Breyten Breytenbach. « die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)
Tuesday, November 22nd, 2016« die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)
in hierdie onthoubrief aan Oupa Lewe
Bra Leonard,
Daar’s ‘n lover in die storie
Maar dis dieselle ou storie
Daar’s ‘n slaapliedjie vir lyding
En ‘n padda vir die boks
Maar dis ook in geskrifte
En nie net op die wind
Jy wil die nag verblind
Ons blus die vlammetjietong
*
Bring doodgaan ooit verlossing ? Die dood is wel ‘n oplossing, ‘n oplos-sing, maar ook ‘n toestand – wanneer jy toegegooi word onder die sand, ingespit, of wanneer die weefsels (die gort en die aorta, die woord en wat die oog gesien het) verknetter tot as en vlekkies been. Dood-gaan egter, die verwording wat ‘n proses is, die reis, bly dit ons by ? En wanneer die syn in die skyn verdwyn ? Bewuswees is immers in die saamneem. Daarna slegs nog daardie gesigte wat ons probeer vaspen in gedigte…
*
jy sal my moet vergewe
ek sal nie lank genoeg kan lewe
(niemand leef ooit lank genoeg)
met hierdie losglippende vashou aan helderheid
om reg te laat geskied
al sou dit ook net in die opnoem wees
aan al die dooies
die geraamtes blootgelê
die lyke wat uit die aarde peul
die ledemaatloses
die gefluit in die bome
die geraamde gesigte
dié wat tussen blaaie gebêre
nie begrawe gaan word nie
dié wie se woorde wurms is
dié wat onthou moes wees
om die lewendes nie eens te noem nie
dié wat aan deure klop
dié wat hul hande afvee
dié wat agter vensters gebare maak
dié wat langs paaie loop
dié wat in lense staar
dié wat in bome sit en fluit
die gebreklikes
dié wat hande klap
…
sien ?
ek kon nie aanhou vashou nie
*
*
waar sal jek die woorde gaan haal
om uit te tel en stippelspel op die skaal
wat die oorhelbalans van nag na dag bepaal ?
die gedig die donkervrug, en met lig
die gesig te koud en te kaal
om die duisternis reise te onthou ?
maar ook dit wat opweeg
teen die vergeet : ‘n vel papier
se geykte ewewig : jy wat ek
*
bewussynsvloei
lappieswerk
met woorde gare
op naai na patroon
se skadu-wees
in die water
*
intens bewus van hierdie lyf,
log, soos dit deur ruimte
beweeg, met slak se ongemak
bedags, wanneer lig die donkerte skêr
buite, snags soos ‘n blinde se stok
tok-tok deur duister
bewusteloosheid gedeeltes nou buite
bereik en nie meer bekend nie
die bylê van drome
die wegsê van bome
die dryf in soomloosheid
se suising wat slaap mag wees
en nooit weer teen lewe te stamp nie
*
Die viering van wat mooi is – ‘n verlustiging in die skone : « Die mooie (skoonheid) is wat ons te staan laat kom voor die transendensiële. Vandaar die lig. Vir my vind dit uiting in sintaksis. Ek probeer ‘n sintaksis van werklike fermheid en helderheid nastreef. » So sê Amilie Northomb, die Walloniese skryfster met die vreemde hooftooisels wat vinniger romans produseer as ‘n bakker sy mooi broodjies.
Ook, om die oppervlak te ontdek – nie slegs in die sin van blootlegging nie maar asof dit vir die eerste keer gesien word. Beweging is immers om in wisselwerking te kom met wat reeds bestaan.
Ons is stukkende mense, elk op eie manier en dalk vir uiteenlopende redes. Miskien is dit lankal so. Dalk is die gebrokenheid deel van wat dit is om mens te wees, of besef jy dit wanneer jy bewustelik mens word, bewus van die onvoltooidheid én die heelheid en eenmaligheid van mens te wees. Ons leer om daarmee saam te lewe – ook sodat dit nie ‘n las vir ander is nie. Af en toe herken ons die stukkendheid van die ander en dikwels is ons nie bedagsaam genoeg om verdraagsaam teenoor die ander se krake te wees nie.
Ek praat nie net van wat spesifiek met elkeen van ons gebeur het, die wonde wat toegedien is, die kwesplekke met minder of meer effek weggesteek (ook vir self), maar eweneens die bewuswees van die gaping (die niet) tussen die strewe na éénwording, heling, transendensie en dit wat nooit bereik word nie. Behalwe soms – en dan is dit wonderlik. Miskien is dit juis omdat ons daardie wonderlike onthou, dalk heilig, dat die strewe daarna so seer maak
*
*
dit is ingebed in die taal
dat ‘n god
(noem daardie aanwesigheid God
want alles verdien om naam te kry)
wat afwesigheid vergestalt
staangemaak sou word
in ‘n bestaan van die ondenkbare
om langs jou in die bed te kom lê
(God is moeg
en die versvoete is seer
van rondloop
deur die mens se syn
op soek na spieël
wel wetende dat skyn
soos taal ‘n skerfenis is)
skuif op, o vreemde leemte
die nag word koud
die tong is oud
en te klakkeloos styf
om nou nog liefde te maak
laat my aan jou raak
om te voel hoe voel
voel die dood
in my lyf
*
wakkerword is ‘n gebed
dankie vir die geleentheid
nou dit nog vroeg in die dag is
om asem te mag haal,
dankie om te belewe :
die aarde wat somber en bruin is,
‘n duif se gelate koer in die kloof,
die blare in stille afwagting
op die hitte.
dankie om die geleidelike dynserigheid
van vergaan mee te kan maak.
dankie vir die lewe wat ‘n skulp is
in die see oor alle onthoue
en voue van verandering heen,
dankie vir hierdie lyf as ervaring
se organe en ledemate die sintuie
nou swaar en byna verby
maar so min of meer nog bymekaar
om die illusie van deurlopendheid
aan die gang te hou, dankie
vir wat deurgaan as verstand,
meer versand maar met die wete
van maan om verdonkering te laat taan,
dankie vir die saambeweeg nog
met die betreurenswaardige van die mens
se kondisie.
dankie vir die silwer lig
so vroeg-vroeg gelaken oor die rante.
dankie vir stilte se mik
mik tussen sê en snik.
dankie, dankie
*
aanhou beweeg al
agter die woorde aan
en sonder om ‘n wêreld
se geraas te maak?
terapie vir doodgaan
(let wel: nie dood nie)
—————————————————
voetnoot : {die altydtyd van aanbeweeg}
*
*
in die nag hoef jy nie oë toe te maak
vir die wete van ‘n stroom sterre
wat alle ewigheid oorvloei
om die geheime verklarings van bestaan
en niebestaan uit te spel
in die oënskynlike oorgange tussen lig
en altydstil se donkerte
geplof soos klippies in bodemloosheid
om te weet van ruimtewinde
wat sterre klingel soos klippies
opgehang bo deurposte van huise
waarvan die sleutels so swaar is
dat dit jou in die aarde laat sink
sing bome ook hierdie refrein ?
wanneer velddiertjies die ore spits
is dit om te luister na geruisloosheid ?
Celan skryf : die gedig is eensaam.
dis eensaam en op reis.
wie dit afskryf word ‘n ewige roetemaat.
maar is die gedig dan nie juis daarom
en dus ook hier
in die ontmoeting
in die geheimenis van ontmoeting nie ?
wié spoel uit ?
————–
Voetnoot : {In sy inleiding tot die versamelde gedigte van Paul Celan, ‘n keuse wat die digter saamgestel het uit slegs die handvol vroeëre bundels, skryf die vertaler Jean-Pierre Lefebvre o.a. as volg – en onthou Celan was eweneens ‘n gedugte vertaler wat grotendeels van sy vertaalwerk gelewe het : « Indien Celan se werk sig veroorloof om in afsonderlike verse ‘n mate van weerstand te bied teen maklike ontsyfering, dan is dit binne die raamwerk van ‘n meer oorkoepelende afspraak met die leser wat genooi word om die totaliteit van die siklusse te lees en herlees (om te ‘werk’ en deur die werke ‘bewerk’ te word), om die werwelinge raak te sien en daarop te let hoe sommige woorde se semantiese buiterandskap altyd weer terugkom, om ingelyf te word by die prosodie en sintaksis en vertroud te raak met al die Celaniaanse ‘ontkennings’. ‘Verstaan’, hier en vir altyd, moet aan die hand van ‘n dialoog gesien word as die ‘sin’ in woorde wat die dader wou afstaan, maar jy moenie vergeet om ook die skadu toe te staan nie ; d.w.s. die pad saam met hom te loop, hom te begelei in wat Kafka « ‘‘n ekspedisie na die reële » noem, met voldoende vertroue dat die paradokse wat jy raakloop nie oomblikke van ‘n verstarde onsekerheid van betekenis sal wees nie, maar verdere avonture in die soeke na presiesheid. Om te begryp behels dus dat jy wegstaan van die gewoontelike en aanvaar dat intuïsie en voorstelling – kortom beelde – se asem uitgeslaan word deur die naakte woord, sonder arabeske maar nietemin oop vir iedere windrigting, dat poësie nie uitdrukking is nie, maar naspeuring : om daardie arbeidsveld waar die verbale kosmos op die natuurlike kosmos ingestem word te betree, om eie aan jou self te wees, en soos die gedig « die draad gespan tussen die ster en die wind woorde op reis… » / En dan word Jean Bollack se besinning oor die besonderse etiese objek in Celan se poëtika onthou : « Die verhouding tussen die lewende (of historiese) onderwerp en die entiteit wat dit in die taal van poësie (be)skryf is die kern van die debat rondom die outonomie (selfsêheid) of die duisterheid van ‘n digkuns wat haar eie konvensies skep uit die deurlopende differensiasie en bevraagtekening van bestaande tale, hetsy poëties of kommin, deur hulle byna deurgaans te veronderstel sonder om hulle ooit te reproduseer. In hierdie beginsel dui dit dus ‘n stap aan in die volledige ontheiliging van die poëtiese tradisie en impliseer die uitskakeling van (haar ?) vermoëns om te integreer… » / « In die skadu van die dialoog geskryf in die jaar dat ‘Sprachgitter’ verskyn, die amperse kaalkop meningsverskil met Adorno, moet ons insien dat dit juis die hermetisme is – Celan se radikale individualiteit en aldus die opsetlike gevaar van alleenheid (of afsondering) – wat hom in staat stel om sy persoonlike betrokkenheid by en solidariteit met universele mense-belange te betuig, in teenstelling met die oorverdowende dialektiese evolusie van die abstrakte politieke ‘woord’ (Adorno se filosofiese ‘woord’ bv.) soos uitgedruk in ‘n pseudo-helder teoriek. » / « Onder die uitspansel van hierdie kennis was vertaalwerk, herhaaldelik elke week, vir Celan ‘n wyse om die etiek van so ‘n beskeidenheid (‘n etiese kuisheid) uit te lewe. Hy het vertaal sodat ander kon leer hoe om te vertaal, deur jaar na jaar op en in die taal te werk. Vir Celan is vertaling nie slegs ‘n kwessie van eenvoudige oorplasing, die afgehandelde saak van die gids aangeland op die ander oewer nie, maar « ‘n dialoog op weg », en dis as sodanig dat dit aansluiting vind by sy poësie – en tog is juis sy gedigte meer koppig onvatbaar vir vertaling as enige ander Duitse poësie. Al het hy ook die mees verskriklike vorms van eensaamheid belewe was Celan nooit ‘n eenlingdigter nie. Elke voltooide gedig wat « van hom weggeval het » is bemaak aan Leser. Hy het die konsep van onaanraakbare genialiteit verafsku – want hy het gewéét van sy verwantskap met die afgryslike. Hy nooi ons om hom sonder aansitterige familiariteit te leer ken. »
*
*
‘ewigheid’ net-net anderkant begrip :
die tyd van sterre
reeds ondenkbaar genoeg
aanhou doen
om nie te verslib
in skreeuende stilte nie
*
fuga
Geagte owerheid :
hierdie sou die samevatting
van my lewenstaak as studieveld
kon wees : die onderlinge
wedersydse verhouding
tussen woord as sonderlinge
knal of swart gat
waarin alle materie as smart reeds verdwyn het
en sin wat dit opneem
soos die sterreruim beweging
en omgewing
en daarom betekenis
verleen
Ekskuus ?
nee – dis tog hoe die beeld ontstaan
ongeag sosiale agtergrond
of stamgeskiedenis
Of juis daarom
ja, ek weet ek praat nou
(en dan) van ‘n gemeenskapsfenomeen :
(dat dit) die ontwikkeling van interaksie
tussen één en méér aan sou stip –
daardie kyk na die klip in die nag –
waaruit oer-bewuswording
van verantwoordelikheid groei
soos nog altyd sedert sterfvrees
moes kyk na (weggekyk het van)
die lyk wat nie tot kos kon vertaal
(en dat ons) uit besef se immer-onthouwete
(omdat dit een van ons was)
toe klipkappers geword het
Rym bloei ?
o ek sien u wil my rig
na wat verheldering impliseer en toe moet lig :
één se weer en weer
bot aan daardie tak
wat slegs as waan
van bestemming bestaan
En daarom synvernietiging is ?
maar dan gee u toe
dat die dood ‘n herrangskikking
van veranderende en so verskuiwende
(verganende) danspatrone
gaan uitstippel tot in die verskiet
So soos pyn die seer
skering en skeur van om te lewe
om laat kom in aanhouweggaan se troos
————-
voetnoot : {Leser laat weet : « (L. fuga vlug) Abnormale geestetoestand gekenmerk deur oënskynlik rasionele gedrag gedurende ‘n periode van impulsiewe aktiwiteite (soos deur rond te wandel) ten opsigte waarvan die individu later volledige amnesie het ; onbewustheidsdaad »}
*
Leonard : Wanneer jy by jou bestemming kom en klaar gesels het met almal wat jou wil omhels en jou hand wil skud, kyk tog uit vir my ou vriend Amadou ‘Vieux’ Mbodji. Hy was op sy dag ‘n korporaal in die Senegalese leër. Het toe by ons by die Gorée Instituut kom werk as gardien. Regop, fier. Mettertyd moes ek agterkom hy is ook die waardige verteenwoordiger van die Pulaar minderheid op die eiland – nomade (van die groter Fulani groepering) wat suidwaarts migreer het uit die Fouta, hulle tuisland. Hy was ‘n vurige beskermer van Al-Pulaar, hulle taal. En altyd was hy een van dié wat my kom verwelkom wanneer die chaloupe soos ‘n logge seekoei uit die nag my terug besorg het na nog ‘n verre reis. My jonger boet… En wanneer ek my kamerluike oopmaak in die oggend was hy reeds op sy bidmatjie in die binneplaas met die pers verbleikblomme en die frangipanis. Toe, seker ‘n dag of twee voordat jy geval het, is hy laataand aangetref op die vloer van sy kamer. Reeds gedeeltelik verlam. Beroerte, sê hulle. In die nag oorgeneem Dakar toe in die hospitaalbootjie. (Ons het ook ons donker see wat oorgesteek moet word.) Twee dae in ‘n koma. En weg. Sy lyk gewas en afgespons, gevou in ‘n waad. Kollega’s het hom vergesel die 700 kilometers Fouta toe, geboortegrond, waar die imam hom in die aarde sou weglê. Die woue is swart linte in die hemel. Druk hom aan jou hart en hou hom styf vas vir my. Jy sal hom herken aan sy trotse houding. Hy het ‘n sterk en mooi stem, en ‘n conahim soos jy sal dalk ‘n by-psalmis nodig kry.
*
« it is called grieving for the present »
(« Longing for ancient times and grieving for the present,
my heart is exhausted » – Ryokan, Reading the ‘Record of Eihei Dogen’)
nou weet jy wat dit is
om dood te gaan :
dat alles en almal en dit en dié
vir wie jy lief was
sonder om daarvan bewus te wees
moes sterwe terwyl jy nog leef
en nou terugkom in musiek
die effense blaarbeweging
tussen kyk en sien
die randjie van ‘n gliplag
oor die malligheid van lewe
nou weet jy hoe dit is
om te lewe :
dat alles en almal en dit en dié
vir wie jy lief is
nie daarvan weet nie maar weet
hulle sal lewe terwyl jy nog sterf
*
dit is so
dit is so
dat jy vir die dooies opskryf
die geraamtedans van die hand
tot die oog
want slegs hulle kan lees
elke leser is dood in die stilte
van die oog
wat hier staan beweeg nie
behalwe in die koud-geklipkerkde hart
dit is so
dat hierdie makabere gebarespel
munte neerlê
op die leser se kykholtes
gekloosterde maantjies
vir enklaves van die duister
dit is waar
dat dit ‘n diens is
om die maan se vrugbaarheid te vier
dat die dansende digter
geruisloos sy Kaïnskennis sing
op wysies van die dooies se geheue
en die woord vleg-vlieg
soos ‘n voël se skelet
teen ‘n verhemelte van gister
in die gebrandskilderde oog
van ‘n dooie son
*
die gedig op reis
nou se dae
en nou se nagte
neem ek die voël in my kop op reis
en weet nie of sy lewendig anderkant
aan sal kom nie
wees rustig, sê ek –
ek weet die fuik is beknop
en jou vlerke kaal geskuur
teen die wande
maar moenie so trippel nie :
jy maak my deurmekaar
met die woorde –
ek weet daar is min te eet
in die bakkie van herinneringe
en dat jou wonde besmet sal word
kyk, jy is die gedig
wat ek nog gaan skryf
kyk, ek bespaar jou die vermoeiende vlug
vroeër sou jy vry oor hierdie seë
kon sweef
met die wind om jou te lig
totdat die son van die land
in die ewigheid verdwyn
maar toe was jy nie blind nie
en toe het jy nog nie my hand
op kom soek
want jy is my ongeskrewe vluglyn
voël
en as dood in die beweging
moet wees
sal ek jou versigtig bevry
uit die hokkie van my kop
om oor die gebroke lyk te streel
en koer :
kyk, ek hou jou hoog om die wind
te ruik
kyk, ek het jou tot hier geskryf
by ons bestemming
kyk, ons is tuis
by nou se dae
en nou se nagte
*
*
ek droom ek besoek die ondergrond
waar digters se skedels in groot sale
bewaar word
een netjies neffens die ander
almal ontstellend afgerond
in dieselfde glimmende afwesigheid
chronologies uitgestal op rakke
wat tot ‘n halfdonker oneindelikheid
van stille nadenke verskiet
finaal teen elke klein beenkoepel
is ‘n lewe se opsommingsgedig
in swart sierskrif geletter
hier en daar die rooi stempel geskiedenis
asof ‘n kwaadaardige leefblaar
nog aan vlees se verrotting
wou kleef maar geen spoor
van wurms of rimpels
of liefde kon laat
die gids kyk stip na my voorkop :
hou dit kort en helder asseblief
vir niemand om te lees nie
want ook daardie oë wat nou ‘n bestaan
in moet pas in tyd se donker wonde
sal slegs holtes wees
*
wanneer die somer verby is
en die land nou leeggeloop
van mensebewegings
stil en diep naklink met nadenke
in grys en in roes
dan het wolke die vryheid van die land
om skip te speel, of kasteel of skaap
of sommer net ‘n hand aanwesigheid
statig en vol dragtig is die woord
soos wanneer die grootmoeders
mark toe gaan en slegs die kantwerk
van ‘n onderrok se sleepsel lig
daaraan herinner dat hulle eens
hoere was
______________
voetnoot :
{in die oord van word
dra ‘woord’ beide
die demensie van ‘droom’
en die skadu van ‘moord’
is betekenis ( ook net ‘teken’)
opgesluit in woord
of is woord (slegs) die rigtingduier –
die ‘predikant’ as ware ?
en dan : maak geskiedenis betekenis
of word dit daarmee besoedel ?
en sou betekenis sonder vervuiling
kon oorlewe in verwording se boord ?}
*
Met herfs is silwerigheid in die suide die lig se glans op pouplierbome. Kyk hoe mooi, hoe gaaf is die dalende sonlig oor die heuwels, hoe die glooiings bestryk word. Dis vingertoppe wat die dames se dye aai. Ek het die indruk dat ons deur die skemerte ry maar mens kan myle ver sien. Lig kom nie van ‘n herkenbare bron nie – dis van oral, gedemp en ingeneem deur wingerde, boorde, bosse, landerye – gespieël in waterlope, kanale, riviere. Die lug is ‘n gaasdoek van einder tot einder, in ‘n boog gespan, met hier en daar ‘n skeur en dan is dit ‘n verblinding wat deurskyn. In die water van die étangs waar langbeenvoëls rustig in rye sit en wag vir die nag na ‘n dag se gevry met hulle weerkaatsings, en met wat dalk nog gesê kon word nou opgekrop – in die étangs baai die ondergaande son haar gesig. Die lig sal gelaaf word. Geleidelik weet jy : hierdie is ‘n land van skemering.
*
{« Since this is so, there is no remedy for satisfying hunger other than a painted rice-cake. Without painted hunger you never become a true person. There is no understanding other than painted satisfaction. In fact, satisfying hunger, satisfying no-hunger, not satisfying hunger, and not satisfying no-hunger cannot be attained or spoken of without painted hunger. For some time study all of these as a painted rice-cake.
When you understand this meaning with your body and mind, you will thoroughly master the ability to turn things and be turned by things. If this is not done, the power of the study of the way is not yet realized. To enact this ability is to actualize the painting of enlightenment. »}
– Dogen. On the fifth day, eleventh month, third year of Ninji (1242), this was taught to the assembly at Kannondori Kosho Horin Monastery.
Translated by Dan Welch and Kazuaki Tanahashi
*
die dag daal skerp
die aarde gaan nog somberder wees
die luglyn reg rondom
waar wolke reeds gaan lê
in roos en ligte pers kooigoed
asof hulle verlief is
sal hierdie voorspel snoer
in donkerword
in ‘n donker wingerd
het ek ‘n brandstapel sien vlam
die dans van vonke en ‘n vokaal rooksinjaal
en ‘n swerm dartelende voëls
gedompel in die donkernis
bevry in die lig
vervleg in die wilde dodevuur
van singende spieëlskerwe
*
« you would rather throw stones at a mirror ?
I am your mirror, and here are the stones. »
Rumi, Selected Poems
© Breyten Breytenbach/2016