Posts Tagged ‘Bester Meyer vertaling Leonard Cohen’

Leonard Cohen en Yehuda Amichai. Vertalings in Afrikaans

Tuesday, April 19th, 2022

 

Leonard Cohen en Yehuda Amichai. Vertalings in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer

 

 

  1. Hoofstuk 27: Boek van Genade, Leonard Cohen

 

Israel, en julle wat julleself Israel noem, die Kerk wat homself Israel noem, en die afvalliges wat hulleself Israel noem, en elke nasie gekies om ʼn nasie te wees: nie een van hierdie lande is julle s’n nie, julle is almal diewe van heiligheid – almal van julle in stryd met Genade. Wíé sal dit sê? Is dit Amerika wat dit sal sê: Ons het dit gesteel óf Frankryk wat sal afstanddoen? Sal Rusland beken óf Poland sê: Ons het gesondig? Julle is almal hardlywig as gevolg van die stukke van julle lot, almal slingerend in die privilegie van bygelowigheid. Ismael, jy wat in die wildernis gered is, skadu in die woestyn gegee is, en ʼn dodelike skat ónder jou het: (wat) het Genade jou wys gemaak? Is dit Ismael wat sal verklaar: Ons sal vir altyd hierdie skuldlas dra? Dit is daarom dat die lande nie aan één van julle behoort nie, die grense hou nie, die Wet sal nooit die wettelose bevoordeel nie. Aan álle mense word die land, op voorwaarde, uitgeloof. Waarneembaar of nie, daar is ʼn Verbond, anderkant die grondwet, anderkant die soewereine waarborg, anderkant die nasie se soetste droom oor homself. Die Verbond is verbreek, die voorwaarde verbreek, en het julle gesnap dat die wêreld teruggevat is? Julle het nie meer plek nie, julle sal deur dít wat julle was, julle self identifiseer – en van generasie tot generasie swerf – sonder om werklik ʼn tree te gee. Dis daarom dat julle oor chaos heers, julle hys julle vlae sonder outoriteit, en die hart wat nog lewe, haat julle, en die oorblyfsel van Genade staan skaam en toekyk. Julle is besig om agter julle niksbeduidende wapenrusting te vrot, julle stank maak julle bang – in julle ángs probeer julle na liefde klap-klap. Die land is nie julle s’n nie, die land is teruggevat, julle altaar val deur leë lug, julle rotstafels word vinnig gewysig, en húlle buig in die hel langs julle gehuurde folteraars neer, en steeds tel julle julle bataljonne, en verhef julle julle marsjeerliedere. Julle regverdige vyand is besig om te luister. Hy hoor die koorgesang vol bloed en ydelheid. Hy hoor julle kinders wat vir hulleself sing. Hy het die geleier van nasieskap tot ʼn val gebring, hy het die kosbare vrag oorboord gegooi, en élke nasie het dit teruggevat. Dit – omdat julle versadig geraak het met julle kleinlike tyd. Dit – omdat julle nie ʼn Jakobstryd met julle engel wou voer nie. Dit – omdat julle dit waag om sonder God te leef. Julle lafhartigheid het tot die verkeerde persepsie gelei, met betrekking tot die feit dat die wenner nie óók mank loop nie.

 

 

  1. Die V.N. Hoofkwartiere: Hoë Kommissaris se Huis in Jerusalem, Yehuda Amichai

 

Die mediators, vredemakers, kompromis-fatsoeneerders, vertroosters

leef in die wit huis

en ontvang hulle voedingsbronne uit die verte,

uit kronkelende kanale, deur donker are, soos ʼn fetus.

 

Hulle sekretaresses gelipstiffie en laggend,

hulle diplomatieke immuun chauffeurs wag ónder soos stalperde

én die bome wat hul skadu is gewortel in niemandsland.

Die illusie van kinders wat uit veld toe is om viooltjies te pluk

om nooit weer terug te keer nie.

Dit is gedagtes wat daarbo rondsweef soos ʼn onrustige verkenningstuig,

wat foto’s neem, hulle terugstuur, ontwikkel

in die donker kamers van verdriet.

 

En ek weet dat hulle swaar kandelare besit,

en dat die seun-wat-ek-was op hulle sit, swaai,

in en uit, in en uit:    tot daar géén terugkeer meer is nie.

 

En later, sal die nag aankom om verroeste

en verdraaide gevolgtrekkings oor ons ou lewens te maak,

en bo die huise sal die melodie verstrooide woorde bymekaarmaak

soos ʼn hand wat ná ete broodkrummels van die tafel

af optel, terwyl gesprekke voortgaan

en die kinders lank reeds bed toe is.

 

Dis wanneer hoop my kom verwelkom soos brawe seevaarders,

soos ontdekkingsreisigers wat op nuwe eilande afkom,

ʼn dag of twee vertoef

– rus –

en dan weer verder vaar.

 

 

  1. In die Vol Felheid van Genade, Yehuda Amichai

 

Tel hulle.

Mens kan hulle tel. Hulle is

nie soos die sand op die strand nie. Hulle

is nie ontelbaar soos sterre nie. Hulle is soos eensame mense.

In die hoek óf op straat.

 

Tel hulle. Sien hoe hulle na

die hemel kyk deur hulle ruïnes.

Gaan uit deur die klip en kom weer terug. Waarna

sal jy toe terugkeer? Maar tel hulle,   hulle wat

hulle tyd uitdien in drome

en buite rond loop – hulle hoop het geen verbande nie,

die wonde is gapend oop, en hulle sal daaraan beswyk.

 

Tel hulle.

Hulle het te gou geleer om die verskriklike

skrif teen die muur te lees. Om te lees en skryf

op ander mure. En dis ʼn fees wat aanhou in stilte.

 

Tel hulle. Wees teenwoordig, want hulle

het reeds ál die bloed gebruik en steeds is daar te min,

soos ʼn gevaarlike missie, as ʼn mens

uitgeput en verower is, soos tienduisend. Want wie is

die regter, en wat is die oordeel,

as nié in die volle insig van die nag nie –

as nié in die vol felheid van genade nie.

 

 

  1. ʼn Wild Vrede, Yehuda Amichai

 

Nie die vrede van ʼn wapenstilstand nie,

nie eers die beeld van die leeu en lam nie,

maar éérder

wat in die hart aangaan as die opwinding verby is

wanneer jy slégs kan praat oor die grootse uitputting.

Ek weet dat ek weet hoe om dood te maak,

dat dít van my ʼn volwassene maak.

Én my seun het ʼn speelgoedgeweer wat weet

hoe om sy oë oop en toe te maak, te kan sê ‘Mamma’.

ʼn Vrede

sonder die geraas van swaarde wat op ploegskare hamer

− sonder woorde − sonder die

gedempte plof van ʼn swaar rubberstempel: laat dit

lig wees – swewend − soos luierige wit skuim.

ʼn Bietjie rus vir die wonde –

wie praat van genesing?

(En die gehuil van weeskinders word oorgedra van een generasie

na die volgende − soos ʼn aflosstokkie

wat nooit laat val word nie.)

 

Laat dit kom

soos veldblomme

− uit die niet: die aarde

het ʼn wilde vrede nodig.

 

 

  1. ʼn Tipe Apokalips, Yehuda Amichai

 

Die man onder sy vyeboom het die man onder sy wingerdstok geskakel:

“Hulle gaan verséker vanaand kom. Wys die plekke aan,

trek vir die takke ʼn wapenrusting aan, beveilig die boom,

en sê vir die dooies om dadelik by die huis aan te meld.”

 

Die wit lam het oorgeleun, en vir die wolf gesê:

“Mense is aan die blêr en my hart pýn van verdriet.

Ek is bang dat dit by geskut sal draai, by bajonette in die stof.

By ons volgende vergadering sal die saak bespreek moet word.”

 

Al die (verenigde) nasies sal na Jerusalem toe stroom

om te sien of die Torah uitgegaan het. En dan,

in soverre dit lente is, sal hulle afdaal

en blomme van oral-oor af pluk.

 

Hulle sal swaarde op ploegskare hamer, en ploegskare op swaarde,

en so aan en so aan, en vorentoe en agtertoe.

 

En miskien deur die klinkend-verdunnende slae

sal die yster van haat vir altyd verdwyn.

 

 

Bronne: Cohen, L. 1984. The Book of Mercy, McClelland & Stewart, Toronto Ontario. Amichai, Y. 1992. The Selected Poetry of Yehuda Amichai, University of  California Press, Los Angeles.