Posts Tagged ‘Clive Chipkin’

Andries Bezuidenhout. Radoma Court in Yeoville se storie

Tuesday, November 10th, 2009

Brendon Croft het die mooi foto van Clive Chipkin hier bo geneem. Dis saam met ʼn storie oor Clive se boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from the 1950s in Rapport gebruik. Wat die onderskrif in die koerant nie noem nie, is dat die foto reg langs Radoma Court geneem is, waaroor daar in die artikel geskryf word. In die agtergrond kan ʼn mens Bedford Flats sien, waar Chipkin grootgeword het.

ʼn Mens het soms maar min woorde om oor baie interessante dinge verslag te doen. Daar is ‘n ander storie oor Radoma Court, wat ek eers ná my onderhoud met Clive uitgevind het. Ek het met Harry Kalmer oor die onderhoud gepraat en oor die feit dat Clive as kind in Yeoville gewoon het. Clive kan steeds onthou wie destyds op watter straathoeke gewoon het, hoe hy as kind oor Louis Bothalaan skool toe gestap het – die King Edward VII-skool in Houghton. Ongeveer 60% van Yeoville se inwoners was toe Joods.

Harry vertel dat hy in die 1980s in Radoma Court gewoon het. So ook James Phillips (ook bekend as Bernoldus Niemand) en Hanepoot (Jannie) van Tonder, tromslaner en tromboonblaser van die Gereformeerde Blues Band. Die gebou is dus ook belangrik vir die underground Afrikaanse movement van die tagtigs.

Radoma Court is nou heeltemal vervalle. Toe ek en Clive Chipkin dit besoek het, het hy so half by homself geprewel dat dit waarskynlik te laat is om die gebou te red. Hier onder is ‘n foto van hoe dit lank gelede gelyk het – ‘n monument vir modernistiese ontwerp.

Kyk byvoorbeeld hoe praat die gebou met Le Corbusier en Pierre Jeanneret se Pavillon Suisse (die Switserse paviljoen) in Parys (in 1932 ontwerp, in die foto hier onder). 

Gaan kyk gerus hoe Radoma Court vandag lyk. Dis op die hoek van Cavendish- en Yeostraat. Die gebou word deur die Stadsraad as ‘n gebou van historiese belang gelys, maar helaas, dit lyk nie of dit veel in die praktyk beteken nie. Ek wonder of iemand eendag sal kans sien om ʼn biografie van die merkwaardige gebou te skryf. Ek wens ek het die tyd en geld gehad om dit self te doen.

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 5b

Monday, November 9th, 2009

1
Plaas die toneel:
Restaurant in Oxfordstraat,
Illovo, Sandton se ouer gedeeltes.
Meer spesifiek:
Straataf daai modernistiese landmerk;
woonstelblok deur Harold Le Roith
in die dertigs ontwerp.
(Clive Chipkin het dit uitgewys
toe hulle vroeër die jaar deur die stad gery het.
Chipkin, tagtig jaar oud,
óók besig om afskeid te neem
van die stad met mynhoopgeel klinkers
en sianied in die grond?)

2
Illovo is deur die gewone siklusse –
op, af, op, af,
boom en bust,
boom en bust.
Tipies myndorp,
al voel dit hier soos Kaapstad,
of dalk selfs dele van Berlyn,
spesifiek Prenzlauerberg, in die ou Ooste,
waar anargiste Kastanienallee se naam
na Casting Alley toe verander;
kommentaar op gebootsde bene
wat nou soos akteurs, met inkopiesakke
bewapen, by winkels in- en uitmarsjeer.
Sosialistiese woonstelblokke word opgetert
as galery, trendy kroeg, of lêplek
vir outomate wat in new media werk.

3
But the most spectacular of Le Roith’s pre-war buildings was undoubtedly Dunkeld Mansions (1937-40), a luxury block of flats like a great ocean liner on the extension of Oxford Road, at the border of Illovo and Dunkeld… [A]nd again we are faced today with a building mutilated by later renovators. We shall recall it as best we can from old photographs and memory.

4
Hiérdie deel van Illovo tel op.
Die restaurant voorheen ʼn vloer
vir tweedehandse motorfietse en klere.
Mure is uitgebreek, wat oorbly
skakerings wit en swart geverf,
gloeilampe vlermuise wat laag aan lang drade
van die betonplafon af hang.
Industriële yskas hou drankies kil.
Te oordeel aan disse op ʼn swartbord
is artisjokke in die mode,
of iewers op special.

5
[Waarskuwing: Versigtig vir drink en skryf. Padblokkades. Blaas]

6
Hulle is hier om ʼn verjaarsdag te vier. 35.
Waarskynlik ook die rekenkundige gemiddeld
van almal teenwoordig se ouderdom.
Standaardafwyking van 3.5, dalk?
Hy’s ouer. Uitskieter op die normaalkurwe.
Valhekke en borste.
Valhekke en borste.
Babysitters by die huis.
Dié wat dit kan bekostig
sal binnekort die busts wil boom.
Hysbakkies, tummy tucks,
tepels weer hul oë laat opslaan na die berge,
waar sal my tulp vandaan kom?
Vir eers word hoenderpote
wat vore van ooghoeke na slape oopklou
deur room in toom gehou.

7
The horizontal emphasis of the east elevation creates the main presence of the building. Concave-shaped parapets and wire-glass balcony panels, large-view windows and a seascape of curvilinear roof forms terminate the view up Corlett Drive. In the 1960s Le Roith recalled the original roofscape, complete with roof garden, squash court, terrace and rest pavilions. The flats (he said), planned to luxurious standards, once commanded wonderful views northwards towards Pretoria.

8
Sjampoebottels se kurke al dak toe.
Fluite leeg, vol, leeg, vol,
borreltjies ontplof droog in neusgate.
Hul voorkeurdwelm. Soms
saam met vodka en ʼn kersie.
Bollie-stollie. Hoe camp.
Jaag dit met vroliker wringkrag kop toe.
Teen die muur staan:

happiness
friends
laugh
live

met ʼn hart van doringdraad onderaan.
Bo die deur ʼn poppie
met ʼn kant rokkie
en vlerke van draad.
Arms, bene en kop lapwurms
wat onder pante uitkruip.
(Dit laat hom aan Helen Martins
se pop in Nieu Bethesda dink,
die een met die bokpoot vir ʼn voet.)

9
Foto’s van die eienares teen die muur.
Nie prominent nie. Klein foto’s,
in ʼn hoek geraam.
Sy’t ʼn moulose frokkie aan,
teen die restaurant se tralievensters gedrapeer.
Hare in haar oë, lok die kamera,
kaal vrou op haar boarm getatoeëer.
Diefwering ʼn prop vir ʼn foto,
ʼn feature vir ʼn restaurant.
How very Joburg.
Maar vanaand spuit haar hare
ʼn fonteintjie op haar kop.

10
Here, then, in this luxury apartment building is the climax of the white villa architecture of Johannesburg’s northern suburbs. But one thing we notice: it was not a polemical building; it was a demonstration of modern upper-class living in the northern suburbs of Johannesburg.

11
Sal hy dit eendag kan oproep
uit sy geheue, ou foto’s?
Slopings en verbouings.
Sál daar ou foto’s wees?

12
Buite in die straat ʼn bord:
“blubird shopping centre”,
asook “Johannesburg International”,
kenmerkende vliegtuig as rigtingwyser.
Hier moet bordjies nog verhang word,
dink hy.

13
Hy sit in die hoek.
Hy geniet die aand.
Gesprekke bolangs,
woorde wat sag teen ooglede val,
vlak wonde wat mooi bloei
en vinnig genees.
Werklik, hy geniet dit terdeë.

14
Is Illovo deel van Sandton?

15
Aanhalings: Clive Chipkin. 1993. Johannesburg Style: Architecture and Society, 1880s – 1960s. Kaapstad: David Phillip, p. 177.

Andries Bezuidenhout. “They’re always demolishing buildings in Johannesburg…”

Monday, May 18th, 2009

ʼn Paar jaar gelede staan en kyk ek na van William Kentridge se animasievideo’s in die kunsmuseum in Kaapstad. Daar was toevallig ook ʼn toergroep met ʼn gids wat die kunswerke aan hulle verduidelik het. Op ʼn stadium sien ʼn mens, ek dink dis in Johannesburg: 2nd Greatest City after Paris (Kentridge het darem ʼn sin vir humor!), hoe ʼn gebou ingeplof (is dit korrekte Afrikaans vir “implode”?) word. Die gids se insiggewende kommentaar is toe: “They’re always demolishing buildings in Johannesburg…”

Die afgelope week het ek heeltemal te veel tyd saam met mense met glase wyn in die hand in boekwinkels spandeer. Eers was dit Ronelda Kamfer en Loftus Marais se gedigvoorlesing en hierdie Saterdag was daar ʼn bespreking oor Clive Chipkin se nuwe boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from 1950. Die boek kos ʼn rowwe R750, maar ons het maar ons laaste kosgeld vir die maand uit die bank gehaal om dit aan te skaf. Clive Chipkin se vorige boek Johannesburg Style: Architecture and Society, 1850s to 1960s bly een van my gunsteling boeke oor Johannesburg. Dit het my byvoorbeeld met ander oë na Hillbrow laat kyk.

In my digbundel Retoer gee ek erkenning aan Chipkin en Charles van Onselen, wie se twee volumes New Babylon en New Nineveh, oor die sosiale geskiedenis van die Witwatersrand, nét so insiggewend is. Dis soms nie maklik om in Johannesburg te woon nie. Dis ʼn gewelddadige stad met ʼn kort geskiedenis. Dis egter boeke soos hierdie – en skrywers met die insig en geheue van die tagtigjarige Clive Chipkin – wat dit moontlik maak om hier te woon sonder om heeltemal af te stomp.

Die volgende gedig oor Johannesburg kom uit Retoer:

ERFGOUD

Ons erf hierdie stad van naamlose smede
van yster, onbewus van goud
wat onder hulle voete rus.

Ons erf hierdie stad van die Bezuidenhouts
van Doornfontein, wat mielielande,
’n laning okkerneutbome en ’n huis niksvermoedend
reg bo-op die riwwe aangelê het.

Ons erf hierdie stad by “vuilgoed fortuinsoekers
wat die lande platgetrap het”,
by Boere-amptenare met vanne soos
Wolmarans, Eloff en Smit.

Ons erf hierdie stad by die mynwerkers –
deur belasting op hulle koppe en hutte gejaag
tot in die kontant- en drankekonomie.
Marks, Nellmapius en die boere is almal gelukkig
met ’n konsessie uit Pretoria.

Ons erf hierdie stad van die Rand Lords en hul lord Milner
wat Engelse ontbyte eet en lemoensap drink in huise
met name soos Sunnyside en Brenthurst.

Ons erf hierdie stad soos ’n eens kosbare baadjie
– voos gedra en blink gestryk –
wat ons graag diep agter in die kas sou wou hang,
maar elke dag moet dra.

  •