Posts Tagged ‘Bester Meyer vertaling Rumi’

Jalāl ad-Dīn Muhammad Rūmī. Vertaling in Afrikaans

Tuesday, June 23rd, 2020

 

 

 

Jalāl ad-Dīn Muhammad Rūmī. Vertaling uit Engels in Afrikaans. Vert. deur Bester Meyer

 

 

‘Hoekom moet ek soek? Ek is

net soos hy. Sy wese praat deur my.

Ek het maar net my self gesoek!’

 

Leegheid en Stilte:

die Aandlug

  

Oor stilte

In die Persiese digkuns verwys die digter baie keer na hom- of haarself deur ʼn gegewe gedig af te sluit met sy of haar naam, wat gesien word as ʼn soort ‘handtekening’. In die geval van Rumi, verwys hy egter baie keer of na Shams aan die einde van ʼn gedig (en meer as ̕n duisend van sy gedigte word só afgesluit). Andersins verwys hy na ‘stilte’. Hy gee sy digkuns oor aan die ware outeurskap, insluitend die ‘leegte’ daar-na(/agter) as ʼn eenheid en deel van die gedig. Vyfhonderd odes word afgesluit met ‘khamush’ of dan te wel: ‘stilte’. Rumi is nie so geïnteresseerd in taal nie, en is meer ingestel op die oorsprong daarvan. Hy vra Husam dan ook keer op keer: “Wie maak hierdie musiek?” Soms gee hy die be’woording’ aan die onsigbare fluitspeler oor: “Laat daardie musikant die gedig voltooi.” Op hulle eie is woorde nie belangrik nie. Hulle is slegs ʼn klankbord vir ʼn kern. Rumi het ʼn teorie oor taal geskoei op die rietfluit. ‘Onder’ alles wat ons sê, en ‘binne’ elke noot van die rietfluit, lê daar ʼn verlange na die rietkuil. Taal en musiek is slegs moontlik, want ons is leeg –ons is hol– en geskei van die bron. Taal is ʼn hunkering na ‘huis-toe-gaan’. ‘Hoekom is daar nie ʼn tweede tonaliteit nie’, mymer hy: ʼn noot ter lofprysing van die ambagsman se vaardigheid om die leë silinder as skalmei te fatsoeneer: die ingewikkelde menslike gedaante met sy nege gate?  

 

 

Die lied van die rietfluit

 

Luister na die verhaal van die riet –

as wese van afsondering.

 

“Sedert ek uit die rietkuil geknip is,

maak ek dié huilende geluid.

 

Enigeen afgesonder van sy beminde

sal verstaan wat ek bedoel.

 

Enigeen gepluk van oorsprong

snak na die teruggaan.

 

By enige samekoms, is ek dáár:

ineengevloei in lag en huil,

ʼn vriend vir elkeen, maar min

sal die verborge geheime binne

 

die note hoor. Geen ore vir dít nie.

Liggaam wat uit gees uit vloei;

 

gees uit liggaam uit op: geen verdoeseling

van die vermenging nie. Maar ons is nie

 

beskore om die siel te sien nie. Die rietfluit

is van vuur, nie van wind nie. Wees die leeg.”

 

Hoor die liefdesvuur gewarboel in die

note van die riet soos verbystering

 

wegsmelt in wyn. Die riet is ʼn vriend

vir die wat die materiaal geskeur en

 

teruggetrek wil hê. Die riet is balsem

en seer in verbind-ing. Intimiteit

 

en die hunkering dáárna:   een

lied. ʼn Rampspoedige oorgawe

 

en suiwer liefde in een. Die wat hierdie

in die geheim hoor ken sinneloosheid.

 

ʼn Tong het slegs een kliënt: die oor.

ʼn Suikerriet-fluit het só ʼn uitwerking

 

want dit kon suiker produseer in die

suikerriet-land. Die geluid wat dit maak

 

is vir almal. Dae vol afwesigheid

wat verby-gelaat-word, sonder kommer

 

oor hulle verbygang. Bly waar jy is:

binne-in só suiwer hol-leeg noot.

 

Elke dors word geles, behalwe

die dors van hierdie visse, die mistici,

 

wat swem  in  ʼn omvangryke oseaan van genade

en op een of ander manier steeds daarna hunker!

 

Niemand leef in die nou

sonder om elke dag gevoed te word nie.

 

Maar as iemand nie die lied van

die rietfluit wil hoor nie,

 

is dit beter om die gesprek kort

te knip, totsiens-te-sê, te verkas.

 

 

ʼn Vis wat dors is

 

Ek word nie moeg vir jou nie. Moet nie moeg

word om barmhartig teenoor my te wees nie!

 

Al dié toerusting van die dors

moet voorwaar moeg wees vir my:

die graffie water, die waterdraer.

 

Wys my die pad see toe!

Breek hierdie halwe mate(s)

hierdie klein flessies.

 

Ál hierdie fantasie

en droefheid.

 

Laat my huis verdrink word deur die golf

wat gisteraand opgegaan uit die binneplaas

verskuil in die middelpunt van my bors.

 

Josef het soos die maan in my put geval.

My verwagting se oes het weggespoel.

Maar dit maak nie saak nie.

 

ʼn Vuur het verrys bokant my grafsteenhoed.

Ek is nie opsoek na geleerdheid of waardigheid

of agbaarheid nie.

Ek wil dié musiek en dié dagbreek en

die warmte van jou wang teen myne hê.

 

Die weermagte van smart vergader,

maar ek gaan nie na hulle toe nie.

 

As ek  ʼn gedig voltooi

is dit altyd dieselfde:

 

ʼn Grootse stilte oorweldig my;

dan wonder ek hoekom ooit besin

het om taal te gebruik.

 

 

Genoeg woorde?

 

Hoe kan ʼn deeltjie wêreld, die wêreld agterlaat?

Hoe kan nattigheid water agterlaat?

 

Moet nie probeer om ʼn vuur te doof

deur meer vuur daarop te gooi nie!

Moenie ʼn wond met bloed was nie!

 

Dit maak nie saak hoe vinnig jy hardloop nie,

jou skaduwee sal altyd meer as byhou.

Somtyds is hy voor jou!

 

Slegs vol oorhoofse son

laat jou skaduwee taan.

 

Maar daardie skaduwee was jou dienskneg!

Wat jou seermaak, seën jou.

Duisternis is jou kers.

Jou grense is jou kuiergas.

 

Ek kan hierdie verduidelik, maar dit sal die

glasomhulsel rondom jou hart breek,

en daar sal geen herstel vir so iets wees nie.

 

Jy moet óók skaduwee óók lig as oorsprong hê.

Luister en sluimer onder die boom van ontsag.

As daar van daardie boom af, vere en vlerke uit

jou uit spruit, wees stiller as ʼn duif.

Moet nie eers jou mond oopmaak vir ʼn koe-oe-oe nie.

 

Wanneer ʼn padda die water in plons, kan ʼn slang

hom nie kry nie. As die padda egter weer uitklim

en kwaak, kan die slang (weer) na hom beweeg.

 

Selfs al sou die padda leer om te sis, sou die slang

steeds deur die gesis die informasie hoor

wat hy nodig het: die padda se stem in die sis.

 

Maar as die padda volkome stil kan wees,

sal die slang weer aan die slaap raak

en die padda die gars kan bereik.

 

Die siel lewe dáár in die (asem)(stilte).

 

En daardie garskorrel is van aard,

dat as jy dit in die grond sit,

dan groei dit (wel).

Is hierdie genoeg woorde,

of moet ek meer sap daaruit pars?

Wie is ek, my vriend?

 

 

Hierdie wêreld is gemaak uit ons liefde vir leegheid

 

Prys die leegte wat ons lewensbestaan ledig. Bestaan:

hierdie plek geskep uit ons liefde vir daardie leegheid!

Tog as leegheid kom,

dan gaan bestaan.

Prys daardie gebeurtenis, om en Om!

 

Vir jare het ek my eie bestaan uit leegte getrek.

Dan in een vlug, een swaai van die arm,

is dié gearbei verby.

Vry van wie ek was, vry van die nou, vry van

gevaarlike vrees, vry van hoop,

vry van bergagtige ek-wil-hê.

 

Die hier-en-nou gebergte is ʼn klein deeltjie (van ʼn deel)

van die strooitjie

uitgeblaas die leegheid in.

 

Hierdie woorde van my begin uiter-mate betekenis verloor:

bestaan, leegheid, berg, strooitjie: woorde

en wat hulle probeer sê

snel by die venster uit,

die skuinste van die dakhelling af.

 

 

Stilte

 

Binnekant gaan dié nuwe liefde dood.

Jou roete begin aan die anderkant.

Word die hemel.

Neem ʼn byl na die tronkmuur toe.

Ontsnap.

Loop daar uit

soos iemand uit kleur uit gebaar.

Doen dit nou.

Jy is bedek met dik-wolk.

Gly by die kant uit. Sterf,

en wees (die) stil. Stilte is die mees

gewisse teken dat jy beswyk het.

In die ou lewe het jy op dolle

vaart weggehardloop van stilte.

 

Die woordlose volmaan

kom nou op.

 

 

Sanai

 

Iemand sê: Sanai is dood.

Nie iets onmerkwaardig om te sê nie.

 

Hy was nie stukkies bas nie,

of ʼn poel wat oornag vries nie,

of ‘n kam wat kraak as jy daarmee kam nie,

of ʼn oopgebarste peul op die grond nie.

 

Hy was fyn poeier in ʼn rou kleipot.

Hy het altwee wêrelde se waarde geken:

‘n Korreltjie gars.

 

Een wat hy op geslinger het, die ander een af.

 

Die binne-siel, daardie teenwoordigheid

van wie die meeste niks weet nie,

waaroor digters só dubbelsinnig is:

daardie ene het hy getrou aan die beminde.

 

Sy suiwer goue wyn giet af op die dik wynafsaksels.

Hulle meng en styg, en sonder weer af

om dan op pad te ontmoet. Beste vriend van Marghaz

– wat in Rayy, Rum, en Koerdistan van die berge bly –

elkeen van ons keer terug huis toe.

 

Systof moet nie vergelyk word met kaal seildoek nie.

 

Wees (nou) stil en oop

soos die finale raakpunte van skoonskrif.

 

Jou naam is gewis (uit) die druisende

omvangrykheid van spraak.

 

 

ʼn Pas-eindigende kers

 

ʼn Kers is gemaak om volkome vlam te word.

In daardie uitwissende oomblik

het dit geen skadu nie.

 

Dit is niks behalwe ʼn tongetjie lig

wat ʼn vlugteling beskryf nie.

 

Kyk na hierdie

pas-eindigende entjie kers

as iemand wat finaal beveilig

is teen deugde en onsedelikheid,

 

die trots en die skaamte

wat ons van diegene eis.

 

 

Vakmanskap en leegheid 

 

Ek het voorheen gesê dat elke ambagsman

opsoek is na wat daar nie is nie

om sy ambag te beoefen.

 

ʼn Bouer kyk na die verrotte gat

waar die dak ineengesak het. ʼn Waterdraer

tel die leë emmer op. ʼn Timmerman

stop by die huis wat geen deur het nie.

 

Werkers bestorm ʼn sweempie

leegheid, wat hulle dan

begin vol maak. Hulle hoop is egter

op leegheid geskoei, moet dus nie

dink dat jy dit moet vermy nie.

Dit bevat

wat jy nodig het!

Liewe siel, as jy nie ʼn vriend

van die omvangryke niks binne(-in) was nie,

hoekom werp jy jou altyd daarín

en wag tog so geduldig?

 

Dié onsigbare oseaan het jou oorvloedig gemaak,

maar tog noem jy dit “dood,”

dít wat jou jou lewensmiddele en werk gee.

 

God het ʼn magiese omkering toegelaat:

vir jou om die skerpioen se put

te sien as voorwerp van begeerte,

en die geheel skone uitspansel dáár(om)

as gevaarlik, en wemelend met slange.

 

Dit is hoe vreemd jou vrees vir dood

en leegheid is, en hoe pervers

die gehegtheid aan (dit) wat jy wil hê.

 

Nou dat jy my aangehoor het

oor jou wanbegrip, liewe vriend,

luister na Attar se verhaal oor dieselfde onderwerp.

 

Hy het hierdie pêrels al om

Koning Magmoed gestring, en in die buit

van sy Indiese veldtog was daar ʼn Hindoe seuntjie

 

wie hy aangeneem het as sy seun. Hy het hom

onderrig en met koninklikheid beklee

en hom later vise-regent gemaak, op ʼn

‘n goue troon langs hom laat sit.

 

Op ʼn dag kom hy af op die jong man: huilend.

“Hoekom huil jy? Jy is die kameraad van ʼn

keiser! Die hele nasie lê voor jou uitgestrek

soos sterre waaroor jy meesterskap kan voer.

 

Die jong man het antwoord: “Ek onthou

hoe my moeder en vader my as kind

gewaarsku het teen die bedreiging wat jy inhou.

‘Ag-nee, hy is op koers na Koning Magmoed se hof toe!

Niks kan meer boos as dit wees nie.’ Waar is hulle nou

wanneer hulle my hier moet sien sit?”

 

Hierdie insident gaan oor jou vrees vir verandering.

Jy is ʼn Hindoe seun, Magmoed, wat beteken:

Lof tot die Einde toe, is die gees se

gebrek, of leegheid.

 

Die moeder en vader is jou gehegtheid

aan oortuiging en verwantskap

en begeerte en gemaksugtige gewoontes.

 

Moenie na hulle luister nie!

Dit lyk of hulle beveilig

maar hulle hou jou gevange.

 

Hulle is jou grootste vyande.

Hulle maak jou bang

om in leegheid te leef.

 

Eendag sal jy behaaglike trane huil in daardie hof,

en jou misplaaste ouers onthou!

 

Weet dat jou liggaam die gees voed,

dit help groei, en dan gee dit die verkeerde advies.

 

Ten laaste word die liggaam soos ʼn maliekolder

bekleedsel in vreedsame jare,

te warm in somer, te koud in winter.

 

Maar die liggaam se begeertes, is, in ʼn ander opsig,

soos ʼn onvoorspelbare bondgenoot met wie jy

geduldig moet wees. En daardie kameraad is nuttig,

want geduld brei jou kapasiteit

om lief te hê en vrede te ervaar uit.

 

Die geduld van ʼn roos naby ʼn doring hou haar geurig.

Dit is geduld wat die manlike kameel melk gee

om selfs in die derde jaar nog te kan voed,

en geduld is wat die profete aan ons openbaar.

 

Die prag van sorgvuldige stikwerk op ʼn hemp

is gesetel in die geduld waarmee dit beklee is.

 

Geduld gee die samehang tussen

vriendskap en lojaliteit sy krag.

 

ʼn Gevoel van eensaamheid en veragtelikheid

dui daarop dat jy nie geduldig was nie.

 

Spandeer tyd met diegene wat met God vermeng

soos wat heuning met melk meng, en sê

 

“Enigiets wat kom en gaan,

opgaan en gaan lê,

is nie wat ek lief het nie.”

 

Leef in die een wat die profete geskep het,

anders sal jy wees soos ʼn karavaan wat alleen

langs die pad agtergelaat is om uit te brand.

 

 

Leegheid

 

Oordink die verskil

tussen ons handeling en die van God.

 

Ons vra dikwels: “Hoekom doen jy dit?”

of “Hoekom het ek so opgetree?”

 

Ons handel, en tog is alles wat ons doen

God se kreatiewe handeling.

 

Ons kyk terug en analiseer die gebeure

in ons lewens, maar daar is ʼn ander manier

van sien, ʼn agtertoe-en-vorentoe-te-gelyk

visie, wat nie rasioneel verstaanbaar is nie.

 

Slegs God kan dit verstaan.

Satan het die verskoning gemaak: Jy het my laat val,

terwyl Adam vir God gesê het: Ons het hierdie

onsself aangedoen. Na die brokkie berou

het God Adam gevra: Siende dat alles binne

my voorkennis strek, hoekom het jy jou nie

daarmee, as rede, verdedig nie?

 

Adam het geantwoord: Ek was bang,

en ek wou eerwaardig wees.

 

Wie ook al met respek optree sal gerespekteer word.

Wie ook al soetigheid toevoeg sal bedien word met amandelkoek.

Goeie vroue word na goeie mans toe aangetrek.

 

Eer jou vriend.

Of behandel hom sonder respek

en sien wat gebeur.

 

Liefde, vertel nou ʼn gebeurtenis

wat hierdie geheimenis verklaar

van hoe ons vrylik handel, en tog

gedwing word. Een hand tril met Parkinsons’.

Die ander een tril, want jy het dit weggeklap.

 

Albei bewings kom van God af,

maar jy voel skuldig oor die een,

en wat van die ander?

 

Hierdie is intellektuele vrae.

Die gees benader die saak anders.

Omar het eens ʼn wetenskaplike vriend gehad:

Bu’l-Hakam, wie empiriese vraagstukke

foutloos kon oplos, maar hy kon Omar nie

in die ruimte van verligting en wonder navolg nie.

 

Nou keer ek terug na die teks toe: “En Hy is by jou

waar jy ook al is,” maar wanneer het ek die dit ooit verlaat!

 

Onkundigheid is God se tronk.

Verstandigheid is God se paleis.

 

Ons slaap in God se bewusteloosheid.

Ons word wakker in God se oop hand.

 

Ons huil God se reën.

Ons lag God se weerlig.

 

Vegtery en vredeliewendheid

vind albei binne God plaas.

 

Wie is ons dan

in hierdie ingewikkelde wêreld-war,

wat in wese net ʼn enkel, reguit

lyn ondertoe van af GOD begin?

Niks.

Ons is

leegte.

~

Wanneer jy saam met almal is behalwe ek

is jy saam met niemand nie.

Wanneer jy saam met niemand behalwe ek is nie

is jy saam met almal.

In plaas van om so verstrengel te wees met almal

wees almal.

Wanneer jy só baie word, is jy (die) niks …                  Leeg(te).

 

 

Geen vlag nie

 

Eens het ek gevra na kopers vir my woorde.

Nou wens ek iemand koop my sonder woorde heen.

 

Ek het heelwat diep, betowerende afbeeldings gemaak,

tonele met Abraham, en Abraham se vader, Azar

wie ook vir ikone bekend was.

 

Ek was só moeg vir wat ek gedoen het.

 

En toe het ʼn vormlose beeld gekom,

en ek het opgehou.

 

Soek iemand anders om na die winkel te kyk.

Afbeeldings maak, is nie meer vir my nie.

 

Ten laaste ken ek die vryheid

van kranksinnigheid.

 

ʼn Lukrake beeld kom aan. Ek skree:

“Uit hier!” En dit disintegreer.

 

Slegs liefde.

Slegs die staander waarin die vlag pas,

en wind.   Geen vlag nie.

 

 

Die knapsak

 

Op ʼn dag sien ʼn Soefi ʼn leë knapsak aan ʼn spyker hang.

Hy begin sy hemp draai en skeur, en sê:

Voedsel vir dít wat geen voeding nodig het nie!

ʼn Genesing teen die honger!

 

Sy ergernis word groter en ander sluit by hom aan,

al skreeuend en kermend in die liefdesvuur.

 

ʼn Lui verbyganger merk op: “Dis net ʼn leë sak.”

 

Die Soefi sê: Gaan weg. Jy wil hê wat ons nie wil hê nie.

Jy is nie ʼn minnaar nie.

Die voeding van ʼn minnaar is sy liefde vir brood,

nie die brood nie. Niemand wat regtig liefhet,

is lief vir bestaan nie.

 

Minnaars het niks met bestaan te make nie.

Hulle samel sonder die kapitaal die rente in.

 

Geen vlerke nie: tog vlieg hulle die hele wêreld vol.

Geen hande nie: tog dra hulle die polo-bal van die veld af.

 

Daardie derwisj het realiteit gesnak.

Nou vleg dit mandjies uit vlekkelose visie.

 

Minnaars slaan tente in ʼn veld van nêrens op.

Hulle is almal een in kleur soos die van die veld.

 

ʼn Suigeling ken nie die smaak van gebraaide vleis nie.

Vir die gees is voedselose geure –  voedsel.

 

Vir ʼn Egiptenaar, lyk die Nyl bloederig.

Vir ʼn Israeliet, lyk dit skoon.

Wat vir een ʼn hoofweg is – is ʼn ramp vir die ander.

 

 

Die aandlug

 

ʼn Man wat op sterwe staan laat instruksies na

van hoe sy besittings verdeel moet word tussen sy drie seuns.

Hy het sy lewe volkome aan die seuns toegewy.

Hulle het soos sipresbome rondom hom gestaan:

stil en sterk.

Hy het vir die dorpsregter gesê:

“Wie ook al van my seuns die luiste is,

hy moet my hele boedel erf.”

 

Hy sterf toe, en die regter wend hom tot die drie:

“Elkeen van julle moet aan my berig oor sy luiheid,

sodat ek kan verstaan hoe lui elkeen van julle is.”

 

 

Mistici is kundiges van luiheid. Hulle maak op dit staat,

want hulle sien deurentyd hoe God die werk rondom hulle doen.

Die oes hou aan in kom, tog het

hulle nooit eers geploeg nie!

 

“Kom nou, vertel my op watter maniere julle lui is.”

 

Die inner-self word verdoesel deur elke woord wat geuiter word.

ʼn Klein gordyn-vegie – nie dikker as ʼn repie gebraaide vleis nie –

kan honderde ontploffende sonne openbaar.

Selfs as dit wat gesê word onbeduidend en verkeerd is,

hoor die luisteraar (steeds) die bron. ʼn Bries wat van oor die

 

tuin af aankom. ʼn Ander wat van die ashoop af waai.

Dink hoe verskil die stem van ʼn jakkals met

die van ʼn leeu, en wat elkeen by jou inboesem.

 

Om iemand te hoor is om die deksel van die pot op te lig.

Só verneem ʼn mens wat vir aandete bedien word.

Alhoewel sommige mense net deur reuk, ʼn geurige bredie

van ʼn bitter sop, gekook in asyn, kan onderskei.

 

ʼn Man klop-klop aan ʼn kleipot voor hy dit koop

om deur die geluid te verseker dis nie gekraak nie.

 

Die oudste van die drie broers het vir die regter gesê:

“Ek ken ʼn man deur sy stem,

as hy nie wil praat nie,

wag ek drie dae, en dan ken ek hom by wyse van intuïsie.”

 

Die tweede broer: “Ek ken hom wanneer hy praat,

en as hy nie wil praat nie, knoop ek ʼn gesprek met hom aan.”

 

“Maar wat as hy dié streek ken?” het die regter gevra.

 

Wat my laat dink aan die moeder wat vir haar kind sê:

“ As jy in die nag deur die begraafplaas loop

en jy gewaar ʼn boeman, hardloop na hom toe,

dan sal hy op die vlug slaan.”

 

“Maar wat,” antwoord die kind, “as die boeman se

moeder vir hom gesê het om dieselfde ding te doen.

ʼn Boeman het óók ʼn ma.”

 

Die tweede broer het nie ʼn antwoord gehad nie.

 

 

Die regter vra toe vir die jongste broer:

“Wat as ʼn man nie gedwing kan word om enigiets te sê nie?

Hoe leer ʼn mens sy verborge karakter ken?”

 

“Ek sit voor hom in stilte,

en maak ʼn leer van geduld voor hom staan,

en as daar in sy teenwoordigheid,

ʼn taal van die anderkant van vreugde

en die anderkant van berou

uit my bors uit begin vloei,

weet ek sy gees is diep en helder

soos die Canopus-ster wat bo Jemen opkom.

 

Gevolglik, as ek begin praat word ʼn kragtige regterarm

van woorde neergevel, dan verstaan ek hom uit wat ek (uit) sê,

en die manier (van) hoe ek dit sê, want daar is ʼn oop venster

tussen die twee van ons, wat die aandlug van ons wesens vermeng.

 

Die jongste was ­–uiteraard–

die luiste. En het gewen.

 

 

Slegs asem

 

Nie Christen of Jood of Moslem of Hindoe,

Boeddhis, Soefi of Zen of enige geloofsoortuiging

 

of kulturele sisteem nie. Ek is nie van Oos

of Wes, of uit enige oseaan of van enige

 

grond af nie: nie menslik of eteries nie –

nie saamgestel uit enige elemente nie. Ek bestaan nie:

 

is nie ʼn entiteit in dié wêreld of in die volgende nie,

ek het nie afgestam van Adam en Eva nie, of enige

 

verhaal van oorsprong nie. My plek is plekkeloos,

my spoor spoorloos. Nòg liggaam nòg siel.

 

Ek behoort aan die beminde, het die twee wêrelde

as een gesien en daardie een roep my en ken

 

die eerste, die laaste, uiterlike, innerlike, net dít:

asem asemhaling menslik(e) wese.

 

 

In Afrikaans vertaal vanuit die Engelse vertaling “The Essential Rumi” deur Coleman Barks met John Moyne. Castle Books, New Jersey, 1997.

  •