Posts Tagged ‘Breytenbach-sentrum’

Andries Bezuidenhout. Die kuns en kitsch van nostalgie

Monday, April 11th, 2016
"Desert Flowers", deur Annelie Venter

“Desert Flowers”, deur Annelie Venter

By die opening van die uitstalling “En gee ons oor aan die nostalgie” deur Annelie Venter, Catherine Brennon en Michael Tietz-Geldenhuys by die Breytenbach Galery, Wellington, 9 April 2016

Die titel van hierdie uitstalling – “En gee ons oor aan die nostalgie” – kom uit ʼn lied wat in 1999 deur Laurika Rauch opgeneem is, met woorde deur Kalla Bremer en die melodie deur Don Clarke. Bremer is ʼn mediese dokter en Clarke ʼn komponis en musiekvervaardiger. Die twee werk gereeld saam en het onlangs ʼn prys in die VSA met ʼn lied oor Nelson Mandela gewen (meer daaroor hier).  Ek haal uit “Die nostalgie” aan:

“Die kiekies is dof / Die album vol stof / Kyk … hier bak ma haar beskuit / Daar stamp Stephanus vir Mien in die dam / O hoor jy die wind teen die ruit?// Die kindergesiggies, die sterre se liggies / Laat jou van voor af onthou / Ou vriende is dood / Die kleinspan word groot / Kyk net waar staan ons nou // Draai weer daai ‘Ramblin’ Rose’-plaat / Van Nat ‘the king’ Cole / En ‘Your cheatin’ heart’ / En ‘He’ll have to go’ / Kom ons ruil vandag se rumoer vir ʼn outydse toer / En gee ons oor aan die nostalgie.” (volledige liriek hier en luister hier daarna)

Elke cliché in die liriek word deur die resepmatige verwerking uitgelig. Die lied begin met slegs Laurika Rauch se stem. Die klankingenieur het haar met behulp van die mildelike aanwending van ʼn elektroniese eggo in ʼn groot kamer laat sit. Dan kom ʼn sintetiseerder uit die vroeë 1980s by om verdere atmosfeer te verleen. Die refrein word deur snaartromslae aangekondig en herinner aan ʼn 1950s rock ʼn roll treffer. Die lied se brug bou op, nou met dramatiese snaarinstrumente, waarskynlik tjello’s, dalk ʼn kontrabas. Die laaste refrein jubel met ʼn tweegesprek tussen ʼn elektriese kitaar en ʼn saksofoon. Dit eindig egter nie met ʼn kadens nie, maar die volume word sagter gestel tot die klank verdwyn – die teorie in die musiekbedryf is dat die melodie dan in die luisteraar se kop aanhou draai en dat hulle dan die plaat sal gaan koop as hulle dit op die radio hoor.

Dis waarskynlik goedkoop, selfs gemeen, om ʼn populêre lied as ʼn kunswerk of literêre teks te ontleed. Dis nie wat dit is nie en dis nie wat dit veronderstel is om te wees nie. Dis maar net ʼn lied oor nostalgie. Nogal ʼn mooi lied. Nostalgie is egter konserwatief. Dis ʼn verlange na ʼn onskuldige verlede. Dit werk met ʼn selektiewe geheue. Dis outyds. In ʼn boek oor herinnering en Duitse politiek skryf Charles Meier: “Nostalgia is to longing as kitsch is to art.” Elders, oor tradisie en Amerikaanse kultuur, skryf Michael Kammen: “Nostalgia […] is essentially history without guilt. Heritage is something that suffuses us with pride rather than shame.” (1)

Is nostalgie noodwendig konserwatief en kitsch?

Eers ʼn paar opmerkings oor die term “nostalgie”. Dis uit twee Griekse woorde saamgestel; “nostos”, wat na ʼn terugkeer huis toe verwys en “algia”, wat na ʼn verlange verwys. Anders gestel verwys nostalgie na die verlange om terug te keer huis toe of na dit wat bekend is. Die Afrikaanse woord “heimwee”, met die Germaanse wortels wat terugverwys na “Heimat”, kan ook dalk as sinoniem instaan. Die woord nostalgie is van Grieks afgelei, maar die woord se oorsprong is minder nostalgies van aard. Dis in 1688 deur die Switserse mediese student Johannes Hofer in sy proefskrif gebruik om na ʼn siektetoestand te verwys. Om die waarheid te sê, in die sewentiende eeu is nostalgie as ʼn tipe siekte beskou, baie soos verkoue. In Switserland het dokters opium of ʼn reis na die Alpe toe voorgeskryf as behandeling vir die simptome van nostalgie. Die eerste slagoffers van hierdie siekte was die ontworteldes van Europa van die sewentiende eeu, soos studente van Bern wat in Basel studeer het, bediendes van Franse en Duitse herkoms, asook Switserse soldate wat oorsee moes gaan baklei. Sommige soldate is selfs daarvan beskuldig dat hulle nostalgie geveins het in ʼn poging om huis toe gestuur te word. (2)

Die letterkundige Svetlana Boym, outeur van die fenomenale boek The Future of Nostalgia, skryf dat die twintigste eeu met utopiese drome begin het, maar in nostalgie geëindig het. Kyk maar na nostalgiese verwysings in kontemporêre populêre kultuur en ontwerp. Dink maar aan die Victoriaanse impuls in van Kaapstad se hipsters se kleredrag, haarstyle en baarde. Die historiese roman beleef ʼn ongekende herlewing, asook historiese films. Nostalgie is dus nie iets van die verlede nie – dis nie bloot ʼn anti-moderne impuls en ʼn drang om terug te keer na ʼn wêreld voor kolonialisme of globalisering nie. Daar is wel ideologieë wat op ʼn suiwer vorm nostalgie berus wat die verlede wil herstel – Boym noem dit “restorative nostalgia”. Dit sien die geskiedenis as iets suiwer wat as ideaal in die toekoms nagestreef behoort te word – dit wil die historiese droom van die tuisland herstel deur middel van verskillende tipes fundamentalisme. Dis die tipe politieke projek wat noodwendig kitsch optogte en kuns veroorsaak wat Milan Kundera so goed in The Unbearable Lightness of Being beskryf. Teenoor dit staan egter ʼn meer kritiese ingesteldheid tot nostalgie – dit erken die verlange na ʼn plek waar mens tuis kan wees, maar aanvaar dat daardie verlange nooit tot ʼn tuiskoms kan lei nie. Ek wil Boym hier aanhaal:

“[T]here is a tradition of critical reflection on the modern condition that incorporates nostalgia. It can be called ‘off-modern.’ The adverb ‘off’ confuses our sense of direction. It makes us explore side shadows and back alleys, rather than the straight road of progress; it allows us to take a detour from the deterministic narratives of history. Off-modernism offers a critique of both the modern fascination with newness and the no-less-modern reinvention of tradition. In the off-modern tradition, reflection and longing, estrangement and affection, go together. Moreover, for some twentieth-century off-modernists who came from traditions that were considered marginal or provincial with respect to the cultural mainstream (from Eastern Europe to Latin America), as well as for many displaced people from all over the world, creative rethinking of nostalgia was not merely an artistic device but a strategy for survival, a way of making sense of the impossibility of homecoming.” (3)

Catherine Brennon se werk by die Breytenbach galery

Catherine Brennon se werk by die Breytenbach galery

Catherine Brennon se keramiekwerk ondersoek die ruimtes waarin ons dinge wat kosbaar is bewaar – van haar werke word as “memory boxes” beskryf – ʼn houers vir betekenisvolle kleinnode. Haar medium is keramiek, maar die medium verwys na ander materiale – fyn borduurwerk van kant, die traliewerk van voëlkoue. Op van die houers – dit herinner aan voëlkoue, maar ook tempels – sit klein voëltjies, bo-op, nie binne-in nie. Hulle sit daar uit keuse, nie omdat hulle vasgevang is nie. Herinneringe vind ʼn plek waar dit nie opgeluit is nie, maar vandaan kan vlieg. Die nostalgiese objek word nie opgesluit nie, maar vind ʼn tydelike rusplek vir ʼn blik na ʼn oper en groter werklikheid waarmee dit in gesprek tree. Dan is daar verwysings na Suid-Afrika se kunstradisie, in hierdie uitstalling spesifiek Irma Stern. As kunstenaar plaas Brennon haarself in ʼn tradisie waarvoor sy uitstekend gekwalifiseer met ʼn diploma in keramiek in die laat-1970s en ʼn graad in die vroeë 2000s. Sy is nie net ʼn kunstenaar nie, maar ook ʼn kunsdosent, met generasies studente wat hul vaardighede by haar geleer het in Johannesburg, KwaZulu-Natal en, mees onlangs, die Overberg.

Detail van "South African Bird Diarama", gemengde media, deur Michael Tietz-Geldenhuys

Detail van “South African Bird Diarama”, gemengde media, deur Michael Tietz-Geldenhuys

Michael Tietz-Geldenhuys se werk vind aansluiting by die tema van voëls in Catherine se werk. Soos sy, tree sy werk in gesprek met medium. Hy werk aan collages, maar onder dit als sit ʼn merkbare obsessie met die kuns van skilder en teken, ʼn passie waarvoor hy onlangs Florence toe is vir verdere opleiding benewens die graad wat hy reeds in die laat 1990s in beeldende kunste verwerf het. Die werk speel op die korrekte neerpen van die eienskappe van voëls se vere, hul postuur, en roep dan ook die wetenskaplike dokumentering van die roep van die Piet-my-vrou, die Hoep-hoep op – die onomatopeïese kategorisering van spesie en naam. Uit die fyn lynsketse van wetenskaplike tekenvaardigheid haal hy kuns. Sy werk is ook in gesprek met fotografie as dokumentering van werklikhede. Ons weet almal fotografie en video – uiteindelik ook in digitale vorm – het teken- en skilderkuns ʼn identiteitskrisis gegee. Waarom teken as jy ʼn foto kan neem? Tietz-Geldenhuys se werk ondersoek die grens tussen teken en foto deur middel van collage – weer ʼn oop vorm van nostalgie vir tradisionele medium, maar nie bloot ʼn eenvoudige terugkeer na die hand van die meester nie.

Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die uitstalling, in gesprek met Annelie Venter

Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die uitstalling, in gesprek met Annelie Venter

Annelie Venter se skilderye tree eweneens met die tradisie van fotografie in gesprek. “Die kiekies is dof, die album vol stof.” Ek wil haar aanhaal uit ʼn onderhou oor ʼn vroeër uitstalling waarin sy veldblomme geskilder het: “I am not very good with words (that is why I chose to express myself through painting!) […] I like to paint things that others see as ‘inferior’ (eg plant material/flowers) or ‘soft’. I am a stubborn person, so I want to prove people wrong who feel flower painting is inferior: I want to do it well. I want to paint the plants and flowers with integrity: I want to prove that what you paint is immaterial – it’s how you paint it. I want to imbue this lowly, ‘feminine’ subject matter with integrity and worthy treatment. I want to make art that is ‘good’, not commercial […] And you know, men have also loved painting flowers and plants – just look at Van Gogh; and even Lucien Freud has painted beautiful plant images.” Sy noem in die onderhoud dat Clare Menck se werk bewonder en gebruik woorde soos “raw”, “honest” en “fragile” om die tipe skilderwerk waarvan sy hou te beskryf (volledige onderhoud hier).

Ek sou die woorde “raw”, “honest” en “fragile” ook op hierdie skilderye deur Annelie Venter van familiefoto’s wou toepas. Dis nostalgies, maar daar is ʼn oop tipe nostalgie, een wat die intieme ruimtes van die gesin – soms ʼn ongemaklike blik in die kamera se rigting – in die dor, Namibiese landskap plaas. Die familie word plante in die landskap – my gunsteling werk is “Desert flowers”, dalk omdat die landskap in die skilderye my aan Goani Kontes, een van my gunstelingplekke in die Namib, herinner. ʼn Ma, drie dogters, ʼn seun. Die seun staan wydsbeen, effe voor die vier vroue. Dis waarskynlik die pa wat die foto neem, sy familie van woestynblomme dokumenteer, maar jare later draai die dogter die blik om en skilder die gesin in al die rouheid, eerlikheid en weerloosheid van die toneel. Wie kan nié deur so ʼn skildery aangegryp word nie? Wie kan dan nou nié ʼn ernstige aanval van nostalgie beleef as jy stip daarna kyk nie? Anders as ʼn Switserse soldaat uit die 1600s hoef mens dit nie te veins nie.

Ter afsluiting wil ek aanvoer dat hierdie uitstalling ʼn uitstekende voorbeeld van nostalgie as kuns is, nie net as gevolg van die onderwerpe nie, maar ook as hunkering na die kunsvaardigheid van kunstenaars as vaklui. Van ʼn konserwatiewe hunkering na ʼn verlore verlede is hier nie sprake nie. ʼn Mens moet ook die ooglopende punt maak dat al die werke nie nostalgies van aard is nie en waarskynlik met ander idees en invloede deur die kunstenaars aangepak is, maar die driegesprek tussen die werke en die uitstalling se titel noop ons om die vraag te ondersoek. Baie van die kontemporêre konseptuele kuns en installasies wat as die snykant van kuns beskou word, is bitter flou. Let wel, ek kritiseer nie die hele genre nie, maar eerder die tipe werk wat ooglopend onbewus is van ʼn tradisie wat dit vooraf gaan. Soms is dit nóg konseptueel, nóg kuns. Dis waarskynlik hierdie frustrasie wat maak dat kunstenaars terugkeer na die tradisies van verf, teken en beeldhou en waarom olieverf, collage en keramiek hierdie uitstalling so ʼn bevredigende belewenis maak. Dit sus nie, dit paai nie, dit streel nie. Dit daag die kyker uit om stil te hou en om na te dink. Dit gee nie oor aan die nostalgie nie, maar ondersoek ons behoefte om aan die nostalgie oor te gee op ʼn veel interessanter manier.

Werke deur Annelie Venter en Catherine Brennon by die uitstalling

Werke deur Annelie Venter en Catherine Brennon by die uitstalling

Verwysings

(1) Aangehaal in Svetlana Boym, “Nostalgia and Its Discontents,” The Hedgehog Review, Somer uitgawe, 2007, p. 9; sien ook Svetlana Boym, 2001, The Future of Nostalgia (New York, Basic Books).

(2) Boym, “Nostalgia and Its Discontents”, pp. 7-8.

(3) Boym, “Nostalgia and Its Discontents”, p. 9.

‘n Tuin vol digters vier fees

Wednesday, August 13th, 2014

Binne die bestek van enkele jare het die Breytenbach-sentrum op Wellington sy jaarlikse poësiefees, genaamd Tuin van Digters, gevestig as sekerlik een van dié glanspunte op die poësieliefhebber se kalender. En vanjaar se fees, wat presies oor ‘n maand, op 13 en 14 September, gaan plaasvind, is werklik iets wat nié gemis moet word nie; veral vanweë die verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied gaan word. (Kyk ook na die volledige program onderaan die bladsy).

Vir die duur van die fees is daar byvoorbeeld die kunsuitstalling (Vers & Verf) waaraan van ons vernaamste visuele kunstenaars gaan deelneem. Volgens die sentrum se progra, die volgende: “Die opdrag was eenvoudig: elke skilder moet verse uitbeeld op ’n 30 x 30-grootte doek. Die resultaat is ’n indrukwekkende groepsuitstalling waarin die wisselwerking tussen vers en verf (of ander mediums) die kyker oorbluf. Die werke is bekostigbaar en hou goeie beleggings in vir kunsliefhebbers.” Kunstenaars wie se werke te siene sal wees, is Johann Louw, Henk Serfontein, Angus Taylor, Keith Dietrich, Sandra Hanekom, Rae Goosen, JP Meyer, André du Toit, Ingrid Winterbach, Colleen Gericke, Gerrie van Tonder, Joshua Miles, Helen Vaughan, Shany van der Berg, Wim Rautenbach en Liekie Fouché.

Daarteenoor is Ukusela eKapa, of dan Slurp Kaapstad Op, is ’n amptelike World Design Capital 2014-projek, wat deur die keramiek-kunstenaar, Hennie Meyer, en die argitek, Janine de Waal, met groot opwinding deur Kapenaars ontvang word.

Nog ‘n kunsitem op die program is Digby Digters; ‘n uitstalling wat bestaan uit die werke van Dimitri Engelbrecht, een van die opkomende Wellingtonse kunstenaars wat ingeskakel het by die Breytenbach Sentrum se opleidingsprojekte in die visuele kunste, onder die mentorskap van Tessa Louw. In hierdie uitstalling is van Dimitri se lewensgetroue sketse van bekende Afrikaanse digters te sien én te koop. Dimitri sal ook tydens die Tuin van Digters in die uitstallokaal werksaam wees.

Die program vir Saterdag, 13 September, begin om 09:30 met die huldeblyk “Verse in my vingers” wat ter viering van Breyten Breytenbach se 75ste verjaardag saamgestel is. Die program is nie net deur Juanita Swanepoel saamgestel nie, maar sy het ook die regie behartig. Kunstenaars wat hieraan deelneem, is Johann Nel, Waldemar Schultz, Hugo Theart, Eugenie Wiggens en Laurinda Hofmeyr.

Om 11:00 kan nadergestaan word Diek Grobler, Lina Spies en Danie Marais se aanbieding van Filmverse, ’n visuele bloemlesing waarin twaalf gekose gedigte die inspirasie was vir ’n reeks van kort animasiefilms. Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, word gebruik vir hierdie boeiende proses waarin ’n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefilm word vergesel van ‘n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word. Diek Grobler wys tydens hierdie sessie van die animasiewerk en gesels saam met digters oor die fassinerende manier hoe gedigte visueel lewe kry.

Om 12:00 begin ‘n reeks gesprekke oor bepaalde bundels wat vroeër vanjaar verskyn het. Eerste aan die beurt is dit Danie Marais wat met Alfred Schaffer gaan gesels oor sy bundel “Solank verlange die sweep swaai”; om 15:00 is Louis Esterhuizen in gesprek met Daniel Hugo oor sy bundel “Die afwesigheid van berge” en laastens, om 16:00, Andries Bezuidenhout wat oor sy bundel “Die veelvuldige gebruike van huishoudelike items” met Melt Myburgh in gesprek gaan wees.

Ander belangrike items dié betrokke Saterdag, is “Mengelmoes Digters” wat om 13:00 aangebied word: “Die Breytenbach Sentrum bied vir die afgelope jare met groot sukses ’n digters-slypskool aan vir voornemende digters, onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie jong digterstemme, hoofsaaklik van Wellington en die Paarl, sal gehoor word tydens die Tuin van Digters.  Hul verse word aangevul deur die polsende rymkletse van die alombekende Hemelbesem, asook die nuwelinge Rhyme Author en Rimestein.” Aldus die program.

Die dagprogram word op ‘n besonderse manier afgesluit met twee poëtikale musiekitems, synde “Katalekte” (om 18:30) en “Slaaptyd in die suburbs” (om 20:00). In 2013 het Breyten ‘n seleksie van die gedigte uit die bundel “Katalekte” opgeneem saam met Schalk Joubert en Ronan Skillen as musikale regisseurs en komponiste. Met die lewendige uitvoering van hierdie opnames tree Schalk Joubert saam met die perkussiespeler, Ronan Skillen, en Laurinda Hofmeyr (klavier) op. Die vertolkings en voorlesings sal deur o.a. Antoinette Kellerman, Toast Coetzer, Vicky Davis en ander behartig word.

Slaaptyd in die suburbs” word aangebied deur Roof Bezuidenhout (stem en kitaar), Brixton Barnard (stem en baskitaar), Kapelaan Pat Plank (lead kitaar) en Louis Graham (tromme). Volgens die programnota’s het Roof Bezuidenhout die volgende oor hul musikale bydare tot die Tuin van Digters-fees te sê gehad: “Ons is nou never-has-beens wat ʼn comeback moet maak.”

Sondag beloof eweneens om ‘n opwindende program vir die poësieliefhebber te bied. Die eerste item begin reeds om 11:00 wanneer Daniel Hugo, Amanda Strydom en Janine Neethling die ontslape heer van ons letterkunde, Hennie Aucamp, op ‘n besonderse manier gaan vereer. Volgens die programnota’s sal Daniel Hugo meer oor Aucamp se digwerk vertel en ook enkele verse voorlees, terwyl Amanda Strydom oor sy invloed op haar loopbaan sal gesels en van sy getoonsette werke sing.

Stokoud en splinternuut”, wat om 14:00 begin, is ‘n musiekprogram wat deur David Kramer en Schalk Joubert aangebied word. Volgens die programnota’s, die volgende: “David Kramer vier ’n leeftyd van liriekskryf en keer weer terug na intieme, akoestiese konserte – presies hoe hy in die laat sewentigerjare begin het. David sing van sy splinternuwe liedjies waaraan hy tans werk, maar die gehoor kan ook uitsien na van sy stokou werke wat aan hom tereg die reputasie besorg het as een van die gewildste sangers en liriekskrywers in Suid-Afrika.”

En asof hierdie fees nie reeds uit genoeg hoogtepunte bestaan nie, word die verrigtinge om 17:00 in die Goodnow-saal afgesluit met die volgende: “Die derde Tuin van Digters sluit af met hierdie klassieke musiekuitvoering waarin Boerneef besing word. Hierdie konsert is nie net ’n afsluiting van ons fees nie, maar ook ’n afskop van ons klassieke musiekreeks wat die Breytenbach Sentrum vanjaar vir die eerste keer in die asemrowende Goodnow-saal aanbied.” Musiekkunstenaars wat by die program betrek is, is o.a. André Serfontein (tenoor), Bennie van Eeden (klavier) en Geoffrey Armstrong (violis); met Johann Nel, Sanet Taljaard en Alma Nel as stemkunstenaars. Die musiek van “Boplaas sing Kro-taal” is deur Pieter de Villiers en Louis van Rensburg verskaf.

Kaartjiespryse is soos volg:

Naweekpakket: R250 (sluit alle aanbiedings in).

Toegang vir 13 September: R180 (sluit alle aanbiedings in vir 13 September)

Toegang vir 14 September: R120 (sluit alle aanbiedings in vir 14 September)

Besprekings kan via e-pos gedoen word by Jeanne-Mari Gerber, of telefonies deur 021-8732786 te skakel.

Hoe ook al – maak tog net absoluut seker dat jy nie dié vreugde misloop nie.

Besoek gerus die amptelike webtuiste vir meer inligting.

♦ Gedurende 12-14 September kan boekklubs heerlik ontspan in die Kaapse Wynland van Wellington by ‘n boekklubnaweek wat ook die Tuin van Digtersfees insluit.

Volledige Program

TUIN VAN DIGTERS

BREYTENBACH SENTRUM

13 & 14 September 2014

 

VERS & VERF

Met werke deur Johann Louw, Henk Serfon­tein, An­gus Taylor, Keith Dietrich, Sandra Hanekom, Rae Goo­sen, JP Meyer, André du Toit, Ingrid Winterbach, Colleen Gericke, Gerrie van Tonder, Jo­shua Miles, Helen Vaughan, Shany van der Berg, Wim Rautenbach en Liekie Fouché

Die opdrag was eenvoudig: elke skilder moet verse uitbeeld op ’n 30 x 30-grootte doek. Die resultaat is ’n indrukwekkende groepsuitstalling waarin die wissel­werk­ing tussen vers en verf (of ander mediums) die kyker oorbluf. Die werke is bekostigbaar en hou goeie beleggings in vir kunsliefhebbers.

Breytenbach Galery.

13 September | 9:00 – 17:00

14 September | 9:00 – 17:00

 

UKUSELA EKAPA

Met Hennie Meyer en Janine de Waal

Ukusela eKapa, of dan Slurp Kaapstad Op, is ’n amptelike World Design Capital 2014-projek, wat deur die keramiek-kunstenaar, Hennie Meyer, en die argi­tek, Janine de Waal, met groot opwinding deur Kapenaars ontvang word. Nou kom maak hulle ook ’n draai by die Tuin van Digters – en word jy uitgenooi om ’n spesiale handdruk te kom gee vir ’n klei-beker. Hierdie beker sal uiteindelik deel uitmaak van ’n groot­skaal­se uitstalling later in die jaar. Alles vir ’n goeie doel en deur klei-handdrukke, kom ons nader aan me­kaar.

Breytenbach Galery.

13 September | 11:00 – 12:00

 

DIGBY DIGTERS

Met werke deur Dimitri Engelbrecht

Dimitri is een van die opkomende Wellingtonse kuns­te­naars wat ingeskakel het by die Brey­ten­bach Sen­trum se opleidingsprojekte in die visue­le kunste, onder die mentorskap van Tessa Louw. In hierdie uitstalling is van Dimitri se lewens­getroue sketse van bekende Afrikaanse digters te sien én te koop. Dimitri sal ook tydens die Tuin van Digters in die uitstallokaal werk­saam wees – kom kyk gerus hoedat hy met fyn pot­lood­lyne al nader kom aan die digters wat hy uitbeeld.

Glaslokaal.

13 September | 9:00 – 17:00

14 September | 9:00 – 17:00

 

VERSE IN MY VINGERS

Afr. Geen o/14

Regie en samestelling: Juanita Swanepoel

Met Johann Nel, Waldemar Schultz, Hugo Theart, Eugenie Wiggens en Laurinda Hofmeyr.

In November 1975 sê Breyten Breytenbach tydens sy verhoor in die Paleis van Justisie in Pretoria: “Ek voel, ek wéét ek het nog baie gedigte in my vingers en skilderye in my oog”. By ’n ander geleentheid weer: “Wat my betref – ek wil probeer skryf vir hiér, vir nóú. Ek wil in my werk so na moontlik probeer kom aan die verbygaande – nie die ewige nie, dié was altyd daar. En die ewige sê niks. Dis die verby­gaan­de wat seer maak, die plaaslike”. Verse in my vingers, destyds spesiaal saamgestel vir die Brey­ten­bach Sentrum, word vanjaar herleef vir Breyten se 75ste verjaardag.

13 September | 9:30 | 90 min.

 

FILMVERSE

’n ATKV-produksie in samewerking met Fopspeen Moving Pictures

Met Diek Grobler, Lina Spies en Danie Marais

Filmverse bied ’n visuele bloemlesing waarin twaalf gekose gedigte die inspirasie was vir ’n reeks van kort animasiefilms. Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, word gebruik vir hier­die boei­en­de proses waarin ’n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefilm word vergesel van ‘n eie klankbaan waarop die ge­dig onder andere voor­ge­lees word. Diek Grobler wys tydens hierdie sessie van die animasiewerk en gesels saam met digters oor die fas­si­nerende manier hoe gedigte visueel lewe kry.

13 September | 11:00 | 50 min.

 

SOLANK VERLANGE DIE SWEEP SWAAI

Met Danie Marais en Alfred Schaffer

Danie Marais se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is ‘n mymerende, soms prewe­len­de, plek-plek tierende besinning oor die Suid-Afri­kaans­e middelklas-weergawe van die menslike toes­tand. Dit gaan oor die “roaring 40’s” en die eers­te onheil­spellende tekens van middeljarigheid, oor eg­skei­ding, enkelvaderskap, ontnugtering, ‘n ge­lief­de ma wat by die dood omdraai en die skrik­wek­kende rele­vansie van gruwelrolprente en pop­kul­tuur. Danie gesels met Alfred oor hierdie aan­gry­pen­de werk en feesgangers kan ook uitsien om bietjie te luis­ter na die musiek wat hierdie bundel gevorm het.

13 September | 12:00 | 50 min.

 

MENGELMOES DIGTERS

(Moontlik gemaak deur die ATKV en LW Hiem­stra Trust)

Met voorlesings deur Diana Ferrus, Danhouse, Gaireyah Fredericks, Nazlee Jeppie, Annelize Laban, Fiona Fertyn, Sophia Oliphant, Ashley Fortuin, Chantelle Hartebeest, Iola Craill, Charmaine Moosaen Adriaan Williams. Optredes deur die befaamde rym­klets­ers Hemelbesem, Rhyme Author en Rimestein.

Die Breytenbach Sentrum bied vir die afgelope jare met groot sukses ’n digters-slypskool aan vir voor­nemen­de digters, onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie jong digterstemme, hoofsaaklik van Welling­ton en die Paarl, sal gehoor word tydens die Tuin van Digters.  Hul verse word aangevul deur die pols­ende rymkletse van die alombekende Hemel­besem, asook die nuwelinge Rhyme Author en Rimestein.

13 September | 13:00 | 90 min.

 

DIE AFWESIGHEID VAN BERGE

Met Louis Esterhuizen en Daniel Hugo

Louis Esterhuizen gesels met Daniel Hugo oor sy nuutste bundel, Die Afwesigheid van berge. Dié bun­del handel oor ’n alleman se reis onderweg na die dood – die gedagtevlugte, die besinnings, die fanta­sieë waartoe die bewussyn geskok word. Maar die spreker is sterwend in hiérdie land. Trouens, hierdie land sing dikwels saam in die liedere, in re­frei­ne wat die slagspreuke, clichés en jargon is van nie net ’n nuwe Suid-Afrika nie, maar van ’n nuwe teg­nologiese era. ’n Persoon­like bundel, maar ook ’n aktuele een. Kom luister na hierdie insiggewende ge­sprek tussen twee deurwinterde digters.

13 September | 15:00 | 50 min.

VEELVULDIGE GEBRUIKE VAN HUISHOUDELIKE ITEMS

Met Andries Bezuidenhout en Melt Myburgh

In Andries Bezuidenhout se tweede bundel word twee werklikhede wat op die oog af nie raakpunte het nie, naas mekaar geplaas. Aan die een kant is daar die groter ruimte van die Suid-Afrikaanse stad en platteland, en aan die ander kant die intieme ruimte van die huis, veral die kombuis, gevul met verskillende toestelle. In albei hierdie ruimtes is ver­an­dering aan die werk. Die slo­pen­de werking van die geskiedenis bring verval, af­son­dering en ver­la­tenheid in stad en dorp mee; in die kombuis is die verandering geheimsinniger, soms meer sinister, en wonder die spreker oor die sameswerings van huishoudelike toestelle teen hulle gebruikers. Kom luister hoe Melt en Andries gesels oor gedigte, kombuise en ander ruimtes.

13 September | 16:00 | 50 min.

 

GEDIGTE SONDER GRENSE

(Ondersteun deur NB-uitgewers)

Met Marion Holm

Marion Holm lees van ons mooiste gedigte in Afri­kaans voor en maak poësie so lekker en toeganklik soos ’n bord goeie boerekos.  Bring jou gunsteling-ge­dig,  of een wat jy self geskryf het, saam en kom lees dit ook voor.

13 September | 17:00 | 45 min.

KATALEKTE

Met o.a. Schalk Joubert, Ronan Skillen, Laurinda Hofmeyr, Antoinette Kellerman, Toast Coetzer en Vicky Davis.

Katalekte vorm ’n drieluik met Breyten Brey­ten­bach se vorige twee bundels, Die wind­vanger en Die beginsel van stof. In 2013 het Breyten ‘n se­lek­sie van die gedigte uit die bundel op­geneem saam met Schalk Joubert en Ronan Skillen as musikale regisseurs en komponiste. Saam vorm hulle ‘n beeld­skone en hip­notiese musikale reis waar woorde en klank jou nader bring aan die rykheid van die taal. Met die lewendige uitvoering van hierdie opnames sal Schalk Joubert saam met die meesterlike per­kus­siespeler, Ronan Skillen, en Laurinda Hofmeyr op klavier optree. Die vertolkings en voorlesings sal deur o.a. Antoi­net­te Kellerman, Toast Coetzer, Vicky Davis en an­der gerekende digters en ak­teurs behartig word.

13 September | 18:30 | 60 min.

SLAAPTYD IN DIE SUBURBS

Met Roof Bezuidenhout (stem en kitaar), Brixton Barnard (stem en baskitaar), Kapelaan Pat Plank (lead kitaar) en Louis Graham (tromme)

“History stops where the suburbs begin,” skryf die digter Denis Hirson. Tien jaar na hul vorige album, Spergebied, is die Brixton Moord & Roof Orkes terug met Slaaptyd in die suburbs, ʼn album met twaalf nuwe snitte. In die tien jaar tussen-in het die groep hervorm, opgebreek en toe weer her­vorm, maar die lede was ook besig met ander pro­jekte, soos solo-albums, digbundels en skil­de­rye. Toast Coetzer het die Brixton Moord & Roof Orkes beskryf as “kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana” en Pieter Rede­ling­huys het op­ge­merk: “Afrikaanse rock het liriek­skry­wers soos hier­die nodig”. Mariana Malan skryf die groep se “aan­slag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het”, terwyl An­go­la Badprop sê hulle “is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê.” Roof Bezuidenhout self: “Ons is nou never-has-beens wat ʼn comeback moet maak.”

13 September | 20:00 | 80 min.

MEESTER AUCAMP

Met Daniel Hugo, Amanda Strydom en Janine Neethling

Hennie Aucamp het ’n blywende impak op die Afri­kaans­e letterkunde gemaak. In hierdie pro­gram bring ons hulde aan Meester Aucamp, wat nie net vir ons met van die beste Afrikaanse kortverhale en kabarette agterlaat nie, maar ook ’n skatkis vol verse. Daniel Hugo vertel meer oor Aucamp se digwerk, lees enkele verse voor, terwyl Amanda Strydom gesels oor sy invloed op haar loopbaan en van sy getoonsette werke sing.

14 September | 11:00 | 60 min.

 

STOKOUD EN SPLINTERNUUT

Met David Kramer en Schalk Joubert

David Kramer vier ’n leeftyd van liriekskryf en keer weer terug na intieme, akoestiese konserte – pre­sies hoe hy in die laat sewentigerjare begin het. David sing van sy splinternuwe liedjies waar­aan hy tans werk, maar die gehoor kan ook uit­sien na van sy stokou werke wat aan hom tereg die reputasie besorg het as een van die gewildste sangers en liriekskrywers in Suid-Afrika.  Kom be­leef die le­gen­de in die intieme atmosfeer van die Breytenbach Sentrum.

14 September | 14:00 | 70 min.

 

BOPLAAS SING KRO-TAAL

(Moontlik gemaak deur die Rupert Musiekstigting)

Met o.a. André Serfontein (tenoor), Bennie van Eeden (klavier), Geoffrey Armstrong (violis) asook Johann Nel, Sanet Taljaard en Alma Nel as stem­kuns­tenaars. Musiek deur Pieter de Villiers en Louis van Rensburg.

Die derde Tuin van Digters sluit af met hierdie klas­sieke musiekuitvoering waarin Boerneef besing word. Hierdie konsert is nie net ’n afsluiting van ons fees nie, maar ook ’n afskop van ons klassieke musiekreeks wat die Breytenbach Sentrum vanjaar vir die eerste keer in die asemrowende Goodnow-saal aanbied. Die volledige program vir dié reeks is op ons webwerf beskikbaar.

Goodnow-saal

14 September | 17:00 | 50 min.

 

EEN STOP

Alle vertonings, behalwe as dit andersins aangedui word, sal in die tent in die vierkant van die Brey­tenbach Sentrum aangebied word. Dit stel be­soe­kers in staat om te parkeer en alles rustig en gerief­lik op een plek te kan geniet.

Tydens die Tuin van Digters kan jy ook uitsien om die digters se bundels te koop, asook tweede­handse boeke, lekker verversings in ons t-winkel en in die Bôrdienghuis Teater te geniet, kosse en drankies te geniet, asook om geskenke en ander kreatiewe produkte te koop. 

 

WELLINGTON TOERISME

Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en ander inligting oor ons dorp en omgewing te bekom.

 

KAARTJIEPRYSE  

Naweekpakket: R250

(sluit alle aanbiedings in)

Toegang vir 13 September: R180

(sluit alle aanbiedings in vir 13 September)

Toegang vir 14 September: R120

(sluit alle aanbiedings in vir 14 September)

BESPREKINGS

Bespreek jou kaartjies per e-pos by Jeanne-Mari Gerber: besprekings@breytenbachsentrum.co.za

VERDERE NAVRAE

Breytenbach Sentrum, 14 Burgerstraat, Welling­ton.

Skakel ons by 021-8732786 of per e-pos na info@breytenbachsentrum.co.za

Volg ons op twitter, facebook en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2014.

VERBLYFBORG

Met dank aan Cummings Gastehuis. Kontak hulle gerus by 021 873 3474 of stuur ’n e-pos na mattievisser@wellington-accommodation.com en kom kuier die naweek saam met ons.

DONATEURS

ATKV, Die Dagbreek Trust, Distell Stigting, Drakenstein Munisipaliteit, Het Jan Marais Nationale Fonds, LW Hiemstra Trust, Naspers, NB-uitgewers, Rupert Musiekstigting.

 ***