Posts Tagged ‘Carina van der Walt’

Wicus Luwes. Ode aan ‘n Mossie

Sunday, November 15th, 2015

The sparrow hops
Along the verandah,
With wet feet.
– R. H. Blyth se vertaling van ‘n haiku deur Shiki.

Sparrow_Bird_by_bleu3t

Daar is vir my niks mooier as mossies wat in ‘n waterplas op ‘n sypaadjie bad nie. Dit maak nie saak of die waterplas vir die bad uit ‘n ou geroeste waterpyp of geut of miskien as oorblyfsel van ‘n reënbui kom nie. Dit is pragtig om te sien hoe die klein voëltjies die water van hul vere afskud. Die klein mossies wat deur die water hop en sku wegvlieg na die naaste tak of balkon as jy durf nader kom, is die eerste ding wat ek in die oggend wil sien.

Ek het ‘n paar jaar gelede in ‘n tuinwoonstel gebly waar die badkamervenster uitgekyk het oor ‘n paar mossies wat elke oggend kom kyk het of ek dalk ‘n paar krummels laat val het. Die mossies was ook dikwels redelik geniepsig. Hul het maklik kos uit die ander se bek gesteel en die oorlewing van die sterkste was duidelik die dryfveer vir die groep.

Natuurlik vind ek die majestieuse arend, valk of pragtige papegaai aantreklik, maar my hart lê maar by die mossie. Aan die een kant sê die beterweteriges dat teenpole mekaar aantrek en geleerdes reken weer dat jy resoneer met sekere karaktertrekke van die dinge waarvan jy hou. Anders gestel: jy pas in by dinge wat jou pas of miskien pas jy aan by dinge wat jou pas. Ek wonder daarom noodgedwonge watter eienskappe van die mossie ek in my onderbewussyn wegsteek. Dit is miskien mossies se eenvoud waarvan ek hou. Hulle is nie mooi voëltjies nie en nie bekend vir hul sang nie. Die meeste van hul trek nie regtig ver in die winter nie. Die bietjie wat ek nou al oor hul gelees het, suggureer dat die naam van mossie met ‘n wye vlerk oor ‘n menigte voëltjies sprei. Hul oorlewingsvermoë berus daarop dat hul in groepe beweeg. Hul bly naby mense of in areas waar landboubedrywighede plaasvind.

“Not a whit, we defy augury. There is special providence in
the fall of a sparrow. If it be now, ’tis not to come; if it be not to
come, it will be now; if it be not now, yet it will come—the
readiness is all. Since no man, of aught he leaves, knows what is’t
to leave betimes, let be.”
– uit Hamlet van William Shakespear

 

Daar is ‘n geliefde Franse sangeres met die bynaam ‘die klein mossie’. Dit is natuurlik die sangeres, Edith Piaf. Volgens legende is sy op die sypaadjie in Rue de Belleville 72  in 1915 gebore. Haar geboortesertifikaat gee haar geboorteplek aan as Hôpital Tenon. Haar moeder het haar verwerp en sy het vir ‘n kort rukkie by haar ouma aan moederskant tuis gegaan. Met haar vader se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog, het sy by haar ouma aan vaderskant gaan bly. Haar ouma het ‘n bordeel in Normandië bedryf en sy het in die bordeel grootgeword. Op veertienjarige ouderdom het sy saam met haar vader akrobatiese toertjies op straat gedoen om aan die lewe te bly. Kort daarna het sy en Simone “Mômone” Berteaut ‘n lewe begin maak deur op straat te sing en akrobatiese toertjies uit te voer.

Dit was in 1931 dat ‘n nagklub-eienaar, Louis Leplée, haar onder sy vlerk geneem en haar op die pad na bekendheid geplaas het. Hy het Piaf in die kenmerkende swart rok laat sing en haar die bynaam van ‘die klein mossie’ gegee. Leplée is egter vermoor en Piaf is as medepligtige ondersoek. Sy is ook na die Tweede Wêreldoorlog daarvan verdink dat sy met Nazi-Duitsland saamgespan het, maar foto’s van haar optredes in oorlogskampe en ander getuienis het tot haar voordeel getel. Die mossie se eiesoortige sjarme en stem het haar in die harte van Frankryk en die wêreld nes laat skrop.

 

Piaf
deur Carina van der Walt

die mossies van Parys
lewe ‘n sekondetik lank
van die krummels
van die baie mense
op die somerse terasse

padam padaam padam
kort is hulle lewe & vaal
padam padaam padam
min hulle waarde in swart
padam padaam padam

hulle hop-hop liggies
van tafels na stoele na
sypaadjies tussen voete
van al die baie mense
op die somerse terasse

padam padaam padam
lank was haar lewe & lyding
padam padaam padam
veel haar waarde in swart
padam padaam padam

die mossie van Parys
was so eenders & so anders
as die mossies van Parys

 

My geskiedenis-onderwyseres het vir my op skool die stelling “as Parys nies, het die hele Europa verkoue” geleer. Dit is nog moeilik om sin te maak uit die 13 November 2015 aanvalle op Parys. Tyd sal leer of die Europese verkoue in iets ergers gaan ontwikkel. Ek kan myself nie eers die emosies van die gesinne wat geliefdes in die aanvalle verloor het, indink nie. Terreur is ‘n oorlog sonder uniform en sonder grense. Die tyd wat voorlê vir Frankryk en Europa gaan ‘n bitter moeilike tyd wees.

Miskien sal Parys soos ‘n feniks uit die as verrys, maar as dit die voorbeeld van ‘n Edith Piaf sou volg, sal dit miskien eerder soos ‘n mossie uit die stof opstaan. Dit sal ongemerk bly voortbestaan en doen wat gedoen moet word om te oorleef. Terwyl die valke, arende en aasvoëls in die kollig is, sal die mossie se vaal gewaad hom dalk beskerm. Die klein diertjie vlieg nie weg in die wintermaande nie en weet hoe om in die koue tye te oorleef. Lank lewe die mossie! Lank lewe Frankryk!

 

Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.
– Matteus 10:29

Gedeelte uit His Eye Is On The Sparrow
– deur  Civilla D. Martin & Charles H. Gabriel

Whenever I am tempted; whenever clouds arise;
When songs give place to sighing; when hope within me dies;
I draw the closer to Him; from care He sets me free;
His eye is on the sparrow and I know He watches me.
His eye is on the sparrow and I know He watches me.

I sing because I’m happy;
I sing because I’m free;
His eye is on the sparrow
And I know He watches me…

 

Bronne:
1. Gilbert R, Poems of Consciousness, Red Moon Press, 2008
http://www.lyricsmode.com/lyrics/r/religious_music/his_eye_is_on_the_sparrow.html
2. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/Sparrow
3. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/%C3%89dith_Piaf
4. Internet. http://simplyhaiku.com/SHv6n4/features/Gilbert.html
5. Martin W & Van der Walt C, Amalgaam, Uitgeverij IJzer, Utrecht, 2015

Prente:
1. http://ericaelizawrites.blogspot.co.za/2015/02/things-with-wings.html

Carina van der Walt. Berig uit Gent

Saturday, December 6th, 2014

 

Op 3 Desember het Breyten Breytenbach ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Gent ontvang. Vir sommige versindaba-lesers was dit moontlik om die verrigtinge “live stream” te volg so goed of so sleg as wat die internetverbinding dit toegelaat het. Aansluitend daarop volg hier nou ’n leesverslag.

Die Aula Academica van die Universiteit van Gent, ontwerp in neo-klassieke styl deur Lodewijk Roelandt, adem ’n waardigheid wat jou stilmaak. Hiér word die eredoktoraat aan Breytenbach ’n bietjie later uitgereik. Ook die breë trappe op pad na die aula toe kan mens nie ánders as statig beskryf nie. Ek staan op die dik mat as ’n klein skakeltjie tussen hier en daar, tussen noord en suid, tussen die bekoorlike, terughoudende hoflikheid van hierdie mense en die hartverwarmende, oorrompelende spontaniteit van my eie mense.

Die verrigtinge van die aand begin plegtig met die binnekoms van die kongregasie: akademici in toga van die Universiteit van Gent, die Universiteit van Stellenbosch, die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) en die Universiteit van Amsterdam. ’n Verwelkomingswoord word uitgespreek deur prof. Anne de Paepe, eerste vroulike rektor van hierdie universiteit.

Prof. Yves T’Sjoen begin sy eerbetoon met die voorlesing van die Nederlandse vertaling van Breyten Breytenbach se gedig Dans, openingsgedig uit sy opstelbundel Berigte uit die Middelwêreld. T’Sjoen fokus op die slotstrofe:

 

als muren verbrokkelen

en de ongebreidelde kreet

zich in je ontvouwt

een weergalmende, schemerige bezwering

van dansende ruimten –

een stilte van wind

 

Iets artistieks en eksistensieels is hierin, sê T’Sjoen, want “muren verbrokkelen” en word uiteindelik “dansende ruimten”. Dit is slegs moontlik met “ongebreidelde” en eiesinnige taal. Eers dan val die mure van onverskilligheid. Woorde wat nie beredeneer kan word nie, maar wat sintuiglik en innerlik deurleef is, het die inspirerende krag van ‘n “weergalmende, … bezwering”. Die digter Breytenbach is nie net ’n reisiger in woord en daad nie – hy is ook ’n danser en ’n windvanger. Die sintuiglike woord vermag baie op voorwaarde dat die digter daarin glo en dat dit “doorleefd” is. (vorige strofe). En dan? Mure verbrokkel. Ruimtes dans spontaan.

T’Sjoen belig vervolgens Breytenbach se persoonlik geskiedenis en hoe die liefde daarin verweef is met die politiek. Dit is nie net Breytenbach se uitmuntende digtersloopbaan nie, maar ook sy politieke betrokkenheid in die styd teen apartheid, wat die Universiteit van Gent twintig jaar na demokrasie laat besluit het om die eredoktoraat aan hom toe te ken. Breytenbach volg hiermee in die voetspore van Desmond Tutu (2005) en Graça Machel (2008). Sy eensame opsluiting as politieke gevangene in Suid-Afrika speel volgens T’Sjoen in beide sy literêre werke en skilderye ’n rol. Breytenbach tematiseer buitestaanderskap en ’n swerwersbestaan. Hy is die vabond wat beklemming, dood en verval dig. Breytenbach self sê hy hanteer: “die oggendlig, beweging, sosiale kritiek, geheue, verbeelding, bewussyn en gewete”. Hy verset hom nog steeds teen konvensies en burgerlike middelmatigheid. T’Sjoen noem dit individuele ongebondenheid. Breytenbach leef en werk op die oomblik afwisselend in Europa, Suid-Afrika en Senegal – en skep vir homself ’n lewensnoodsaaklike middelwêreld.

Nadat hy sy eredoktoktorsgraad in ontvangs geneem het, wys Breytenbach dadelik op die veelvuldige ruimtes vir verstaan en misverstaan tussen Afrikaans en Nederlands. Samewerking hou ook soms misverstande in. Dis nie noodwendig sleg nie, sê hy. As kreoolse Afrikaner is hy gebore “in die suidoostewind, onkunde en vrees, onderdukking en genade”, maar hy het ook die voorreg gesmaak om onder andere Paul van Ostaijen, Herman de Coninck, Luc Gruwez, Wim Hofman en Adriaan van Dis te lees. Hy het ’n paar persentjies saamgebring om dankie te sê: twee klippe (miskien die vysel en stamper?); ’n eksemplaar van Oorblyfsel (in beperkte oplae uitgegee deur Uitgewery Hond) en die eerste twee eksemplare van Imagine Africa (essays en gedigte uit Afrika).

In sy dankwoord lees Breytenbach twee gedigte voor: Boland –  ’n eerbetoon aan sy mentor, Martinus Versfeld, en EvV Okt. 2002 – opgedra aan die Belgiese digter, Eddy van Vliet, wat toe oorlede is.

 

dit was die verstandhouding

ons het dit selfs tong in die kies

skriftelik bevestig destyds

in verse wedersyds

soos wolke en weerkaatsings

dat ons nie oor mekaar sou skryf

van anderkant die stomp meslem

van die dood

geen kattebelletjies sou los

in die donker laai

van ’n agtergelate lessenaar

 

[…]

 

en nou is die wolke

verfrommelde vlae en biljette en baniere

en nou dwarrel jou asse

’n skemer sneeu

deur bemindes in hoede en jasse

gestrooi indie digtersdorp

van jou koue Vlaandere

soos herfswoorde bloei in die doolhof

van verstrengelde verhoudings

tussen sterwendes en engele

 

en hiermee liewe verbrande vriend

moet ek jou veraai

moet ek die mes soos ’n maan

laat glinster in die môre

om die as op papier te omtower

      in stiltes se silwer handvriende

want ek hoor reeds die haan se derde kraai

skeur oor die rivier

 

Op pad terug na sy stoel toe, maak Breytenbach ’n klein buiginkie voor die grand madame van die Universeit van Gent en soen haar hand soos dit ’n “egte Franse heer” betaam. Betowerend! Grys goud. Laurens van Krevelen, oud-uitgewer van Meulenhoff, lees ’n drietal gedigte oor die liefde voor uit Oorblyfsel. Die slotwoord van Adriaans van Dis volg in die vorm van iets wat die naaste kan kom aan ’n tradisionele Afrikaanse pryslied: “Eredoktor! Jubeldoktor! Eksellensies! Breyten Breytenbach het my lewe verander en daarvan is u getuie!” En ek is die skrywende skakel tussen warm en koud.

Baie akademici uit Suid-Afrika en die Lae Lande het aan die kollokwium wat op hierdie aand se verrigtinge gevolg het, deelgeneem. Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Guido van den Berg, Inneke van Kessel, Eep Franken, Ena Jansen en Luc Renders het almal interessante lesings gehou. Meer daaroor is elders op internet te lees onder die titel Die taal se stiltes.

Met ’n weldeurdagte sleutellesing het prof. Louise Viljoen die kollokwium Vrydagoggend ingelei. Onder die titel Die ‘duister gedig’ in Breytenbach se drieluik “Die windvanger” (2007), “Die beginsel van stof” (2010) en “Katalekte” (2012) het sy probeer verduidelik hoekom Breytenbach se poësie as hermeties ervaar word. Volgens Viljoen is die idee van uitwissing nie net voortdurend aanwesig in bogenoemde drieluik nie, maar is dit ook ’n terugkerende topos in die Postmodernisme: stiltes, leegheid, witheid, dood. Tog kan Breytenbach se poësie ook modernisties gelees word, byvoorbeeld teen die gruweldade van die tweede wêreldoorlog en die uitwissing van die Europese Jode. Die verwantskap tussen die topos van uitwissing en die massamoord op die Jode is ook aanwesig in Paul Celan se poësie met woorde soos: niks, niemand, nêrens. En ook Edmond Jabès het die topos van uitwissing gebruik by die Jode se grusame lot in die vorm van ellips, asteriske, parenteses, verskraalde gedigte met baie wit en ander nie-alfabetiese tekens.

Hoewel akademica in murg en been het Viljoen op die laaste oomblik besluit om haar lesing byna op ’n digterlike wyse kort te hou. Skielik was dit wat sy wou oordra vir die gehoor toegankliker. Dit het haar as letterkundige gekomplimenteer. Sy het gedemonsteer dat “less is more” ook soms kan werk in die akademiese wêreld. Breytenbach se verlange dat die sélf uitgewis word, sy angste vir die naderende dood, vir die toekoms van sy taal en sy vaderland en sy kontinent Afrika het Viljoen beperk tot net twee elemente: a) die rol van kriptogramme en b) die rol van duisternis in sy gedigte. ’n Voorbeeld van ’n gedig as kriptogram haal sy aan uit Die windvanger. Sy spekuleer nederig in die teenwoordigheid van die digter oor sy taalverskieting in hierdie teks:

 

Koong Byten 1

 

ekis di koon fan padysel

boome en vlogte

boeboe toorm wond

wa vlagte floet

in vlegsels wole

 

Met ander woorde koong is miskien koning, Byten – Breyten, padyssel – Parys of paradys & sel, boome – bome en wole – wolke.  

Viljoen dink verder dat Breytenbach doelbewus duisternis geskep het in sy gedigte. Sy verbind dit aan sy persoonlike geskiedenis, naamlik die jare wat hy in die gevangenis mag geskryf het, maar ook geweet het alles word gekonfiskeer en gelees. Woorde wat op duisternis dui en op moeilike poësie soos dié van Breytenbach betrekking kan hê, is donker, verborge, onhelder, onduidelik, onheilspellend en verdag.

Uiteindelik was dit Breytenbach se beurt om in ’n lesing te reageer, maar ’n lesing was dit nie! Niemand kon dit ook van ’n digter verwag nie. Van die os op die jas… (Parys, Des. 2014) is eintlik ’n ontspanne gesprek tussen sy linkerhand in ’n gebalde vuis (OS) en sy oop, uitgestrekte regterhand (JAS). Met ’n vonkel in die oog bied Breytenbach aan:

OS: Om die grond gelyk te maak, die mond wat praat te identifiseer…

Jy sou hierdie causerie kan aanbied as ’n teisho, soos dit in Zentaal genoem word (dit is nie ’n taal nie) oftewel ’n direkte deling wat nie ’n mededeling is nie. Want om aan woorde en frases vas te klou met die bedoeling om begrip te kweek, so het meester Mumon al opgemerk, is soos om die maan met ’n stok te wil bykom of om die skoen te krap omdat die voet ’n jeukplek het.

JAS: Dames en here, u moet hom nie kwalik neem nie. Hy praat maar altyd so in raaisels en neem dan nog sy toevlug tot hoogdrawendheid ook. Die benadering pas hom soos ’n handskoen want nou kan hy mos van die een onderwerp na die ander dwaal terwyl hy maak asof die dorings hom nie pla nie. 

Hierdie causerie loop ’n hele klomp bladsye verder (tong in die kies) só af:

 

OS:

ek is ’n digter

moenie vir my lag nie

ek is ’n digter

moenie  van my verwag

om sin te maak uit syn nie

 

ek vang die woorde

in vlug en bewe

en pluk hulle vlerkies

om ’n kleed

van ligte trilling

te maak bewe

 

ek is ’n digter

ek gaan dikwels dood

in elke donker vertrek

van die vers

sonder om teken

of sonde te sing

te laat wapper

 

ek is ’n digter

julle het my nie geken nie

moenie vir my wag

vir môre nie

moenie vir my lag

oor gister nie

ek is ‘n digter

 

JAS: Voel jy nou minder beswaard? Het jy jou behoorlik ontboesem? Jy kry darem maar swaar met die lewe, né?

OS: Dit is so. Dit moet wees omdat die woorde of die flarde of die gedagtebewegings, die vlerkslae sou jy kon sê, my nie met rus wil laat nie. En wat die hart van vol is…

JAS: So nou… Ganôg is ganôg. Buitendien, jy het vir Luisteraar en Leser belowe om die kwispedoor nie te lank in beslag te neem nie, jou nie te buite te gaan en die mense te verveel en te vewar met jou onverstaanbare gekweel nie. Sê nou dankie vir die mense wat so geduldig was.

OS: Dankie, mense!

Daarna kry Breytenbach ’n dankie vir sy dankie by prof. Jacques van Keymeulen. Die opvallendste geskenk is iets wat Suid-Afrika, België en hierdie Sinterklaasaand van 5 Desember moet verbind: ’n sjokolade olifant! Arme Breytenbach. Hy gaan verseker naar word. Dis ’n eerste in sy lewe.

Ten slotte lees Charl-Pierre Naudé sewe van sy eie gedigte voor. Sommiges is vertaal deur Bernlef, Dorsman en Crebolder. Aan my linkerkant (die hart se kant) sit BB. Ek reik hom my regterhand en sê dankie, terwyl die straatbrakke tjank-tjank blaf en daardie alwetende klipoog stadig knipoog. Aan my regterkant (die rigting waarin ons almal aanhou skryf) kom sit Naudé. Ek reik hom my linkerhand en sê welkom. Hoekom? Hierdie klein man kyk wyds en verdig die wingerde in Duitsland se Moeselstreek wat styfgespan oor die rantjies loop soos Afrikaanse vlegseltjies op die koppe van jong vroue in Limpopo. Hierdie klein man kan groots skryf oor die kruie in sy ma se bebotie wat in klein neutedopboodjies op die Amsterdamse gragte onder deur ’n duisend brûe vervoer is. Op my skoot kruis my arms soos ‘n piepklein skakeltjie.

 

(c) Carina van der Walt / Desember 2014

 

 

  •