
Charles Fryer (1946 – 2014)
Ek het intiem met Charles Fryer saam gewerk met my bundels Geslote baan (1988) en Lykdigte (2000).
Ook het hy die satire Die swart sluier (1998) versorg met die gekke buiteblad deur Piet Grobler. Die satire het hy gate uit geniet. Dit was ook my eerste kennismaking met Susan Bloemhof, wat later sou sorg vir etlike ontwerpe vir my waarvan die hoogtepunt vir my Lykdigte bly.
In 1988, so om ag die aand lui my foon. Dis Charles. Geslote baan gaan moreoggend drukkers toe en hy wil net weet of ek gelukkig is met ‘n woord wat ek in ‘n gedig gebruik het.
Stipleser. Nougeset. Met proewe waarop sy ronde handskrif staan. Oor hierdie bundel het hy vir my geskryf:”Die gedigte is subtiel. Maar onder alles kan ‘n mens die pyn voel prik.” Hierna het ek hom beter leer ken en ‘n hele paar keer met hom en Petra Grütter tee gedrink en Danie van Niekerk, toe die hoof van Tafelberg, leer ken.
Hierna het ons paaie (tydelik) geskei en toe ek met Interne verhuising in1995 na hom toe is, was hy nie gelukkig met die bundel nie. Ek het dit later uitgegee by Kagiso, wat my roman Die Judaskus gepubliseer het.
My grootste waardering vir Charles het egter in 2000 gekom met die bundel Lykdigte. Ons gaan vir oulaas die bundel deur. Charles se horlosie is afgehaal en hy sit met ‘n potlood en werk aan die bundel.
“Hierdie gedig is nie klaar nie, Joan,” gee hy raad op sy sagte manier. Ons het ook altyd ‘n speelse, grappige manier van gesels gehad.
Die gedig lui aanvanklik so:
14 Vraag
Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap?
Sodat sy blind moes uitkom aan die anderkant?
Dit handel oor die dood van my kollega, Maggie Mezzabotta, dosent in Klassieke Tale aan die UK en iemand met wie ek gereeld kon gesels oor klassieke verwysings. Sy is een Sondagoggend oorlede toe sy in Fresnaye afgery het en ‘n man oor ‘n rooi robot gejaag het. Haar eggenoot, ‘n bekende veearts, het ‘n ruk later op die ongeluk afgekom.
Charles stuur my na die aangrensende kantoor waar ek die gedig in een sitting klaarskryf. Na Maggie se dood, het ek en haar man en twee ander vriende na ‘n wynplaas gegaan. Haar man stukkend oor haar dood, verduidelik vir ons by ‘n wynplaas dat ‘n bottel wyn aan “bottelskok” ly indien dit te gou oopgemaak word.
Vraag
Vir Margaret Rosabel Mezzabotta
.
(more…)