Charl-Pierre Naudé. N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie
Tuesday, August 25th, 2020
N.P. van Wyk Louw en die teodisee-idee in die Afrikaanse poësie
Ons bevind ons in die 50ste doodsjaar van N.P. Van Wyk Louw. Geen ander digter in Afrikaans is méér sinoniem nie met die idee van ’n wroeging oor God en sy relevansie vir die moderne mens as juis hierdie digter.
’n Onderafdeling van die Godsgeding in die digkuns, soos dit bekendstaan, is die teodisee-idee in die leterkunde (my beskrywing). Laasgenoemde kom in verskeie vorme voor oor die hele spektrum van digkuns, soms net as ’n flikkering binne ’n reël, soms as ’n strofe, soms as hele gedig.
Terloops, die feit dat “God” in “Godsgeding” of “geding met God”, met ’n hoofletter gespel word is al klaar ’n afsluiting tot deelversameling van die gesprek wat hier moontlik is …
Die impuls om te wil aansluit by hierdie genoemde refleks in die moderne letterkunde, in watter vorm ook al – om die noodsaak vir teodisee te bevraagteken óf om dit te bevestig –is by ons veral deur Louw gevestig.
Hier is ’n “teodisee-flikkering”, lukraak gehaal, en dit uit ’n gedig: “Dat pyn bestaan is onnodig, Heer/ ’n blom het nie tande nie.” Die digter is Breyten Breytenbach, uit Die ysterkoei moet sweet (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1964). En hy roep ’n kwatryn deur N.P. van Wyk Louw voor die gees, wat min of meer ’n teodisee-gedig is, “Ignatius Loyola bid vir sy orde” (Nuwe verse, 1954).
En so kan mens voortgaan met jou kartering van hierdie refleks in ons leterkunde.
Daar is teodisee-momente in die gedigte van Johan Myburg, Nini Bennett, Louis Esterhuizen, en die en daai en dalk bykans álle Afrikaanse digters se werk.
In Myburg, wat pas die Hertzog-prys vir poësie toegeken is, gewaar ek ’n effense renons aan teologiese dogma en iets soos ’n volstaning by die blote misterie van die gewaarwording. By Esterhuizen lees ek ’n negatiewe gevoel, maar sulke afwysings is myns insiens ook alternatiewe “teodisee”-momente. By Bennett sien ek ’n aangryp van die twyfel as positiewe bydrae tot geloof.
Hierdie digters en hoe ek daar te lese gaan is lukrake voorbeelde vir die onderwerp van hierdie skrywe. Hulle val, op dese oomblik, bloot uit my vuis.
Baie interessant is dat die defininisie van “teodisee” wat in die nuutste HAT 6 (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) aangegee word verskil van die definisie in die vroeër HAT. Dit was eers: “Leer van die Godskennis volgens die natuurlike rede”.
In die HAT 6 staan: “Verdediging van die goedheid/ almag van God, gesien in die lig van die bestaan van die bose.” Myns insiens is die nuutste inskrywing enger en meer teologies as omvattend woordkundig gestel. Die nuutste Pharos woordeboek lys beide hierdie betekenisse in baie mooi definisies.
Godsopvattings in die Westerse tradisie (om nie eens te praat van in ander tradisies nie) is van velerlei aard. Daar is byvoorbeeld die monoteïsme (Geloof aan een God), die politeïsme (oftewel geloof in die veelgodedom), en die afwesige, “God-niks” van die Boeddhisme, om maar net ’n paar te noem.
Interessant is hoe die politeïsme en die monoteïsme vir baie lank in die Westerse tradisie naas mekaar bestaan het, en dalk nog steeds naas mekaar bestaan. Die Griekse gode het nie met die Oud-Grieke verdwyn nie. Die groot Duitse skrywer Johann Wolfgang Goethe, byvoorbeeld, beskryf homself so laat as 1830 as ’n aanhanger van die politeïsme, en hierin was hy nie alleen nie!
As ek myself kan waag aan ’n beskrywing van wat ’n godsopvatting vir my is, sal ek sê: Dis die beliggaming, in terme van subjektiewe omskrywing, as metafoor, van invoelings oor onbeskryfbare kragte.
In hierdie gees wil ek afsluit met ’n teodisee-gedig van my eie (nog ene, ja …) – hieronder – wat uit my bundel Al die lieflike dade (Tafelberg, 2014) kom. Ek dink die gedig kan dien as kantlyn-illustrasie by bogenoemde bespreking.
Ten slotte, ’n staaltjie: Ek sal nooit een van my grootste ontnugterings as kind, wat grootgeword het met die dogma van die Protestantse God, vergeet nie. Ek het ’n onderhoud in ’n vrouetydskrif met die aktrise, Mia Farrow, gelees. Sy is gevra wat sy die graagste in haar lewe nog sou wou vind. Haar antwoord: “’’n God wat by my behoeftes pas.”
Maar is daar dat meer as een God, was my eerste gedagte. Daar is mos God, en dan is daar die res, wat almal afgode is, dan nie? En is God dan nie die een by wie jy jou behoeftes aanpas nie, eerder as andersom?
Tik my destyds om met ’n veer! Maar deesdae, vele jare later, kan ek ’n agting bymekaarskraap vir wat sy bedoel het. En geldig lyk dit wel.
Graag dra ek my huidige plasing aan Van Wyk Louw op. Daar is geen beter manier vir ’n digter om ’n seminale voorganger te eer nie as met sy of haar blote self nie.
’n Kraak in die pleister
– Middellande, van Natal sowel as elders
Om oor God te dink
moet mens dalk vergeet
van die groot waarheidskoepel
of die omvattende wand wat alles omsluit.
Beter om te soek
na die wink
van ’n klein-klein skeur
in ’n rotsformasie of diep in die brein,
waardeur lig van binne af ánders deurskyn.
Die ligte
wat sonderling en oombliklik verdwyn op water
of die senuhaartjie in ’n binneoor,
een van die tallose
wat net-net nog lewe in ’n lyk
bevat dalk ’n soort ewigheid
wat groter as die heelal
en ánders goddelik
en bestaansgewys verwikkeld is
as die aardbol,
want binne sy eie matesis.
Élke flitswêreld het sy grootse katedrale.
Elke dwarrelbries dra sy blare
soos die matte van ’n ou beskawing.
Die singende luik wat oopmaak op onbevatlike teses
is die pas verbleikte verledetydkeuse.
Om (byvoorbeeld) te kies
vir die wonder
om met minder omring te word:
Dis jou verjaardag, en jou geskenk is
ʼn ding minus, wat die somtotaal
van een meer is.
Jy kan nie wág vir die herfs nie
as die bloeisels uit die knop breek;
en jy sien daarna uit dat niemand kom kuier nie
sodat dae wat onvergeetlik was, onbelangrik kan bly.
Om nie vooruit te gaan nie,
uit liefde daarvoor!
Die deurtjie wat verbloem
word agter die nog ongeskilderde skildery,
maak oop op ’n trapstel
wat oploop na ’n praalkamer waarin minder
as niks is, jy moet dit net vind –
wat daar is
net vir jóú om die rame op die veelkleurige mis
van molekules
(gasruimteskepe)
oop te gooi teen ’n onverwagte skuinshoek,
sodat protone en elektrone kan inswerm en plons
en aanklots soos vlermuise, soos waansinnige pluimballe
opgeskud uit die ademend deinende, vlooibespikkelde
vangnet-met-sterre buite jou venster.
En dis maar een
van vele heelalle uit die einderlose na binne
en buite werwelende patrone
op God se mou; nee ’n baie klein mougod sélf,
wat aankom uit die wapperende klusters pouoë
van wandelende Paisley
en kolkende wolkestelsels
in die domein van die ongedinkte.
Ek onthou nie meer
hoe ek deur die kier geglip het nie,
deur ’n kraak in die pleister;
of ’n wêreld deur rook gesien het, waarin alles seismies swem
soos van voor ons dit tot vastigheid gedink het –
kriewelklein is die mens
en sy vertolkings
op ’n handpalmgrootte stukkie eindeloosheid;
op ’n weerkaatste ruitjie
skaats hy deur die ruimte.
Ek stap toe deur ’n woud spierwit berke,
versteen in ’n tydlose winter;
en die enigste monoliet
wat nie groter as die ander was nie
en daarom die grootste,
is Niegod genoem;
al vier seisoene was gelyktydig aanwesig:
kaalkeiserskille, elkeen, wat eenselwig
en voortdurend in die weifelende lig vervang is
maar uniform die dooie aarde bedek het,
terwyl die sjibbolet – volstrek die enigste
(dus wat nie lote maak nie)
wat ’n gees tot hierdie namaals kan toelaat –
Takbok! is.
’n Waas muggies dans in die somerskemer op ’n stoep,
’n kolletjiesproei
wat homself in figure hekel;
daar hang dit oor die rietjiestoel
soos ’n ou man wat opstaan,
en daar oor die koel plaveisel stap dit
soos ’n jong ma wat haar babatjie sus.
Dit warrel in die gestalte van Ovidius,
en vervloei tot ’n boom, ’n voëltjie,
of ’n godheid met ’n boodskap.
Die muur met sy ingemesselde rivierklip
loop lui langs die mirt, soos die kolle van ’n luiperd.
God, mens, ding:
wolke, elkeen met sy eie spoed.