Posts Tagged ‘bladuitleg’

Marlies Taljard. Die Goue Ratio: Estetika van die boek

Wednesday, September 30th, 2015

Stel jou voor jy lees ʼn teks waarvan die lettertipe, die lettergrootte, die spasiëring en inkeping gedurig verander … soos baie van die studentewerkstukke wat ek dié tyd van die jaar deurworstel. Jy weet nie wat om op die volgende bladsy te verwag nie, jou oog spring gedurig rond en gevolglik neem jou konsentrasie af. Na ʼn ruk voel jy geïrriteerd en uit jou diepte. Eers dan besef ʼn mens dat iemand lank gelede vir jou gesê het dat daar sielkunde agter die bladbeeld sit en dat die “prentjie” van die gedrukte (of geskrewe!) bladsy ʼn mens sielkundig kan beïnvloed. Natuurlik werk die advertensiewese daagliks met dié beginsel, maar by dié van ons wat daagliks met tekste op ʼn bladsy of op ʼn rekenaarskerm besig is, gaan die kuns van bladuitleg dikwels verby. Ons rekenaars maak die bladsy (redelik) perfek soos ons dit stel, diegene wat nog skryf, skryf gewoonlik op gelinieerde papier. Maar wie bepaal hoe die verhoudinge lyk wat die bladsy vir ons “natuurlik” of “aantreklik” laat lyk?
Een van die oudste boeke wat op papirus neergeskryf is, is die Egiptiese Dodeboek, ʼn gids vir afgestorwenes oor hoe om in die hiernamaals te lewe. Dit word gespekuleer dat Griekse digters reeds 25 eeue voor die geboorte van Christus hulle gedigte neergeskryf het, maar eers in die Middeleeue het die kuns om boeke te maak in Europa redelik algemeen geword. Tereg word gepraat van die boekdrukkuns. Dit is vandag steeds ʼn kuns, maar word selde as sodanig geëien!
Vandag kan letterlik duisende ou manuskripte in bibloteke, museums en in privaatbesit besigtig word. Indien dit geïllumineerde manuskripte is, is dit nie moeilik om te besef dat so ʼn boek inderdaad ʼn kunswerk is nie. Gedurende die Middeleeue is boeke in Europa op leer (meestal perkament – behandelde skaapvelle) geskryf. Om die perkament te maak, was op sigself ʼn lang en moeisame proses. Die vel moes gespan, gedroog en skoongeskraap word. Dan is lyne getrek deur die gebruik van ʼn kompas en ander meetinstrumente sodat die skribent (kopieerder van die teks) reguit kon skryf. Hy skryf dan met die penveer van ʼn gans of ʼn swaan wat skerp gesny is en waarin ʼn skrefie ingekeep is om die ink te hou.
Die aard van die skryfwerk is deur ʼn hele aantal faktore beïnvloed. Eerstens was dit belangrik vir wie die manuskrip geskryf word en hoeveeld geld die opdraggewer het. Die meeste mense wat destyds boeke besit het, was self ongeletterd en boeke is as statussimbole aangehou. (Ek het ʼn rukkie gelede ʼn student in die universiteit se biblioteek gesien wat bokse vol afgeskryfde gratis boeke weggedra het – gevra wat hy daarmee wil maak, antwoord hy hy wil dit in sy boekrak sit sodat mense kan sien hoe slim hy is!) Opdraggewers wat kon betaal, het boeke laat maak met ʼn luukse voorkoms wat ook bewonder kon word deur mense wat nie kon lees of skryf nie. Die duurder boeke moes dus sag op die oog val. Die duurste deel van so ʼn geïllumineerde manuskrip was natuurlik die pragtige prente wat dikwels met goudblad versier is en met duur verf geskilder is. So ʼn manuskrip kon ʼn hele klooster tot ʼn jaar besig hou, maar gewoonlik het dit verskeie monnike etlike maande geneem om te maak. Ook die hoeveelheid wit wat op ʼn bladsy deurskyn, is beskou as ʼn luukse: hoe minder teks op ʼn bladsy staan, hoe meer bladsye is immers nodig. ʼn Dik boek kon maklik die velle van ʼn hele trop skape benodig! Die illustrasie hieronder is van die eerste bladsy van die oudste Beowulf-manuskrip wat behoue gebly het – ʼn manuskrip wat nie geïllustreer is nie, maar waarin die groot spasies tussen lyne nietemin ʼn mate van luuksheid suggereer.

Beowulf-manuskrip

Beowulf-manuskrip

Die tipe ink wat gebruik is, was nog ʼn aspek wat die prys van ʼn manuskrip bepaal het. Meestal is die beginletters van hoofstukke met rooi verf geskilder wat gemaak is van ʼn bepaalde wurm. Goue letters is meestal gemaak deur goudblad te gebruik en dit op die bladsy vas te heg met deursigtige gom. Blou ink is van lapis lazuli gemaak wat uit Afghanistan afkomstig was – ook besondere duur ink of verf!
Die tipe letters wat gebruik is, het ook ʼn invloed op die prys gehad. Die sogenaamde “Gothic Bookhand” is meestal gebruik, aangesien dit klein is en baie letters op ʼn badsy ingepas kon word. Hoe groter die letters, hoe meer bladwit is sigbaar, hoe meer velle moet gelooi word en hoe duurder word die boek.
Wat verder verstommend is, is dat die hele boek se uitleg by voorbaat gedoen moet word. Die monnik wat die lyne trek, moet weet waar illustrasies gaan inkom, waar ornate hoofletters gemaak moet word en hoe groot die spasies moet wees wat hy daarvoor moet toelaat, hoeveel letters op ʼn bladsy gaan inpas … ons kan ons vandag dié haarfyn beplanning skaars voorstel.
Dan is dit natuurlik ook belangrik waar die kantlyne van die teks moet lê. Hoe kleiner die kantlyne is, hoe “besiger” lyk die bladsy en hoe meer kry die leser die indruk dat spasie bespaar moes word. Baie van die ou manuskripte se laaste bladsye toon duidelike tekens daarvan dat die opdraggewers se geld begin opraak het en dat spasie, ink en verf bespaar moes word – baie manuskripte is selfs gebind voordat dit klaar gekopieer is!

Toe die boekdrukkuns in die vyftiende eeu bekend begin raak, het verskeie handleidings verskyn oor die kuns van bladuitleg – ʼn kuns wat reeds in die Middeleeue aan die skribanti bekend was. Die algemeenste formule vir die mees estetiese bladuitleg is die sogenaamde Goue Ratio, ʼn antieke verhouding wat onder andere gebruik is deur Gutenberg en veral later deur die bekende drukker Tschichold. Basies werk dié formule met die verhouding 2:3 (vergelyk byvoorbeeld die illustrasie bo-aan die blog wat ook besigtig kan word by https://www.google.co.za/search?q=medieval+manuscript,+page+layout&biw=1366&bih=634&tbm=isch&tbo=u&source=univ&sa=X&ved=0CBoQsARqFQoTCPD93vjsnsgCFQa6FAodgxICdg&dpr=1#imgrc=pr_x3Oo4iBE0SM%3A ).

Goue Ratio

Goue Ratio

Deesdae word daar natuurlik ook van ander verhoudings gebruik gemaak om ‘n bevredigende bladbeeld te ontwerp, maar – soos dit deur die eeue die gebruik was – is dié bladbeeld steeds afhanklik van ander faktore, veral finansiële oorwegings. Veral wanneer poësie uitgegee word, moet egter onthou word dat veral by die lees van poëtiese tekste, ook nie-referensiële betekeniselemente ʼn rol speel by interpretasie. Teoreties sou ʼn nie-bevredigende bladbeeld dus ʼn invloed op die interpretasie van ʼn gedig kon hê.
Ek besef terdeë dat dit duur is om vandag nog boeke te druk, veral in ag genome die feit dat die gedrukte boek met die rekenaar en ander media moet meeding. Tog is dit jammer dat daar, veral wat betref Afrikaanse gedigte, so min werklik “mooi” boeke verskyn, want ʼn mooi boek bly steeds ʼn vreugde vir die oog en die drukkuns is steeds ʼn kuns. Ek het natuurlik nie al die digbundels onder oë gehad wat die afgelope jare verskyn het nie, maar ek wil twee bundels uitsonder wat in 2014 verskyn het en waar die estetiese waarde van die boek as artefak my getref het. Die bundels is Heilna du Plooy se Die stilte opgeskort, wat by Protea Boekhuis verskyn het en Johann Lodewyk Marais se Nomade, uitgegee deur Cordis Trust. Eersgenoemde bundel is in sy geheel op luukse glanspapier gedruk. Daarbenewens is daar 11 hoë kwaliteit afdrukke van Maureen Quin-beeldhouwerke by die gedigreeks Die jag wat ʼn gesprek is met die beeldreeks The Hunt. Die bundel het verskyn in dieselfde formaat waarin die meeste Afrikanse digbundels verskyn, naamlik 21.5cm X 13.5cm. Dus die esteties bevredigende verhouding 2:3. Marais se bundel val onder andere op wees die groter formaat (ongeveer 24.75cm X 17.15cm). Ook dié formaat kan nog deurgaan vir ʼn verhouding 2:3. Die groter formaat dra by tot die luukse voorkoms van die gedrukte bladsy as gevolg van meer bladwit. Dit laat ook ruimte vir die eenvoudige lynsketse van L. ten Krooden wat sowel op die voorplat as in die bundel self verskyn. Ook Marais se bundel is op goeie kwaliteit papier gedruk wat, soos du Plooy se bundel, ʼn skoon kwaliteit wit is.
Hoewel dit ons in die alledaagse lewe nie opval nie, bly die maak van ʼn boek ʼn kuns. Dit is eers wanneer ons gekonfronteer word met verhoudinge wat ons oog “pla”, soos wanneer ʼn gedig se laaste reëls die onderste kantlyn oorskry wat ons onwillekeurig verwag, dat ons besef hoe die bladuitleg die leeservaring “glad” laat verloop en die psige streel deur te voldoen aan die meestal onbewuste estetiese eise van ons wat lees.

  •