Posts Tagged ‘Coral Bracho’

De Waal Venter. Die woord styg op

Tuesday, January 25th, 2022

Verskeie definisies van “die woord” is al geformuleer. Byvoorbeeld: dat dit dié deel is tussen die morfeem en ’n sintaktiese frase. Of dat dit die kleinste betekenisvolle linguistiese eenheid is wat selfstandig gebruik kan word. Daar is egter al jare nie sekerheid oor die definisie van “die woord” nie. Bazell1 skryf in 1958 dat daar geen ander item is waaroor daar minder ooreenstemming is nie. Dit blyk dat ‘n universele definisie van ‘n woord dus tans nie moontlik is nie.

’n Artikel in Wikipedia som dit só op:

 

“’n Riglyn van wat ’n prototipe van ‘n woord is, kan só geformuleer word:
‘n Woord is ‘n (relatief) stabiele, promiskue (kan met ander woorde verbind) fonologiese struktuur wat integriteit het en wat met ‘n (relatief) stabiele semantiese struktuur geassosieer word. ‘n Woord is ook semanties en fonologies onafhanklik.”

 

Hier het ons nou ’n uiters skraal taalkundige bespreking van “die woord” en ons sit met die gevolgtrekking dat daar nie ’n alomvattende en finale definisie van “die woord” bestaan nie. Hierdie feit skrik geen digter af nie – woorde is trouens die “boumateriaal” waarmee die gedig geskep word. Elke digter het waarskynlik ’n effens ander begrip van hierdie boumateriaal waarmee hy of sy werk. Kom ons kyk hoe verskillende digters in verskillende tale die woord benader.

 

Octavio Paz

 

Hoe werk digters met die woord?

Eerstens, Octavio Paz (1914 – 1998). Hy was ’n Meksikaanse digter wat in 1990 ’n Nobelprys vir sy poësie ontvang het. Hy word beskou as een van die heel belangrikste digters wat in Spaans geskryf het in die twintigste eeu, en hy het ’n groot invloed gehad op Suid-Amerikaanse digters sowel as ander digters in die wêreld.

Saúl Yurkievich (La Plata, 1931— Caumont-sur-Durance, 2005) was ‘n Argentynse literêre kritikus, vertaler en digter wat ‘n intense akademiese lewe in Frankryk en die Verenigde State gelei het. In sy essay “Octavio Paz, ondersoeker van die woord”2 het hy onder andere die volgende gesê oor Paz se benadering tot die woord: “Die woord is ’n weerspieëling van weerspieëlings, ’n beeltenis, skuim; dit kan nie die wêreld beskryf nie, dit verwoord slegs die tydelike wese van die digter, die menslike toestand; dit is ’n teken van ’n wese wat lewe, nie spraak nie, maar suiwer handeling.”

Hier is Paz se gedig, “Die gesproke woord”.

 

La palabra dicha

 Octavio Paz

 

La palabra se levanta

de la página scrita.

La palabra,

labrada estalactita,

frabada columna,

una a una letra a letra.

El eco se congela

en la página pétrea.

 

Die gesproke woord

 

Die woord styg op

uit die geskrewe bladsy.

Die woord,

gevorm soos ’n stalaktiet,

gekerfde pilaar

een letter na die ander.

’n Eggo verhard

op die verklipte bladsy.

 

’n Siel,

wit soos die bladsy,

die woord styg op.

Dit loop

op ’n draad gespan

tussen stilte en ’n gil,

oor die rand

van streng spraak.

Die oor: ’n nes

of labirint vir klank.

 

Wat gesê word sê nie

wat dit sê nie: hoe kan mens sê

wat dit nie sê nie?

            Sê

miskien is die maagd dierlik.

 

’n Gil

in ’n dooie krater:

hoe sê mens ataraksie

in ’n ander sterrestelsel?

 

Dit sê wat dit sê

direk en onderstebo.

Bedenklike denke

orent ment:

krematorium is ’n seminarium,

’n saad is nie ’n daad nie.

 

Labirint van die oor,

wat jy sê word ongesê

vanaf stilte tot die gil

nie gehoor nie.

 

Met die eienskap van wetenskap:

om te praat en leer om stil te bly.

 

Hier lees mens van ’n hele stortvloed van beskrywings van die begrip “woord”: gekerfde pilaar, ’n verharde eggo, ’n gil in ’n dooie krater. Mens kry onwillekeurig die gevoel van ’n soort magteloosheid van die digter – hy bied een na die ander treffende beskrywing van die woord, maar dit is asof nie een hom heeltemal bevredig nie. Aan die einde van die gedig verwys hy na ’n eienskap van die wetenskap: “om stil te bly”. Met ander woorde, as jy iets (soos die woord) nie bevredigend kan omskryf nie, moet jy liewer niks sê nie.

As mens dink aan Saúl Yurkievich se opmerking, “Die woord is ’n weerspieëling van weerspieëlings” besef jy dat die pogings om die woord te beskryf, juis in woorde aangepak word. Die woord moet homself beskryf, en dit lyk of daar nie genoeg objektiwiteit in die woord geleë is om hierin te slaag nie.

In Breyten Breytenbach se “gedig vir woorde” wat op 27 Julie 2018 op Versindaba verskyn het, beskryf hy nie woorde soos Paz in sy gedig nie. Hier het die digter te doen met die handeling van woorde, hulle dinamiek en uitwerking. Die digter “soek nie na woorde nie” want “hulle lê agter my bloed”. Dit lyk of die digter wil aandui dat woorde ’n oer-uiting is wat diep uit die wese van die mens ontstaan: “agter my bloed”.

Dan weer jaag die woorde “sillabes op in die donker”. Nou sien die digter nie net die woorde raak nie, maar ook die dele van woorde – sillabes. Dit is asof mens eers die menslike liggaam bewonder en dan meteens besef dat hierdie funksionerende liggaamsgeheel bestaan uit kleiner en kleiner onderdele – organe, senuwees, selle.

 

Uit Versindaba 27 Julie 2018:

gedig vir woorde

Breyten Breytenbach

 

dis nie dat ek na julle wat woorde is soek

(sê wié van wanneer ?)

want ek weet julle lê eweneens

agter my bloed kom klop

aan die sinnelose hart wat al lank

‘n eggokamer van vlerkslae is

en jaag soms sillabes op in die donker

soos die ettering van ou swere

weer bloei

 

luister

moenie blindemol speel

moenie ophou voel-voel na omlyning

van die herinnerde gesig

in die donker bloed nie

 

ek sal hier wees soos altyd

(effens vervloek van n té lang reis)

in die leë gedig

om verby genade die holtes oop te hou

en die fees van vlervoëls weer verbeel

vir julle huis toe kom

 

en indien dit dan moet wees

dat ons ons afwesighede aanneem

is dit ook goed

sweer ek hier met my hand op papier

 

kyk

in die skryflaai van raaisels

is die goëlaar se handkaart gebore

en weggebêre

(myne ? van wanneer af ?)

 

neem dit

sodat julle die beweging

na mag maak

om aan die skyn

van volbringing te raak

 

Pablo Neruda

 

Pablo Neruda, die Chileense Nobelpryswenner, se begrip van die woord is ook besonder diep gevestig in die organiese, die liggaam en bloed van die mens. Sy gedig “Die woord” (La palabra) kom uit Plenos poderes, 1962 (Volle kragte). Hy sien die woord as “gebore in bloed, gegroei in die donker liggaam”.

 

La palabra

Pablo Neruda

 

Nacio

la palabra en la sangre,

creció en el cuerpo oscuro, palpitando,

y voló con los labios y la boca.

 

Die woord

Dit is gebore

die woord, in bloed,

gegroei in die donker liggaam, polsend,

en uitgevlieg deur die lippe en mond.

 

Verder en nader

steeds, steeds het dit gekom

van gestorwe vader en van swerwende volke,

van lande gemaak van klip,

wat moeg was van hulle ellendige trekvolk,

want wanneer pyn die pad vat

het die volk geloop en aangekom

en nuwe wêreld en water het verenig

om hulle woord opnuut te saai.

En daarom is die erfenis dit:

dit is die lug wat ons verbind

met die gestorwe man en met die oggend

van nuwe wesens wat nog nie ontwaak het nie.

 

Nog steeds sidder die atmosfeer

met die eerste woord

gevorm

in paniek en gekreun.

Dit het opgestyg

uit die skadu’s

en tot nou  is daar geen donderslae

maar tog donder die ysterklank

van daardie woord,

die eerste

woord wat gepraat is:

miskien was dit net ‘n sug, ‘n druppel

en tog val en val sy kaskade.

 

Toe vul sinvolheid die woord.

Dit was swanger en gevul met lewens.

Dit was alles geboortes en krete:

bevestiging, helderheid, krag,

ontkenning, vernietiging, dood:

die werkwoord het al daardie magte verwerf

en het bestaan met essensie verenig

in die elektrisiteit van haar prag.

 

Mens-woord, lettergreep, heup

van groot lig en duursame silwerware,

oorgeërfde beker wat die kommunikasie

van bloed ontvang:

hier is dit waar stilte saamgesmelt is

met die volledige menslike woord

en om nie te praat nie is om te sterf tussen wesens:

taal ontspring uit menshare,

die mond praat sonder dat die lippe beweeg:

die oë is skielik woorde.

 

Ek vang die woord en steek dit oor

asof dit net menslike vorm is,

sy lyne boei my en ek vaar

deur elke resonansie van taal:

ek praat en ek is en ek kom nader sonder taal

aan die einde van die woorde die stilte.

 

Ek drink aan die woord, en lig

‘n woord of ‘n kristalglas

daarin drink ek

die wyn van taal

of die oneindige waters,

moederbron van woorde,

en glas en water en wyn

gee oorsprong aan my lied

want die werkwoord is die oorsprong

en dit vloei lewend: dit is bloed,

dit is die bloed wat sy wese uitsê

en so gereed is om uit te groei:

dit gee kristal aan kristal, bloed aan bloed,

en dit gee lewe aan lewe, die woorde.

 

Neruda benader die woord uit ’n hele reeks hoeke in hierdie gedig. Nie alleen het dit in “die donker liggaam” ontstaan nie, hy besin ook oor “die eerste woord” wat “gevorm is uit paniek” en wat die “atmosfeer laat sidder”. Hy wonder of die eerste woord wat gepraat is net ’n “sug, ’n druppel” was en dan sien hy die woord as “’n kristalglas” waaruit hy “die wyn van die taal drink”.

Daar is nie vir Neruda sprake van ’n finale en onveranderlike definisie van die woord nie. Vir hom is dit ’n reeks ervaringe, beelde en emosies, die grondstof van sy poësie.

 

Tomas Tranströmer

 

In skerp teenstelling met Neruda se tropiese, swoel beeldspraak en stromende emosionaliteit, is Tomas Tranströmer (Nobelpryswenner 1990) se gedig gestroop tot op die been. Elke woord in sy twee “formules” pas presies op sy plek en is onvervangbaar.

 

Vinterns formler

 Tomas Tranströmer

 

Jag somnade i min säng

och vaknade under kölen     

 

 

Winter se formules   

 

I

Ek het aan die slaap geraak in my bed

en wakker geword onder die kiel.

 

Om vieruur in die oggend

wanneer die lewe se skoongeskraapte bene

koulik  met mekaar gesels.

 

Ek het aan die slaap geraak tussen swaels

en wakker geword tussen arende.

 

II

In die lamplig

glinster die ys op die pad

soos spek.

 

Dit is nie Afrika nie

dit is nie Europa nie

dit is nêrens anders as hier nie.

 

En dit wat “ek” was

is net ‘n woord

in Desember se donker mond.

 

“En dit wat ‘ek’ was is net ’n woord”. In hierdie reëls kom ’n essensiēle eienskap van Tranströmer na vore: die digter se menswees, sy identiteit, raak weg in die werklikheid waarin hy homself bevind, hy word deel van die groot geheel en doen afstand van sy indiwidualiteit. Hy word “net ’n woord / in Desmeber se donker mond”. Vir Tranströmer is die woord hier ’n soort geestelike entiteit, iets waarin die mens homself transendeer.

 

Coral Bracho

 

Coral Bracho (1951 – ) is een van die bekendste en mees gewaardeerde Meksikaanse  hedendaagse digters.

Haar gedig Geheime woord (Palabra oculta) bring weer ’n ander perspektief op die aard van die woord.

 

Palabra oculta

Coral Bracho

 

Esta palabra oculta

abre su selva. Su ensortijada

sombra.

 

Geheime woord

 

Hierdie geheime woord

openbaar sy oerwoud. Sy ineengekrulde

skadu. Die water in

die alligator

en die lig verdeel. Die gees

kom nader,

fluister, soos ’n muur wat oprys

teen die golwe.

 

In hierdie kort gedig word “die geheime woord” met meevoerende beelde en metafore beskryf. Daar word nie in die gedig eksplisiet aangedui waarom die woord “geheim” moet wees nie. Dit is die digter se manier om te sê wat aan die begin van hierdie essay gesê is: die woord kan nie finaal omskryf en vasgepen word nie, dit bly ’n geheim.

 

Onbekende boustof

Mens wonder dan, nadat oor en oor aangedui is dat die woord eintlik ’n onbekende entiteit is, hoe kry digters dit dan reg om gedigte met woorde te maak as hulle nie presies weet wat dit is waarmee hulle werk nie?

Ek kan aan een verklaring dink en sal dit probeer verduidelik met behulp van ’n metafoor. ’n Plant of ’n dier of die mens se selle produseer boustowwe uit die voedingstowwe wat hulle bereik, sonder om te “weet” hoe dit gedoen word. Tog word dit gedoen, onophoudelik en amper altyd foutloos.

Die digter doen dieselfde met die gedig. Dit word aanmekaar gesit met woorde wat die digter intuïtief uit sy of haar onbewuste put, en wat nie volkome deur die digter verstaan word nie. Natuurlik speel die bewuste denke, die intellek ’n groot rol om die gedig te vorm en verstaanbaar en genietbaar te maak vir lesers. Die digter wil die woorde sekere begrippe laat dra en wil hulle met sekere emosies belaai. Maar die essensiële skeppingsproses is die taak van die onbewuste, die skeppende impuls waaruit die woord “opstyg”.

 

Bronverwysings

Haspelmath, M. 2011. The indeterminacy of word segmentation and the nature of morphology and syntax. Folia Linguistica, 45(2): 31-80.

Paz, Octavio, indagador de la Palabra – https://zonaoctaviopaz.com

 

Gedigte in hierdie essay is uit Spaans en Sweeds vertaal deur De Waal Venter. Van die gedigte is gepubliseer in die bundels “ Vandag is boordensvol – Pablo Neruda in Afrikaans”, Naledi 2019 en “Alles keer om – Tomas Tranströmer in Afrikaans”, Uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2020.