die media oorheers, is dit treffend hoeveel gedigte van hoop en troos in dié tyd verskyn:

 

Te laat

Ek wou nog vir jou sê

hoe die dag in verf

gaan lê,

maar toe is dit al nag.

Ek wou nog vir jou sê

hoe ek seerkry

van allenig lê,

maar toe is dit al dag.

(Beaudhien Mozart – In: Sonstorie-digreis)

 

Hierdie gedig roep natuurlik onmiddellik die AVBOB-poësieprojek, I wish I’d said … op, met die programreeks Ek wou nog sê … wat weer vanaf 14 Desember 2020 om 19:30 op VIA, DStv-kanaal 147 aangebied word (https://versindaba.co.za/2020/11/26/ode-aan-n-lewende-monument-vir-meertalige-poesie/). Hoewel die AVBOB-kompetisie niks met Covid-19 te make het nie, sluit dit tematies aan by gedigte wat in die Tyd van die Virus verskyn, in dié sin dat dit pyn en verlies, maar ook liefde, troos, hoop en lewe as tema het. Die volledige versameling wat tans 13 686 gedigte in al die amptelike tale bevat, kan besoek word by https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll

Om op te som: ‘n Mens kan nie ‘n tydvak waarin jy tans lewe, volledig beoordeel nie. Dit sal later gedoen word wanneer skrywers meer afstand gekry en insig verwerf het. Nóú kan ons sekere fasette en kenmerke probeer beskryf, wat beslis later, wanneer die Tyd van die Virus beskryf en beoordeel word, insiggewend (en dalk ironies) sal wees. Ek wil ten slotte ‘n gedig van Ronel de Goede aanhaal wat onlangs op Versindaba verskyn het en wat, myns insiens, ‘n akkurate beeld verskaf van dit wat ons tans sien en beleef, naamlik dat skrywers konsentreer op die alledaagse, dit wat ons van die lewe gewoond was en wat gaan verander of reeds verander het, dat mense bestek opneem van hulle lewe en die dood as deel daarvan aanvaar – en dat medemenslikheid opnuut belig word:

 

Ballade van die honderd dae

’n Wintervers

Die branders suis, die dae sleep.

Ek sit aan tafel en lees koerant:

“Syfers styg”. “In virus se greep”.

Wat gaan word van die siekes in ons land?

Hul “spartel om asem” en “verdrink” op ’n streep.

’n Malariapil maak mens glo “bestand”.

Kom ons drink maar ’n glas op die valreep!

Wat gaan word van die virus in ons land?

 

Die wêreld verstom: “Ekonomie in sy maai”.

“Miljoene ly honger”. “Gebrek aan kontant”.

Die radio rep: “Kospakkies geskaai”.

Wat gaan word van die armes in ons land?

“Miljarde vir noodhulp”. “Vingers in die laai”.

“Werkloosheid neem toe”. “Dromkrappers astrant”.

’n Stad onder beleg – boekaniers in Valsbaai!

Wat gaan word van die kapers in ons land?

 

Die skedelvlag die waai: “Baba verkrag”.

“Boer vermoor”. Selfone gons: “Iemand

wat ons ken”. “Rowers skiet geldwag”.

Wat gaan word van die mense in ons land?

“Bejaardes gemartel”. “Seuntjie val in skag”.

“Vrou gesteek”. En so gaan dit voort, want

dis ’n gekkeskip – sonder kwarantynvlag!

Wat gaan word van die moordplaag in ons land?

 

L’Envoi

 

Hoe kan ’n mens dit alles verklank?

Wat gaan word van die siekes van ons land?

Ek sit aan tafel en lees koerant –

vol selfverwyt; een voet op die loopplank.

Wat gaan word van die armes van ons land?

Wat gaan word van die ménse van ons land?

 

Bronnelys:

De Goede, Ronel. 2020. allade van die honderd dae. Versindaba. https://versindaba.co.za/2020/10/21/ronel-de-goede-ballade-van-die-honderd-dae/

De Kok, Ingrid. Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight).  https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-04-27-unlocked-poems-for-critical-times-part-eight/

De Kok, Ingrid. 2020. Unlocked: Poems for Critical Times (Series Two, Part Eight).

https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-06-29-unlocked-poems-for-critical-times-series-two-part-eight/

Gordon, Petro LM. 2020. https://www.son.co.za/Blog-Jou-Ore/Kykie-Hoorie/hoop-te-midde-van-covid-19-20200827

Marais, Fanie. 2020. Hooflyn. Pretoria: Cordis Trust.

Marais, Fanie (Red.) 2020. Sonstrorie-digreis. Pretoria: Cordis Trust.

Media 24. 2020. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/uitenhage-digter-skryf-oor-pandemie-20200716

Vos, Cas. 2020. Beskut teen vrese. Pretoria: Naledi.

 

Ode aan ʼn lewende monument vir meertalige poësie

Thursday, November 26th, 2020

 

 

25 November 2020

 

“Ek wou nog sê…” Seisoen 4

Ode aan ʼn lewende monument vir meertalige poësie

 

So oud soos die berge en so kosbaar soos asem, het poësie die mag om die aarde op sy kop te draai en om woorde te laat dans. Poësie troos die diepste seer, bou brûe en skep geleenthede, want die digkuns “maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse”[1] sodat ons mekaar kan rááksien.

Die AVBOB Poësieprojek is in 2017 van stapel gestuur om ʼn universele behoefte aan te spreek. Wanneer mense geliefdes aan die dood moet afstaan, ervaar hulle ʼn groot, en dikwels blywende, leemte: die behoefte en gelyktydige onvermoë om die ervaring te verwoord. Carl van der Riet, AVBOB se hoof uitvoerende beampte, meen dat poësie juis vir mense die geleentheid bied om uiting aan hul emosies te gee. Marita Broschk, tweedepryswenner in die Afrikaanse kategorie van die derde AVBOB Poësiekompetisie, beskryf poësie as “… om woorde te gee aan die onverwoordbare waarby mense kan aanklank vind”.

Meer as 10 000 gedigte is op die AVBOB Poësieprojek se webblad beskikbaar en vorm as’t ware ʼn bron van troos. Van der Riet voeg by dat AVBOB daarmee ʼn poësiebiblioteek wou skep om aan mense ‘n bron van hoop en vertroosting te gee wat genesing en berusting kan bied.

In die vierde TV-seisoen van “Ek wou nog sê…”, die uitvloeisel van die AVBOB Poësieprojek se jaarlikse poësiekompetisie, val die kollig op die geleenthede wat hierdie besonderse projek aan gesoute sowel as debutantdigters bied. Die AVBOB Poësiekompetisie is ʼn platform vir Suid-Afrikaanse digters om in enige van die 11 amptelike tale te dig, en dit op sigself maak hierdie kompetisie enig in sy soort. Die hoeveelheid inskrywings neem jaarliks toe en tot dusver is meer as 80 000 inskrywings ontvang, wat dit die grootse poësiekompetisie ter wêreld maak.

Die kompetisiewenners se gedigte word jaarliks in die vorm van ʼn bloemlesing, I Wish I’d Said…, deur Naledi uitgegee en al die bydraes word in Engels vertaal. Adriaan Bester, AVBOB se hoofbestuurder van korporatiewe aangeleenthede, skryf dié kompetisie se sukses aan twee aspekte toe, naamlik die vryheid om in jou moedertaal te kan dig en die gepaardgaande toeganklikheid en blootstelling wat die Engelse vertalings aan die letterkunde verskeidenheid van die verskillende tale bied. “Die AVBOB Poësiekompetisie bied ʼn geleentheid wat digters kan benut, en vir ons is dit ʼn platform om ons land se digters te kan vereer,” sê Bester. Volgens Johann de Lange, hoofredakteur van die kompetisie en bloemlesings, is ons menslikheid in poësie opgesluit: “Deur lewende taal kan ons oor die dood praat, en kan kulture kennis, wysheid en geskiedenis deel.”

Programaanbieder en gevierde digter in eie reg, dr Daniel Hugo, beskryf dié projek en die bloemlesings wat daaruit spruit as “ʼn monument vir al die tale van Suid-Afrika”. In elk van die tien episodes van “Ek wou nog sê …” gesels hy met Afrikaanse digters oor hulle werk en hul uitkyk op die lewe. Sy gaste sluit gevierde digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus en Johan Myburg in, asook belowende debutante soos Churchil Naudé en Lynthia Julius. Dié wye spektrum digters het genoodsaak dat die episodes onderskeidelik in Pretoria, by die Pretoria Buiteklub, én in Wellington, by die Breytenbachsentrum, verfilm moes word.

Die vierde seisoen neem ook ʼn nuwe wending, met resensies van nuwe digbundels deur Nini Bennett en prof Joan Hambidge. Volgens BRAND et al, die vervaardigers en ook AVBOB se reklameagentskap, het hierdie toevoeging juis ten doel om AVBOB se visie vir die toeganklikheid van poësie te benadruk en om alle digters, hetsy gepubliseerd of nie, aan te moedig om aan die kompetisie deel te neem.

“Ek wou nog sê…” begin Maandag 14 Desember om 19:30 op VIA, DStv-kanaal 147, met heruitsendings op Sondae om 22:00.

Besoek die AVBOB poësiebiblioteek by www.avbobpoetry.co.za en volg ons AVBOB Poetry-sosialemediablaaie vir meer inligting oor vanjaar se kompetisie.

 

 

[1] Kô lat ons sing – Adam Small

 

 

Vierde seisoen “Ek wou nog sê …” begin 14 Desember

Monday, November 23rd, 2020

 

Verfilming van die tien episodes van AVBOB se vierde seisoen “Ek wou nog sê …” is nou afgehandel en sal vanaf 14 Desember op Maandae om 19:30-20:00 op VIA vertoon word, met ‘n herhaling op Sondae om 22:00-22:30.

In dié program kan bekende letterkundiges en digters gesien word. Daar woord oor en rondom die Afrikaanse letterkunde gepraat en verskeie digters kry die geleentheid om hulle eie werk voor te lees. Die drie wenners van die Afrikaanse been van die AVBOB Poetry Project sal ook hulle verskyning op die program maak. Digters wat nog hulle werk vir dié kompetisie wil inskryf, word daaraan herinner dat daar nog net ‘n week tyd is voordat die kompetisie sluit. Gedigte kan by die onderstaande skakel ingestuur word.

 

 

 https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

 

  •