Posts Tagged ‘Charl-Pierre Naudé gedig’

Charl-Pierre Naudé. Kontrapunt-taal

Monday, October 12th, 2020

 

AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig

 

Kontrapunt-taal

 

’n stad word verlig

in al sy lote en uitloopsels.

 

heldertes spat aan en af

in die uitgestrekte en geluidlose kantate

van ’n landkaart

 

as ligorrel.

 

’n deurstralende en deurskietende ruiker

van elektrifisering

skep ’n skou van bloeisels

in die geboue.

 

En ’n klawerbordspeler

se ligtende vingers

stoot bone

in die groter rankwerk

 

waar kontrapuntaal

 

elke herfs

wêreldwyd

die dood

skal

 

en laaste woorde

net voor die eerstes

weer sal val.

 

 

© Charl-Pierre Naudé, 2020

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Charl-Pierre Naudé verskyn wel.)

 

Charl-Pierre Naudé. Alter ego (Stemgreep)

Tuesday, September 8th, 2020

ALTER EGO

Die trappe na die solder kan my nou nog verruk.
Waar rakke raaisels uit kindsdae span en die smal,
helder luik aan die ver ent se guillotine soms val
dat vere uit die skemer sak, en die skrik

als ’n oomblik laat skarrel, het ek weer
gestaan: geboë. Ou deure waardeur niemand stap
en verroeste rame wat nie sluit of klap nie
het eenkant gelê, kettings, reistasse wat verweer

in die geheue. Van nêrens het ’n bries gepluk
deur ’n jeugboek. By ’n vuurhoutjie se flenterlig
staar ’n skadu-gesig, vol skynroet, armoedig

na my terug uit ’n óú spieël, halfvergete.
‘Die solder spook,’ het Ma gesê. Ek moes so terugkeer
na onder, ’n half-swarte, vanuit die gewete.

[Uit: Charl-Pierre Naudé. Die nomadiese oomblik. Kaapstad: Tafelberg, 1995]

 

 

[Opname: Poetry International, Rotterdam 2000]

N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

Friday, May 15th, 2020

 

 

 

 

Die probleem met Parys

“die Waarheid is ’n ént oud” (uit: “Meifees in Amsterdam”, N.P. van Wyk Louw)

 

Daar is nie meer ’n Parys in vandag se wêreld nie.

Vir Parys om te bestaan benodig jy ’n middelpunt.

En dís teenstrydig met vryheid van spraak.

 

Daar is geen Parys meer nie,

wel ’n parfuum genaamd Paris

’n snuifie sonder oorsprong wat halfpad ophou.

Soos die onberigte, gewiglose tragedie

van die rondvlieënde insekte;

of ʼn baie vae, ewigdurend glimlaggende geheuesiekte.

 

Daar is ook geen Berlyn nie.

Die vergelyking wat die proporsies vasgestel het,

is afgebreek.

 

Vort na Amerika, waar

dit E = mc² geword het.

Waar die drywende ² ʼn ballon aan ʼn toutjie

in ʼn sirkuskesie se greep is

voor ʼn see van kinders, wat giggel en lag.

En hoe droefgeestig lyk hy nie!

 

Gehoor wat sê al die Kavafisse?

“Vergaan jy op jou eie dorp, het jy orals vergaan.”

 

Meentdorpies, soos ʼn engeleskaar,

lui die nuwe wêreld in.

En almal heet Parys.

Met skemer val die ogies toe; as die wêreld skuins draai,

soos ʼn Barbie of ʼn winkelpop,

en dáár val die hovaardige plastiekogies weer oop

 

as hul staan raak op die kaggelrak.

Daar is vele klein dorpies genaamd Parys.

 

Nuwe bakterieë-Paryse;

die kolle-van-Dalmasiër-Paryse,

wat paarlustig aanteel.

 

Parys

in die mond van ʼn hakkelaar.

ʼn Karsinoom genaamd Parys.

 

Was jy nog nooit in Parys nie,

weet maar: jy wás.

 

Dis soos met Napoleon

se besettings, kom kyk!

Hoe marsjeer ʼn menigte Paryse

volmaak in pas

gelyktydig verby.

 

 

© Charl-Pierre Naudé, 2020

 

 

  •