Posts Tagged ‘Bester Meyer gedig’

Bester Meyer. Soos ‘n veer in die wind

Wednesday, October 21st, 2020

 

Ampie Coetzee huldigingsgedigte

 

Soos ʼn Veer in die Wind

(Vir Ampie Coetzee)

 

jy het my geleer

van die spieël.

mekaar nooit

geken nie

net jaar na jaar

raakgeloop en betrag

dáár in die tuin.

 

nou gooi ek maar hierdie woorde

in die lug vir jou,

en hoop

dat dit vry

sal swewe

rondom jou artikels

wat my altyd sal laat

naslaan

as woorde teen die wolke

my wil laat sing

oor gister se literatuur.

 

mag alle oomblikke

van wind

net aanhou gaffel

oor die einders –

 

and

may your rest

be

as white as words,

vry van sensuur,

soos ʼn veer in die wind

 

© Bester Meyer, 2020

 

Bester Meyer. Rewolusie, Lalie?

Monday, September 21st, 2020

 

 

 

 

Revolusie, Lalie?

 

my land is my lied

my ode vir nou

al uit die suide –

 

my energie

die dans van my hande –

al dansende ballerina

van wonde –

 

ek pleeg in oorleg

die daad van die dode

tot lewen(s)terwens-dag

se moorde –

 

my ministers pryk

noord van die grense

soos die

al-magtiges al uit die noorde:

gebind in naam om die kwadrant

van lokale verdowing en

ideologiese uiting – opnuut –

te vervolmaak

 

sodat een plus een

een kan bly

en twee – uiteraard –

van bed en tafel geskei.

 

en wat van die revolusie?

vra sy

met gebalde vuisies –

energieke bolletjies wind

wat soos

ʼn suiwer – Suid – Afrika

noord – waarts – paradeer

pas–makeer, La – lie, dá – nie?

 

© Bester Meyer, 2020

 

(Foto: Confucius: The Great Digest & Unwobbling Pivot -translated by Ezra Pound, Peter Owen Limited)

 

 

Bester Meyer. Bela-en-die-rus

Tuesday, August 18th, 2020

 

Bela-en-die-rus

 

skiet om raak te skiet, kêrels –

skiet die gepeupel uit hulle uit.

spetter die bloed

in die strate van onskuld

want strate sonder bloed

is nie interessant genoeg

vir honde aan leitoue nie.

 

kýk hoe ontplof hy in spatsels bloed.

dis mooi, né.

dis ʼn mooi rooi

wat ons vir nóg ses en twintig jaar

in die voetval van leiers sal aanskou.

darem kry elke hond sy dag

en basta met die res, of dan reste.

 

en soos die Palestynse digter sê:

ander barbare sal kom –

en tromme sal luidkeels klink

wanneer Groot Honde

– in alle wysheid – hulp verleen

en die “winde van vryheid”

vlaag op vlaag

verbykom

terwyl gemartelde lywe

in stegies wegkruip

– planne beraam –

in die steeds onderdrukte leemtes

van ook dít

waarop hierdie demokrasie geskoei is.

 

© Bester Meyer, 16 Augustus 2020

 

 

 

 

Bester Meyer. van Pestilensies

Wednesday, April 8th, 2020

 

van Pestilensies

2 April 2020

 

“…elkeen het hierdie plaag binne hom want geen-een in hierdie wêreld nie; – geen-een,

kan ooit daarvan vry wees nie”

-Albert Camus, die Plaag (A.C.)

 

i)

wie is die skrywer

van hierdie pandemie?

is daar ʼn god wat ons

wil laat verstaan

dat hy nog in beheer is

van die blou lug

of is dit die mens

se doen en late

wat moes kom vertel

van ʼn plaag wat moes kom –

soos in die woorde van ʼn skim

so soos die vertelling

van ʼn hedendaagse Sint Regverdige?

 

ii)

die pestilensie moes kom

sodat ons weer siel kon kry,

ons wat saam gesleur is

in dit wat die norm geword het.

ons, die gode van elke revolusie

onder die son

in ons goue karre;

ons huis-paleise;

stook ons ons besighede

vir ons eie profyte;

besoedel ons hulpbronne;

vernietig die reënwoude

om ons daarop te beroem

dat ons suksesvolle

god-hede van ambisie is –

mense waarop die gemeenskap

kan staatmaak

 

nou afgesluit met maskers

(soos hofnarre)

om ons van mekaar

se asems af weg te hou

 

in hierdie maskerade

sal ons weer

moet leer

om ons huisies só te bou

dat hulle eerder uitkyk oor die see

 

 

“… : ʼn liefdelose wêreld is ʼn dooie wêreld, en daar kom altyd ʼn tyd wanneer ʼn mens moeg is vir tronke, moeg is vir ʼn mens se werk, en vir die toewyding aan diens; en dat al waarna ʼn mens smag die gesig van ʼn geliefde is –die wonder en warmte van ʼn liefdevolle hart” -A.C.

 

 

iii)

hier in Orania

het die president gesê

ons moet apart bly:

ons self opsluit

in selle

wat lank al

reeds bestaan

 

maar wat is die doel van dit alles?

 

ons almal het ons idees

om die pestilensie te bestry:

intellektuele steriliteit

van hoe, en hoekom

en daarom, en as maar,

maar:

is die plaag

nie eerder

van binne af

aanvegbaar nie

 

tog raak ons geïrriteerd

as jy jou mandjie inkopies

nader as vyf meter

van my af kom neersit

 

ons hoes ons gebede – gemaskerd –

die duisternis in

en hou die oog

op die koorspen

se kwik:   swart

soos die etter

van ons kunsmatige intelligensie

 

 

“Maar toe die dorp se hekke oplaas gesluit is, het elkeen van ons besef dat elkeen, die verteller inkluis, by wyse van spreke, in dieselfde bootjie is; en dat elkeen homself sal moet aanpas by die nuwe (voor)vereistes van die lewe. Byvoorbeeld, die gevoel wat normaalweg by die individue voorkom as hy seer, as gevolg van afsondering – weg van sy geliefdes – ervaar, word sieklik ʼn gevoel wat eenders deur almal gedeel word, maar dan óók die vrees, wat seker die grootste beproewing in hierdie lang periode van ballingskap, wat voorlê, is. ” -A.C.

 

 

iv)

is daar ʼn dokter

wat hierdie

humanitêre krisis

kan gesond maak?

miskien ʼn Rieux

in jou en my

wat verby

verspreiding

ʼn oase kan vind

teen die samelewing

se wind en weer –

daar waar ons

in afsondering

saam kan kom

om die vryheidswater

van ʼn bewussyn

van  ware solidariteit

en medemenslikheid

in blikbekers te kan deel

 

v)

bring die pestilensie

nie maar dood

soos enige

ander tyding

van die dood nie:

kanker; emfiseem

oorlog; moord

en volksmoord

 

ʼn dood wat nie oorwin

kan word nie,   nee –

ʼn dood wat natuurlik

soos ons asemhalings

agter hierdie maskers is

 

daarom

moet ons heelmeesters word

in ons verstaan van mekaar

en ons soeke na bevryding

 

want ten laaste

is ons almal

een en gelyk

deur die dood

een en gelyk

in die lewe

een en gelyk

in ons siekwees,

ons menswees

 

daar was nog nooit

ʼn ‘ons’ en ‘hulle’ nie:

kan ons daarom sê

dis ‘hulle’ wat die

vliegtuie gesteel,

en in die

vinger-torings

vasgevlieg het?

 

 

“Net dit weet ek: ʼn mens moet doen wat ʼn mens moet doen om ʼn einde te maak aan plaag-geteisterdheid. Dit is die enigste manier dat ons enigsins hoop kan hê op vrede, en in gebreke daarvan – ʼn betaamlike dood.”- A.C.

 

 

vi)

agter hierdie maskers

is ons mense

met meer as net

ʼn rol in die samelewing

agter hierdie maskers

 

is ons soekers

na sin

in ʼn hedendaagse

waarin liefde

gemeet word

in rykdom en

tegnologiese vooruitgang

 

agter hierdie maskers

het ons emosies

wat ingeperk word

deur ʼn nege tot vyf

bestaan,   ʼn

get-out-of-the-way

its-a-busy-day

modus en mentaliteit

 

agter hierdie maskers

probeer ons die

dier inhou

maar die dier

is in ons natuur

en agter dié natuur

is ʼn ‘tweede natuur’

gebore uit die same-

lewing se kultuur

 

agter hierdie maskers

haal ons net-net asem

tog so bevrees

vir die pestilensie

wat maar nog altyd dormant

iewers gelê en slaap het

agter die masker

van ʼn dier

 

 

“Al wat ek handhaaf is dat daar op hierdie aarde peste is, en dat daar slagoffers is, en dat dit van ons afhang, so ver moontlik, om nie kragte saam met die pestilensies te snoer nie.” -A.C.

 

 

vii)

ek wil uit hierdie isolasie wegbreek

en na my ballingskap toe terugkeer:

daar waar ek tuis voel

in jou teenwoordige

afwesigheid,

waar ek jou kan opskryf

as ʼn herinnering van die hart

wat die dans reflekteer

in dié voetspore oor papier

 

om in dit en deur dit en tot dit

vir ons ʼn huisie te bou

teen die koue winde van tyd

waar ons in die see kan baai

in die stille waters van ons menswees.

waar ek jou lief kan hê

as deel van hierdie wêreld

wat ons nooit

kan of sal integreer nie

maar soms, net soms

vir ons om saam-saam

in ʼn lotus-āsana te gaan sit

as die maan wegsmelt

oor donker golwe van vandag

nie gebonde aan enigiets

behalwe ons saam-wees nie

 

en dan ook

– saam, in daardie oomblik –

wat nie van weet of

dink of voel nie is nie

een te word

in ʼn koel blou see

van drome

 

só:

wanneer ons oë toeval,

en die nou-tyd

die pad vind

na die

al-tyd

droom-tyd

taal

 

viii)

miskien is die pestilensie

net ʼn spesiale koorsigheid

iets om ons te herinner

aan die komende dae

van die dood:

dít wat

vir jou en my

in die mou

gevoer word

deur die lewe

miskien sal ons selle

ons nader bring aan mekaar

 

ons weer laat verstaan dat

daar baie ander

reeds lankal

in afsondering slaap

op kartonbokse

in die snerpende kou

 

dalk sal ons leer

dat hierdie siekte

dieper pols,

en altyd sal terugkeer

soos die sirkels van tyd

om ons keer op keer

te vertel:

ook ek is die plaag;

sy oorsaak,

maar óók

sy

moontlike

oplossing

 

 

“Maar wat beteken dit: ‘plaag’? Net lewe, en niks meer as dit nie” –A.C.

 

 

ix)

in hierdie ballingskap

soek ek na jou soene

in ʼn verlede –

ʼn verbeelde tyd,

ʼn versinsel

van ons dae onder blou lug

 

in hierdie ballingskap

soek ons na drome

in ʼn toekoms

gespieël

in die

onlosmaaklik

herinnering van gister

 

in hierdie ballingskap

verbeel ek jou

my afsluit-sel in

maar die grendels

van my verlede

dwing my

om jou ook soms só

in jouself op te sluit

(deur die donker rotte van my verbeelding)

                    dat ek jou nie meer ken nie

 

in hierdie ballingskap

is ons selle stikdonker

soos die duisternis daarbuite

maar in ons skyn die vryheid

so blóú     soos die lug

van ons bestaan –

in ons styg die kwik

van heldersiendheid

al so lankal al

 

 

“… ; en om heel simplisties te verklaar, dat ons in ʼn tyd van pestilensie leer: dat daar meer aspekte in mense is om te bewonder as om te veroordeel.” A.C.

 

 

Alle aanhalings van Albert Camus in Afrikaans vertaal deur die digter vanaf Stuart Gilbert se Engelse vertaling van die Franse teks, oorspronklik gepubliseer in 1948.

 

 

  •