Posts Tagged ‘Country of my skull’

Pieter Odendaal. Wat ek tydens my B.A. geleer het

Tuesday, December 14th, 2010

Verlede week het ek saam met duisende ander Stellenbosch-studente graadgevang. Na ‘n paar glasies vonkel-, wit- en rooiwyn begin ek wonder oor die belangrikste goed wat ek die afgelope drie jaar op universiteit geleer het. Of ek enige werklike vaardighede aangeleer het, weet ek nie. Ek lees en tik miskien ‘n bietjie vinniger en beter, maar verder kan ek nie juis sê dat ek ‘n gekwalifiseerde enigiets is nie. Ek wou mos tale en filosofie swot.

Ek en my gesin by my gradeplegtigheid

Ek en my gesin by my gradeplegtigheid

Wat ek wel geleer het, is dat dit gevaarlik is om Protea Boeke te besoek, want die hoeveelheid besoeke aan dié plek is omgekeerd eweredig aan die hoeveelheid orige geld om ander noodsaaklikhede soos kos en sigarette aan te skaf. Ek het geleer hoe om woorde soos différance, Dazein, Dionusos en disseminasie te spel en in ‘n sin op te som. Ek het ook geleer om nie almal se idees té ernstig op te vat nie. (Gaan kyk ‘n bietjie na die webblad http://www.elsewhere.org/pomo/, ‘n satire van die kontemporêre klimaat in die geesteswetenskappe.) Ek moes tot vervelens toe na die konstruksies van ras, gender en die werklikheid luister. Kyk, ek sê nie dat hierdie goed bloot ‘n laaste, desperate poging deur die kwynende geesteswetenskappe is om hul bestaan te regverdig nie, ek wil net regtig nie meer na enige post-koloniale, post-strukturalistiese, post-moderne, post-Marxistiese of post-toastiese argumente oor die bogenoemde konstruksies luister nie.

Verder het ek geleer dat ‘n mens nie meer as twee alkoholiese verversings binne een uur met mekaar moet meng nie, dat Jonkershoek fantasties lyk op ‘n vroeë Sondagoggend, dat die maksimum tyd wat my haredos sonder ‘n besoek aan die haarkapper kan klaarkom vier en ‘n half maande is, dat ‘n rib-pie by BP om twee-uur in die oggend die beste ding since popcorn is, dat Shofarians nie regtig almal shofars besit nie, maar dat hulle wél glo dat die wêreld 6000 jaar oud is, dat baie BA-studente nie juis geïnteresseerd is in hulle studies nie, dat Stellenbosch nog baie wit is, dat ek nie van rugby-spelende, mullet-groeiende, BComm-studerende souties uit die Oos-Kaap hou nie en dat filosowe meestal maar bedonnerde ou omies is.

Ek het egter ook drie ongelooflike leermeesters gehad vir wie ek wil dankie sê: Marlene van Niekerk, Lize van Robbroeck en Daniel Roux. Van Niekerk het Nederlandse letterkunde in my tweede jaar gedoseer en was een van die min dosente wat my laat wens het dat die lesings sommer baie langer was. Die entoesiasme waarmee sy ons poësie gevoer het, het my mond en oë vir nog kopkos laat water. Van Robbroeck het twintigste-eeuse kunsgeskiedenis vir my gegee en ek het haar verafgod terwyl sy ons op ‘n kragtoer deur die -ismes van die 1900s gelei het. Roux het weer Shakespeare vir my oopgemaak en die kognitiewe sielkundige Stephen Pinker se The Language Instinct as basisteks gebruik in sy tutoriale die afgelope semester – hy het my laat onthou waarom ek so lief vir die natuurwetenskappe is.

Buiten vir die bogenoemde dosente dink ek dat ek eintlik meer waardevolle goed geleer het uit boeke wat nie voorgeskryf was vir my kursus nie. Die volgende vyf boeke het in die afgelope paar jaar die meeste vir my beteken. Ek dink dat enige student geforseer moet word om hierdie boeke te lees voor hy/sy ‘n universiteit mag betree:

1. The Selfish Gene deur Richard Dawkins

Hierdie boek het die manier waarop ek na alle lewende organisms kyk, radikaal verander. Ek is nie ‘n Dawkins-fan­ as hy goed oor godsdiens begin kwytraak nie (omdat hy, myns insiens, die kompleksiteit en selfs die belangrikheid van godsiens lelik onderskat), maar hierdie boek slaag daarin om die onderliggende genetiese meganismes op grond waarvan ons vandag hier is, helder en duidelik uiteen te sit.

2. Sophie’s World deur Jostein Gaarder

Hierdie boek is van onskatbare waarde vir enige eerstejaarsfilosofie-student omdat dit die geskiedenis van filosofie in ‘n toeganklike en vermaaklike vorm aanbied. Dit het my ook gehelp om te verstaan waarom filosofie nie net vir filosowe van belang is nie.

3. Country of my skull deur Antjie Krog

Elke Suid-Afrikaner móét Krog se verslag rondom die Waarheids- en Versoeningskomissie lees as hulle wil verstaan hoekom Suid-Afrika vandag die land is wat sy is. Ek dink dat daar heeltemal te veel Suid-Afrikaners is wat nie weet hoeveel skade ons mekaar berokken het tydens Apartheid nie.

4. A terrible beauty deur Peter Watson

Ek’s eintlik nog nie klaar met die een nie, maar ek wens dat iemand destyds aan die begin van my eerstejaar ‘n kopie in my hand gestop het. Eerder as om ‘n politieke of sosiale oorsig van die bloeddorstigste eeu in menseheugenis te bied, beskryf Watson die intellektuele landskappe van die twintigste eeu: alles van fisika tot biologie tot visuele kuns tot letterkunde tot antropologie tot ekonomie kom aan bod. Die beskrywings van die mense agter die idees is boeiend en die manier waarop Watson dit regkry om skynbare disparate elemente met mekaar te verbind, is indrukwekkend.

5. Agaat deur Marlene van Niekerk

Ek wou ‘n roman op die lys sit, en ek weet nie of daar ‘n beter kontemporêre Suid-Afrikaanse roman as Agaat is nie. Van Niekerk speel nie net meesterlik met taal nie, maar kry dit ook reg om ‘n ensiklopediese roman aanmekaar te weef.

  •