Posts Tagged ‘Bester Meyer vertaling Gibran’

Kahlil Gibran vertalings in Afrikaans

Thursday, March 31st, 2022

 

Kahlil Gibran, vertalings van Engels in Afrikaans, vert, deur Bester Meyer

 

 

Die Meerminne

 

In die dieptes van die see – wat omring word deur nabyliggende eilande waar die son opkom – is diepsinnigheid verkrygbaar. En daar waar die pêrel in oorvloed bestaan, lê die lyk van ʼn jongman, omring deur meisies van die see met lang goue hare; hulle staar na hom met ʼn diepe blou skynsel in hulle oë; hulle praat met mekaar in stemme van musiek. Hulle gesprek word deur die dieptes aangehoor en word deur die golwe na ons kuste begelei. Die dartelende bries het dit hier tot by my gebring.

Een van hulle het gesê: “Hierdie is ʼn mens wat gister – toe die stormsee gewoed het – ons wêreld binnegekom het.”

ʼn Tweede sê: “Die see het nie gewoed nie. Die mens, wat verkondig dat hy ʼn afstammeling van die Gode is, het ʼn ysteroorlog aan die gang. Sy bloed het die water tot karmosyn gekleur; hierdie man is ʼn slagoffer van dié oorlog.”

ʼn Derde gaan verder: “Ek weet nie wat oorlog is nie. Wat ek wel weet is dat die mens, nadat hy die aarde aan hom onderwerp het, aggressief geraak het, en besluit het om óók die see aan hom te onderwerp. Hy het ʼn vreemde uitvindsel ontwerp waarop hy op die oseane kon ry. Dit het egter Neptunus se toorn laat opvlam, juis as gevolg van die mens se gierigheid. As teenvoeter vir Neptunus se ongelukkigheid, het die mens begin om geskenke en offers aan hom te bring. Die lewelose liggaam wat hier voor ons lê is die mens se nuutste geskenk aan die groot en skrikbarende Neptunus.”

ʼn Vierde een handhaaf: Hoe groot is Neptunus én hoe wreed is sy hart nie! As ek die sultan van die see was, sou ek geweier het om hierdie tipe betaling te aanvaar … Kom laat ons hierdie losprys ondersoek. Miskien kan dit ons iets wys maak oor die mens.”

Die meerminne het die jongman se sakke deursoek, en ʼn boodskap baie naby aan sy hart gevind; een van hulle het dit hardop uitgelees:

“My Liefste:

“Middernag is weer hier, en ek kan geen troos vir my trane vind nie. Slegs die wete van jou terugkeer uit die kloue van die oorlog kan my vertroos. Ek kan nie vergeet wat jy vir my by jou afskeid gesê het nie: ‘Elke man het ʼn verwagting op trane wat eendag teruggegee sal word.’

“Ek weet nie wat om te sê nie, my Lief, tog sal ek my siel op perkament uitstort … my siel wat ly as gevolg van hierdie afsondering maar wat vertroos (sal) kan word deur Liefde. Liefde, wat pyn in vreugde kan verander, en verdriet in geluk. Toe Liefde ons harte verenig het – en ons uitgesien het na die dag waarop ons twee harte verenig sou word deur God se asem – het die oproep tot dié afskuwelike oorlog gebulder, en jy móés volg: gedryf deur jou pligsgevoel teenoor die leiers.

“Wat is hierdie pligsgevoel wat skeiding bring tussen geliefdes en wat veroorsaak dat vroue, weduwees, en kinders, weeskinders word? Wat is hierdie patriotisme wat oorloë uitlok en koninkryke vernietig as gevolg van nietighede? En watter oorsaak kan as nietigheid geag word, in vergeleke met één lewe? Wat is hierdie pligsgevoel wat arm dorpenaars – op wie neergekyk word asof hulle niks is nie deur die magtiges én deur die seuns wat adellikheid geërf het – laat sterf vir die glorie van hulle onderdrukkers? As plig vrede tussen nasies vernietig, en patriotisme versteur die sielsrus van ʼn mens se lewe, moet daar nie gesê word, ‘Laat daar vrede met plig en patriotisme wees’ – nie?

“Nee, nee, my Lief! Moenie ag slaan op my woorde nie! Wees dapper en getrou aan jou land … Moet nie luister na die gepraat van ʼn meisie verblind deur Liefde nie. ʼn Meisie wat verlore is as gevolg van jou afskeid en hiérdie eensaamheid … As Liefde jou nie na my toe sal terugbring in hiérdie lewe nie, dan sal Liefde verseker so maak in die volgende een.

Vir Altyd Joune”

Die meerminne het die nota in die jongman se sak teruggesit én stil en hartseer weggeswem. Hulle het ʼn entjie van die dooie soldaat se liggaam bymekaar gekom, en een van hulle het gesê: “Die mensehart is selfs feller as die wrede hart van Neptuus.”

 

 

Lied Van Die Mens

 

Ek was hier vanaf die oomblik toe alles

Begin het, en hier is ek steeds. Hier

Sal ek bly tot die einde van

My dae, want daar is geen

End aan die sielesmart van my bestaan nie.

 

Ek het deur die eindelose hemelruim geswerf;

Oor ʼn perfekte wêreld gevlieg, en

Die ganse uitspansel verken. Maar

Hier is ek, gevangene van die reëlmaat.

 

Ek het die leringe van Confucius gehoor;

Ek het na Brahmaanse wyshede geluister;

Ek het saam Boeddha onder die Boom van Kennis gesit.

Maar steeds is ek hier, ʼn wese van onkunde

En kettery.

 

Ek was op Sinai toe Moses ʼn blik op Jehova probeer gooi het;

Ek het die Nasarener sien wonderwerke doen by die Jordaan;

Ek was in Medina toe Mohammed besoek afgelê het.

Maar steeds is ek hier, gevangene van verbystering.

 

Daarná het ek die mag van Babilon aanskou;

Ek het die glorie van Egipte geleer;

Gestaar na die oorlogvoerende grootsheid van Rome.

Tog het my vroeëre leringe, die swakheid

en smart van hiérdie prestasies benadruk.

 

Ek het gesprek gevoer met die towenaars van Aïn Dour;

Ek het gedebatteer met die priesters van Assirië;

Ek het die self probeer verdiep deur die profete van Palestina.

Maar steeds is ek op soek na die waarheid.

 

Ek het wysheid uit stille Indië versamel;

Ek het die antikwiteit van Arabië ondersoek;

Ek het alles gehoor wat gehoor kon word.

Maar steeds is my hart doof en blind.

 

 

Ek het gely onder die bewind van despotiese heersers;

Gely as gevolg van slawerny onder kranksinnige invallers;

Aan hongersnood onderwerp as gevolg van tirannie;

Maar steeds het ek ʼn spoor van innerlike krag

Waarmee ek worstel om elke dag opnuut te begin.

 

My verstand is gevul; máár my hart is leeg;

My liggaam oud, maar my hart ʼn pasgeborene.

Miskien sou my hart as jongeling kon aanhou groei, maar tog

het ek gebid ek dat ek moet oud word en die oomblik moet kom

Wanneer ek sal terugkeer na God. Slegs dan sal my hart gevul (kan) word!

 

Ek was hier vanaf die oomblik toe alles

Begin het, en hier is ek steeds. Hier

Sal ek bly tot die einde van

My dae, want daar is geen

End aan die sielesmart van my bestaan nie.

 

 

Bronverwysing:

Gibran, K. 1974. A Treasury of Kahlil Gibran. Mandarin Paperbacks. Vertaal uit Arabies in Engels deur Anthony Rizcallah Ferris.