Posts Tagged ‘Clat boek’

Kladboek: verdigte werklikheid

Tuesday, April 13th, 2010

 

Op ’n blou Maandag kan mens seker nie hoop om poëties te raak nie. Maar as die blou al ’n dag of drie duur, dan klim jy na ’n nuwe kategorie – dan skryf jy klaagliedere. Die poëtiese impuls kan wel van klein vonkies kom, maar boeta, dit gedy op drama!

   Lank terug, in die dae toe ek nog ’n televisie besit het, was daar ’n advertensie waar ’n man ’n blou oggend beleef waar alles verkeerd loop, maar hy nog op sy motor kan vertrou. Alles loop reg, altyd reg. Soos mens op woorde kan vertrou. Want kyk, as die dak lek en die geyser oppak en die houtboorders trek in en die reggemaakte geyser begin lek en niemand kan die afsluitkraan vind nie en dan kom die bure nog brom oor ’n boom wat te na aan die heining staan, dit alles binne drie dae… Dan lag ek in my mou.

   As ek my ma nou kon nooi vir tee, hoe sou ons nie gegiggel het nie. Teen die geyser en die goggas en die gietreën lig ek vergeefs my vuis, maar as ek my vingers oopmaak en ’n pen opneem, o oppas, mense! My wraak, my verdoeselde, tong-in-die-kies burewraak, is reeds geneem in Tafel vir twee (Protea, 2009).

   Moenie met ’n skrywer sukkel nie.

   In prosa, so kom ek agter, duik dikwels skaars-verbloemde biografiese detail oor die skrywer op en natuurlik oor die mense wat sy of haar wêreld bewoon. In poësie, het ek gedink, minder opsigtelik. Tog knie mens maar jou eie ervarings in die deeg in en los soms, meer of minder opsetlik, ’n ongemengde klont of twee as getuienis vir ’n skerpsinnige proeër. Een van my geliefde gedigte, wat ’n hele joernaal (en ’n liefde) so ontsettend dig saamvat, is Opperman se “Clat boek” (uit Blom en Baaierd):

 

… 200 beeste

9 perde … 1000 skape

Ons vertrek …

        … Monomatapa.

 

Saans om die vure

bid ons en wik,

maar water en weiding

en weer beskik.

 

Vannag het ’n leeu

’n wagter gevreet.

Ons jag vanoggend,

die vrouens kook seep.

 

Verken die koers –

aan die ketting vas

van my sakhorlosie

hang ’n klein kompas.

 

Kom ons deur die reëns?

Kom ons deur die vlieë?

Waarom die wildernis in?

Alles bedrieë.

 

Bietjie sout geskraap

van ’n droë kors.

Martha kla deesdae

van pyn in die bors.

 

Het laer getrek.

Verwag al ’n week

ons word soos Potgieter

doodgesteek.

 

Seun gebore. Dood.

Vers gekalf.

Martha maak

van bessies salf.

 

Die touleier sê

die drywer goël.

Soms speel Pieta

saans viool.

 

Die enigste wat ek

in die lewe had …

Ek lê die pen neer:

God het Martha gevat.

 

  •