Boris Pasternak. Vertaling in Afrikaans
Tuesday, January 22nd, 2019Boris Pasternak. Vertaling in Afrikaans deur Helize van Vuuren.
Naskrif
Nee, nie ek was die bron van jou smart
nie ek’t gepleit om my land se vergetelheid.
Die son het op druppels ink gebrand
soos klossies korente vol stof.
Cochineal gesprei deur die bloed
van my elke gedagte en ieder geskrewe woord.
Nie ek was die bron van die wurmerige rooiheid.
Nee, nie ek was die bron van jou smart.
Dit was die aand gevorm uit stof
wat jou gesoen het, in oker-stuifmeel verstikkend.
Skadu’s wat jou pols gemeet het, jy
wat gesig-draai na die brandende veld,
swemmend op hekskarniere
oorvloei met skemer, as en papawers.
Heel somer was ‘n branding van peule,
opskrifte en verbleikte bagasie
die swerwersbors verseëlend met was
en jou hoede en rokke wat ontvlam.
Dit was jou wimpers gegom deur die son
dit was die wrede skyf wat stamp met sy horings
teen mure, heinings platveënd.
Dit was die ontsteekte sonsondergang neuriënd in jou hare,
die pers afskuddend van bamboes en framboos.
Nee, dit was nie my liefde, maar jou lieflikheid.
[Boris Pasternak. Somer 1917]

Marc Chagall. The Promenade. 1917
Boris Pasternak – “Postscript” uit My sister – life, 1922
[vertaal en verwerk : HvV uit die Engels van Mark Rudman, 1983. 18/1/2019]