die bewesynverdwyn
(vir G, en vir Tony – met liefde)
die lewe is ‘n lang reis
al dieper die hart in
deur donker woude
waar selfs die lig oorgroei is
(verskoon hierdie metafoor
van ‘n ander wêreld se ervarings
wat nou die verwysing omsoom)
en soms roep jy na die ander
waarvan jy net vir ‘n oomblik
die skaduwee gewaar
vergly van stam tot stam – jy
en jy en jy en jy en jy
moet versigtig wees om nie ‘n vonk
te laat skiet en ‘n vuur ontvlam
wat alle lewe aan die hemel sal laat lek
totdat ook herinnering nog net ‘n vlek
in die geheue sal wees
en jy roep na die self –
en soms is daar die ritseling
van ‘n bosdier in die kreupelhout
wat ook soos jy van boom
tot boom beweeg al agter die gerug
van daardie stroom aan
waar die maan kom om naak te baai
daar is nooit dag nie
maar dae soos nagte besaai met sterre
die vonke van ou-ou vure
die wegwysterklippies verloor deur mededier reisigers
op pad in die niet
‘n altyd se lied gewuif in die toppe
totdat jy te moeg is om verder te soek
na die self wat in die bos verdwaal het
en kom tot waar geen verskil nog kan tel
of vertel hoef te word
tussen vind en nie vind nie
tussen die blyheid van die kind
en die blindsien van die swerwer se droomstroom
donker woude as grense na ander wêrelde
ons is elk-een ‘n sterwer
jy en jy en jy en jy
wat soos ekke deur die bos strompel
tot ‘n hier
en ‘n oopte
waar iemand (is dit jou uiteindelike vergestalting ?)
‘n gat gegrawe het met takke bedek
maar iets roer tog nog
eppur si muove
en daar is koergeluide
(is dit jou eindelik ten laaste versinde verslinding ?)
trek die takke en twyge opsy
versigtig om nie jou hande te sny nie
sodat jy af kan staar na wat jy vergeet het
en hart-oopskeur verbly deur die skielike
opvlieg van duiwe
ontvlug in ‘n duisternis vlerke
vry ! vry ! vry !
© breyten breytenbach, 2020