Posts Tagged ‘bemarking’

Nini Bennett. Poësie en kontemporêre musiek: Van Koos du Plessis tot Danie du Toit

Tuesday, June 14th, 2022

 

 

Baie digters is moedeloos wanneer hulle hul tantième-state ontvang – en dan is daar die blitsverkopers van poësie soos die hoofsanger, Danie du Toit van die alternatiewe rock-groep, Spoegwolf wat onlangs sy derde digbundel bekendgestel het. Dit lyk of Du Toit elke jaar ’n bundel selfpubliseer: Warmer voor die tuimeldroër (2020); Sterreval (2021) en Die tuin (2022).

Reeds in 2003 vra Elbie Adendorff in haar MA-verhandeling, Digdebute teen die millenniumwending: ’n polisistemiese ondersoek of die herstel van die poësiesisteem nie in die musieksisteem lê nie, aangesien poësie teen die millenniumwending reeds deel geword het van musiek. Sy verwys na die talle toonsettings van Afrikaanse gedigte in verskillende musiek- en subgenres, soos rock, ballades en die kunslied. Die wisselwerking tussen musiek en poësie het tot gevolg dat sangers ook as digters gereken word; daarom is die lirieke (of gedigte) van Koos du Plessis in Groot Verseboek en in Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 opgeneem. Die ontsluiting van die kanon, om gevolglik ’n verbreding daarvan teweeg te bring, beteken dat daar kennis geneem word van alternatiewe vorme van poësie. Die herlewing van die Afrikaanse digkuns vind onder meer gestalte in rock, rap (kletsrym) en blues. Afgesien van toonsettings, het die ontwikkeling van die elektroniese media ’n legio nuwe bemarkbare kanale vir poësie geskep. Die Om te Breyten-projek met die liedjieskrywer, Anton Goosen en klankingenieur, Albert du Plessis het gelei tot gewilde CD’s wat pryse soos die SAMA- en die Geraas-toekennings verower het. Mondmusiek met Breyten se eie voorlesings is eweneens ’n groot treffer. Die verhoogproduksie en CD van Hans du Plessis se bundel, Innie skylte van die Jirre het ook ’n bydrae gelewer om dié poësie aan ’n groot leserspubliek bekend te stel. Dit is nou amper 20 jaar later en met die innovasie en nuwe moontlikhede wat die internet en sosiale media bied, het daar ondertussen ’n groter verdraagsaamheid en akkommodasie rondom poësie ontstaan, wat nie die resepsiepraktyke van die tradisionele hoofstroombundels navolg nie. Die literêre polisisteem omarm inderdaad die “nuwe poësie” wat Adendorff bepleit het: die gekanoniseerde digters en tekste wat in die sentrum staan, sowél as ongekanoniseerde digters en tekste op die periferie. Dit is juis hierdie dinamiese aard van die interaksie tussen die verskillende subsisteme wat die literêre sisteem laat voortleef.

Volgens Adendorff is die literêre polisisteem se hoofkomponente die bemarking, verspreiding, mediëring en die resepsie van bundels. Met mediëring is die rol van die media as verspreidingsinstansie belangrik, terwyl literêre kritiek (soos meegaande resensies) se rol is om die bundel aan die leser bekend te stel, te interpreteer, waardeer of selfs te bevorder. Die bemarkingspotensiaal van digbundels bly egter steeds ’n tameletjie, want digbundels is as ’n reël nie goeie verkopers nie. Iets wat uitgewers terdeë besef. Toast Coetzer het al twee dekades gelede bepleit dat die bemarking van Afrikaanse boeke minder “boekerig” moet wees.

Aan bemarkbare potensiaal ontbreek dit Danie du Toit nié. Menige digter sal hom waarskynlik die innoverende idees op sy webtuiste beny. Op sy webwerf verkoop hy sy eie handgeskrewe gedigte teen R3 000 stuk. Die voornemende koper kan sélf die onderwerp van die gedig kies en Du Toit stuur dan ’n digitale, handgeskrewe kopie. Poëtiese artefakte van die digter, soos brillappies met stukkies van sy poësie op, asook soortgelyke poësieplakkers, word te koop aangebied. Volgens Du Toit probeer hy om ’n gedig ’n dag te skryf.

 

 

’n Jaar gelede het Danie du Toit op die sosiale media aangekondig dat die verkope van sy eerste twee bundels reeds die 5 000 kerf verbygesteek het. Dit beteken in effek dat, voordat insetkoste afgetrek word, die digter teen R260 ’n bundel op daardie stadium reeds R1,3 miljoen uit bundelverkope verdien het – daar kan gespekuleer word wat die insetkoste was. Die bedrag het na alle waarskynlikheid intussen baie meer geraak.

In ’n onderhoud met Floris Groenewald op LitNet vertel Du Toit: “Dis ’n ongelooflike voorreg. Op skool skryf jy ’n gedig en as jy lucky is dan lees jou pel dit. Dan voel jy nou moer cool as hy sê dis nice. Nou kan jy ’n kamer kry met 400 mense om te luister daarna; dis net ’n privilege.” Die digter skryf al sedert sy skooldae gedigte en het vroeër sy verse via selfpublikasie vir sy intieme binnekring – vriende en familie – laat druk. Volgens Du Toit het skrywers soos JD Salinger, Ernest Hemingway en Deon Meyer ’n invloed op sy digkuns gehad. Wanneer dit kom by die stories ágter sy lirieke en gedigte, glo hy dat inspirasie oral gevind kan word.

Maar laat ons ook Du Toit se rock-loopbaan in perspektief plaas: min mense sal van my verskil as ek beweer dat hy homself die afgelope aantal jare onderskei het as een van die gewildste en produktiefste kunstenaars van sy era. Hy is ’n boorling van die Paarl, ’n ontvanger van die HB Thom-beurs, het ’n meestersgraad in geskiedenis in 2016 aan Stellenbosch-Universiteit verwerf en is tans met doktorale studie besig. Hy is ’n voormalige dosent aan dié universiteit. Sy skoon beeld en byna kinderlike reinheid staan uit tussen sy tydgenote. Vir hom is poësie ’n noodwendige uitvloeisel van sy rol as liedjieskrywer.

Toe Danie du Toit 8 jaar oud was, het hy en sy boetie, Moskou en sy beste vriend, Albert ’n band met die naam “Kosblik” gestig. Na hoërskool het die groep se naam verander na “Ysterkoei” en het hulle ’n paar liedjies opgeneem. Meer as 20 jaar later staan hierdie groep bekend as Spoegwolf, die eerste Afrikaanse band om die eerste plek op Apple Music se Suid-Afrikaanse ranglys te beklee. Spoegwolf spog met 8 albums en meer as 47 000 volgelinge op Facebook. Afrikaanse rockers blyk ’n fassinasie met Breyten Breytenbach se werk te hê, byvoorbeeld die sanger Jan Blohm se verhoognaam is gebore na aanleiding van “Jan Blom”, Breytenbach se pseudoniem vir sy bundel Lotus (1970). Blohm se liedjies “Groen trui” en “Breyten se brief” sinspeel ook op Breytenbach se oeuvre, al vorm dit nie noodwendig ’n intertekstuele spel met laasgenoemde digter se werk nie.

Die rekordsyfers in sy bundelverkope ten spyt, sien Du Toit homself nie as ’n digter nie. “Hierdie is nie gedigte nie; hierdie is ramblings …Ons wag nog vir die volgende digter”.

 

 

Afrikaanse sangers wat reeds digbundels gepubliseer het, is byvoorbeeld Valiant Swart met Toorwoorde roep my (Lapa, 2010) en Stef Kruger met Triptiek (Cordis Trust Publikasies, 2015). In haar gunstige resensie van Toorwoorde haal Joan Hambidge vir Danie Marais op die agterflap aan waar hy Swart vergelyk met Leonard Cohen. “Volgens hom [Marais] behoort Valiant Swart in Groot Verseboek as Cohen in die Norton Anthology of Poetry opgeneem is. Cohen was egter ’n bekroonde digter voor hy sanger geword het en waarskynlik een van die mees behendige liriekskrywers nóg. Swart is wel ’n beoefenaar van “rock ’n roll”-ballades en volgens Danie Marais het hy homself al in die kollektiewe bewussyn van die volk ingegrawe.” Hambidge wys egter op die verskille tussen genres en herinner die leser: “Wanneer ’n song of lied gebloemlees word, dan vra dit om digterlike inspeksie. Dan kyk ’n mens na die ryme, die metrum, die refreine, die beelde. Natuurlik is dit andersoortige, nee eerder, eiesoortige poësie. Wat met ander as song kan werk, werk nie noodwendig as poësie nie.” Hierdie hibriede soort musiekliriek/-poësie vind met ander woorde ten beste uitdrukking in musiek. Die vergestalting van Afrikaanse sangers se lirieke en gedigte vorm egter onmiskenbaar deel van ’n groter Gesamtkunstwerk. By die 2015-Woordfees het die lirieke/gedigte in Toorwoorde roep my ook visuele kuns geïnspireer: elf hoogaangeskrewe beeldende kunstenaars is gevra om Swart se digkuns in ’n verskeidenheid media te interpreteer. Hierdie uitgesoekte groep het bestaan uit Strijdom van der Merwe, Shany van den Berg, Ingrid Winterbach, Cobus van Bosch, Karlien de Villiers, Clare Menck, Vernon Swart, Jaco Sieberhagen, Peter van Straten, Dot Vermeulen en Anton Smit.

 

donker droom

 

will I go down in flames
will I drown in the rain
sal ek sink
as ek swem teen die stroom
as ek sing oor wat ek sien
as ek dink oor wat ek doen
as ek dobbel met die engel
in my donker droom
my donker droom

(Valiant Swart. Toorwoorde roep my, 2010)

 

Nog ’n voorbeeld is die rymkletser, Churchill Naudé met sy digbundel, Drol innie drinkwater (2020), waarin sommige lirieke van songs op sy albums, Kroeskop vol geraas (2015) en Kroesified (2018) gebundel is.

Koos Kombuis het sedert die laat 1980’s bekendheid verwerf as digter en later aweregse kultusfiguur saam met Johannes Kerkorrel tydens die Eet Kreef-beweging, wat teen die Nasionale Partybewind geprotesteer het. Hulle rol het iets in gemeen met die Woodstock-beweging in die VSA in die laat 1960’s en vroeg 1970’s.

Die talentvolle akademikus, Andries Bezuidenhout is natuurlik ook bekend as rocker, digter en skilder. Hy is die stem van die rock-groep Brixton Moord en Roof Orkes en het ’n aantal solo-albums in die mark. Hoewel dit ’n uiters subjektiewe stelling is, is hy waarskynlik die rock-musikant wat homself die beste gehandhaaf het as digter, insluitend die feit dat hy ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns voltooi het.

Dan is daar natuurlik Afrikaans se Bukowski – Gert Vlok Nel se debuutbundel, Om te lewe is onnatuurlik is bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Hy gee ook albums uit met minimalistiese toonsettings van sy unieke oeuvre in Afrikaans.

Laastens, en omdat hulle werk dikwels in beide Nederlands en Afrikaans beskikbaar is: Herman van Veen en Stef Bos. Beide is liedskrywes in die Europese tradisie wat deur die Vlaams/Franse liedskrywer, Jacques Brel geïnspireer is. Iewers sedert die 1990’s het beide kunstenaars ’n Afrikaanse ondersteunersbasis ontwikkel – beide het natuurlik ’n goot gevolg in die Lae Lande.

Hierdie verskynsel is uiteraard internasionaal beter bekend en is op die spits gedryf toe Bob Dylan die Nobelprys in Letterkunde in 2016 ontvang het. Dit is aan hom toegeken vir sy bydrae tot die “Great American Songbook”. Hierdie toekenning was vir baie kommentators nie onverwags nie, veral as gevolg van die groot oeuvre wat Dylan oor dekades heen opgebou het, asook die invloed wat sy stem op ander ná hom gehad het. Dylan, soos ander tydgenote, se musiek vind iewers op die snyding tussen rock- en folk-musiek plaas. Wanneer daar na hom verwys word, is daar egter soortgelykes wat in dieselfde asem genoem word, soos Leonard Cohen, Paul Simon, Bruce Springsteen, Tom Waits, Joni Mitchell en Patti Smith. Behalwe vir Cohen en Simon is laasgenoemde voorbeelde van lirieke oor die tradisionele rock-narratief waarin daar dikwels verwys word na die versugtings en tribulasies van die werkersklas in die VSA.

Sou ’n mens die meer kontemporêre rock-musikante uit die indie-folk tradisie ondersoek, kan die name van Nick Cave, Damien Rice en Keaton Henson waarskynlik bygevoeg word tot die lys.

Die meeste fynproewers van poësie sal waarskynlik saamstem dat Leonard Cohen kop bo skouers staan bó ander liriekskrywers – en selfs diegene wat liriekkuns as ’n tipe digkuns negeer, moet Cohen meriete gee vir die poëtiese kwaliteit van sy werk.

 

The Goal

 

I can’t leave my house

Or answer the phone

I’m going down again

But I’m not alone

 

Settling at last

Accounts of the soul

This for the trash

That paid in full

 

As for the fall,

it began long ago

Can’t stop the rain

Can’t stop the snow

 

I sit in my chair

I look at the street

The neighbor returns

My smile of defeat

 

I move with the leaves

I shine with the chrome

I’m almost alive

I’m almost at home

 

No one to follow

And nothing to teach

Except that the goal

Falls short of the reach

 

(Leonard Cohen)

 

“The Goal” is ’n gedig wat met instrumentale dekor vir die eerste maal op 20 September 2019 op YouTube vertoon is. Wat natuurlik die vraag – en verwagting – na Leonard Cohen se postume album laat ontstaan het. En die meester het sy volgelinge nie teleurgestel nie: Thanks For The Dance is die laaste studio-album van dié Kanadese sanger en digter, en is vrygestel op 22 November 2019. Sy seun, Adam Cohen is die vervaardiger en het die CD liefdevol byeengebring met verwerkings van topmusikante soos Daniel Lanois, Damien Rice, Jennifer Warnes en Beck. Adam Cohen verdien al die akkolades wat na sy kant toe kom: as addendum tot You Want It Darker, bevat die album songs wat onmiskenbaar die Cohen-stempel dra – minder musiek, dalk, maar met ’n groter nadruk op die lirieke / poësie. Dit is een van Cohen se mees poëtiese albums nog.

Dit raak duidelik dat rockers, of sangers oor die algemeen, ’n andersoortige resepsie van hulle liriekkuns/digkuns as “gewone” digters kan verwag. Alhoewel die legendariese Jim Morrisson van die rock-groep, The Doors enkele digbundels tydens sy leeftyd gepubliseer het, het sy postume poësie steeds vir blitsverkope lank ná sy dood gesorg. Hierdie gedig tref in sy eenvoud en suiwer poëtiese segging:

 

And I came to you

for peace

And I came to you

for gold

And I came to you

for lies

And you gave me fever

& wisdom

& cries

of sorrow

& we’ll be here

the next day

the next day

&

tomorrow

 

(Uit: Wilderness, Volume 1)

 

 

 

Is Danie du Toit die voorste verkoper van Afrikaanse poësie? Waarskynlik. Volgens Gert Coetzer in Klyntji kan mens kan Du Toit se verse met Leonard Cohen se digbundel, The Book of Longing (2006) vergelyk. Du Toit is wel nie op Cohen se vlak nie, maar daar is strukturele ooreenkomste. Du Toit se verse getuig van ’n jeugdigheid; ’n eerlike of ‘rein’ aanslag; pogings tot surrealisme en ’n loslit-Afrikaans. Jeugdige, maar ongeleefde wyshede word aan die leser gebied as poësie. In al drie bundels is daar ’n verskeidenheid voorheen onbekende materiaal wat die bundels lyf gee en lewendig maak. Wat wel opmerklik is, is die herhaling van die temas van familie en grootword, liefde en vriendskap, verwysings na die Stellenbosch-omgewing, of geloofskwessies in heelparty gedigte wat die leeservaring op die lange duur laat vervaag in eenselwigheid.

In ’n artikel oor branding, of die vestiging van ’n digter se handelsmerk, moedig Gregory D. Welch selfvertroue by digters aan. Moenie bang of skaam wees nie, herhaal hy. En: jy as digter is jou eie grootste evangelis. Skep ’n reputasie. Inderdaad: die resepsiepraktyke van rockers soos Spoegwolf of Danie du Toit geskied heeltemal anders. Hy het onder meer ’n stewige en gewilde reputasie as musikant. Nêrens is enige van Du Toit se bundels onderwerp aan die beginsels van literêre kritiek nie, behalwe vir ’n kort leesoorsig deur Bibi Slippers, waarskynlik omdat dit selfpublikasie is, óf omdat die digter sy werk doelbewus onder die radar hou. Heel moontlik dig en selfpubliseer Du Toit voort sonder enige kontak met die literêre tradisie. Hierdie bundels is blitsverkopers danksy selfbemarking op Instagram, Facebook, Spoegwolf se amptelike webwerf, en deur word-of-mouth-bemarking. Du Toit doen ook voorlesings van sy poësie tydens vertonings, ’n tipe performance poetry waarin hy gebruik maak van musiek en persoonlike vertellings wat die verse in die bundels vergesel. Die woord “lesers” word vervang met “following” en “fans: ’n klomp bewonderaars wat gretig wag om hul held se nuwe digbundels te koop.

 

Thunderstruck

 

ons ry uit ’n vreemde dorp

Albert speel Thunderstruck

ses jaar terug het ons hierdie pad

met die droom van vandag gevat

dit reën, my oudste vriende, dit reën

en ek is nie meer heel nie

ek is vlees en bloed en die uitroep van die skare

my are is die drade en my hart pomp

by die luidsprekers uit

ons het gebid vir vandag

vir hierdie tyd

die reën teen die ruit, soos nog ’n gehoor

sit die wipers af, stop, laat ons hoor

vanaand as ons opstap, doen ons dit alles

van voor af maar beter

soos ’n man en ’n vrou wat lief is vir mekaar

en jaar na jaar bloeisels bloei tussen die merke

(blomme is net stilstaande vuurwerke)

this is it

this is what we hoped for

ons parkeer ons lewens hier

in die reën

langs die highway is die parkering verniet

maar ons tyd is nóg geleen

 

(Warmer voor die tuimeldroër, 2020)

 

Verwysings:

Du Toit, D. 2020. Warmer voor die tuimeldroër. Stellenbosch: Reënwolf PTY (Ltd).

Du Toit, D. 2021. Sterreval. Stellenbosch: Reënwolf PTY (Ltd).

Morrisson, J. 1988. Wilderness, Volume 1. New York: Vintage Books.

https://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/valiant-swart-toorwoorde-roep-my-2010.html?m=1&fbclid=IwAR3L48mtaYbNYp6m0tjSgpp1-U4fvluBxqA8x_wDfbNi80En6ItJQi-FxdU

https://5dok.net/article/toekoms-afrikaanse-po%C3%ABsie-afrikaanse-po%C3%ABsieveld.1y9o74dy?fbclid=IwAR3f7XzxU4nXe4ir6p0FUHhXtO9A0HLuwDBcVAjScdEzvIqzV7AdOX1e4w0

https://bettermarketing.pub/how-to-harness-the-power-of-your-personal-brand-as-a-poet-4bbe5dbab500

https://www.matiemedia.org/reenwolf-russen-die-skape/?fbclid=IwAR1P1rGQuEmdwy49zr6Plnk5THlS3smoIB6hXhw6OPuADBpEY2SqvPuaI90

https://www.litnet.co.za/n-onderhoud-met-danie-du-toit-van-spoegwolf/?fbclid=IwAR15Af4yq6fXPTBL2gj8iSx-805tYsY92SebhruUkpgmpVZklA2um6EoAGo

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/luister-spoegwolf-se-danie-nou-ook-digter/?fbclid=IwAR1cfi4-VuSrNlGZhjGjVcAZrnWRFXAcDy9en4pO-WxrFmDp-4NwP88mzT8

https://diematie.com/2021/06/danie-du-toit-vertel-poesiestories/?fbclid=IwAR2Is9Hd7B3_jMTsQpVDlzRGuXGm2MsjO_tK8IMOw0EBfMssU_gZlQYJxbQ