Posts Tagged ‘Charles Fryer’

Fanie Olivier. Huldeblyk: Charles Fryer (1946 – 2014)

Saturday, November 15th, 2014

oor charles – ’n skitterende kind van die wind

(vir lorreine, wat sal onthou)

 

daar is soveel mense wie se paaie joune kruis.

maar met hoeveel paaie ry jy saam, wil ek maar vra:

swaar dra al aan die eenkant; ligweg sommer

veld-in met sy tuisgemaakte rooiwielwa.

 

hoeveel piekniekplekke vir die hart [“kom-kommer”

had hy dit genoem] se taal; hoeveel werwe uitgewaai;

hoeveel klinkers uitgevat; hoeveel konsonante

saamgenooi na die agterland, vir hessie-se-draai.

 

strompelend begin mens lees. dis waar ook lees

ek vir die tweede keer vir praat; ek kan maar raai

oor skryf, skryf dié wat weet. maar stil se baie kante

kom skielik vanself, maklik soos ’n ongeluk kan wees.

 

op ’n dag raak jy moeg, alleen. pak uit; pak op. kom tuis.

 

 

Net ’n paar van ons het hom geken as Adam Kadmon, die reus van die Wilcocksgebou op Stellenbosch. Vir ander was hy mnr. Fryer, in die dae van assistente en vier professore, dasse en gestrykte broeke,  die jaloerse bewaker van Dirk-der-Duisende. Bedeesde vriende het hom Charles genoem, maar net Loreinne kon hom om haar vinger draai.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Dis ’n koue Poolse donkeraand as ek by ons wooneenheid [hoe goed sosialisties klink dit nie?] opdaag en hoor dat Charles Fryer dood is. So, net so, sonder dat ek ooit weer kans gekry het om te gaan groet doer onner innie Kaap in.

“Gaan groet” is nie ’n Charles-ding nie: by hom in sy studentekamer, by hulle aan huis, op sy netjiese uitgewerskantoor was dit altyd “kom” groet. “Gul” – dis nou die soort woord wat hom kon omvat.

Ek onthou hom as die skrywer van “Die vampier”, grotesk heerlik opgevoer in die Libertas-teater [was dit] met kollega, woordvriend Etienne Boris Britz ’n flappende mantel deur die saal, teaterbloed stromend uit die mond.

Later sou hy, sou ek, al die destydse opslagboompies, veel meer weet oor bloed. Wanneer dit kruip waar dit nie moes loop nie, oor dooiemansdeur se drumpel. As die sensman kom rondkap in ons bos.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Daar was soveel ligte somersmiddae, onbesonne en onbesonge. En aande rondom gedigte wat uitgroei oor die wyn. Die geboorte van penseel en later die geboorte van ’n eerste kind. En daarna.

In Goodwood was ek bevoorreg om baie oorslaapkuiers te kon maak, maar die gesprekke was stiller, die land aan die brand.

Ek onthou hoe hy ver kon kyk saam met Nat King Cole se “The sweet bird of youth”, wat ek vir jare daarna tevergeefs gesoek het op elke nuwe versameling ou dinge. Maar as iemand wil weet, gaan soek hartseertroos op You Tube.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

Baie het hom geken as die reus by Tafelberg, die re-write man wie se naam nooit in ’n boek sou verskyn nie, maar sonder wie daar baie skrywers nie eers ’n naam sou gehad het nie. Hulle sal weet wie hulle is en hopelik onthou dat sy skraal plekkie op die rak daaraan toe te skryf is dat hy vir hulle ’n staning gemaak het.

En, ja, besef ek nou: daar is ’n hele geslag of twee se digters wat nie eers weet wie en wat Charles Fryer was nie. En studente in die oorvol Stellenbosch.

Veral kon hy lag, dié Fryer-klong.

In die buitestreke van die binneland, in die binnestreke van die buiteland, sterf mens die Kaap af. Word dit gewoon net nog iets ver, soos die Hantam. Jy moet op besoek gaan om daar te kom.

Ek is jammer, ou maat, Lorreine en die kleintydkinders, dat ek so sleg en so alleen gereis het.

Ek haal my hoed af, seur:  The sweet bird of you can’t fly away.

 

© Fanie Olivier / 15 November 1014

  •