Posts Tagged ‘Breyten Breytenbach gedigte’

Breyten Breytenbach. Reiseinde fragmente

Thursday, December 26th, 2019

Liewe Marlise,

Jy sal onthou dat ek jou al ‘n geruime tydjie gelede belowe (of gedreig) het ek wil ‘n gerfsel verse (is hulle nog ‘verse’?) vir jou stuur vir plasing. Enersyds om vir my tot hier te bring waar ek kan probeer om mits dese ‘n rumoerige en deurmekaar en dalk ook onnodig sombere jaar toe te maak. Andersyds – en dit is vir my die rigtende oorweging – om op hierdie wyse vir jou ‘n baie groot dankie te sê vir wat jy en julle (ek dink hier spesifiek ook aan Louis) oor so ‘n lang skof met oorgawe en soveel kundigheid vir die poësie gedoen het met die ruimteskepping van ‘Versindaba’ . Ek is seker mense het hulle na hierdie ruimte gewend om uiteenlopende redes. Wat my betref, ek het my altyd vry gevoel hier om te kan kommunikeer en soms ‘nuwe’ werke uit te probeer, te kyk hoe hulle hul in groter geselskap gedra, wetende dat dit miskien nie die finale beslag is nie. (Kry enige fragment ooit ‘n finale ‘lê’? Daar is altyd die, ” ‘k wou nog sê …”) Jy was die ideale bemiddelaar. Ek weet die standaarde wat jy neergelê het, dus die baniere wat jy staangemaak het, sal so behoue bly en die nuwe meesteresse sal goed kyk na die werf en, in vryheid, ook nuwe vlae hys.

Hierdie voorlaaste bydrae wat ek vir jou stuur is lywig en, indien jy dit sou aanvaar vir eventuele plasing, ‘n spasievraat. Soos mens aanstap word dit moeiliker om jou draai te kry! Dit bestaan uit verse wat ek in Grevilleas met die passede Digterstuinfees voorgelees het, sedertdien reeds weer aan die muteer. So ek wil, al kan ek nie by al die mense uitkom nie, hiermee dankie sê vir die organiseerders en deelnemers en lesers en luisteraars daar, en baie spesiaal vir die klankmeesters Skalla Joubert en Laurinda Hofmeyer. Saam met hulle (omgeef deur hulle aanvoeling) – soos ook met dié van oorle’ Ollie Viljoen – is ek gereed (eintlik lus) om sonder huiwering my naam any time gat te maak: dis die doen wat so meevoerend is.

Na Wellington was daar ook Gent. Ander geleentheid, ander rumoer, maar ook weer met sommige van die liewe (en slem!) mense wat reeds in Wellington op lankmoedige wyses aanwesig was. Met die weggaan daar het ek baie grootbek vir Yves TSjoen belowe ek gaan probeer reageer op die verrigtinge by wyse van waardering. Indien dit nie te veel is nie en as ek nou nie hiermee die spaarbussie breek nie wil ek graag binnekort daardie skryfsels en skrifsels bymekaar maak en – belowe!- as laaste bydrae onder jou vlag en leiding vir jou stuur.

Mag hierdie seisoen en die komende jaar ons almal genadig wees.

 

Hartlike groete

Buiteblaf Hoesê

 

R E I S E I N D E

F R A G M E N T E

                                           

 

“en bewéging  is éwewig 

   voortdurend verloor/herontdek

    in ‘n draaiende deelword van sang

se stilklank ontvang”

 

‘n mal hart

kan nie gemaal

of aan die naak gestel

word in woorde nie

.

« maruku kakoro de kurashimasho »

 

 

1. die (o)opmaak

(Uiteindelik was alles maar net ‘n geval van skadu en lig)

 

dames en here en ander menere,

majietas en wyfies en stroopwafels,

woordstapelaars, aarsdeskundiges

en des moerse windverkopers, kwanselaars,

kanselverlooptes, ongedoopte omdop jongmeidjies,

baarddromers, verlangekwekers, messtekers,

lesergemeesterde

   begeesterde

     mense –

 

vergun my om julle voor te stel aan

Babbelbek Breërivier

veral nou daar geen water meer is

om oor die klippe te kabbel nie –

 

kyk hy klop op sy bors op soek na ‘n hart

en steel julle beursies en bespot julle smart

   in bitter rymelary

   om nie te huil nie

   om nie te treur nie

   want woorde is vry

   gevy en sonder betekenis :

 

kyk, hy is aan elke onheilige skade dadig –

wees die fokken boerklong tog genadig

 

2. Voëls

.

Voëls en verdere vreemde verbeeldingsvlugte. Die verhaal

(om iets weer te herwin, al is dit ook slegs die eie positiewe)

is die vertelling van verbygaan. Vertelling kan ‘n vertaling wees

as verheldering van die nag se verdwaalspelonk.

Vir vele van my vriende is dit ook die vervelling van ‘n wese

Wat vereelt geraak het onder die verdriet van vervreemding.

My vriende vra om vermaking.

 

So ‘n vreemde versoek.

 

Is dit nie vermétel nie ?

 

Hulle verwag om verlos te word van verlange na die verlede.

Hulle wil  vergeet van verval.

Hulle bly verbind tot die vennootskap van veiligheid :

Dat alles wat vuil en verweer en futiel en oulandsvlag is mag verbrand.

Hulle versoek voorwaar verder die versekering van verliefdheid

Indien dan nie versoening nie.

 

Kan jy jou nou méér voorstel ?

 

Die verhaler voel vere vir hierdie visie van vervulling en verheerliking.

Waarom sou hy die opvlammende vagevuur van vrees verdiskonteer ?

Vir hom sou dit « die verraad van die verdrinkte vis » beteken.

Die volksverraaier kan vir seker nie die verontskuldiging

Van verantwoordbaarheid vermy of vergestalt nie.

Verontwaardiging verwoord immers die vergeefse verwesenliking

Van vleeslike visioene.

 

Maar geen voël vlieg vir ewig

En die vaandel is ‘n valse verwagting van wind

Vir wie ?

Vir wat ?

 

Om te verhoed dat vergistering onvermydelik verlyf

In verwording, verbystering, verwildering, verlies

En al die vae versenskimme wat met ‘n gevry aanvang

Vannag wanneer die vark versuip in die vat

Om onder die mat gevee te word ?

 

Is vertrek ‘n opsie ?

 

Om jou verder te verloor in die vervloeking van onversoenbaarheid

Met die versnelling van vergeet, my veeltalige meesterleser … ?

Is dit dan nou nie té verdomp verregaande nie !

 

 

 

3. my lakens ruik …

 

my lakens ruik na olyfolie en liefde

na ou-ou drome wat soet herleef –

my bed is ‘n skip waarin ek vaar

tot daar  waar die maan ‘n klipbaken rig

teen die verdriet van ruimte

waar die maan glansend o-lyf

om gepars en gepuur die oorgang

soet te maak –

 

soet te maak

vir die vergaan in jou dye se innighede

sodat ek omswagtel in barenslinne

weer mag paar met die droom van herlewing

gebalsem mag word met die soet-proe van liefdes

olie aan die lippe

 

 

 

4. rou lied

 

en tog is jy nie myne

en hierdie klaagsang is nie myne

en wat verby is soos wat voorlê is nie myne nie

 

nee     jy was nooit myne

om weg te gee of te deel

of van te vergeet nie

 

dis nie my hande wat kon streel

al langs die glipgange van jou rondende lyf

ek het nie die blomme in jou hare getooi

jy was nie my nooi

of my helder lagduif oordag

en twee-uur in die nag se vuursteek nie

 

jy het my nooit na binne genooi

 om te kyk

of ek die koerasie sou hê om van jou

my kooi-ooitjie te maak

ons het nie gedans vir die maan

ons het nie die haan se kreet

probeer naboots as stil weetstuipe

van die liefde nie

 

nee     jy was nie myne om te verbeel

en so van te weet as dieptekennis

verder as alle wete se weggee nie

nee     ek wis nie van die bloed in die lakens

  of die geboortevlek onder jou bors nie

 

hoe sal ek nou kon onthou van jou tong

se loom akkedisbeweging in my mond

of bewus moes wees van jou koddige duime

en hoe jou liefdesvou oop kan blom

met hartjiesvog om die gaan en die kom

se vergeetpassies gelyktydig te maak ?

 

nee     ek weet nie wat ek sê

 van ‘n tong wat lepel teen die verhemelte lê

 om te onthou wievandaan ek praat

 en so graag sou wou hê vir desnoods se verlaat

want jy is nie van my nie

 

hoe sou jy ooit kon dink dis ek wat die metafoor misbruik

in fasiele verglyding van kont so onweerstaanbaar

na mond se mooi broodjiesverhale

wanneer ek sê jy was nooit myne

om in ‘n oond of ‘n boek te verduister nie ?

 

dit was my oë nie beskore om oor jou te wei

asof jy besit van geneem kon word          of my woorde

wat jou drome innig ontwy in die sterrenag

 

nee     ek was nie die lumierwagter op die toringmuur

 of die karavaangids

 of die basvioolspeler

 of die vryersklong

 of die digtende harlekyn nie

 

en nee           jy was nie myne

om met ‘n serenade van snikke onder jou venster te verlei

 

ek het nie jou trane afgevee op die stoep

of jou aan die hand gelei na ‘n glimmende einder

van volksregverdigheid nie

dit was nie hierdie vingers

wat met die lykbesorger se eindelose empatie en geduld

aai oor jou buik

of jou oë moet sluit nie

 

nee     jy was nie myne om af te spons

en van te vergeet     jy het nie my hart geneemneem

néém-éét-dit-is-die-vlees-van-verganklikheid

 

dis nie ék wat onthou van die blinde wind

nie ék wat ou-ou woordnote vir jou bring

om anderkant te mag sing

van hierdie lippe se laaste soek na die ritme

van jou nippels nie

 

nee jy was dit nooit

is nie van my om terug te vat

of weg te gee of te steel

met die belofte dat ek nie wéér sal speel

ek loof jou met ‘n dooie lied

se versugting dat dit iewers vas

mag slaan en weerklink

in herhaling se klanke nie,

lesermeesteres…

 

 

 

5. wat oorbly

(« The waste remains, the waste remains and kills. »)

– William Empson, Missing Dates

 

toe ek ‘n jong bok was

het ek my besig gehou

met die dinge van ‘n jong bok :

geblêr, kop gestamp, agter al wat ooi is aan

getros, vir soetkoek meestertekste opgevreet,

lustig, totdat my bek swart ink kwyl,

lustig in ander man se tuin geskyt,

mooi saam lang trane gehuil onder die maan

 

nou ek ‘n ou hond is

bepaal ek my by die beoefening van wysheid

van ‘n ou hond :

sitlê in die son,

probeer vang die dêmmitse vlooie,

blaf vir my inkskaduwee asof dit ‘n bok is,

maak of ek nie die tefies se kantbroekiekies

aan die draad raaksien

of op hoef te vreet nie,

kou bene in my drome van gras,

kreun van die styfwordslaap,

huil lang trane onder die maan,

skryf gedigte

(moeisaam)

 

 

6. « NIE ALLES WAT STINK IS BLINK NIE »

 

ek wou vir julle vrede bring

ou begrippe drome wat ook

ons deel

mag wees

nie gesteel sal word of verword

 tot vertaling

die vrede van voldoende vrete vir ons almal

en voorspoed in ontluiking aanvaar

wedersyds    ‘n kans vir      die opsystaandans kadanse

en ‘n heppie krismis            ek wou

vir julle vrede bring in kiste

onder vlae op die rûens van pakdiere

 maar ons menswees

  het ons voorgelê in bergpasse

  was een te veel

  het ons oorval

want ons wou dat geweers en geld en veldverslae

  verdraagsaamheidsverdrae

moes peul uit die kratte

 

die nagwesens hoon ons

die donkies wat geslag gaan word

lag ons uit die laaste gedagte aan besinning

a my mense  my menswees

 

  waar is Jakob nou

           ons hom so nodig het

           om die Esel dood te slaan ?

 

ek wil vir julle ‘n riem bring

vir bind onder die hart        styf genoeg

om nie op te skuif    na die nek van die kind

sou ruimte wou skink

waar helderheid nie gesê hoef te word

of juis ingekeep in stilte

maar julle het gedog dis die maan

en hierdie skryfvlug ‘n eendvoëlstreep

deur skemergebiede na nagvloei se besoedelde vlei

julle het gedog die eend      is daar

as kos vir die pot

want ons is honger

my baas        my      menswees

 

ek sou vir julle ‘n toekoms wou sing

gebou            onthou           gehou

uit die weemoed

  en berou oor ‘n verlede      vergeet

wat anders kon ons doen

met respek en omvorming van die onderlinge pyn

 

maar ons menswees haal ons in

maar ons menswees is van kak en betaal

in die afskerwende taal       dis die wet

van uithaal en wys   van eieling en anderling

se vergelding vir al die duisende dooies

wat ons gefaal het

 

ook ons grafkelders sal afgebrand smeul

bouvalle  puin  krotte  kaias  rotte

ruiters  rowers

ons menswees

is rook oor die maan

 

die lewe lek uit ‘n verrotte synsak

en wat is die sin van riviere nog

behalwe om water van betekenisvloei te voorsien

en waartoe dien die omfloersing van oewers tog

anders as om vloei na die einder te lei

waar die dood ‘n lêloerslang in die sloot is

vir die maan om haar gesig in die spieël

te kom was sodat sy gegrot onder klippe

onvolmaak toegedek tog nog weer één bloederige vlerkvlek

mag strek oor die kommetjie stof

wat haar terug na die lewe gaan lok

 

was dit dan   is dit dan

die verkeerde woorde         is elke sillabe

gedoem om stiltemoord of stuipwoede

te begaan

is vergaan     ons enigste blywende bate

is dit al

waarvan ons nog binnensmonds sal sing

by die fonteine

waar water verslik aan dooie paddas

 

dan vra ek verskoning       en vergeen

in ‘n vergeetgat                  smeek ek julle

steen en been

om klippe te pak

oor die illusies en skyn

     van die versplinterde spieël

 se stapelgek lyk van menswees

 

a my mense

dan wil ek vir julle ‘n liefdesbrief skryf

om te vra

moet              asseblief               nié

      ingaan by hierdie gedig

 

 

 

7. die droom

(« The earth needs to be reminded of the eternity of one life :

     for the origin of existence is movement » – Ka’afir)

 

ek het twee mense in my droom sien dans

die een was blou en die ander geel

met voete hoog in driftige oortuiging

om die aarde vas te stamp

om menswees te verbeel

 

ek het twee mense sien dans in my droom

die een was blou en die ander geel

bolywe regop en oë toe

in ‘n hartstogtelike déél van ekstase

se polsing die een op die maat

van die ander se vertroue toeverlaat

 

die een was geel en die ander blou

fier teen die wete dat alles moet vergaan

trots op die ritme van die blinde bestaan

die vlam van syn volkome ontvou

en fok die heelal ook

 

ingebind die ander in die een

stilte van dans in my droom

die een was blou en die ander een geel

en my hart het gebokspring in my keel

 

met die omblaai het ek ‘n derde lyf sien staan

in die gloed van goue afwagting

om ingeskryf te leef in die dans

en gesien dit is ek en dié ek onthou

die leerlingdanser uitgemeet in papier

 

maak my wakker!

ek moet in alle helderheid hier die ontnugtering

vas kan hou en sterfgang se passies nie vergeet

die drie mense nie ophou verbeel

nie te laat gaan uit die baan

waar hulle in die knetterende vel

van my droom aanhou dans

 

die een is blou en die ander een geel

en my hart ‘n offerbok veras in die keel

 

 

 

8. « charity begins at home »

.

Boeddha – jy moet my help

dat ek myself genadig mag wees.

Hierdie derde oog van alles sien

soveel so dat die niet

ook in fokus kom

wou net nie oopgaan nie

al het ek ook toe ek jonk was

op my kop gestaan

en Sarie Marais

(wel, fluit-fluit sonder broek

op die mees ongeleë tyd

en met koddige aannames

was nog altyd my forte)…

en al het ek ook die ontstoke frons

gevryf totdat dit so skilferig

rooi en seer was soos ‘n roos :

die blaartjies het eenvoudig verseg

om te ontvou in ‘n blou blik van onskuld

om alles te mag aanskou

en weer te vergeet van die geblikte

onthou se vergetelheid…

En nou ek my gesig verloor

in die gedig

vra ek mooi om in die donker

te mag spook tot in lengte

van my dae en nagte se verdwyn :

ek wil nie in die lig bly lewe

én met pyn sien wat aangaan nie…

Jy wil my leer om Siener te word ?

Als-saam-blief ! Want om Sikloop te wees

is geen seën is gewis net ‘n spieël

vir voëls om hulle vlerkies te kom was in die reën…

Hélp my om my blindsig te gewaar, na waarde

te waardeer en ervaar

en bewaar my van die goddelose oop-oog bose

 

 

9. (die stilte)

« How should we like it were stars to burn

  With a passion for us we could not return ?

  If equal affection cannot be,

  Let the more loving one be me. »

– W.H. Auden

 

nou het ek tot aan die drumpel

van nege ene gekom  en my skoene uitgetrek

omdat ek nie meer voete het nie

 

‘n lewe is die geraas

van lemme en van stemme

en smouse wat illusies skreeuend opveil

 

ons kom van nêrens

uit die niet gefetus in ‘n skede bloed

en leer ons bestaan is om te mag vergaan

 

ter wille van die rym

met foneme se feniks

verskynsels van dese en gene aan die lyn

 

van ons bewussyn gehang

soos skimme van wie ons was

elk met ‘n mondjievol preweling

 

of ‘n verroeste fluitjie in die sak

en die honger oë wat so pleit

om onthou om onthou

 

te behou : die voëls se vlug

is die waan van landskappe lig

verwelk teen die geboue se fasades …

 

maar snags wanneer die uitspansel bewe

en daar geen jakkalse is om na te roep

omdat die maan swart verlyf

 

in die mond van skrywe

wéét ons ons weet

weer watter stilte in ons roer

en dan gaan dit nou oor

hoé om

die dood mak te maak

 

soetjies, soetjies

sodat sy haar soetvoetjie

lankuit langs my kan kom

 

vly om soetjies

van my besit te neem

en (ons) asem uit te blaas

 

sonder al die geraas

van stilte

 

 

« what happens to the heart ?

« et maintenant – que vais je faire ? »



[© Breyten Breytenbach / 2019]

       

 

 

 

 

 

 

 

 

Breyten Breytenbach. inskrywing

Friday, August 9th, 2019

inskrywing 

 

dié dagnagboek

en daarom ‘n reisjoernaal …

 

kyk, hierdie is die soom van jou lewe

losgetorring al langs die plooi

van oorlewe

ter wille van vérder te wil bewe

totdat die teef jou inhaal

en jou doderok verskeur…

so-ewe moes jy jou juis inkdink in die sewe beswerings

omdat klippe haar nie van die werf gaan verwilder

en jy beter pad moet vat na diepsee se einder

 

kyk, hierdie is die naat van my lewe

al is dit ook ‘n gewaande seestraat

as verbeelde streep gelaat

in die nat van bewussyn

 

kyk stip, Antonio Machado lê as verstekeling

begrawe in die lies van hierdie grens

wat sy oorsteekstreep was na ballingskap

se diékant daaikant daai kant diékant …

digby die see van lig wat nie

die dood se land is nie

omdat die gedig in sy toegevoude hand ‘n klippie

versteen soos die dromer se skip

beskerm teen die gekerm van onthouspoel en sand

 

en wanneer die laaste uitvaart se dag aanbreek 

en die boot wat nooit weer om hoef te draai 

te water gaan om die sloot eindstreep toe te trek 

sal jy my met min bagasie aan boord vind

half kaal en vry soos die see se kind 

 

vertaal nou die verbeende lyk en vou dit oop

in jou droombesoekboek se some ingebind

om daardie skeepsjoernaal in bewereis te stippel

terwyl hordes halfgeklede toeriste blind

in die sonlig hul dooie lewens oorlewe

skaars ‘n klipgooi ver van hierdie werf

se diékant daaikant skrywe …

asof geen sout of water ooit sal wéét

van ‘n verskeepde nagjoernaal

versand in die steengroef van ballingskap nie …

 

en maak of hulle tot plooiens toe lag en versigtig suip

terwyl daar gewag word vir die maan wit lap

– wié wéét, dood se halfverskeurde onderrok? –

om te wys dis weer veilig vir drenkelinge

om te swem in die see van vergeet

 

                                             Collioure, 7 Augustus 2019

 

[© Breyten Breytenbach.]

Breyten Breytenbach. Notre-Dame de Paris, 15 April 2019

Wednesday, April 17th, 2019

.

Notre-Dame de Paris, 15 April 2019

 

maar die groenspaanhaan

wat genael bo op die vingerwysing kon staan

om met ‘n stil vergaan van koper

die verbydraai van eeue die hoof te bied

 

het na benede gestort

deur die inferno van vlamme en roet

om op die werf tussen as en splinters

en gebarste juweelvonke nou gelouter

nog steeds bekkig sy stil weerstandskreet te kraai

 

 

© Breyten Breytenbach

 

 

 

Breyten Breytenbach. Ligruimte

Tuesday, February 12th, 2019

                                                                LIGRUIMTE

(aantekeninge by die blootlegstelling in die laatgaan van ‘n gedeelde maar gedeeltelik

                                                               oorlede verledeling)

*

                                                                   (vertaaler)

Voëls en verdere vreemde verbeeldingsvlugte. Die verhaal (om iets te herwin, al is dit ook slegs die eie positiewe) is die vertelling van verbygaan. Vertelling kan ‘n vertaling wees as ‘n verhelderende verkenning van die nag se verdwaalspelonk. Vir vele van my vriende is dit ook ‘n vervelling van die wese wat vereelt geraak het onder die verdriet van vervreemding. My vriende vra om vermaking. So ‘n verwarrende versoek ! Is dit nie vermetel nie ? Hulle verwag om verlos te word van verlange na die verlede. Hulle wil vergeet van verval. Hulle bly verbind tot die vennootskap van veiligheid : dat alles wat vuil en verweer en futiel is mag verbrand.

Hulle versoek die versekering van verliefdheid op ‘n verre hede. Die verhaler voel vere vir hierdie visie van vervulling en verheerliking. Waarom sou hy die opvlammende vagevuur van vrees verdiskonteer ? Vir wat sou hy dit vermy ? Vir hom is dit « die verraad van die vis ».

Vertaaler se vertelling kan nie die verontskuldiging van verantwoordbaarheid vergestalt nie. Verwoording is die verwesenliking van vleeslike visioene. Maar die voël vlieg nie vir ewig nie. Die vlag is ‘n valse verwagting van wind. Vir wie ? Vir wat ? Om te verhoed dat vergistering se verwoording onvermydelik verlyf word in verwording, verbystering, verwildering, verwarring en verlies ? Om jou verder te verloor in die vervloeking van onversoenbaarheid met die versnelling van vergeet…

Of is dit te verregaande ?

*

gee jy om as ek sê ek is moeg ?

of mag die gek nie vergeet

hoe maklik dit is om die trog

vrot vrugte uit die oog

te verloor en ewe te vervang

met ‘n vraggie gatvratte geoffer

by ontstentenis van die gom

van woorde vir die synsbruid

van lewe nie ?

*

« Dewyl ik dan zag, dat die man onverzettelyk en met geen reden te leiden was, ging ik na de schipper’s hut, daar de zelfde styf van scheurbuik lag, zoo dat hy zich naaulyks roeren kon.

«Ik zeide hem dierhalven, dat ik ‘t land van de Kaap zeer klaarde en onderscheiden gezien, en ook den tafelberg wel ontdekt had, dat men ‘er vast op mogt gaan ; maar dat de stuurman, dit land voor de Saldanha-baai aanziende, nu voorby de tafelbaai, en dus van de man af zeilde, waar mede ik my geenzins zou willen bemoejen, zoo my, myn swaar huisgezin, en voor al hem, en zoo veel andere lydende persoonen in dit schip, niet zeer veel daar aan gelegen was ; weshalven ik hem bad, doch alle zyne kragten (wilde hy spoedig aan land genezen zyn) in te spannen, en, al was ‘t op handen en voeten, na ‘t half dek te kruipen, om ons doch door zyn gezag te redden, en andere ordre, na eigen ontdekking van ‘t land, hier te stellen.

« Hy deê dit ook aanstonts, kroop op handen en voeten, die ‘er zoo swart als inkt uitzagen, na ‘t half dek, en was zoo ras aldaar niet verscheenen, of hy zag, na dat zich kort ‘er aan de wolken van boven den tafelberg afgescheiden hadden, dien berg, en ook den leeuwenberg zeer klaar, toonde aan den stuurman zyn grove misslag, en ‘t gevaar, waar in hy ons allen, met de Kaap voorby te zeilen, bragt, en belaste hem ons aanstonts daar vlak op aan te zeilen, en toen kwamen wy nog dien zelfven avont omtrent 8 uuren daar op de Rheede ten anker, dankende God voor de zonderlinge genade, die hy ons bewezen had, van ons na zoo veel zigtbaare gevaaren, behouden en zoo gelukkig in de haven van onze begeerte te brengen. »

uit : Beschryvinge van Kaap der Goede Hoope, met de zaaken daar toe behoorende, door François Valentyn, 1726 (uit sy omvattende Oud en Nieuw Oost-Indiën)

*

Ek is daarvan bewus dat ek Onderbewuste, my geliefde van al die jare, moet probeer red. Wat sou haar ook besiel het om hier saam met haar tweelingsuster in die moeras te wil swem ? Kaal soos ‘n gedagte bowendien en onderdien tussen die krokodille in die modderige water ? En buitendit – waar sou my Onderbewuste tog ooit leer swem het ? Nou het die twee van hulle wit en glibberig net onder die oppervlak van die water nie meer beweeg nie. Ek het haar aan die skouers beetgepak om haar uit te sleep op die sand. Sy was swaar en slap en het aanmekaar uit my hande geglip en ek moes versigtig wees om die krokodille nie ongerus of opgewonde te maak nie. Drie van hulle het hoeka baie naby met die snoete net-net buite die moeraswater op die sand gelê, horisontale tanderige periskope, ‘n rits kwalik ingehoue grynslagte, die velle skubberig skurf soos verdorde rowe snot, ek kon die verrotting van hulle smoele ruik. Uiteindelik het ek met veel gesukkel vir O op die wal uitgesleep gekry maar sy het nie gereageer nie. Is sy dood ? Miskien net bewusteloos ? (Asof die bewustelose Onderbewuste sin sou kon maak…) In ‘n koma ? Droom sy ? Droom mens wanneer jy dood is ? (Sou die argument dan dat ek slegs ‘n entiteit is wat deur die dood gedroom is kan water hou ?) Moet ek mond-tot-mond ademing probeer ? Maar sy was nog altyd die asem van my lippe. En ek het haar hulp nodig om haar tweelingsussie uit die water te kry voor die krokodille besluit hulle is honger. Daar is ‘n voetbruggie oor die moeras, miskien omdat ons hier in ‘n natuur-reservaat is. ‘n Skaduwee beweeg oor die bruggie en verdwyn net so gou weer agter ‘n blaregordyn op die oorkantste oewer. Iemand hou ons dop, bespied ons ! Ek hoor ‘n geritsel agter die blare. Dit kan tog sekerlik nie Leser wees nie. Daar is meer as net een van hulle, ten minste twee bonkige bewaarders met blou tatoeërvlamme oor die voorarms. Hulle praat oor ons, bespreek dit of hulle die drenkeling uitgesleep op die wal van die moeras gaan verkrag voordat sy haar kan teësit, voor sy haar positiewe herwin, maar selfs dan sou hulle haar vas kan hou tot hulle klaar gekom het om haar vol saad vir die krokodille te voer. Ek knyp O hard sodat sy by mag kom. Indien sy maar net die oë oop wil maak sal ek vir haar vertel ek het ‘n foto geneem van ‘n kakofonie boomskuite oorhoops uitgesleep bo die hoogwaterstreep : één van hulle behoort tog nog waterdig genoeg te wees sodat ons sal kan ontsnap. Maar sy toon geen reaksie of teken van lewe nie. Ek gaan haar so wragtag nie hier los vir die reptiele en die rowers nie. Laat hulle dan maar baklei oor my Onderbewuste se tweelingsuster wat ek net so in die water gaan agterlaat as aas. Met baie moeite kry ek vir O eers op my rug en toe gedeeltelik oor my skouers – ‘n bietjie soos ‘n beskerming teen die sinneloosheid van mens te wees, ietwat soos ‘n dooie bok. Sy is so swaar soos dooie gewig en sonder enige artikulasie. Ek sal haar uit hierdie geil en groen oerwoud abba na hoërliggende grond. Iewers, onthou ek, is daar ooptes, vars lug, steiltes, selfs ‘n berg. Of sy nou dood is of nie, ek sal haar teen die hang begrawe en klippe oor die graf stapel om die plek van vergeet te mag onthou.

*

(vertaaler)

‘n Man het aan die eindigheid van sy nut vir die gemeenskap of/en die geskiedenis gekom en gewonder : wat het ek nou eintlik om by te dra ? Iets wat sou spruit uit sy ambagskennis. Sy ganse bestaan lank het hy omgegaan met woorde – in en uit, van voor en van agter, in beheer of ontbloot met die broek om die enkels tot vermaak van die volk, in die salons van keisers en in die slote van syn wat hy as duisternis wou simboliseer. Eintlik meer eend as swaan. Veel onsinnige waan. ‘n Kinderagtige afleiding van selfbevrediging, ‘n vertraging in die evolusie van lewe na later lê se lêleegte in vergelyking met sy mede-burgers se brode en brûe en buurtwagte en boeremoord. Dit was nou te laat om tot bekering te kom en te wil leer skiet of toue vleg vir strikke of duiwehokke bou vir noodseine of agter ‘n toonbank wil sit in diepe nadenke oor die kougom wat gekou moet word. Moenie ‘n fout maak nie. Die man het gedog hy wéét sy soort het ook iets om te sê wat indien ongesê gelaat tog ‘n verskil sou maak. Byvoorbeeld : het jy al ooit besef dat skedel aan skede verwant is ? Altemit wel met ‘n el agterna, langsaam soos ‘n gedagte wat uitgegroei het om tot wit te verbeen. En al hierdie konkrete dinge en waarnemings wat verding, die onverbeelde produkte – is dit dan nie ‘n bydrae om die grootklip in die ruim die naam van maan te gee nie ? Is so ‘n begrip nie ‘n onontbeerlike verbeeldingsruimte nie ? Onontbeerlik vir wie of vir wat ? Vir wat dan – so asof die maan niebestaansaanwesigheid uit sou straal as dit nie was vir die man nie. En nou is dit die oog en die geskiedenis. Wees bly, man ! Moenie vra nie. Maar omdat dit verdik het soos ‘n klip sonder enige rede om te skyn of te gaan het die man aan die einde van sy nut vir die geskiedenis gekom.

Toe het die man besef sy onvervangbaarheid is om vir niemand enigiets daarvan te sê nie. Om die ruimte te vergestalt. « En wat sal ek sê het ek geleer behalwe om met woorde om te gaan tot aan die uur van my dood ? » Is dit dan wat bedoel word met ‘selfwoord pleeg’ ? Is dit die palindroom – dat daar pal gedroom word dat die agteruitvooruitgang dalk nek-om gedraai kan word ? Al is die nek ook ‘n paling ? « It’s the shape of what’s not there that matters when you’re preening. »

Maar desnieteenstaande, het die man gedink, indien dit dan so sou wees dat sy onvervangbaarheid daaruit bestaan om vir niemand enigiets te sê nie, om die gemeenskap nie te ontstig deur dit bekend te maak dat hy tog sonder dat hulle dit weet ‘n essensiële funksie vervul waarsonder hulle sou weet dat hy niks het om by te dra nie, is dit beter om sonder ‘n woord uit die geskiedenis te verdwyn. Uitbeelding is immers ‘n verwording van denke.

Aldus het die man besluit om vir hierdie helder besluit/besef ‘n merker neer te sit, die berg uit te klim om ‘n klip neer te lê vir die maan. Soek soort dan nie soort nie ?

 

*

(laat selfportret van die vertaaler)

 

die verlepte ou uil

huil oor landskappe wat nie meer is

wat en waar hulle is

in die tyd toe die mens en sy maaksel

as muil tussen die perd van lewe

en die donkie van sterwe die wêreld

vrygewig kon vervuil met drome

in al daardie nagte se ylende braaksel

geswerf om die paaiemente van ewigheid

geskink te drink in kroeë en krotte en kaias

en vas te verf in ‘n runnik van liefde

.

hoe het dit dan so gou opgeraak ?

hoekom is die baie aias nie meer

hier om geaai te mag word

op vlug na fyndraai se kraai en diepsug nie ?

hoe is dit dan dat die liefde

‘n paai in die skaai is

en vir wat is die kluitjie in die riet

‘n vervloekte attribuut

van nege letters soos ‘n sprinkaan

se kreupel dans oor hierdie papier

van kaalgevrete taal met woorde

nog net die vermolmde skeletraaisels

van muise ?

.

hoekom buil die maan so vrot in die bloekomboom

nog voor die eier uitgebroei kan kraak ?

wat bly oor om saam te neem

as ruilgoed of ritsels

na die skuilkuil van vergaan ?

.

o waarom is die uil so uitgelate

nou die laaste rimpelende reëls van skyn

uitgevee glim in die spieël ?

 

*

(« The waste remains, the waste remains and kills. »)

         – William Empson, Missing Dates

 

toe ek ‘n jong bok was

het ek my besig gehou

met die dinge van ‘n jong bok :

geblêr, kop gestamp, agter al wat ooi is aan

getros, vir soetkoek meestertekste opgevreet,

lustig, totdat my bek swart ink kwyl,

lustig in ander man se tuin geskyt,

mooi saam lang trane gehuil onder die maan

 

nou ek ‘n ou hond is

bepaal ek my by die beoefening van wysheid

van ‘n ou hond :

sitlê in die son,

probeer vang die dêmmitse vlooie,

blaf vir my inkskaduwee asof dit ‘n bok is,

maak of ek nie die tefies se kantbroekiekies

aan die draad raaksien

of op hoef te vreet nie,

kou bene in my drome,

kreun van die styfwordslaap,

huil lang trane onder die maan,

skryf gedigte

(moeisaam)

.

 

(om te lyk)

 

met wat sal ek jou vergelyk ?

met watter slyk van rymdwang sal ek jou besmeer –

liewe, afgeleefde, vrekdrek –

in my soeke om jou lê te maak,

jou bek

eens en vir altyd besweer

soos ‘n geweer sonder loop

as kruk

vir die loop soek na selfbejammerklaery

in die geykte gesanikboek wat jy gedigte noem –

om bevry en sonder ooit weer

oor my skouer te hoef kyk

fluit-fluit aan te kan stryk

ewigheid toe ?

hoe kry ek jou uit my lewe

gekraam in die vergaanwaad woorde

om te lyk

asof jy die dood waardig sou wees ?

agter watter bult moet die afdryfvrug

dan nog ter aarde beklink word

om nie ten hemel te klank nie ?

*

die lewe is een lang teug

om uitasem en sonder wind

by die dood uit te kom

die lint te wil breek

en dan te besef :

doodgaan is nie vir sissies nie

*

(die stilte)

 
« How should we like it were stars to burn
  With a passion for us we could not return ?
  If equal affection cannot be,
  Let the more loving one be me. »
  – W.H. Auden

 

‘n lewe is die geraas

van lemme en van stemme

en smouse wat illussies skreeuend opveil

 

ons kom van nêrens

uit die niet getrek in ‘n skede bloed

en leer ons bestaan om te mag vergaan

 

ter wille van die rym

met foneme se fenomenale

verskynsels van dese en gene aan die lyn

 

van ons bewussyn gehang

soos skimme van wie ons was

elk met ‘n mondjievol preweling

 

of ‘n verroeste fluitjie in die sak

en die honger oë wat so pleit

om onthou om onthou

 

te behou : die voëls se vlug

die waan van landskappe lig

verwelk teen die geboue se fasades

 

maar snags wanneer die uitspansel bewe

en daar geen jakkalse is om na te roep

omdat die maan swart verlyf

 

in die mond van skrywe

wéét ons ons weet

watter stilte in ons roer

.

.

*

Breyten Breytenbach – binne skutmure van die plaas Coornhoop langs die Liesbeeckrivier, ‘n vroeëre grondtoekenning van Jan van Riebeeck. November, 2018

om hier die lig aan te bi(e)d

in ‘n kommetjie

en ‘n gaantjie

 

.

 

Breyten Breytenbach. Psalms vir Oupa M’Poen

Sunday, September 16th, 2018

PSALMS VIR OUPA M’POEN

kom ons buig en soen daai pampoen wat versteende-traan glinster

                                                             aan die hemel daar bo

*

alles wat ooit bestaan het

alles wat ooit gelewe het

alles wat ‘n ruimte laat bewe

om ‘n merk te laat

vir die vergeet

van altyd se asem

en daarom vir altyd sal wees

want al manier om die lewe

verby vashou te onthou

is om dit veilig te bêre

onder die pols-sing van maanvergeet –

elke asemteug grasspriet goejop wolk

voëlsang wolk potlood lied

tong en wolk volk

is boeddha my boet pampoen

 

alles wat bloei tot boeddhawees

is pampoenmaan

en jy net (‘n) bewuswording

om onder

      om op

 te gaan in die lewe

en so te bly bewe in die dood

 

jy mag maar huil

want alles huil

in stilte se syn

jy mag maar al uitkringende

sing-sing intiem by nie-syn ingaan

 

daarom : indien jy boeddha

teenkom op die weg na Kû :

maak hom dood

met al die liefde

van jou vergaanbestaan

 

en éét daai soetpampoen !

*

 

*

*

‘n man wat praat

is ‘n besmette man :

om te lewe ‘n daad

van aanvulling van

onomvatbare materialiteit

soos ‘n planeet in beweging gebaan

aanhou verbrokkel

en verdwyn in die niet

 

en die onvoorstelbare virtualiteit se bestaan :

om stil te wil staan

in die ewigheidsbewing van aanhou vergaan :

om as asem na long te soek

en in vervlieting wat nood is te vloek op die tong

se vlug van verbeelding na die skyn van sin

se daarom-om en om om te om

 

sonder sang

uit kromme note gehaal

die les te leer :

dat die self ‘n fles is:

leeg gedrink op soek

na syn

se so-ek : die maan-neerslag

van die naam

van die man

wat gedog het dis wyn :

soos ‘n god se piepie

‘n straaltjie pyn

 

om die leeg

weer vol te kan

skink

met niks

se skyn

van die niet se verdwyn ?

 

want verby die punt van terugkeer

is pampoen weer pampoen

skoen skoen

soen soen

die seisoen van sterwe

en die hand ‘n ekkende sweer:

 

is

is-ek

insek

of inkbek ?

 

moenie

nou wanneer

woordvrek

op hande is

in die hek

wil kak nie

meneer…

 

voertsek !

*

ons reis en ons reis en ons sien nie / ons pas aan ons maak vuurtjies

ons pak klein klipstapels vir ‘n maat/ ‘n liefde die voorsaat

wat hier en daar gehurk onder ‘n bossie skaduwee

die onverteerde onbekende soos vrees uit die skoot skyt

met die tong ‘n dooie akkedis in die mond

 

ons vind uit ons maak staan/ kweek begrip

ontleed die klip projekteer abstraksies modelle afmetings

en versin wolke van staal / om die vergete weg te bêre

prakseer woordklosse en klikke as taal skuins gestreep

om die kaal van vreemdelingskap toe te maak / om die tong

in te prent die mond is geskiedenis / siende daar ‘n begin is

en eendag geen einde aan ons na-aping van voëls

 

net soms kom daar ‘n rilling van einder tot kim

in ‘n ketting lig ver buite enige verwysingsveld

na mensgemaakte mens-owerskap/ dryf die maan

rooi soos ‘n embrio in die stof / van oseane eindeloosheid

kom ‘n wind dieper as strepe se omvatting / lou uit die oerte

van nie-mak-maak bewussyn

en vrek enige pretensie van vlug in ons drome

*

‘n Boom is baie soos ‘n spinnekop. Veral in die doodse stilte tussen ontwaak en syn wanneer dit nog weer heeltemal donker kan word en boom in die ontskemering aangesien mag word vir ‘n groot spinnekop – aandagtig in ingehoue (maar oorgehaalde ?) afwagting. Wanneer dit soos die spinnekop gespin in die web en uitreiking van (en na) aanraking net ‘n trilling van blare is. Die boom is soos die spinnekop oënskynlik immobiel. Dit verplaas sig nie : begrippe van ‘interaksie’, ‘uitreiking’,  ‘jag’, ‘opvang’, ‘agtervolg’ en selfs dié van ‘n magsverhouding tussen soeker/verbruiker/plukker en prooi (of is dit kliënt ?), selfs vriend of bondgenoot of bywoner – die insekte, die akkedisse, die voëls – alles word op die kop gekeer. Wie reik uit ? Wie word gevang of verlam ? En waarom ? Omdat dit in die aard van interaksie is ? Kan syn slegs in uitwisseling bestaan ?

 

Daar is ‘n heilige tydloosheid, streng afgebaken in die ophef van beweging of omgang, wanneer die metafoor dit (of dié) wat vergelyk word snoer en saam laat smelt. Om te sê : die boom is (soos) ‘n spinnekop is dan nié ‘n stylfiguur, ‘n aweregse uitlig van ooreenkomende eienskappe of slegs oëverblinding meegebring deur die sluierdans van taal nie, is dan nie verregaande absurd nie. Dit steek niks oop en verander niks na niks. Dit is dan (en altyd ?) die totaal geïntegreerde vergestalting van die vanselfsprekende wat nie gesê hoef te word om te bestaan nie. Dit is en die beeld sê dit. Of dit is dan vry van begin en selfs ophou en selfs die wette van bymekaarbring. Simbiose. Fusie. Vervlegting in die absolute. ‘n Fluisterwete.

Daar is fluisteroomblikke wat buite die raamwerk van tyd eenvoudig hierdaar is.

En dan kom die dag – lig, opheldering, verafsonderliking, die naasmekaarsit van fenomene en dinge en syne en myne en julle s’n. Dan word die metafoor weer ‘n mes – op onverwagse wyses, want dit skil vanselfsprekendhede en vanselfsprekende hedes bloot – om te kerf of te boor of te boetseer.

So soos taal ‘n verwydering is, ingestel op toenadering en besitname. Maar in die sin van haar wese ‘n vervreemding. ‘n Uitmekaarhaal.

*

*

die aard van bewussyn

die eienaardigheid van bewussyn

die aardse van bewussyn

die aardige van bewussyn

die ontaarding van bewussyn

die ter aarde bestelling van bewusword

*

*

                    kom ons buig en besing die maan wat soos ‘n traan in die water pampoen

Katalonie, September 2018

 

© Breyten Breytenbach / 2018

 

Breyten Breytenbach. gedig vir woorde

Friday, July 27th, 2018

Liewe Louis en liewe Marlise,

Dis nie dat digters meer waardevol is as skrynwerkers of vissers of boere of bendelede of universiteitsprofessors of politici of hofnarre nie. Inteendeel, hulle is op die ou einde waardeloos en skadeloos. Maar iewers vergestalt hulle die gesamentlike besef van die mense-spesie se rou en obskure konfrontasie met die wonde en die verwondering van bewuswording en bewuswees op hierdie planeet. Met slegs woorde as metgeselle in die gesels-met-self-en-met-ander. Miskien is dit ‘n aardsinstink om dit wat ons nie weet nie te probeer doodmaak. Al wat ons kan doen is om nie medepligtig te wees nie. Iewers sal Tom Gouws se woorde bly voortklink omdat dit uit die mees primitiewe kennisname van ons gedeelde menslikheid kom. En selfs die meer listige en siniese pogings van Stellenbosch Universiteit se arrogante selfverraaiers om die Kreoolse synskepping, die diepklank van omgang tussen mens en moedertaal, te vermoor (ons is almal die kreolisering van lewe en van dood, van syn en van donkerte), om die base na die mond te praat, sal uiteindelik nie slaag nie. Al word hulle ook aangemoedig deur dié wat leedvermakerig beweer, “ons het julle mos gesê,” of die pragmatiste, of dié wat jil, of dié wat nie wil weet nie. Hierdie stryd om menswaardigheid voor die ewige gedeelde lot, om begrip of die soeke daarna tussen die skimme en die dansers van taal, is vir my die sin van Tom Gouws se reis. Miskien was dit absurd en futiel – maar dit is ons reis. Of ons dit nou wil weet of nié.

Jou gedig vanmôre op Versindaba is ontroerend, Louis. Dankie daarvoor. Ek het nie voorreg gehad om vir Tom Gouws persoonlik te ken nie. Dit was ook nie nodig nie. Vir my is hy ‘n broer en ‘n voorbeeld soos digters/sangers in die wandelgange en kerkers en teen die skuinstes van berge oor die eeue heen in die ritmes van bestaan, elk met haar of sy taal. Hoe anders sou ons kon uitreik na mekaar? Ek is seker Li Bai en Szymborska en Lorca…. skuif op om plek te maak vir Tom Gouws. Mag dit hom goed gaan daar.

 

Die ‘ek’ waarvan daar sprake is in die volgende hulde-offer is nie ek nie maar generies. En ek probeer nie woorde in Tom Gouws se mond lê of aanspraak maak op bedenkinge wat hy miskien sou gehad het of op sekerhede wat vir hom dalk duidelik was nie.

Sterkte vir julle almal, ons almal – en ons hartseer medelye met sy naastes.

Breyten

 

gedig vir woorde

 

dis nie dat ek na julle wat woorde is soek

(sê wié van wanneer ?)

want ek weet julle lê eweneens

agter my bloed kom klop

aan die sinnelose hart wat al lank

‘n eggokamer van vlerkslae is

en jaag soms sillabes op in die donker

soos die ettering van ou swere

weer bloei

 

luister

moenie blindemol speel

moenie ophou voel-voel na omlyning

van die herinnerde gesig

in die donker bloed nie

 

ek sal hier wees soos altyd

(effens vervloek van ‘n té lang reis)

in die leë gedig

om verby genade die holtes oop te hou

en die fees van vlervoëls weer verbeel

vir julle huis toe kom

 

en indien dit dan moet wees

dat ons ons afwesighede aanneem

is dit ook goed

sweer ek hier met my hand op papier

 

kyk

in die skryflaai van raaisels

is die goëlaar se handkaart gebore

en weggebêre

(myne ? van wanneer af ?)

 

neem dit

sodat julle die beweging

na mag maak

om aan die skyn

van volbringing te raak

 

 

© Breyten Breytenbach. 2018

Breyten Breytenbach. Vir die skryfmaat

Wednesday, March 28th, 2018


vir die skryfmaat, Ene Nee-Een

« wéét jy waarom ons sterwe ?

   omdat ons léwe ! »

  • Jean d’Ormesson

 


liewe hand : jy moet nou basta

die dood so aanhou te wil tart

en koggeltérg met jou sywaartse skuifel

asof dit wat jy beskryf in knokke en skubbe

‘n lokbokkom sou kon wees

vir beweging in die diepte

van die mensdier gesoog in die waterlabirint

se skaduboggel                               by wyse van spreke

waar hoor en sien vergaan

 

jou skrywe is nog geen lint

na die onderwêreld nie :

ganôg es ganôg smartvraatsug, madoda

 

vir nou behoort jy jou te hou

by die taal se smal oewers :

ophou strepe en patrone trek

op die water                                    om dan

hoor en sien

tromp-op te daag om uit te haal

en te kom wys vir die meet

van matelose kragte                       asof

daar iewers ‘n beweging

in die dieptes kan luister

wat verlei sal word deur die vrot

hoender-hondevleis van jou hand as aas

 

wie is jy om so krokodillerig te wil snotter

dat jy genoeg genade kon skep

om die volmaan te laat baai in die gedig ?

 

die gesleep van vlerke in die stof

die bôjanerige pronk-pronk woordspronge

soos die sywaartse danspassies van ‘n vreeslose kryger

haantjie astrant

haantjie manhaftig

maak geen hond haaraf nie :

jou potsierlikheid beïndruk g’n dooie iemand

se uitgetrekte siel

ou maat, jy wiel vir niks

jy trap te hoog

jy krap te laag

 

daar is nie ‘n maan om jou te bevry

al ry jy die wind ook hoe boud-boud bloots

al huil jy snags uit volle bors

en besmeer die vergesogte verejas met slym en trane

 

jy kan nie weet van gefluisterde ritme

die offerlam word nie van spoor gedu

deur die snuf in die neus van visvieserigheid nie

jy kan nie beide wind én vlag

se gewapper wil vergestalt

kan nie die bruid by elke graf

en die doodsklok by iedere troue wil lui

vir die gesiene gehoor nie

 

hasta la vista, baby

vaya con dios, compadre

bon vent !

en moet in liefdesnaam nie omdraai

om ‘n hond in die bos te gooi nie

 

jy soek gemeenskap ?

probeer jou ‘n samelewing verbeel ?

dit sal in asemmerking geneem

die nodige aanddag geniet

om van die hand gewys te word

 

waarom so hans en so angstig ?

met al die jare van buk en begrawe

van die hand se dolhede

om die holle verlede weer oop te krap

behoort die letsels jou te help onthou :

die been het lankal versteen

dit maak geen sin

of kop of stert

om hangstig te wil wees

nou die nalaatsel as is

want dis nie nodig om enigiets aan te jaag

nie nou nie

 

sy wéét van jou

 

elke hond kry sy dag

en die vlugsoekende hand

hoe kaal dan ook

kry ‘n vuis se vers vol vere in die nag

indien jy gereed sou wees om te wag

tot jou beurt ryp genoeg is

vir die pluk

en die sluk

 

al jou woorde saamgebundel

is één miershoop se skarrelende bewussynskring

om die knetterende gekou van mondjiesmaat klei

te wil karwei                                    vir die voed

en behoed

van die blinde oer-koningin in haar doolhoftombe

en haar sing-sing aan die lewe se ombring te verraai

 

moenie dat die halsoorkop haas na spoed en betekening

jou besinning verdraai

soos ‘n doodgebore kind

wat aan die woordestring versmoor

nog bebloed om jou nek bly bengel

 

dis waarvan daar gesing word in die slawelosie :

dat jy nie ‘n vreemdeling in die paradys is

en die bekende vreemde sal kom om te skree of te kerm

wanneer haar beskermende ritme

in jou asemspasie pas

en jou hortende samehang

die wik-weeg beweging van vingers

te bang om afgelek te word

die mik-mik tot volvoering bring

 

die in en uitgangsholte smaak wit

soos die maan

wat groot geswel het in die water

se roering

dis nie myne nie

dis nie joune nie

 

wees geduldig :

leer skryf sywaarts : haal

diep asem

om tot die vreemd

bekende verhaal te kom

 

jy is haar lyfverslaafde

en sy die slavin van jou asemstilte :

want wanneer die tyd geskik en gerangskik

hier en daar is

sal sy kom op gedoekte voete

om die lyk van alle skyn onthef te laaf

en die gedig vers en pootjies en beendere

toe te wikkel

vir die weglê

in die inkbekladde waad van ontbinding

 

moet haar nie uit die oog verloor nie :

wat daarvan as sy aanbid wil word ?

sy is jy

jy is sy

van agter en van voor

van sien en van hoor

van binne en van buite

van twyfel en van toor

 

wanneer deur ruite van pyn

die brandglas in die maan

die sterreskuite in hulle hemelskynvaart

reflekteer en inspekteer in één introspeksie

 

ineengestrengel en verbind

aan één naelstring

kan niks julle onderkry

maak die niks julle bly

 

sien-sien julle kans om selfs die self

in skrywe se gang tot vernietiging

wanneer asem                              die eerste en laaste

teugtuig se naam is

te konfronteer : te hanteer, geliefde :

bly-bly te dans in die donker hart

weer en weer

keer op keer

op en neer

totdat die halssnoer woordstringkraaltjies van klei

die lig vang in ‘n wéérlewing

van bewende lewe

San Pedro de Alcantara

30 Desember 2017

 

[© Breyten Breytenbach]

 

 

 

Breyten Breytenbach. (m)aanwesig: die saamnaat ‘n landelike berig

Monday, March 26th, 2018

(m)aanwesig : die saamnaat ‘n landelike berig

vir Johnny Blom

« in search of brothers no longer alive

… I will speak to you, even if you’re dead »

– Pasolini

.

het ek jou vertel dat ek met jou wil dans ?

het ek jou meegedeel skrywe is

om stilte met die hand groot te maak

tot die weggooipit in vervulling kom

om ander betekenisse van voëls

en brommers en miere en vrot te verken ?

 

in die kuns van soeke na ritme en maat

moet jy jou lewe weggooi vir skaduwee

passies se volg en behoud :

sonder musiek

is elke skrywe

soos die lewe ‘n fout

 

het ek dit bekend kon maak

dat daar met wakkerword

‘n vlieënde skilpadjie op my vinger kom sit het ?

die lieweheersbesie verdwaal oor die laken

waad van ons woordeboek in dooie taal

duskant lietsjie en lieweling neffens gottabeentjie

 

se skryn wanneer pyn oorbly ook al dans

die hand nie meer haar tekens en selwe

omdat alles daarmee gesê sou wees ?

want sonder beweging

is ook die dood

soos die lewe ‘n fout

 

 

*

met skemeroggend se skuinsreën motte

kom verslind ‘n jakkals fyn-fyn sywaartsstap die perskes

van gister se wind uit die boom gewaai,

lig sy snoet na die hemel op soek

na ‘n blinde tekenweging van aanwesigheid

om te verdwyn soos ‘n deuntjie in die skaduwees

 

palmiet en struik wat die kuil  omsoom.

die een-saam goudvis rooi met banierstert

wit rimpelende vinne onder blaar

mymeringe op die oppervlak tussen wier

en waterblomme sal die saammaat droom

waarvan afskeid geneem moet word

 

o moenie glo die dood is alleen die eenmalige

sluis waar in- en uitsluiting gesleutel

in die sloot verroes tot water nie –

afsterwe is immers ‘n lewenstog

om aan die hand van sluimerdroomvaarte

oor te gaan na die land van beskrywing, die einde

 

en einderloosheid waar verloop

se uitlooptyd ritmies die maatsdans

sal wees vir die verslingerde rympiesmaker

wat met elke vastrap se koue rilling

‘n kors afbreeklewe weg laat kalwer

sodat afskeid weer en weer geneem mag word

*

 

het ek jou al vertel dat ek met jou wil dans

ook wanneer die afskeidsritueel makeer ?

nou skemersilhoeëte die aandskap vlek

wéét jy ook deursigtigheid is die skermskyn

behoefte om bloed te deel met die geboortelyn

van nie kerm om die besinning van bevraagtekens nie

 

soos die singende sinmaak van my pa

wanneer hy gehoed en –das berg-oor ry

om die uitboek se afskeidvaart saam te neem

vir sy sterwende broer in daardie voorkamer

langs die watersloot deur groentetuin en boord beskerm –

loekwart, koejawel, kweper, appelkoos –

en die hemel silwerblou babbelend in die stroom.

 

waarnatoe gaan die gesprek tog langs die bed ?

boodskappe vir oorkant en ‘n soengroet toevertrou

aan die verdonkerde vertrek wat ruik na kanfer

en gestrykte linne ? my oom se bril

het al die jare moes blink onder die bleek

 

voorkop beskadu deur die werkershoed se rand

en nou is dit vaal. tant Joey bring koffie

met doilies onder pierings op die etenstafel,

sy lê haar lippe aan niks en draai weg

om verwese die waas

doodgaanglans uit haar oë te vee

 

waarmee sal ons die oorgangsriel begelei ?

vry ? soos my ma en haar susters

uitvlug na Nagwag om nog één keer

musiek op te tower en eie skaduwees

te maak dans oor die werf

en bevry die donkerkom uit te lag ?

 

ons skaduwees van skrywe is stil

huisbediendes, skaapwagters wat geen afstand

onderskei tussen skaap en ster, verre gesante

met die glinsterende brokaat

van ou-ou woorde oor verslete klede

*

 

 

 

elke keer wanneer ek

‘n vars perske eet sommer met die hand

uit die pit gegroei

toe oorgeplant

om kamma boom te word

maar die vrug o so soet o so rooi

 

moet ek dink aan die verblindende

skittering van my pa se knipmeslem

waar hy met die goiingsak onthousels

agter die huis hurksit in die son

om die moere van die aartappels te skei

en die oë te skreef teen die muur

 

se witkaatsing. my viooltjie-ouma

is gister weggesluier sodat haar lyk

mag lewe in ons gedagtekuil.

my pa dra lanferband

om bo-arm en hoed

om die rou by te hou

*

het ek jou vertel dat ek met jou

op ‘n jakkalsdraffie die foxtrot en flamenco

en galoppie en tango en die keelklop vashou

van die konsertinahuil wil kotiljons

wanneer daglig die opstal soen vir die nag

om te mag verdwyn soos stilte

 

verskuil in die skaduwees ? elke keer

as troureën uitsak oor die land van beskrywing

omdat ek ‘n vars perske sou pluk

uit die tuin of optel in die gras

waar wespes en muise en maaiers

dit nog nie gestroop het van skyn

 

om niks oor oor te laat bly

vir jagter of jakkals of wildevark nie,

moet ek onthou hoe my pa

se sakmes se lem die wind sny,

vlees blootlê om die lewe

sigbaar te maak in skywe

 

offerhandskrywe

vir die verorbering van innigheid

en so die tong te versoen

met woordslyt. o neem

hiermee my vrug

uit die droom,

 

my aandgesig en my aangeepyn.

omring my met jou liefde

vir die dans,

vir wanneer ons

jakkalskaal nog één maal

afdaal in die poel stilte

 

 

en dat daar altyd

altyd perskes mag wees

rooi in die oggendwind

om die boom vir jou

bedelaarbruidegom se besoek

om te praat

 

 

25 Julie 2017, Can Ocells – 4 Augustus, Paname

 

[© Breyten Breytenbach]