Posts Tagged ‘Christo de Kock gedig’

Christo de Kock. Seepbellugballon

Tuesday, January 4th, 2022

 

Seepbellugballon

 

Ek blaas vir jou seepbelle om soos ’n laer om jou te kring,

want iemand het jou drome uit jou hart gewring.

 

Met ’n seepbellugballon vas aan jou hare gebind

sal jy jou kasteel in die wolke eendag nog vind.

 

Seepbelle wat blink soos glaspêrels is daar in jou verbeelding genoeg

sodat jy vir nog ’n oomblik tussen die wolke kan vertoef.

 

Die dag en nag swaai jou heen en weer met

’n rokkie wat swaar aan jou vryheid hang.

Knip die swaar rok dat jy saam met die lugballon

styg en silwer vlinders met seepbelle kan vang.

 

Ek sien jou verlange na toevlug as jou oë se

weerkaatsing in die borrel broos na my staar

en ek jou verseker die lugkasteel was nog altyd daar.

 

In die naghemel sien ek die maan,

die sterre en die planete wat wentel om die son.

Maar die mooiste van als is jy en die seepbellugballon.

 

© Christo de Kock, 2022

 

Christo de Kock. Asiel

Tuesday, January 4th, 2022

 

Asiel

 

Sal jy aan my asiel verleen in jou gedagtes

sodat ek jou wete my toevlugsoord kan maak

 

Ek is ’n vlugteling en ek

sing van winde wat na die noorderlig waai

en ek bring vir jou gewaagde woorde wat

jy nooit sal verstaan nie.

 

Soos ’n lafaard en ’n waaghals skryf ek liefdesverhale

in my paspoort uitgereik in die republiek van jou naam.

 

Met my woorde skets ek ’n lugkasteel

waarmee ek my die mooiste verwesenlikings kan verbeel.

 

In die sneeu staan jy: ’n Griekse marmerbeeld;

’n stomme skoonheid.

 

Ek bou sneeumannetjies met leepogies wat uitkyk

oor die horison en staar na silhoeëtte van

wintertakke en begeer jou

soos silwer sakke vol nostalgie

 

en tussen ’n spul halfgeskrewe briewe sit ek met

sneeuvlokkies in my hare en met woorde wat jy

nooit sal hoor nie…

 

sonder ’n paspoort en sonder asiel.

 

© Christo de Kock, 2022

 

Christo de Kock. Porseleinpop

Tuesday, January 4th, 2022

 

Porseleinpop

 

As ’n porseleinpop kon skryf, sou ek jou gesig op ’n posseël laat druk.

As jy kon ruik, sou ek vir jou madeliefies op mars gaan pluk.

 

As jy kon glimlag, sou ek vir ewig aan daardie oomblik vasklou.

As jy kon droom, sou ek vir jou ’n lugkasteel

van wolke met silwer randjies kon bou.

 

Jou hare hang soos ’n drapeersel van suiwere goud

Jy’s mooier as die son se strale, al is jy reeds koud.

 

Jy – ’n porseleinpop – skyn saggies te slaap

al het jy ons lewend op aarde agtergelaat

 

As jy ’n paar woorde aan my kon toevertrou

Sou ons dieselfde lugkastele daarmee bou?

 

As is jy nou.

’n Porseleinpop was jy gister.

Tussen môre en porseleinpop-drome

sal jy vir ewig bly.

 

© Christo de Kock, 2022