Huldeblyk: Chris Lombard (1929 – 2012)
Friday, August 17th, 2012Die digter en kortverhaalskrywer Chris Lombard is op 8 Augustus op George oorlede na ‘n kort siekbed.
Chris was ‘n boorling van Heidelberg in die Suid-Kaap waar hy gematrikuleer het. Na sy studies op Stellenbosch was hy onderwyser en joernalis en daarna jarelank lektor, later senior lektor, in Afrikaans in die Opvoedkunde-fakulteit van die Universiteit van Kaapstad. In die tyd het hy onder meer in Italië studietydperke deurgebring. Hy was ‘n tydgenoot en boesemvriend van die bekende toneelspeler Jannie Gildenhuys, eweneens ‘n Heidelberger. Jannie het die laaste maande voor sy dood by Chris gewoon wat hom versorg het. Chris wat self bekend as regisseur en toneelspeler in Kaapstad. Hy het sy doseerloopbaan afgesluit as dosent by die destydse Windhoekse Opleidingskollege. Daarna het hy op Heidelberg in sy ouerhuis gaan woon.
Na sy aftrede het hy hom op sy skryfwerk toegespits. Hy publiseer ‘n kortverhaalbundel, Vanuit ‘n ou dorpshuis (1996) waarin hy boeiend vertel oor sy eie familie, die streek, maar ook van reisavonture. In 1991 maak hy sy debuut as digter met die bundel Tussen die malgasse op die kaai. Die bundel was in 1992 op die kortlys vir die CNA-prys Daarna volg Millenium (1994) en Driemaster (2004).
Hy het ‘n groot liefde gehad vir Heidelberg en sy mense. ‘n Mens het hom dikwles soggens aangetref in die Wimpy by die ingang van die dorp waar hy sit en koerantlees en sy oog laat val op die plaaslike reisvaardiges. Ewe graag het hy uitgery na Witsand om die wisselende luime van rivier en see te ervaar. Sy huis was omgewe deur ‘n woesteny van struike en bome waartussen ‘n mens hom op mooi dae in ‘n beskutte plek buite kon aantref, besig om sy Franse grammatika by te werk. Dit was ook ‘n aanloopplek vir skrywers en mense uit die dramawêreld.
Sprekend van die wyse waarop hy die kleindorpse atmosfeer hy met fyn hale van die die digterspen kon vaslê as gegewe in ‘n groot heelal is die slotstrofe van sy gedig “Kleindorpsannale” (Tussen die Malgasse op die kaai):
Die aarde hou geen seismografiese register
van selfs die felste trillinge van die pyn,
maar vee versigtig soos die reën in winternagte
oor elke afdruk van die hart, en senugrein.
‘n Mens vind Witsand terug in sy meesterlike “Groot bloublaas” (Driemaster), maar gewaar daarin ook ‘n gewiekste speler met die rapier van die satirikus:
Sy terreur het hier gestrand,
maar spook nog in spergebied:
Spore swenk en vurk in vroeër vrees
alkant om dié dwingeland.
Tot onlangs giftig pers voortvarend
– ‘n spoggerigheid met ‘n netellint –
tril hy steeds bolseil, nou wrokkig
oor die skipbreuk van sy mag.
Langs hom, futloos ná die vloed,
lê die naelstringhopie van asuur
waarteen alreeds die slakkies pak.
Vanmiddag in ‘n brulsuidoos
sal hy dor bly kraak
en skuur.
‘n Windeierwrak.
Ons sal hierdie beskeie digter mis, maar in sy gebundelde woorde steeds soos uit ‘n gekoesterde alikreukelskulp kan hoor hoe roerend ruis ‘n heelal.
– Wium van Zyl.
16 Augustus 2012