Posts Tagged ‘Bester Meyer digtersprofiel’

Digtersprofiel: Bester Meyer

Friday, January 14th, 2022

 

 

Bester Meyer is in Alberton gebore. Hy studeer regte en verwerf ʼn B.Com (LLB) aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Hy word toegelaat as prokureur en werk by ʼn Kaapstadse regsfirma wat destyds as Nelson Mandela se regsverteenwoordiger opgetree het. Hy het voorheen ook naby Plettenbergbaai en Stellenbosch gebly, en het op ʼn tyd met souse gesmous.

In 2010 stel hy ʼn kortspeler van sy oorspronklike liedjies vry, wat saam met musikant, Albert Frost, opgeneem is: Ontmoet jou onder ʼn Harvest Moon.

Bester se debuutbundel die Testament word in 2020 deur Naledi uitgegee. Die bundel probeer wêreldburgers oorreed tot ʼn metafisiese revolusie. Deel van die teks is ses toonsettings van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker genaamd: Musiek vir jou ure wat as die koor van die bundel gebruik word. Die bundel se Engelse eweknie: Rebel Song en ʼn Engelse vertaling van André P Brink se Lobola vir die Lewe, wat dan ʼn einde sal maak aan die Testament-projek, word hopelik tegelyk die jaar (2022) deur Naledi uitgegee.

In 2021 word Bester se letterkundige vertaling van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj, deur Naledi gepubliseer. Die werk word beskryf as omdigtings van Darwiesj se belangrikste verse en veral sy latere werk.

Bester werk tans aan ʼn nuwe vertalingsprojek en begin die jaar (2022) met ʼn Honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg. Hy kan nie skryf of musiek maak sonder daaglikse yoga nie.

ʼn Skakel na Bester se Facebookblad: https://web.facebook.com/NaamloosII