Posts Tagged ‘Bonnie en Clyde’

Nini Bennett. ’n Getekende kopie, asseblief

Thursday, June 18th, 2020

 

“Ek gaan jou boek bestel, maar dan moet jy dit vir my teken.”

“Sal jy vir my iets voor in die boek skryf en dit teken?”

“Ek soek ’n getekende kopie, asseblief.”

Dít is die versoeke wat ’n skrywer, wat pas ’n boek vrygestel het, aanhoor. Maar wat is die redes – of die dryfvere – agter die teken van ’n boek? Wat maak dit vir die koper so spesiaal, of selfs gesog?

Professionele boekversamelaars, daardie ywerige bibliofiele, ken die waardekategorieë van getekende kopieë. Laasgenoemde behels waar en wanneer die boek geteken was en aan wie die getekende kopie gerig was – en of daar ’n inskripsie voor in die boek is, aldan nie. Die skaarsste, of vraag en aanbod van ’n boek, die ikoniese status van die skrywer of ander historiese gebeure bepaal ook die waarde van so versamelaarskopie. Van die mees gesogte getekende kopieë is byvoorbeeld Where the wild things are (Maurice Sendak, $25 000); To kill a mockingbird (Harper Lee, $25 000), of A farewell to arms (Ernest Hemingway, $17, 500).

Suid-Afrikaanse lesers se oogmerk met getekende kopieë berus waarskynlik meer op die sentimentele as die finansiële waarde van ’n getekende kopie. En nie alle boekkopers is boekversamelaars nie, en die begeerte om getekende boeke te bekom is waarskynlik nader aan die besit van memorabilia. Dit is onthougoed en kosbare bêreboeke; memento’s.

In The strange history of Bonnie and Clyde beweer die skrywer, Treherne, dat getekende kopieë onderliggend dieselfde logika vorm as met relieke. Die woord “relieke” hou verband met die woord “remains”, en kan dui op enige vorm van fisieke oorskot of besittings wat met ’n heilige geassosieer word. Dalk moet “heilige” eerder in ’n figuurlike sin gebruik word, want musiek-, film- of sportsterre se “relieke” is ook uiters waardevol.

Binne die Christendom verwys die begrip reliek onder meer na 2 Konings 13: 20-21, waar ’n Moabietiese man in Elisa se graf begrawe is maar met die aanraking van Elisa se beendere weer lewendig geword het. Nóg so ’n voorbeeld is Handelinge 19: 11-12, waar doeke en voorskote wat in aanraking was met Paulus se vel, op hul beurt weer siekes kon genees by wyse van die bemiddeling van ’n genesende, goddelike krag. Die gebruike van relieke kom steeds volop voor onder aanhangers van charismatiese godsdiens, byvoorbeeld op die televisieprogram, Kruiskerk, word doeke met die palmafdruk van ’n betrokke pastoor (en selfaangestelde geloofsgeneser), verkoop. Dit sê nogal baie van magiese denke – of magiese objekte – en die rol van bygeloof binne geloof.

In Mei 2018 het die aartappelboer en lekeprediker, Angus Buchan, ’n gebedsaamtrek vir reën op Mitchell’s Plain gehou waar hy ’n groep gangsters toegespreek het. Hy het tydens die diens van sy klere ontslae geraak en in slegs ’n T-hemp, denim en sokkies verder gepreek. Sy Bybel, baadjie, hemp, stewels en Stetson het hy aan bendeleiers uitgedeel met die opdrag dat hulle hul gawe van leierskap in diens van die Here moet stel, en nie misdaad nie. Hierdie uitdeel van Buchan se persoonlike klerasie tref mens onmiskenbaar as die oordrag van relieke (al is dit ’n grandiose gebaar). En weer eens voer magiese denke die botoon.

En van die charismatiese na die poëtiese: In Alruin beskryf H.J. Pieterse die erotiese proses as ’n gewyde of spirituele belewenis wat in herinnering geroep word deur relieke:

.

OU PARFUUM WAT SWAAR

.

Ou parfuum wat swaar

in hout intrek.

Jy het uit geel herfsreën

binnegekom.

.

Die rook van jou sigaret

maak marmerpatrone.

Ons buig inmekaar,

gesmelte glas op roosglas.

.

In die nanag sê jy reëls

uit ’n ou vers of gebed

in die swart katedraal

van jou slaap.

.

Later kry ek in my bed

’n haarpatroon, ’n geur;

relieke

van ’n liefdestyd.

 

Bloedrelieke. Wat ’n mooi woord is dit nie! Toe Abraham Lincoln op 15 April 1865 doodgeskiet is in die Ford-teater, sou niemand kon raai hoeveel keer sy doodsklere – bloedrelieke – van hande sou verwissel nie. Hierdie bebloede hemp, jas, broek en das was op ’n kol in die betrokke teater in ’n glaskabinet toegesluit nadat Jan Publiek stukkies bebloede materiaal uit die jas geskeur en dit verder beskadig het. Die klere was op ’n stadium selfs toegesluit in die Greensboro-bankkluis; daar was duidelik angs en verwarring oor wat om met die morbiede nalatenskap te doen. ’n Ander voorbeeld is die berugte bankrowers, Clyde Barrow en Bonnie Parker wat in 1934 doodgeskiet is in ’n polisiehinderlaag in Louisiana. Dié twee rampokkers was baie gewild onder die Depressie-geteisterde inwoners van Texas en het met hulle dood heroïese status bereik. Hulle is weliswaar ver van heiliges…maar ’n skare mense het op die koeëldeurboorde Ford V8, waarin Barrow en Parker se liggame gelê het, toegesak. Daar is letterlik bloedrelieke gemuit van die polisietoneel – sommige verbygangers het glasstukke in die pad opgetel terwyl ander weer met ’n skêr (bebloede) haarlokke uit Parker se haardos geknip het. En dit bring ons by die begrip murderabilia. Dit is, soos mens kan aflei, versamelaars wat artefakte wat aan moordenaars en/of slagoffers behoort het, versamel – dit betrek ook voorwerpe wat gebruik is op misdaadtonele, byvoorbeeld wapens, klerasie, of selfs die kuns wat die moordenaars in die gevangenis gemaak het. Die sielkundige dryfvere agter dié donker en makabere versameldrang is kompleks, maar dui in kort daarop dat dit aan die versamelaar ’n gevoel van mag gee en dat die items op ’n primitiewe vlak ‘trofeë’ in die hande van die besitters word: Die jagter jag nou sélf die jagter deur eienaarskap van laasgenoemde se besittings te neem.

Memorabilia verloor waarde as dit skoongemaak word, byvoorbeeld die af- of uitwas van bloed. Dit moet outentiek, in takt bly; die rugbytrui van ’n rugbyheld wat opgeveil word, moet byvoorbeeld nie gewas word nie (die sweet moet daarin bly).

Treherne het opgemerk dat getekende kopieë as relieke gesien kan word. Relieke dra die spore van die lewe; dis om iets van die rou DNS van iemand te besit, of menslike weefsel, as jy wil, outentiek en onvervals. Getekende kopieë hou ’n bekoring vir boekliefhebbers in. Die outopen-tegniek, waar die skrywer se handtekening in drukkersink verskyn en onderworpe is aan reproduksie, beskik slegs oor kuriowaarde, niks meer nie. Wat is meer persoonlik as die skrywer se outograaf in regte ink, iets van sy identiteit, en wat is meer verteenwoordigend van ’n skrywer as sy skrif self? En ’n inskripsie gerig aan ’n bewonderende leser?

.

Wanneer ’n digter sterf

 

stroom huldeblyke in

oor die enorme verlies en bydrae

van óns stilgemaakte digterlike stem

 

Wanneer ’n digter sterf

staan die literêre lykbesorgers gereed

met oordrewe takserings

oor die kwadratuur van sy sirkel

 

Wanneer ’n digter sterf

is daar onbetaamlike vrae

oor die lewenstyl en selde

of hy ’n rondeel of distigon kon skryf

 

Wanneer ’n digter sterf

word hy stellig, indien onderteken

aangekoop en gou vergeet

tot ’n ander digter kort hierna vertrek

 

Wanneer ’n digter sterf

mag sy gedigte tog ’n ewige leser beërf

 

(Joan Hambidge. Uit: Lot se vrou, Human en Rousseau: 2012)

.

Verwysings

https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/buchan-gives-his-shirt-boots-and-stetson-to-gangsters-at-prayer-meeting-20180324

https://en.m.wikipedia.org/wiki/Relic

Pieterse, H.J. Alruin. Pretoria: HAUM-Literer, 1989.

Treherne, J. The strange history of Bonnie and Clyde. New York: Cooper Square Press, 2000.

 

 

Nini Bennett. Misdaad, relieke en die digkuns van Bonnie Parker

Monday, June 1st, 2015

Misdaad, relieke en die digkuns van Bonnie Parker

Op 23 Mei 1934 is Bonnie Parker en Clyde Barrow doodgeskiet tydens ’n polisiehinderlaag in Louisiana. Die legende van Bonnie en Clyde word reeds vir 81 jaar herdenk as simbool van opstand teen kapitalisme, die verarming van die werkersklas en onderdrukkende establishmentstrukture. In die sestigerjare was dié berugte paartjie onder intellektuele in die VSA ’n eksponent van verset teen die oorlog in Viëtnam. Dit is belangrik om te noem dat die digterskap van Bonnie ook deel van laasgenoemde kultus-sieninge vorm.

Bonnie is ’n digter wat buite enige literêre kanon staan en haar gedigte kan gesien word as uitdrukking van protes teen veral die groot geldmagte in Amerika. As sulks kan dié gedigte geklassifiseer word as gangster-poësie van die 1930’s. Haar handgeskrewe en getikte gedigte is intussen vir duisende dollar op publieke veilings verkoop waar daar gebie is op gangster-memoribilia. Só het Butterfields in April 2000 ’n veiling gehou waartydens Bonnie se een notaboek met handgeskrewe gedigte opgeveil is vir $20 000. Enkel gedigte is verkoop teen ongeveer $5 000 stuks, tesame met ’n (bebloede) hoed van Bonnie, ’n sakhorlosie van Clyde, en ’n koeëlvaste baadjie van die bankrower John Dillinger. Die hoogste bod is egter toegestaan op Clyde se vuurwapens, wat in die Ford-voertuig, waarin die twee gesterf het, gevind is (die wapens is vir tussen $100 000 en $200 000 verkoop). Laasgenoemde Ford is in 1973 reeds opgeveil vir $175 000.

Die waarde van Bonnie se gedigte is beïnvloed deur die legende rondom hulle lewe en dood; die Groot Depressie van die dertigerjare, wat ongeveer 13 miljoen mense werkloos gelaat het in die suidwestelike dele van Amerika; die onbevoegdheid van die polisie om die hoë misdaadsyfer in toom te hou (daar was in 1933 12 000 moorde en 50 000 rooftogte in die VSA); Bonnie en Clyde se ontduiking van die gereg en die wyse waarop hulle owerhede uitgetart het; en hoe die invloede van films en boeke oor hulle glorieryke misdaadloopbane uiteindelik populêre musiek, die media, modes en ander sub-kulture beïnvloed het.

Volgens antropoloë kan die items wat opgeveil is, as relieke gesien word. Weliswaar nie dié van heiliges nie, maar van twee persone wat oor magiese of buitengewone vermoëns beskik het. As twee anti-helde het Bonnie en Clyde heroïese status geniet: die polisie kon hulle nooit vang om voor ’n strafhof te daag nie. Die publiek het ook kritiek gelewer op die oneerlike wyse waarop hulle in ’n hinderlaag gelei is – ’n ooggetuie wat Bonnie en Clyde versteek het, is deur die polisie van die pad afgedwing en geboei aan ’n boom. Eindelik het hy geswig onder polisiebrutaliteit (wat daardie jare nog nie ’n naam gehad het nie), en voorgegee dat hy ’n pap wiel het. Ses polisiemanne het weggkruip in digte bosse, en Clyde het stilgehou om sy vermeende vertroueling met die wiel te help. Die ses geregsdienaars het onophoudelik gevuur met masjiengewere en pistole – en selfs aanhou skiet lank nadat Bonnie en Clyde doodgelê het in ’n vagevuur van koeëls. Deur relieke van ’n misdadiger te koop, word daar besitterskap oor die “gejagde” persoon geneem; die besitter konsumeer ook as’t ware die misdadiger en die relieke dien as trofeë vir die eienaar. ‘n Ander dryfveer is uiteraard die intense bewondering wat mense vir Bonnie en Clyde gehad het. Gedigte (estetiese artefakte) is ongewone items om op ’n veiling van kriminalistiekverwante items aan te tref, en die eklektiese waarde van Bonnie se gedigte was uiteraard hoog.

Hier is ’n voorbeeld van ’n handgeskrewe gedig waarop die polisie beslag gelê het in ’n woonstel waar Bonnie en Clyde geskuil het, maar betyds gevlug het. Daar is ook beslag gelê op kamerafilms, en die gedig Suicide Sal plus die meegaande foto het in 1933 in die Joplin Globe verskyn. Daarna het dit gesirkuleer na gesaghebbende koerante.

 

Dit gebeur selde dat ’n gedig deel vorm van identifikasiebewysstukke van misdadigers, en die polisie en publiek het kop gekrap oor die eienaardige foto en Bonnie se somber pennevrug. Dié gedig is ironies genoeg in ’n rekeningkundige boek geskryf!

Nadat die misdaadpaartjie 12 mense doodgeskiet het tydens die rooftogte van banke, vultasies en winkels, het hulle ’n nomadiese vlugtelingbestaan begin voer. Clyde was ’n goeie motorbestuurder en het gespog dat die polisie met minderwaardige voertuie ry (Plymouth en Chevrolet), teenoor die talle voortreflike Ford’s wat hy gesteel het. In 1934 skryf hy die meegaande brief aan Henry Ford.

Clyde het nie sy skoolloopbaan voltooi nie. In teenstelling hiermee het Bonnie op skool pryse gewen vir skryfkuns, goeie vordering en spelling. Haar jeugdrome om ’n aktrise, sangeres of digter te word kom tot uiting in haar verse wat getuig van teatrale ekshibisionisme, en waarin sy denkbeeldige gehore toespreek. Bonnie het aanklank gevind by misdaadhelde soos Jesse James, Billy the kid en Belle Starr. Sy het waarskynlik die stylelemente van die ballades van die laat 1800’s geken, maar was onder die invloed van strooiliteratuur en kriminele straattaal. Vervolgens een van Bonnie se bekendste gedigte:

The Story of Bonnie and Clyde

 

You’ve read the story of Jesse James

how he lived and died;

If you’re still in need

Of something to read,

Here’s the story of Bonnie and Clyde.

 

Now Bonnie and Clyde are the Barrow gang,

I’m sure you all have read

How they rob and steal

And those who squeal

Are usually found dying or dead.

 

There’s lots of untruths to these write-ups;

They’re not so ruthless as that;

Their nature is raw;

They hate all the law-

The stool pigeons, spotters, and rats.

 

They call them cold-blooded killers;

They say they are heartless and mean;

But I say this with pride,

That I once knew Clyde

When he was honest and upright and clean.

 

But the laws fooled around,

Kept taking him down

And locking him up in a cell,

Till he said to me,

“I’ll never be free,

So I’ll meet a few of them in hell.”

 

The road was so dimly lighted;

There were no highway signs to guide;

But they made up their minds

If all roads were blind,

They wouldn’t give up till they died.

 

The road gets dimmer and dimmer;

Sometimes you can hardly see;

But it’s fight, man to man,

And do all you can,

For they know they can never be free.

 

From heart-break some people have suffered;

From weariness some people have died;

But take it all in all,

Our troubles are small

Till we get like Bonnie and Clyde.

 

If a policeman is killed in Dallas,

And they have no clew or guide;

If they can’t find a fiend,

They just wipe their slate clean

And hang it on Bonnie and Clyde.

 

There’s two crimes committed in America

Not accredited to the Barrow mob;

They had no hand

In the kidnap demand,

Nor the Kansas City depot job.

 

A newsboy once said to his buddy:

“I wish old Clyde would get jumped;

In these awful hard times

We’d make a few dimes

If five or six cops would get bumped.”

 

The police haven’t got the report yet,

But Clyde called me up today;

He said, “Don’t start any fights –

aren’t working nights –

joining the NRA.”

 

From Irving to West Dallas viaduct

Is known as the Great Divide,

Where the women are kin,

And the men are men,

And they won’t “stool” on Bonnie and Clyde.

 

If they try to act like citizens

And rent them a nice little flat,

About the third night

They’re invited to fight

By a sub-gun’s rat-tat-tat.

 

They don’t think they’re too tough or desperate,

They know that the law always wins;

They’ve been shot at before,

But they do not ignore

That death is the wages of sin.

 

Some day they’ll go down together;

And they’ll bury them side by side;

To few it’ll be grief-

To the law a relief-

But it’s death for Bonnie and Clyde.

 

Nadat Bonnie en Clyde in Mei 1934 neergevel is in ’n hinderlaag, het daar binne ure ongeveer 12 000 mense saamgedrom rondom die koeëldeurboorde motor. Chaos het uitgebreek. Lede van die publiek het mekaar verdring met skêre om van Bonnie se haarlokke en repe uit haar en Clyde se bebloede klere te sny. Hulle het selfs die glasskerwe van die motorruite op die pad opgetel as aandenkings of relieke. Die volgende oggend is die paartjie se lyke in staatsie gelê – en 30 000 mense het kom kyk: ‘n rare eer wat twee misdadigers te beurt geval het. Bonnie se gedig, The story of Bonnie and Clyde gee dan ook ’n self-ironiserende en amper profetiese wending aan die lewe en dood van twee van die bekendste misdadigers in menseheugenis.

Ná die film Bonnie and Clyde (1967) het die Bonnie en Clyde-legende ‘n nuwe impetus gekry. Maar terug na relieke: Bonnie en Clyde se wasbeelde is te sien in die Historical Wax Museum in Grand Prairie. Op die sosiale media van 2015 word daar steeds hulde gebring aan dié berugte paartjie, en foto’s van hulle lyke op die internet lok ’n reuse aantal besoekers. Die unieke digterskap van Bonnie Parker leef voort in die publieke domein as die relieke van ’n misdadiger, aangevuur deur die aweregse oorlewering van Bonnie en Clyde se legendariese status.

Bronnelys

Treherne, J. The strange history of Bonnie and Clyde. New York: Cooper Square Press, 2000.

Bonnie and Clyde. Warner Bros. Seven Arts (rolprent) 1967.

http://texashideout.tripod.com/Auction.html (besoek 23 Mei 2015)

http://www.wealthwire.com/news/liberty/3502 (besoek 23 Mei 2015)

*

(Nini Bennett is vandeesmaand ons gasblogger op Versindaba – Redaksie: Versindaba)

Nini Bennett

  •