Glas
Svendborg, 2017
Wat my opval
is die aanleunbousels van glas
teenaan die baksteenhuisies –
om ʼn blertsie winterson in op te vang
sonder die koue wat inbreuk maak van buite.
Verder kuslangs
staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water
en die effek van hul refleksies is soos “glas op glas”.
Op die dag van my aankoms
het ek langs die seesoom gaan staan
om in die wye stil vlak te staar
nét toe die laatlig skuins tref
só dat die buurt volmaak
daar in die oomblik
sowel as in die ewigheid
vasgelê word:
soos die gesinsfoto wat nimmer verweer
omdat dit op die maan
deur ʼn ruimteman vergeet is.
(Praat liefs nie oor ʼn vlag
wat nie kan wapper nie.)
En, toe. Rampspoed!
Die veerboot vaar verby.
Klaarpraat, korte mette.
Die universele oomblik
implodeer net daar.
Noem dit maar: ʼn opskroef (van gewone wette).
Bousels verwring, mure rek soos kougom en val om
en vervaard kom al wat straat is op my af gehardloop.
So goed as ʼn tsunami! Net so sleg.
Boonop is týd die medium, nie bloot water nie;
die soort prentjie wat ʼn Van Gogh sou geskilder het.
Nou kyk, om te vertoef in die huis waarin Brecht
gewoon toe hy van die Nazis gevlug het,
en dan ingesuig te word – deur wat – ʼn terugtrekkende
tydgolf? Dis nie ʼn ligte rimpeling nie.
Bertolt kyk nou op na die verlede, nie die toekoms nie.
En Amerika gaan hom nie red nie, nie eens
vir ʼn gwano-sekonde nie.
Amerika gaan hom verraai, soos wat dit óns verraai.
Die deining groei, krul om
en donder met ʼn soliede massa neer.
Daar word gesê dat weens die vogtige lug
sommige skeeftrekkende wonings
hier soos ʼn moerstadig wapperende Deense vlag lyk –
sélle blokpatroon:
tipies van weerspieëlings; ʼn kwessie van omkering.
Dus hardloop ons vir ons lewe. Agteruit,
dieselfde huis in
wat ek in die water gesien het.
Waar die wynbottels volloop, nie leeg nie,
en die muurhorlosie, getroue meul-eseltjie, teenkloksgewys arbei.
En in ál die beddens slaap die blou lug.
In die leeskamer staan en wieg
ʼn man heen en weer in ʼn gety.
Hy’t ʼn toom uit die rak getrek oor “ewige wederkeer”.
Onbekend is hy soos môre heeldag
(tipies van die arme Nietszche),
en hy lees nou oor sy voorganger, die vername Naudé.
(Wat in die boek, dis algemeen bekend, ʼn klap
van ʼn vis se stert kry.)
Die kamerdeure word in die woud gekap.
En die dekriet groei wild op die grasvlakte.
Al die deursigtige huisornamente
moet nog gegiet word.
Ek sien dit, so duidelik soos gesmelte glas,
golf ná golf ná golf:
Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.
Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word
selfs al is dit so mooi.
*Die “blokpatroon”: 19de eeuse boumetode: Fachwerk (Duits), Bindingsværk (Deens), waarin houtbalke die struktuur verskaf wat deur klei- of baksteen gevul word.
©Charl-Pierre Naudé / 2017