Posts Tagged ‘Charl-Pierre Naudé’

Charl-Pierre Naudé. Alter ego (Stemgreep)

Tuesday, September 8th, 2020

ALTER EGO

Die trappe na die solder kan my nou nog verruk.
Waar rakke raaisels uit kindsdae span en die smal,
helder luik aan die ver ent se guillotine soms val
dat vere uit die skemer sak, en die skrik

als ’n oomblik laat skarrel, het ek weer
gestaan: geboë. Ou deure waardeur niemand stap
en verroeste rame wat nie sluit of klap nie
het eenkant gelê, kettings, reistasse wat verweer

in die geheue. Van nêrens het ’n bries gepluk
deur ’n jeugboek. By ’n vuurhoutjie se flenterlig
staar ’n skadu-gesig, vol skynroet, armoedig

na my terug uit ’n óú spieël, halfvergete.
‘Die solder spook,’ het Ma gesê. Ek moes so terugkeer
na onder, ’n half-swarte, vanuit die gewete.

[Uit: Charl-Pierre Naudé. Die nomadiese oomblik. Kaapstad: Tafelberg, 1995]

 

 

[Opname: Poetry International, Rotterdam 2000]

Charl-Pierre Naudé. Die plek van die tragiese

Monday, July 27th, 2020

Volgens die filosoof Hans Blumenberg (1920–96)  het Johann Wolgang von Goethe, net bekend as Goethe (1749–1832), die groot Duitse skrywer, dit kort voor sy dood in 1832 betreur dat die denkkategorie van “politieke lot” die plek van die antieke Griekse denkkategorie van “die tragiese” ingeneem het.

Volgens Blumenberg het die ontkenning van die tragiese as kategorie van die denke die heerskappy van twee nuwe kategorieë in die hand gewerk: die delusie van  politieke vryheid en die noodlottigheid van menslike skuld.

Volgens hom speel Napoleon en Augustinus die belangrikste rolle in die “herinvulling”van die antieke kategorie van “die tragiese”. In ’n term van die eietyd sou mens bykans kon sê die katagorie van die “tragiese” was gekaap.

Napoleon se veel aangehaalde oproep aan die mensdom was: Politiek is jou lotsbestemming, mens!” Hy het dit in die gees van die Franse revolusie bedoel van “Maak jouself vry!” Ons weet egter wat Napoleon in effek gedoen het: Veel meer onvryheid as vryheid. Hy het die kategorie van die tragiese – waarmee Blumenberg verwys na die kragte waaroor die mens geen beheer het of selfs kan hê nie – vervang met die kategorie van “die politieke lot”, en self die slagoffer van die tragiese geword.

Napoleon dien as ’n voorbeeld van die mens se strewe om die onbeheerbare, wat dikwels onderwerping van die mens beteken, te onderwerp. Maar toe faal hy. Sy tragedie het later ook die tragedie van die Marxisme-Leninisme geword …

Die krag van die tragiese moet nie onderskat word nie. Veral nie wanneer die geskiedenis vertolk word nie.

Sedert die Christelike teoloog Augustinus die kategorie van die mens se vryheid van denke en keuse ingevoer het, volg “menslike skuld” onvermydelik as die verklaring vir alles wat verkeerd loop. Die tragiese – die geskiedenis as onbeheerbare meester wat menslike vryheid inperk en selfs uitwis – word insgelyks hierdeur na die kantlyn uitgeskuif.

Maar dit beteken nié die tragiese het opgehou gebeur nie. Dit, volgens Blumenberg, en ook volgens Goethe.

Die bevrydingsdenke van die 20ste eeu, met inbegrip die stryd teen kolonialisme en die verdrukkings oraloor, reëel sowel as gewaan, is juis gebou op dié twee “nuwe” kategorieë: politiek as lotsbestemming en menslike skuld.

As iets verkeerd loop, soos in lelik verkeerd, is iemand of iets by verstek skuldig. Want die mens is sedert Augustinus kwansuis vry om die regte besluit te kon geneem het.

Skuld is weliswaar nie ontersaaklik slegs omdat die tragiese ontken word nie.  Neem apartheid as voorbeeld. Was daar skuldiges? Wel, ja. Van hulle het in die tronk beland. Maar die meeste agente sowel as deelnemers is veel meer tragies as skuldig, as mens kyk na die kragte van daardie tye.

Dieselfde geld óók endemiese korrupsie en die vergrype die ANC. Want, glo dit of nie, die tragiese is hier ook weldeeglik aan die werk …  (Die mate waarin die tragiese in hierdie toedrag van sake ’n rol speel, is oop vir ontleding en is ’n onderwerp op sy eie. Ek praat nie van staatskaping nie, wat ’n onverdunde misdaad is.)

Skuld, aandadigheid, tragedie. In trappe van belangrikheid. Maar die grootste hiervan is die tragedie.

Het jy vandag al die gode gedenk? Ek weet, oom Wyk, ek weet: sonder ’n glasie wyn is dit moeilik …

Op ’n ligter maar steeds tersaaklike noot deel ek graag ’n gedig hieronder deur Miroslav Holub, uit Tsjeggies vertaal in Engels.

 

Napoleon

 

Children, when was

Napoleon Bonaparte born,

asks teacher.

 

A thousand years ago, the children say.

A hundred years ago, the children say.

Last year, the children say.

No one knows.

 

Children, what did

Napoleon Bonaparte do,

asks teacher.

 

Won a war, the children say.

Lost a war, the children say.

No one knows.

 

Our butcher had a dog

called Napoleon,

says Frantisek.

The butcher used to beat him and the dog died

of hunger

a year ago.

 

And all the children are now sorry

for Napoleon.

 

(Miroslav Holub)

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

Tuesday, July 14th, 2020

N.P. van Wyk Louw as sekondêre invloed

 

Een van die groot temas in N.P. van Wyk Louw se digkuns is die geding-met-God.

Binne die Duitse letterkundewêreld strek hierdie tema terug tot by die werk van die groot digter Friedrich Hölderlin (20 Maart 1770 – 7 Junie 1843), en veral met betrekking tot gesprekke wat hy met sy groot vriend, die filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel (27 Augustus 1770 – 14 November 1831) gehad het. Dis by hierdie tradisie waar Van Wyk Louw aansluit en wat hy oproep met sy grootse tema, wat in die bundel Tristia sy hoogtepunt vind.

Die Pools-talige digter Czesław Miłosz het binne die Slawiese tradisie ook met dié tema omgegaan, maar met heel ander klemplasings.  Lees sy gedig in Engels, vermoedelik deur homself vertaal, getitel “Theodicy”. Dis onder meer op die webblad Poem Hunter na te speur.

In my digbundel Al die lieflike dade (2014) verskyn ’n gedig wat met Miłosz in gesprek tree oor sy teodisee (sy Godsopvatting). Ek wil my verstout om dit in hierdie Van Wyk Louw-huldigingsreeks te deel, as dit nie te grasieloos van my sal wees om my gedig in die geselskap van hierdie here se werk te plaas nie.

Wat hier allereers van belang is, is Van Wyk Louw se tema as sekondêre, en nie primêre invloed nie. Die sekondêre invloede wat van ’n voorganger ondergaan word, is baie interessant, want dis spore wat dikwels liggies uitgevee vertoon. ʼn Mens moet harder daarna gaan soek. Ek dink die Van Wyk Louw-invloed is selfs in my eie gedig se toonaard af te lees? Ek weet nie, nie verseker nie; ek bespiegel ook maar, selfs oor my eie gedig. Die digkuns is ’n “absent-minded” proses, soos Ludwig Feuerbach (28 Julie 1804 – 13 September 1872) dit gestel het.

Toevallig het laasgenoemde dít in die konteks van sy eie toeligting oor God kwytgeraak. God, sê Feuerbach, skep die Skepping “agter sy eie rug”, terwyl hy soort van “self daarvan vergeet het”. Net soos digters gedigte skryf, meen hy. Feuerbach praat van die “digter-God” as die “absent-minded creator”.

T.T. Cloete het van iets soortgelyks gepraat. Het hy die bestempeling by Feuerbach gekry? Of stem hulle s’n toevallig ooreen? Is dit konsepte wat hoegenaamd oorvleuel? Invloede? Tradisie? Geheue?

Alles lieflike vraagstukke.

Het die digters en hul nasate die tema “die geding met God”, soos dit in Afrikaans bekendstaan, geskep? Natuurlik nie! Dis oud, so oud soos die berge, en daar bestaan ’n hele denkveld daarrondom: die teologie.

Wat Hölderlin, Miłosz en Van Wyk Louw se verestetiseerde verwoordings daarvan egter belangwekkend maak, is dat dit die tema onder die inwerkende invloedkragte van die moderne denke toon, onder meer van die spanninge teweeggebring deur moderne teorieë op die terreine van die wetenskap en die logiese denke.

Hier onder volg my eie gedig, geskryf in die vorm van ’n besinning, soos die gedig van Miłosz waarna dit verwys. Dis ’n vorm waarin sommige van Van Wyk Louw se gedigte ook gegiet is, hoewel ons hier praat van verskillende digters en dus verskillende style. Dié “besinnende” soort gedig kan onderskei word van gedigte wat mistieke en geloofservarings beskryf, soos te vinde is in byvoorbeeld die werk van Sheila Cussons.

 

God se klippe

Miłosz –

Pools maar nié ʼn Pool nie,

en digter van veral die teenstrydigheid –

 

pleit in sy oeuvre

dat God wel bestaan.

Maar dit doen hy nie sonder voorbehoud nie.

In der waarheid glo hy

in die Lewegéwende Afwesigheid.

 

Met die vermeende algoedheid van God

skort iets beduidends

– reken óók Czesław oor die teodisee –

want hoe versoen jy dié eienskap

met sy almag?

Die gestewelde en bonkige natuurteisterings

wat laggend verbygestap kom

en die beskawings soos nessies

met stokke uit die bome slaan …

’n God van liefde?

Die formule hou nie steek nie.

Miłosz sluit só sy rede, min of meer:

“Wee, o wee, my dierbare teoloë,

jul lieflike betoë haal nie die paal nie.”

 

Uit hierdie kuip

van die gees kon hy, en ander vraagstellers

voor hom (reeds skroot

en skelet onder die stekelrige kruipplant),

om die dood nie weer wegtrek nie.

 

En helaas is die antwoord onbevatlik.

Weens die kwessie van skaal (miskien):

die teer, nadenkende opslaggruis

van sterreweë en die planete

se sagte minneveeg

soos ’n veer teen die wang.

 

Indien komete,

die verbyflitsende onderdeeltjies,

 

kon stilstaan,

soos die oomblik in ’n foto

wat in die donkerkamer

uit ’n bak gelig en ontwikkel word –

 

of,

die tyd sy geweefde sardienloop

ten dele in die kil vierkant

van ’n opgehysde hok uit die see

laat opvang

 

terwyl dit van salpeter drup,

 

en één van die gevlerkte tintvissies

uit sy onderwatervlegwerk

in ʼn hand val en daarin verdof

soos ’n kleindood,

 

sou die mens dalk God aan ’n stertjie beetkry.

 

Ek meen dus die probleemstelling van Miłosz

het te doen met die aanvanklike skepping –

wat nooit nét aanvang was nie, maar steeds duur.

Te doen met dié verkeerde onderskeid:

tussen aarde-en-see en die mens.

Daar wás nooit ’n onderskeid nie –

tussen lewe en nielewe,

tussen chaos en ordening nie.

Ons is steeds by die eerste dag.

Daar ís net een dag.

 

Derhalwe: te make met die mens

se wolmussie, tyd.

Ons seemsleerpantoffeltjies –

tyd, ja,

geknip deur onsself

uit die slaggoed van iets stromend onbegrypbaars.

 

God het sy klippe lief,

o, lief het Hy hulle wel.

Eweneens sy atome,

poreuse wesentjies, liewe saamkoestertjies

oomblikliker as die oomblik

en tog nié,

wat mekaar so innig en gevaarlik omhels.

Myle ver soms sidder die lug.

 

Kyk hoe wag Hy

vir al die klipgevreetjies om wakker te word,

die vader wat Hy is.

Duisend maal duisend jaar lank.

Terwyl óns, die klipskimmel,

selfbekommerend verbleik.

 

As ons wyer as die tyd

se dwangbuis kyk –

daar róndom

en van buite,

nie vanuit nie –

 

sien ons Een wat soos ’n standbeeld

in beweging kom:

’n vinger wat lig;

dan ’n kuit wat strek.

 

Hy klim van sy voetstuk af

en hurk

langs ’n poeletjie wat weerkaats van koperbeslag.

 

Hy steek van bo uit die lug

sy vinger deur die beslaande museumdak

en roer die bewaring daar,

tot beierende kringelinge.

 

Dit is tyd dat die poppe wakkerskrik,

dat die hare rys

onder daardie dakglas:

die mondrooi anemone, die watergras …

 

Wie sou kon dink ’n boodskap

kom met soveel geklater deur ’n hemelkap?

Miskien was alles tot dusver te stil?

 

Naderhand glimlag Hy vir alles wat so Hy

blyk te wees, of nie van Hom nie,

en loop slaan Hy sy houding weer in op die voetstuk:

Daar is iets aan staande water

wat onnodig liefdeloos lyk.

 

Charl-Pierre Naudé. ’n Literêre anekdote

Monday, June 22nd, 2020

Ek het vanoggend ’n bevlieging gekry om op soek te gaan na ’n sekere ongepubliseerde sonnet van my. Daar is verskeies. Die sonnet het gehandel oor die visioene van die Sweedse mistikus Emmaneul Swedenborg (1688–1772). Hy was een van die fassinerendste denkers en dromers, en via die Duitse geestesgeskiedenisfilosoof Hans Blumenberg, wat ek tans lees, het sy naam weer by my opgedoem.

Ek het jare gelede ’n sonnet oor Swedenborg geskryf. Een van sy visioene kom daarin voor. Ek het ook sy Heaven and Hell besit. Dit het weggeraak. As iemand weet waar ek ’n nuwe kopie kan kry, laat weet my gerus. In elk geval, ek kan geen elektroniese kopie van die sonnet opspoor nie, ek hoop dit bestaan nog in my trommels. Maar toe kom ek af af op ’n ander ongepubliseerde gedig.

Die digter en kritikus Petra Muller het my gehelp om my debuut, wat sonnette bevat, Die nomadiese oomblik, saam te stel. Ons kom toe af op my gedig oor Anna Ahkmatova. My weergawe is geskoei op die navorsing van D.M. Thomas, wat ook The White Hotel  geskryf het.

Dis die sonnet wat ek vandag met julle gaan deel. Geskryf iewers tussen 1992 en 1994. Petra het die gedig aandagtig deurgelees, en toe met ’n kommerwekkende frons na my opgekyk. Ek het solank koffie gedrink, sy was besig om haar tyd te neem.

“Wie is jou bron, hier?” Ek was onkant gevang, maar het niks weggesteek nie. “D.M. Thomas, Petra.” Daar het ’n gedrae stilte gevog.

“My kind, jy moet niks sommer glo wat daai man skryf nie. Belowe my dit.” Sy was witter as the white hotel.

Toe ek vra hoekom. Toe laat weet sy iets van Thomas wat geen snars weet hoe lyk die winterweer in St. Petersburg nie. En hy is so bietjie van ’n byskrywer, wat sy eie navorsing betref, het sy laat weet.

Sy het die sonnet eenkant toe geskuif. Ek het iets in haar verdere woorde gehoor. Iets van, maar ek onthou onder korreksie, of parafraseer dit vir myself nou onder korreksie: “Daar is nie iets verkeerd met ’n liefdesgedig skryf nie, selfs nie oor die dooies nie, maar mens moet dit nie as geskiedenis opdis nie.”

Jare later het ek ander weergawes van Akhmatova se beeld gevind, in ander boeke. Isiah Berlin in sy biografie word deur Michael Ignatieff voorgestel as ook synde bietjie verlief op Anna gewees. Soos die helfte van Rusland, glo. En hy had meer as net ’n grinterige foto om mee te werk, soos ek in my geval.

Die verdere waarheid is dat Akhmatova ook op die skamerige Berlin verlief was, tydens laasgenoemde se navorsingsbesoek aan Rusland, waartydens hy ook Boris Pasternak ontmoet het.

Akhmatova en Berlin het slegs twee keer ontmoet, in groot wedersydse agting, maar die gevoel van ingeperktheid en van interne vlugtelingskap in Rusland was al so sterk gewees dat hulle in die geheim laat in die nag in haar woonstel vergader het. Dit was net die twee van hulle, en die laaste kuiertjie was van vroegaand tot vroegoggend. Berlin moes daarna Rusland inderhaas verlaat. Dit was haastige tye. Akhmatova het vir hom gewag om terug te keer. Vergeefs, glo.

Ek plaas my weggelate gedig hieronder. Dis warts and all. Ek dink sulke apokriewe gedigte – wat nooit die papier van publikasie geruik het nie – het ’n waarde. Ek sal ‘n skakel op my FB-blad ook plaas.

Die titel is bietjie vreeslik. Maar van die res van die sonnet hou ek steeds. Natuurlik sou dit by redigering kon gebaat het. En ek verskil steeds van Petra hieroor: Die liefde, alle liefde, is tog maar net apokriewe geskiedenis? Maak nie saak hoe amptelik dit naderhand word nie, kruip dit nie altyd maar weg in sy eie skaduwee nie?

Haar laaste woorde oor die saak was: “Bly maar weg van D.M. Thomas.” Wonder of sy steeds so voel. Wat ’n boeiende geselsgenoot en begeleier was sy nie. Ek dink sy sou bly wees om te weet dat ek Thomas so bietjie uitgebalanseer het met Ignatieff en een of twee ander.

 

Die geregtigheid van Anna Akhmatova

Die tye, soos haar stad, was skigtig, en donker.

Sy was een van Petersburg se vele skoonhede,

sedeloos, maar ook draer van die Kruis, en gebede.

Son oor die stad: ‘n kers in ‘n katakombe.

Sy’t voor gelees uit die Silwer Tyd se woordskatte

in ‘n floulig-kelderklub: ‘Die Rondloperkatte’.

Daarna sou die rewolusie alles vernietig.

Haar gevoel vir die lyding van ander was volstrek.

Nie net sy nie, ook ander, het geglo sy’t ‘n heks

se vloekmag oor bemindes, van wie sy liefs moet vlug.

Haar man het haar verneuk. Lank sou sy daarmee worstel,

dat die Bolsjewiste hom daarna geskiet het.

Sy was ‘n heks van God, en bang vir haar eie bed.

Maar nou, is gans ‘n volk se hande op haar borste…

.

Charl-Pierre Naudé. Wat het geword van Ursula?

Thursday, June 18th, 2020

 

Ek is deur die redakteur van Versindaba, prof. Marlies Taljard, genader om bydraes te maak rondom die kwessies rakende digkuns. Met graagte.

Omdat digkuns op sy beste wydlopend in sy imlikasies is, moet mens versigtig wees om nie “oor enige iets” te skryf nie. My stukke gaan gestroop en vereenvoudig wees met die klem op ontledingsplesiertjies. Oor letterkunde, of iets aansnydends.

Ek wil nou ietsie sê oor wat skuilgaan in die mees opvallende stryd wat woed in Suid-Afrika. In vele opsigte is dit ’n vertraagde Koue-Oorlog (dit weet ons).

Kant 1 se saak: Ons moet die stelsel grondiglik verander sodat dit deur almal, ook die mins bevoorregtes, besit word. Kant 2 se saak: Die sosialisme en kommunisme ontneem mense die reg tot besit en sodoende hul begeerte om mee te ding. Dan val die samelewing uitmekaar.

Wat word verswyg deur die kante?

Kant 1: Die sosialistiese idee van gemeenskaplike besit word in Afrika nie onderskei van die oorgeërfte realiteit van feodale besit nie: onverkosenes wat namens die verdruktes die besitplesier beoefen. So was dit in Rusland en China ook. Al drie scenarios was losweg feodale samelewings, en niks is meer vanselfsprekend oorskinkbaar van die potjie na die pannetjie, as feodalisme na sosialisme nie.

Wat HET geword van Ursula?

Kant 2:

As mense iets besit sal hulle dit beskerm en daarvoor opstaan. MAAR dan moet mens byvoeg … Almal moet allereers die waarde van besit besit. Om die waarde van besit te besit moet jy jou eie begeerte vir besit besit. Jou begeerte moenie aan jou baas of jou verteenwoordiger behoort nie, maar aan jou. Werker, baas en verteenwordiger is medebesitters van die waarde van besit. Dit verander ’n hele rooster, ’n hele erfenis van hoe ons met mekaar gehandel het, na iets anders. Die aard van Die Opdrag, in sy ou vorm, verdwyn. Dit word meer ’n saak van onderhandeling. (En ja, ek sien baie duidelik die probleme wat dit op sy beurt kan skep, veral met mense wat nog nie die waarde van medebesit geïnternaliseer het nie, maar dis onvermydelik.)

Die histories verontregtes in Suid-Afrika op grondvlak – ek praat van die mense wat in ons midderlklas-huise werk en die werker op grondvlak, byvoorbeeld (nie Cosatu se leiers nie) – is steeds nie genoegsaam besitters van hul eie begeertes nie. Dit is iets wat verswyg word. Hul lewensbegeerte word nie genoegsaam deur hulself besit nie. En dis ’n vreeslike, mensonterende situasie wat die orde van geregtigheid – daarmee bedoel ek nié die regering nie – in sy guns moet probeer swaai.

Ek hoor duidelik die “argument” dat nie alle mense noemenswaardige lewensbegeertes het nie. Sjoe. Ek reken hulle het dit minstens in embrioniese vorm.

Dus, as mens mooi gaan kyk wat ágter hierdie twee kante se onderskeidelike sake skuil, sien jy min of meer ’n ontekenning van dieselfde waarde, maar net in twee verskillende gedaantes!

Die ding wat ons saambind … nè?

 

 

Breyten Breytenbach. Vir Versindaba

Saturday, May 16th, 2020

 

Daar is so baie mense – te veel – wie mens nooit sal leer ken om ‘n mondjievol woorde mee te wissel nie ; daar is so baie digters, ook oor die eeue heen, met wie jy in gedagtes sou wou tree om te ja-maar of ‘n beaming te mompel by die lees van hulle tekssterf, maar hierdie deurgang wat ons ‘lewe’ noem is weinig meer as kortpad-vat en jy kom nie by al die stanings uit nie. Dit word seker ook gerig deur wat jy op ‘n gegewe moment raaksien. Dan is dit nie aan te beveel om vanuit Parys ‘n venster oop te maak op wat ver hiervandaan gebeur nie…

 

My eerste twee aan(d)tekenings as verstekelinge is vir Charl-Pierre Naudé, miskien met die gedagte dat daar tog ‘n Parys in die Vrystaat is (tot vryheid in staat ?), te ver om te loop en te na om te ry ; my derde gesang is vir Gisela Ullyatt. Niemand kan haar na-praat nie.

 

 

die keiser se skaduwee in die hemel

 

Napoléon – op al sy swerftogte

na die ontwykende droom van mag

deur bevryding, oor slagvelde

met ‘n nagwaak se melkweg van lyke bestrooi

in paleise waar in elke kooi ‘n nooi

naak getooi en mooi soos melk wag –

 

het nag vir nag

buite geslaap

hoed op die kop

gestewel en gespoor

slegs in sy groot jas toegerol

 

om oë oop of toe

na Jupiter te staar

asof hy al sedert die begin

dood is

 

*

 

 

sous-entendu : stilskryf

(vir lees tussen die snoere)

 

hoe omvattend daardie woord

soos die keiser se jas

wanneer hy punt in die wind

die melkweg in ‘n idioteboot bevaar

na die eiland van vergaan

 

gryp !

 

die greep vang niks vas

behalwe afwesigheid in die jas

as omwoorde begrip van die nieweesniewers

van nikswordnêrens

 

ook wanneer die melkemmer se geklingel

dood se ryp-word kristal-lig in die skrywe beskrywe

 

dit wil sê

dis nie te sê nie

maar wel te hoor

wanneer ‘n kiel die nat

in die water naat

en smoor

 

om naamlik net wat nié geuiter

of begryp is na te laat

in die keel :

 

dat die uur van die koei

reeds ryp (soos) as is

 

 

*

 

 

aardsengel

 

mens is altyd self

jou eie demoon

om te verskoon

totdat jy opeens onthou

jy is ook jou eie

inwonende verwonde engel

waaraan jy jou moet wend

en na meriete

van verdriet en vreugde

mag behou

of oor kan rou

al is dit ook slegs

met die stil

rietbeweging

se vlerkdans woorde

 

want dit is

soos dit sal wees na behoorte

wanneer al wat voël is

ophou sing in die boord

 

en julle drie

die laaste passies meet –

te wete : engeldemoon,

mens-is-altyd-self,

en skrywe –

 

© Breyten Breytenbach, 2020

 

 

Resensie: Rooiborsduif. Gedigte oor die Liefde. (Breyten Breytenbach. Samesteller: Charl-Pierre Naudé)

Thursday, November 14th, 2019

 

Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde. 2019. Saamgestel deur Charl-Pierre Naudé. Human & Rousseau. 192 pp. ISBN: 978-0-7981-7876-1.

Resensent: Amanda Marais

In Breyten Breytenbach se tagtigste lewensjaar verskyn die versamelbundel Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde, waarin die liefdesgedigte van hierdie ikoon in die Afrikaanse letterkunde opgeneem word. Lesers wat Breytenbach se werk ken, sal hierdie bundel dus ervaar as ’n heerlike samekoms van soveel bekende en geliefde gedigte – waarvan “soos van vlerke” (p.94) uit Lotus (1970) (en natuurlik die inspirasie vir die bundeltitel) maar een is.

Dat dit nie ’n eenvoudige taak kon wees om as samesteller van hierdie bundel op te tree nie, is voor die hand liggend.  Hoe kies ’n mens uit die rykheid van Breytenbach se omvangryke oeuvre, sonder om die leser te vermoei met ’n té omvangryke publikasie, maar sonder om die digter se lang en verwikkelde digtersloopbaan te reduseer of te verskraal?

Charl-Pierre Naudé, die samesteller, vertel in die flapteks dat hy die gedigte chronologies gerangskik het volgens die digter se lewensloop, en prakties vind dit gestalte in ses afdelings: “Die hongerblou gety”, “Wyn in die bloeisels”, “Hart uit die doek”, “Die koue van dousterre”, “Donker beminde” en “Onbegonne tuiskoms”.  Dit slaag dan ook as ordeningsbeginsel, en neem die leser op die reis deur die seisoene van die digter se lewe en liefdesbelewenis.

Naudé maak egter die belangrike opmerking dat hierdie bundel (wat opgedra is “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”) nie bloot liefdesgedigte aan ’n persoonlike beminde is nie – dit is in werklikheid Breytenbach se “openbare liefdesverklaring aan die mensdom wat geteken staan as ‘n vrou”. Hierdie aspek kom duideliker in die latere afdelings na vore.

“Die hongerblou gety” bevat gedigte uit die digter se jeug, soos aanvanklik opgeneem in Die ysterkoei moet sweet en Die huis van die dowe, en reeds hier word die leser herinner aan die temas wat regdeur Breytenbach se oeuvre strek – die beminde wat aangespreek word en al slapende oor gewaak word deur die spreker; die twee se staptogte en ander verkennings asook samesyn in hulle intieme ruimte, soos in die immer bekoorlike “herfsaand” (p.16):

om halfsewe, na kantoorure,

lei ek my vrou huis toe aan die hand al

met die oewers van die Seine langs, oor

versteende bleek brûe met die donker wind in ons hare

ons klere, oor die rivier en die klappertand bome

[…]

(ek is verslaaf aan my klein vrou)

ek sal uit haar tong drink, ons sal soos klipsalmanders

op die kooi klouter

van die vensterbank tot op die eerste blink nok

en dan die maan

In hierdie afdeling is die liefdesgedigte dan ook die naaste aan die tradisionele liefdesvers, waarin romantiese liefde domineer en ’n persoonlike geliefde aangespreek of besing word. Vir Breytenbach lê die liefde en kreatiwiteit dig bymekaar, en in “swart saad” (p.33) word seks, poësie en die geliefde liries saamgedig:

[…]

vergun my dít:

die tuinmanskap en vryheid

om my pen in jou te steek

jou nat te lei met lente-ink

wie weet, miskien word hierdie sloot

van saad so swart

’n somerboom van bloeisels,

vaste tonge van silwer bloed

vir ’n loflied in jou skoot

“Wyn in die bloeisels” bevat gedigte wat die jeug en die liefde vier, soos “kalwerliefde” (p.59) oor die intensiteit van eerste liefde. Ook word die beminde in hierdie afdeling reeds aan die voël-kode verbind, soos in “afghanistanse suurlemoene” (p.48-9) gebeur:

My beminde vleg altyd

soos ’n voël voor my uit

voor my fluit

Ander sirkulerende beelde deur die digter se oeuvre wat ook reeds hier aangetref word, is dié van blomme, vlerke, vlieg, berge en venster, soos in “met ‘n bossie bergblomme” (p.46) waarin die simbiotiese verhouding tussen die digter en die geliefde verwoord word:

oeillets du poeté: klein oë van die digter,

en as jy lank genoeg daarín kan kyk

sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk

tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg

na die vreemde berge deur die venster

Die derde afdeling, “Hart uit die doek” bevat gedigte uit Lotus van 1970, waarin daar ’n baie subtiele tonale verskuiwing opgelet kan word: Vanuit die onskuldiger wêreld van die vroeë verse word daar beweeg na ’n ruimte waarin die donker ’n nadersluipende tema raak, maar waarin die liefde die beskutting is, soos in die slotstrofe van “staning” (p.79-81):

maak daardie venster toe, my dame:

in ons twee lywe saam boetseer ons ’n hart

teen die donker,

’n kamer sonder mure

en van binne met die liefde uitgewit

“Die koue van dousterre” (met verse uit Lotus en Met ander woorde, maar ook uit die tronkbundel Voetskrif) bring die insig dat die liefde die enigste durende rykdom is, soos verwoord in die gedig waaraan die afdelingtitel ontleen is (“soos leeus in die sneeu”, p.89). Te midde van hierdie wete is daar wel ook die bewussyn van die geliefde se afwesigheid soos deur ’n leë bed gesuggereer (“ontslapensgeur”, p.93), wat verdiep in “vers as boodskapper” (p.99) waarin die spreker intens bewus is van die skeiding tussen hom en die geliefde, maar die skryfdaad sien as die naelstring na haar:

O mon amour,

kyk ek kom weer

en intussen

oor hierdie papier wat sonder einders is

skryf ek blind skryf ek stom na jou toe

In “donker beminde” is daar ineens ’n verskuiwing in tyd op te let, met die spreker wat die geliefde in ’n toekoms in projekteer waarin sy  “’n vergete minnaar / se vlinder van nostalgie / teen die blindruit van ’n noorderse winteraand” is , soos in “23 September 1988” gebeur. Ook in “ekstasis” (p.144) (oorspronklik opgeneem in Papierblom van 1998 wanneer die digter 59 jaar oud is), is daar ’n nostalgiese, selfs elegiese, terugdink aan die ekstatiese jeugjare vol erotiese vervulling.   Daarmee saam word die beminde in “hemelvaart” (p.133) die kollektiewe stem wat nog ná die digter se dood die “weergalmende ritme / van ons gemeenskap” verder moet dra – dus ’n suggestie reeds dat dit nie meer oor ’n individuele geliefde gaan nie, maar oor ’n groter menslike verbondenheid.

Die laaste afdeling, “Onbegonne tuiskoms”, bevat gedigte sedert 2000 tot op hede.  Hier is ook heelwat gedigte wat met herinneringe omgaan, maar terselfdertyd kyk na die onbekende reise wat nog voorlê, soos “die maanreis” uit die 2014-bundel vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte:

[…]

dankie vir die boodskapper

my nagbeminde

dankie dat jy die nasmaak van ons saamwees

afgevaardig het om my te begelei

soos kielsog deur die donker see se weggaan

dankie vir die troos van jou liefde

[…]

Die maan-beeld keer terug in die slotgedig van die bundel, met die titel “ons het die maan gepluk” uit op die weg na kû.  Ook hier kyk die spreker terug na die reis saam met die geliefde, en verken die liefdesgeskiedenis aan die hand van die metafoor van die liefde as vrug en blomme:

ons het die maan gepluk

skynsel vir skynsel

sodat dit donker mag word buite

en die liefde nie verlep nie

ons het die maan afgeskil

petaal vir petaal: so soos woordbeweging

gestroop word van alle taal

en slegs die dieper wondtekens klipkaal agterbly

die hele nag het die donker geur

van ’n piering jasmynblommetjies

die kamerbed soet gemaak

en die liefdesdroom nie verlep nie

met die vroegoggendlig buite

was die hemel skoon van enige uitvaart

of skending van beloftes:

in die jasmynstruik bloei die maan

Charl-Pierre Naudé. Glas

Thursday, May 11th, 2017

Glas

Svendborg, 2017

 

Wat my opval

is die aanleunbousels van glas

teenaan die baksteenhuisies –

 

om ʼn blertsie winterson in op te vang

sonder die koue wat inbreuk maak van buite.

 

Verder kuslangs

staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water

en die effek van hul refleksies is soos “glas op glas”.

 

Op die dag van my aankoms

het ek langs die seesoom gaan staan

om in die wye stil vlak te staar

nét toe die laatlig skuins tref

só dat die buurt volmaak

 

daar in die oomblik

sowel as in die ewigheid

vasgelê word:

 

soos die gesinsfoto wat nimmer verweer

omdat dit op die maan

 

deur ʼn ruimteman vergeet is.

 

(Praat liefs nie oor ʼn vlag

wat nie kan wapper nie.)

 

En, toe. Rampspoed!

Die veerboot vaar verby.

Klaarpraat, korte mette.

Die universele oomblik

implodeer net daar.

Noem dit maar: ʼn opskroef (van gewone wette).

Bousels verwring, mure rek soos kougom en val om

en vervaard kom al wat straat is op my af gehardloop.

So goed as ʼn tsunami! Net so sleg.

Boonop is týd die medium, nie bloot water nie;

 

die soort prentjie wat ʼn Van Gogh sou geskilder het.

 

Nou kyk, om te vertoef in die huis waarin Brecht

gewoon toe hy van die Nazis gevlug het,

en dan ingesuig te word – deur wat – ʼn terugtrekkende

tydgolf? Dis nie ʼn ligte rimpeling nie.

 

Bertolt kyk nou op na die verlede, nie die toekoms nie.

En Amerika gaan hom nie red nie, nie eens

vir ʼn gwano-sekonde nie.

Amerika gaan hom verraai, soos wat dit óns verraai.

Die deining groei, krul om

en donder met ʼn soliede massa neer.

 

Daar word gesê dat weens die vogtige lug

sommige skeeftrekkende wonings

hier soos ʼn moerstadig wapperende Deense vlag lyk –

sélle blokpatroon:

tipies van weerspieëlings; ʼn kwessie van omkering.

Dus hardloop ons vir ons lewe. Agteruit,

 

dieselfde huis in

wat ek in die water gesien het.

Waar die wynbottels volloop, nie leeg nie,

en die muurhorlosie, getroue meul-eseltjie, teenkloksgewys arbei.

 

En in ál die beddens slaap die blou lug.

 

In die leeskamer staan en wieg

ʼn man heen en weer in ʼn gety.

Hy’t ʼn toom uit die rak getrek oor “ewige wederkeer”.

Onbekend is hy soos môre heeldag

(tipies van die arme Nietszche),

en hy lees nou oor sy voorganger, die vername Naudé.

(Wat in die boek, dis algemeen bekend, ʼn klap

van ʼn vis se stert kry.)

 

Die kamerdeure word in die woud gekap.

En die dekriet groei wild op die grasvlakte.

Al die deursigtige huisornamente

moet nog gegiet word.

Ek sien dit, so duidelik soos gesmelte glas,

 

golf ná golf ná golf:

Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.

 

Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word

selfs al is dit so mooi.

 

 

*Die “blokpatroon”: 19de eeuse boumetode: Fachwerk (Duits), Bindingsværk (Deens), waarin houtbalke die struktuur verskaf wat deur klei- of baksteen gevul word.

 

©Charl-Pierre Naudé / 2017

  •