Posts Tagged ‘Chronicles Vol. 1’

Desmond Painter. Alias Bob Dylan

Friday, January 22nd, 2010

Bob Dylan

Bob Dylan

Ek moet erken, hoe opgewonde ek ook al was oor die verskyning van Bob Dylan se outobiografiese Chronicles Vol. 1, het ek nie veel hoop gehad dat dit as ‘n boek sou slaag nie. Ek kon (en wou) myself nie indink dat hierdie inkennige, dikwels geheimsinnige, verkleurmannetjie van ‘n kunstenaar hom skuldig sou maak aan wat deesdae ‘n soort epidemie geword het nie: triviale en voortydige outobiografiese bieg- en spogboeke deur elke tweede popmusikant en sportster. En indien dan nie daardie soort boek nie, watter soort boek sou dit dan kon wees?

 

Wat ook al my verwagtinge was, Dylan het hulle almal hier oortref. Hierdie boek is baie dinge, maar triviale, selfdienstige portret is dit beslis nie. Dit is inderwaarheid geen lewensverhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar eerder ‘n reeks meditasies oor folkmusiek, die blues, kunstenaarskap, persoonlike en openbare identiteit, tradisie en moderniteit. Hierdie kronieke, soos hy hulle noem (dis die eerste volume – ons sal maar moet wag en sien hoeveel meer sal verskyn en wat hulle sal behels), fokus op enkele, maar deurslaggewende momente in ‘n lang loopbaan. Interessant genoeg is die momente, liedjies en albums waarby Dylan hier stilstaan redelik periferaal in sy groter oeuvre – ten minste, hulle blyk dit te wees, omdat mens die gewoonte het om die betekenis van ‘n kunstenaar se lewe en werk vanuit die perspektief van sy suksesse te verstaan; daardie kere wanneer hy in pas is met homself en die pas aangee vir ander.

 

Bob Dylan het natuurlik nie ‘n tekort aan sulke momente nie. Dit sou vir hom meer as maklik gewees het om etlike volumes te skryf oor sy musikale en literêre mylpale, sy verskillende hergeboortes, en sy onontkenbare kulturele impak op die tweede helfte van die twintigste eeu. Hy sou sekerlik sonder veel probleme die baie persoonlike mislukkings, swak albums, en oninspirerende konsertreekse kon ignoreer of as onbenullige episodes afmaak in ‘n integrerende en selfkanoniserende terugblik. En tog is sy preokkupasie hier juis met artistieke stryd, musikale mislukkings en identiteitskrisisse. Die toonaard van die boek – en dit is wat dit so ‘n fassinerende leeservaring maak – is enduit selfrelativerend, eerder as selfbevestigend.

 

Chronicles.Bob Dylan

Chronicles.Bob Dylan

Die grootste gedeelte van die boek – die eerste twee en die laaste hoofstukke – fokus op sy verblyf in New York in die laat 1950s en vroeë 1960s. Hierdie is die tyd voor sy eerste opnames, voor hy begin liedjies skryf het (anders as wat mense dikwels dink, wou Dylan aanvanklik net ‘n sanger wees, en het hy geen behoefte gehad om te komponeer nie…), en voor hy op die naam Bob Dylan besluit het, ‘n besluit wat beide arbitrêr en finaal was:

 

“Bob Dylan looked and sounded better than Bob Allyn. The first time I was asked my name in the Twin Cities, I instinctively and automatically without thinking simply said: ‘Bob Dylan.’ (…) As far as Bobby Zimmerman goes, I’m going to give this to you straight and you can check it out. One of the earliest presidents of the San Bernardino Angels was Bobby Zimmerman, and he was killed in 1964 on the Bass Lake run. The muffler fell off his bike, he made a U-turn to retrieve it in front of the pack and was instantly killed. That person is gone. That was the end of him.” (p. 79)

 

Hierdie hoofstukke oor sy vroeë verblyf in New York, op ander se rusbanke en later in sy eie woonstel, is sonder twyfel ‘n kunswerk. Die ritme en toon van sy vertelling is enduit trefseker; hy beweeg seepglad tussen fyn waarnemings, ligte humor en elegiese beskrywings. Herinnering of verbeelding – maak dit regtig saak? Die intimiteit waarmee hy verlore landskappe en mense oproep en huldig kan nie ontken word nie:

 

“Across the way a guy in a leather jacket scooped frost off the windshield of a snow-packed black Mercury Montclair. Behind him, a priest in a purple cloak was slipping through an opened gate on his way to perform some sacred duty. Nearby, a bareheaded woman in boots tried to manage a laundry bag up the street. There were a million stories, just everyday New York things if you wanted to focus in on them.” (p. 32)

 

En die aweregse Dylan-humor bly ook nie agterweë nie:

 

“Once I put on Beethoven’s Pathetique Sonata – it was melodic, but then again, it sounded like a lot of burping and belching and other bodily functions. It was funny – sounded almost like a cartoon. Reading the record jacket, I learned that Beethoven had been a child prodigy and he’d been exploited by his father and that Beethoven distrusted all people for the rest of his life. Even so, it didn’t stop him from writing symphonies.” (p. 94)

 

Die middelgedeeltes van die boek bestaan uit twee hoofstukke, wat elkeen fokus op ‘n latere era in sy loopbaan en op die maak van ‘n album. Daar is interessante paralelle en verskille tussen die twee periodes wat hy kies om oor te skryf: die laat 1960s en die laat 1980s. In beide bevind hy homself in ‘n musikale, kreatiewe en emosionele doodloopstraat; en in beide probeer hy om in samewerking met ‘n ander kunstenaar iets te produseer. Maar waar hy in die laat 1960s probeer ontsnap van die verstikkende mediabeeld wat van hom geskep is, probeer hy twintig jaar later desperaat iets red van ‘n loopbaan wat stadig agteruit begin gaan en ‘n reputasie wat jaarliks verder vervaag.

 

Amper volledig vervreem van die populêre kultuur van die dag, getroud en met drie kinders, probeer Dylan in die laat 1960s vir homself artistieke en emosionele ruimte skep deur sy rug doelbewus te draai op die dikwels absurde voorstellings en verwagtinge wat deur die media van en vir hom geskep is:

 

“Whatever the counterculture was, I’d seen enough of it. I was sick of the way my lyrics had been extrapolated, their meanings subverted into polemics and that I had been anointed as the Big Bubba of Rebellion, High Priest of Protest, the Czar of Dissent, the Duke of Disobedience, Leader of the Freeloaders, Kaiser of Apostasy, Archbishop of Anarchy, the Big Cheese. What the hell are we talking about?” (p. 120)

 

Hy tree nie op by Woodstock en Altamont nie; om die waarheid te sê, vir etlike jare tree hy glad nie op nie. Hy maak ‘n ouderwetse album, Nashville Skyline – pure Country & Western, lirieke ver verwyderd van die poëtiese dringendheid van sy vroeëre werk, en sy stem byna onherkenbaar – en Self Portrait, sekerlik een van die mees doelbewuste pogings tot selfontluistering in die geskiedenis van populêre musiek. Op uitnodiging van die Amerikaanse digter Archibald MacLeish begin hy liedjies skryf vir een van MacLeish se toneelstukke, maar die projek eindig in mislukking. Die liedjies word uiteindelik gebruik vir die album New Morning (1970). Alhoewel dit goeie resensies kry, en inderdaad ‘n mooi album is, oordeel Dylan so daaroor: “To be sure, the album itself had no specific resonance to the shackles and bolts that were strapping the country down, nothing to threaten the status quo” (p. 141).

 

Maar hierdie huiwerende periode in sy loopbaan, wat sou duur tot die middel 1970s (Blood on the Tracks, die dikwels onderwaardeerde Desire en die later uitgereikte Live 1975 verteenwoordig die einde daarvan), is niks in vergelyking met die woestyn waarin hy homself in die laat 1980s bevind nie. Hy skryf so oor die windstilte in sy loopbaan op daardie stadium: “There were many reasons for this, reasons for the whiskey to have gone out of the bottle. Always prolific but never exact, too many distractions had turned my musical path into a jungle of vines” (p. 146). En selfs meer sinies: “Wherever I am, I’m a ’60s troubadour, a folk-rock relic, a wordsmith from bygone days, a fictitious head of state from a place nobody knows. I’m in the bottomless pit of cultural oblivion. You name it. I can’t shake it” (p. 147).

 

In ‘n poging om aan hierdie soort selfoordele te ontsnap, begin Dylan met Daniel Lanois werk aan die album Oh Mercy (1989). Die boek gee ‘n redelik volledige ontstaansgeskiedenis van die liedjies op hierdie album, asook ‘n oorsig van die opnames vir die album in New Orleans. Alhoewel Dylan deur die maande se werk aan Oh Mercy volgens sy eie getuienis weinig begrip het van waar die proses heen lei, en dikwels moed verloor in die samewerking met Lanois, verteenwoordig Oh Mercy uiteindelik ‘n meer suksesvolle samewerking as die een met MacLeish, asook ‘n eerliker, dieper betrokkenheid by homself en by die wêreld as wat die geval was met New Morning. “We did it as we damn well pleased and there was nothing more to say. When the record was all added up, I hoped it would meet head on with the realities of life” (p. 217). Dit is duidelik dat hierdie album, leemtes (waaroor hy baie eerlik is) ten spyt, vir hom ‘n besondere betekenis het.

 

Bob Dylan se Chronicles: Volume 1 is ‘n intieme, dikwels weerlose boek. Dit is gevul met roerende eerbetone aan die mense wat die jong Robert Zimmerman se aanvanklike, huiwerende treë in die musiekwêreld moontlik gemaak het. Dit is ook vol skerp, dikwels humoristiese, soms lakonieke pensketse van plekke, mense, boeke en musiek. Veral musiek – die ryke tradisies van Amerikaanse folk.

 

Maar ten spyte van hierdie intimiteit verval Dylan nie een keer in oordrewe ontboeseminge nie. Om die waarheid te sê: hy bly grootliks ‘n enigma. Soms dink jy jy kom nader aan die man as ooit tevore, maar hy verdwyn telkens soos rook. Jy sal, na die lees van hierdie boek, byvoorbeeld nie weet hoeveel keer hy getroud was nie, en wat sy vroue se name was nie. Uiteindelik is alles wat hy skryf ‘n rigtingwyser na die musiek; na sy eie musiek, en ook na die musiek, die tradisies, die “invisible republic” (in die woorde van Greil Marcus) wat agter sy eie musiek lê. En dit is om hierdie rede dat jy hierdie boek moet lees.

 

(Ek het hierdie stukkie etlike jare gelede in Johann Rossouw se Die Vrye Afrikaan gepubliseer. Intussen bestaan daardie blad nie meer nie, en wag ons steeds vir Vol. 2 van Dylan se Chronicles…)

  •