Posts Tagged ‘AVBOBPoetry Competition’

Clinton V. du Plessis. Uiterste wilsbeskikking en laaste wens

Thursday, March 10th, 2022

 

 

 

Uiterste wilsbeskikking en laaste wens

 

Jou laaste aardse bymekaarmaak

was weinig om te verdeel, te bemaak

 

huis wat deur verweer, roes en rot

mettertyd sou verword tot krot

dít het jy afstand van gedoen

vroegtydig met al minder versoen

 

op ons reise het jy het al ligter getas

veel ingeneem, waargeneem, vasgelê:

Wildernis se kus, Kaaimans se pas,

God se gety, ruigtes binnelandse vlei,

Vleesbaai, Voorbaai, Stilbaai.

 

En in die halfweg, in die haai Karoo,

pyp in die hand, op ʼn skemerstoep

kon jy alles weer lééfhelder herroep.

 

Pa, wat sou ek nie nou alles wou prysgee,

om een laaste maal,

weer bande met al ons stilhouplekke te smee

net, één laaste, heilige maal.

 

Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll